| |
| |
| |
Semietiese Invloede op Wes-Europese Kuns.
II.
IN die eerste artiekel is daarop gewys dat dit vir hierdie kort reeks te ver sou voer om na te gaan hoe westerse kuns beïnvloed is deur die Bybel. Dis ook taamlik goed bekend, altans by algar wat enigermate belangstel in kuns-kwessies. Daar kan g'n sprake wees van Semietiese invloed op Europese kunstenaars vóór die Bybeltydperk nie, om die eenvoudige rede dat daar toe nog g'n aanraking, en ook g'n noemenswaardige kuns in Europa, was nie. As ons die ou ‘Boesman-tekeninge’ in Suid-Europese grotte buite rekening laat, is altans so goed as niks uit daardie dae aan ons oorgelewer nie.
Daar gaan verskeie eeue na die Nuwe Testament se totstandkoming oorheen voor ons kan praat van invloed wat nawysbaar is. Tog moet daar so iets gewees het. Sowel deur die groot verstrooiing van die Jode, na die verwoesting van Jerusalem deur Titus, as tengevolge van vrywillige emigrasie het Joodse indiwidue tereggekom op die Balkan Skiereiland, in Italië en elders in Europa, om van Joodse neersettings nie eens te praat nie. Die Romeine het in sommige rigtings 'n beperkte kunssin gehad. Griekse, Joodse en ander Levantynse vrouens sowel as mans het hul leemtes help aanvul. Ons verneem van danseresse en fluitspelers, wat uit die Ooste na Rome gekom het. Met bietjie verbeeldingskrag sou mens maklik teorieë kan bou op hierdie feit en op verwante omstandighede, maar dis nie die doel van hierdie verhandeling nie.
Laat ons liewer bly by die goed bekende wat heeltemal vasstaan; as ons dit doen, sal dit swaar gaan om in die eerste duisend jaar n. C. baie op te noem, behalwe in verband met een van die mees belangwekkende tydperke in die geskiedenis van Europa, n.l. die besetting van Spanje deur die More. Wie kom in Suid-Spanje, sien vandag nog die spore wat daardie Semietiese volk agtergelaat het. In die dik Middeleeuse duisternis het die lig van wetenskap, kuns en wysbegeerte geskyn in Toledo, Sevilla, Cordova, Granada. Regstreeks het die More min in aanraking gekom met Europese nasies. Die Jode (wat destyds baie meer verdraagsaamheid onder hulle bestuur gevind het as by Germaanse, Slawiese en Latynse volke) het hul saam met die Arabiese beskawing ontwikkel en die rol van bemiddelaars gespeel.
Hier sal net 'n paar name genoem word. Dis maklik genoeg vir wie dit interesseer om 'n reeks ander feite omtrent beroemde manne uit die Arabies-Andalusiese bloeityd na te slaan. Die Jood Chasdai het omtrent
| |
| |
950 gelewe in Cordova. Vierhonderd jaar voor Petrarca was hy 'n humanis, wat letterkunde bevorder het deur sy etimologiese en filologiese, hoofsaaklik Hebreeuse, studies. Die mees bekende van alger is altemit Jehuda Halevi. Heine, wat maar slordig was, noem hom ten onregte, ‘ben Halevi’. Hy was die roemryke digter in Hebreeus uit die begin van die twaalfde eeu. Dis wel waar dat sy besieling om so te sê uitsluitend van godsdienstig-nasionale aard was, maar dit het daartoe bygedra om (net soos die Arabiere self) sierlikheid en vorm te bring in die digkuns, wat destyds in Europa maar grof en onontwikkeld was. Jehuda se spoor kan vandag nog aangewys word by oud-Spaanse digwerke.
Sy voorganger, Salomon Gabirol (omtrent 1050) was nie net 'n verdienstelike Hebreeuse digter nie, maar het veral bekend geword as Arabiese skrywer, onder die naam Avicebron. Dis eers betreklik kort gelede dat die identiteit van daardie twee vasgestel is. Dis nie net kunstenaars wat kuns beïnvloed nie. Godsdiens en wysbegeerte help op die duur baie om sowel die gemoedere van digters as die wyse waarop hul hul uitdruk te vorm. Van die een kant skep die mistisisme wat in godsdienste lê kuns deur sy inwerking op digters, skilders, boumeesters. Van die ander kant gebeur dit dikwels dat 'n kerk, deur sy begrensdheid, die kuns in 'n eensydige rigting stuur. Sowel skilder- as ander vorme van kuns moes wel wen deur die groter mate van geestelike vryheid wat in die ou Europa ontstaan het deur die werk van rasionalisties aangelegde denkers.
Derhalwe verdien Moses Maimonides vermelding. Hy was afkomstig uit Spanje, maar het later in Marokko en Egipte gewoon. Die Jode volg vandag nog sy dertien geloofsartiekels, wat gedeeltelik supra-naturalisties is. Tog was hy in sy kern rasionalis. Sy hoofwerk, in Arabies geskrywe, is vertaal in Hebreeus en, weëns die vrysinnige strekking, in 1233 publiek verbrand in Parys. Hier kom ons op 'n band wat bestaan het tussen die Spaanse Jode en die Franse rabbis; ook die middeleeuse Troubadours van Suid-Frankryk is beïnvloed deur kunsuitings wat besuide die Pireneë ontstaan het.
* * *
Benjamin van Tudela, 'n Spaanse Jood, het in die twede helfte van die twaalfde eeu 'n reis gemaak waarmee hy selfs Marco Polo voor was. Op gesag van Winkler Prins se Ensiklopedie kan vermeld word dat hy ‘die eerste Europeaan was wat 'n reis gemaak het deur die Oostelike deel van Asië’, met inbegrip van Tartarye en agter-Indië. Praat van baanbrekers! Sulke manne het na Wes-Europa bietjie hoognodige kennis gebring omtrent lande met 'n ouer beskawing, kennis van tevore onbekende natuurtonele, diere, plante, delfstowwe ens. Dit het vanself nie net wetenskap nie maar die geestelike lewe in die algemeen en kunssin help bevorder. Hier pas dit om met 'n kort woord te gewaag van die Kruistogte, wat op baie groter skaal
| |
| |
die Weste met die Ooste in voeling gebring het. Die meeste ridders wat daaraan deelgeneem het was maar ruwe klante! Wat hul te sien gekry het in Palestina en omringende lande was vir hul 'n openbaring. Hul het handskrifte van waarde, kunsvoorwerpe, pragtige klere, weelde-artiekels en in die algemeen 'n meer verfynde lewensbeskouing saamgeneem op hul terugreis Om hierdie onderwerp deeglik te behandel sou alleen al verskeie bladsye eis. Dis nie verniet dat ridderlike figure soos Saladin, die Saraseen, beroemd geword het in die Europese letterkunde nie.
Die Kruistogte was uitvloeisels van godsdiens-dweepsug, maar ook van die begeerte, gedeeltelik onbewus, by Westerse volke om invloed te verkry in die land wat vandag nog 'n sentrale posiesie beklee op die pad van Europa na Asië. Die Jode, sowel in Wes-Europa as in die lande op die weg na die Levant, het vreeslik moet ly onder uitbarstings van die kant van fanatieke kruisvaarders. Veral in N.O.-Frankryk en S.W.-Duitsland is hul op groot skaal uitgemoor. Die tye was ongunstig vir hul ontwikkeling of nouer aanraking met die volke onder wie hul geleef het. Tog bly hul, so stilletjies, invloed uitoefen op die dieper lewe van hul onderdrukkers.
Een van die magtigste werktuie wat daartoe meegewerk het was die Kabala, die mistieke leer wat so lank gestoei het met die meer formeel-priesterlike elemente om die Jodedom af te rond. Sy voorstanders beweer dat dit teruggaan na die gryse oudheid. Met sekerheid kan verklaar word dat die eerste vaste vorm daaraan gegee is in die Middeleeue. Nietemin was daar altoos onder die Jode 'n minderheid met mistieke aanleg en dis eienaardig dat, volgens kunskenners, in Dante se hoofwerk beelde voorkom wat mens terugkry in die Talmoed. Dit skyn dat hul by die groot Italiaanse digter tereggekom het via die Kabala, wat in sy vaderland onder geleerdes versprei is deur die bekende mistikus Pic de Mirandole.
Dieselfde strewer het vir Reuchlin, voorloper van die Hervorming, ingewy in Kabalistiese studies. Reuchlin het op sy beurt 'n boek geskryf oor Kabala en was, na ek meen, die eerste Westerling wat 'n Hebreeuse spraakkuns geskryf het. Dit was in die begin van die sestiende eeu. Luther se vertaling van die Ou Testament was tot groot hoogte te danke aan die kennis van Reuchlin. Ook Melanchton en ander Hervormers is sterk beïnvloed in hul studie deur geskrifte wat ditsy regstreeks of indirekt gekom het van Suid-Spaanse Jode. Hul het, in navolging van die Arabiere, die gees van Aristoteles laat herleef in Europa. Die humanistiese beweging, die Renaissance met sy enorme invloed op kuns en lewensbeskouing, en later die Hervorming, sou seker lank vertraag gewees het sonder daardie groot faktor.
Hier sien ons twee teenoorgestelde stromings aan die werk - die skolastieke, Aristoteliaanse en die Platoniese. Veral Plotinus en die Neo-Platonisme, het hul uitwerking laat voel, via die Kabala en ander mistieke
| |
| |
stelsels. Twee eeue voor Plotinus was trouens die bekende Joodse sekte, die Essene, al besig met hul spinrak-wewery. Soos Pythagoras baie te sê gehad het oor die waarde van syfers, het die Jode almelewe behae daarin geskep om te soek na die transendentale waarde van letters. Ook dit het sy invloed gehad op latere Europese letterkundiges. Daar is twee konkurerende karaktertrekke in die Joodse volk, soos trouens by verskeie ander nasies: die positiwistiese, vol berekening, koel en analities, daarnaas die fantastiese, warm en vol gloed, meer tuis in die wolke as op die vaste grond.
Hierdie laasgenoemde het veral 'n kans gekry om tot uiting te kom as gevolg van die lyding, deur die Jode ondergaan in ghettos, sowel in die nuwere geskiedenis as tydens die Middeleeue. Dit het messianiese en apokaliptiese gedagtes ingegee, wat somtyds ook christelike skrywers aangetas het. Op watter verstrekkende maniere so iets kan werk blyk o.a. uit die geskiedenis van Manasse ben Israel, die Hollandse Jood van Spaanse afkoms, wat omstreeks 1655 'n mistieke boek laat verskyn het. Rembrandt het illustrasies daarvoor geteken - hy was lief vir Joodse tiepes - maar dié is afsonderlik gepubliseer. Dieselfde Manasse was in staat om, met behulp van messianiese argumente, sodanig te werk op Cromwell se gemoed, dat hy die nuwe toelating van die Jode in Engeland bewerk het. In 1666 het baie mense dit end van die wêreld, of altans 'n groot ramp, verwag. Sabatai Zewi, die valse Messias uit Smyrna, het gespeel met die hoop van die Jode op verlossing. Sy wonderlike loopbaan (hy is dood as Mohammedaan) het ook in Wes-Europa reaksie veroorsaak en tot artistieke ontboesemings gelei.
* * *
In die begin van die agtiende eeu het onder die Jode van Oos-Europa die s.g. Chasidim opgekom. Hul leer het deel uitgemaak van die algemene piëtisme het hom veral onderskei deur sy vreugdevol-mistieke aard, wat hy aan weer plek te maak vir skeptisisme, waarvan die Franse Ensiklopediste met Voltaire en in Engeland Hume bekende verteenwoordigers was. Die Joodse piëtisme het hom veral onderskei deur sy vreugdevol-mistieke aard, wat hy aan sy grondleer, Israel Baal-Sjem, te danke gehad het. Israel het beweer dat sy siel dikwels opstyg tot die Allerhoogste. Ook sy volgelinge het in mistieke vervoering geraak en gesigte gesien, waaraan die van Swedenborg e.a. Westerse voormanne ons naderhand herinner. Seer seker het die gloed van die Chasidim ansteeklik gewerk en daartoe bygedra om 'n nuwe wending te bring in Europese kuns, veral op letterkundige terrein. So sien ons dat, terwyl Heine (in die eerste artiekel bespreek) 'n digter was wat deur sy eie krag 'n aansienlike regstreekse faktor geword het in Wes-Europese kuns, die Jode in
| |
| |
verskeie eeue wat aan hom voorafgaan betreklik min werklik groot figure oplewer, maar tog as nasie hul laat geld onder Westerse volke.
Met die agtiende eeu het die tydperk aangebreek waarin emansipasie, en sodoende 'n groter direkte inwerking van die mees verbreide Semietiese element in Europa, goed merkbaar word. In baie lande voer die Jode nog 'n onmenswaardige bestaan. In Duitsland, waar hul so kort gehou was, het die vorste tog hul ‘Schutzjuden’ gehad, wat voorregte besit het. Een van hul was Moses Mendelssohn, na aanleiding van wie se begaafdheid die Jode sê: ‘Van Moses (nl. die Profeet) tot Moses (Mendelssohn) was daar niemand soos Moses (Maimonides) nie.’ Hy was 'n besigheidsman, maar tegelyk 'n man van verbasende geleerdheid en liefde vir die kuns. Sy werk oor die onsterflikheid van die siel is vir ons hedendaagse smaak bietjie styf en al te klassiek van vorm, maar het in sy dae groot opgang gemaak, veral onder Christene. In teenstelling met die meeste Duitse wysgere (Kant seker nie uitgesonder nie!) het hy 'n sierlike styl gehad, wat daartoe meegewerk het om die Duitse letterkunde te beskaaf en te verryk.
Mendelssohn was die groot vriend van Lessing, wie se Nathan der Weise heeltemal deur hom geïnspireer is. Dis 'n toneelwerk in vèrsmaat wat opgeskroef lyk wanneer mens dit aandagtig lees, maar wat vandag dit nog goed doen op die toneel, nieteenstaande sy swak einde. 'n Halwe eeu gelede was dit een van die lieweling-stukke op die vasteland van Europa. Die beste toneelspeelers het met voorliefde die hoofrol daarin gespeel. Lessing was, net soos Mendelssohn, liberaal. Hy het selfs die naam van aanhanger van Spinoza gekry.
Dit was, in sy kringe, 'n belediging: Spinoza was mos 'n onafhanklike denker en onafhanklikheid was nog nie gewild nie, dit sy onder Jode of Christene. Spinoza, en sy tydgenoot Uriel Acosta, is deur die Amsterdamse Jode wreed behandel omrede van hul oortuiging. Ook Mendelssohn het van die rabbis van sy dae niks as miskenning gehad nie, terwyl sy Pools-Joodse beskermeling Salomon Maimon (een van die beste beoordelaars van Kant) ook moes ly omdat hy vrydenker was. Maimon het sy spore agter gelaat op die wysbegeerte van Europa, maar daaroor handel hierdie artiekel nie, behalwe vir so ver dit indirek die kuns betref. Spinoza het deur sy panteïstiese beskouings nie net letterkunde van sy tyd tot ons s'n beïnvloed nie, maar ook inspirasie gegee aan meer as een woord-kunstenaar - met name aan Zangwill en Auerbach - om oor hom te skryf. Acosta is die held van Gutzkow se treurspel, wat egter gladnie eg histories is nie. Verder het Acosta g'n regstreekse invloed uitgeoefen nie, maar hy verdien vermelding as een van die manne wat die krag van hul oortuiging gehad het en dus vir die vrye gedagte iets wêrd was.
| |
| |
A.S. KONYA:
STUDIE.
| |
| |
Voor ons finaal van Mendelssohn afstap, moet aangestip word dat sy huis 'n salon was waar kunstenaars en geleerdes mekaar ontmoet het, 'n middelpunt van beskawing in 'n tydperk toe die pers nog swak was. Sy dogters het die werk voortgesit, saam met die Jodinne Henriette Herz en Rachel Levin. Laasgenoemde, geb. in 1771, het in daardie kringe die grootste naam gemaak. Na haar bekering tot die Christendom is sy getroud met Varnhagen von Ense, die bekende Duitse skrywer. In haar huis het die Schlegels, Schelling, Schleiermacher, Humboldt, Tieck, Jean Paul (Richter) en ander beroemde persone mekaar ontmoet. Sy was self skryfster, maar haar invloed spruit heeltemal uit haar salon voort.
Sy moenie verwar word met Rachel nie. Elise Rachel, seker die grootste Franse toneelspeelster tot op ons dae, was 'n Switserse Jodin, gebore in 1820. Sy is ryk en jonk dood, na 'n merkwaardige loopbaan. Terwyl die Joodse temperament meesal romanties is, het sy in hoofsaak klassieke rolle vertolk en dit gedoen op so'n manier dat sy baie navolgsters gekry sowel as die Franse klassisisme op die toneel sterk bevorder het. Terwyl tog van toneel sprake is, kan meteens genoem word Sarah Bernhardt, wat van geboorte maar half-Joods was, dog altoos beskou is as die besitter van Joodse talente, om nie die sterker woord genie te gebruik nie. Ook sy het dikwels in klassieke rolle opgetree, maar haar spel was gekenmerk deur die meer vurige, minder afgemete, styl van haar Oosterse afkoms. Nietemin het sy in haar tyd die hele Europese toneel beheers, en sowel beroepsmense as die publiek sterk onder die indruk gebring. Haar mededingster was Duse, wat eienaardig genoeg (as Italiaanse) haar krag gevind het in 'n stillere, meer verhewe en waardige, innerlike spel, sonder die oordrewe gebaretaal van die ‘goddelike Sarah’.
'n Internasionale reputasie het ook gehad Ernst Possart (geb. in Duitsland, 1841), wie se kuns as voorbeeld gedien het vir honderde Vastelandse toneelspelers. Bowendien was hy in sy dae 'n regisseur van naam. Dieselfde is van toepassing op Adolf, Ritter von Sonnenthal, geb. in Boedapest, 1834, wat beroemd geword het in rolle soos Romeo, Egmont en Hamlet. Verder is deur verskeie ander Jode aandeel geneem in die bevordering van toneelkuns, omdat hul ditsy toneelmeesters, skouburg-direkteurs of impressarios was.
* * *
Dit spreek vanself dat sowel akteurs en toneelskrywers as ander kunstenaars die invloed ondervind van kritiek. Nou het Jode, met hul analietiese sin en talekennis, altoos uitgeblink op hierdie gebied. Heine se werk in daardie rigting is al genoem in die eerste artiekel, waar ook melding gemaak is van Brandes. Hy is gebore in 1842 en is soos 'n gewone Deen opgevoed. Naderhand het hy hom op nasionale gebied Joods gaan voel. Jonk het hy hom laat lei deur radikale en realistiese invloede uit Frankryk. Voor
| |
| |
sy dertigste verjaarsdag al het hy 'n reeks lesings gehou oor strominge in die letterkunde van die negentiende eeu. Hy was 'n kenner van Duitse lettere, maar ook van Engelse. Sy werk oor Shakespeare is in verskeie tale oorgesit en sy menings was in sy tyd van groot betekenis. Hy staan op een lyn met skrywers soos Croce en dit was sy groot verdienste dat hy in sy ryper jare 'n groot kampvegter van die gematigde klassieke rigting was, toe so baie skrywers maar al te romanties wou word.
Teen die end van die 19e eeu was Nordan oorweënd as krietikus. Hierdie naam is 'n pseudoniem. ‘Nordan’ was 'n Hongaarse Jood, wat in Duits geskryf het. Sy mediese kennis het hom instaat gestel om in ‘Entartung’ e.a. werke, die samelewing van sy dae sterk en effektief te vertel. As teenstander van Wagner en die Dekadente het hy harde woorde gebruik.
'n Ouere Joodse krietikus van naam was Boerne (Loeb Baruch), gebore in 1786. Hy het Christen geword. Sy pen was skerp en het in sy dae baie goeds kon doen. Hy was 'n vryheids-apostel en, nieteenstaande sy lange verblyf in Parys, 'n sterk voorstander van Duitse kultuur teen Franse oorheersing. 'n Volslae verfranste Joodse krietikus was James Darmesteter, geb. in 1849, wat net soos die meer bekende Hongaarse skrywer A. Vambéry 'n groot kenner van Oosterse tale was. Max Müller, die beroemde Duits-Engelse taalkundige, het Darmesteter se werk hoog gewaardeer. Nog 'n Franse Jood wat verdien om genoem te word is Reinach, wat maar kort gelede dood is en 'n man van outoriteit was in Parys, 'n tydgenoot van die Frans-Joodse digter Gatulle Mendès (geb. 1841). Dié se perfekte styl, ook in sy prosa, is 'n faktor in hedendaagse Frans. In 1864 het hy gehelp om die ‘Parnassus’-kring te stig. Wie wil weet van watter betekenis dit was, moet maar net 'n goeie lewensbeskrywing van Verlaine (ek kan die van H. Nicolson sterk aanbeveel) daarop naslaan.
In Spanje en Portugal word die Jode eers in die laaste tyd weer toegelaat. In Italië het hul al die tyd gelewe, maar min figure van internasionale betekenis opgelewer. Daar was 'n hele famielie Luzzatto's, maar dié het meesal in Hebreeus gedig en was nie van besonder invloed op Westerse volke nie. C. Lombroso (geb. 1835) daarenteen het 'n wêreld-naam gemaak. Hy het op die letterkunde van al die beskaafde nasies invloed uitgeoefen deur sy teorie omtrent genie en misdadigers. Sy groot werk ‘L'Uomo di Genio’ is algemeen vertaal. Ook het hy aandag gewy aan die misdadige vrou (‘La Donna Delinquente’). Met al sy slimheid het hy hom egter laat mislei deur Eusapia Paladino, die berugte spiritiste.
Die bekendste Italiaans-Joodse letterkundige is G. d'Annunzio, wat nog lewe. Ook al voor sy opsienbarende oorlogs-avonture was sy romans en digwerke die hele wêreld deur. Sy styl is ‘presieus’, dekadent, en het sy aanhangers onder die mense van daardie trant in al die beskaafde lande. Sowel
| |
| |
deur middel van die toneel as andersins is hy in sy vaderland werksaam om ook kuns van ander rigtings te versprei.
In Nederland was die invloed van Joodse skrywers van tyd tot tyd aansienlik. Om met die vorige eeu te begin was daar I. da Costa. Dis seker onnodig om iets oor hom te sê vir ‘Brandwag’-lesers. Ofskoon hy van homself die bekende reël geskryf het: ‘Ik ben geen zoon der lauwe westerstranden’, is sy werk tog nie juis tiepies Joods nie, nog afgesien van sy Christelike godsdiens. Dis te swaar, te log, en aangesien in sy dae Nederlandse skrywers geneig was om daardie eienskappe te besit, was sy werk, hoewel talentvol, nie daarop bereken om beterskap te bring nie. Van minder betekenis in die Nederlandse lettere, maar m.i. 'n beter invloed, was die boeke van M.P. Lindo, gebore in Londen, 1819. Hy het in 1838 na Holland gekom en hom op meer as een manier laat ken in sy aangenome vaderland. Hy het Dickens, Thackeray en Scott vertaal; hy het die ‘Ned. Spectator’ geredigeer en, sowel met Lodewyk Mulder saam as onder sy skryfnaam ‘de oude Heer Smits’, humoristiese werke gelewer wat 'n hoognodige frisse gees laat waai het deur 'n gebou wat effens vermuf wou raak.
Sinds sy tyd het Holland dosyne Joodse skrywers en skryfsters geken. Die gewigtigste was Querido en Heyermans. Querido het met die warm styl van sy Spaanse voorouers (bietjie al te warm en druk, by tye) aansienlike lewe gebring in die brouery. Heyermans het sterk daartoe bygedra om naturalistiese opvattings te laat seëvier. Hy het nie op dieselfde hoogte gestaan as Querido nie, maar het meer humor gehad en meegewerk om die Nederlandse toneel 'n goeie naam te verskaf in die buiteland. Ook as krietikus is deur hom die kuns beïnvloed.
In die Duitse lettere het ons in die begin van die vorige eeu B. Auerbach, wat naam gemaak het veral met sy dorpsverhale uit die Swarte Woud en wat die smaak vir eenvoudige, landelike novelles help versprei het. Ook in ons dae is Joodse skrywers volop in Duitsland en Oostenryk. G. Hermann, Schnitzler, Wassermann, kan hier maar net genoem word. Feuchtwängler het deur sy ‘Jood Süss’ en ‘Lelike Hertogin’ wêreldvermaard geword. Ek kan g'n behae skep in die vier laasgenoemdes nie, maar hul het onteenseglik opgang gemaak, net soos voor hul K.E. Franzos met sy kort sketse, en G. Saphir as humoris. Een van die grootste kragte op geestelike gebied wat meegewerk het in die hedendaagse Duitsland om rigting te gee was ‘Max Harden’ (Witkofski). As krietikus het hy op 'n baie hoë trap gestaan, maar sy stel was stroef. Emil Ludwig (E.L. Cohn) is 'n letterkundige van betekenis, knap en sterk subjektief.
In Engeland kom veral in aanmerking Benjamin Disraeli, Lord Beaconsfield. Sy vader, Isaac, was 'n man van groot belesenheid, wat as opstelskrywer sy verdienste gehad het en in die dae van die ‘Essay’-skool nie
| |
| |
nagelaat het om ander Engelse skrywers te beïnvloed nie. (Multatuli klee hom ongenadig uit wat betref sy aanmerkings oor Holland.) Die seun sou hom altemit nie onsterflik gemaak het sonder sy werk as staatsman nie. Tog was hy as romanskrywer 'n man van groot betekenis. Vandag het ons nie meer die geduld om baie van sy werke te lees nie, maar indertyd het hul behoor tot die beste produkte van Engeland. Hul was meer beskaaf en deurwrog as die meeste Engelse werke en dit is op prys gestel.
'n Meer veelsydige figuur, wat nog nooit in sy vaderland behoorlik gewaardeer is nie, was wyle Israel Zangwill. Sy ‘Children of the Ghetto’ het klassiek geword, maar meteens die lot van die skrywer beseël, want dit het die gebreke van 'n jeugwerk en Zangwill het dit nooit behoorlik oorleef nie. Sy ‘Dreamers of the Ghetto’ staan baie hoër. Sy ‘Big Bow Mystery’ was die eerste regtige speurdersroman in Engels. Sy ‘Premier and the Painter’ is een van die geestigste werke ooit in enige taal geskryf. Sy ‘The Master’ is 'n roman wat vir kuns-geskiedenis, veral skilderkuns, van groot belang is. ‘The Mantle of Elijah’ bevat 'n hartstogtelike paskwil op wyle Chamberlain in verband met Suid-Afrika. Sy toneelstukke is pakkender as die meeste wat in Engeland geskryf is. Sy ‘Without Prejudice’ bevat kritieke wat orals in Europa gesien mag word. ‘Italian Fantasies’ is 'n werk so ryk van inhoud dat dit alleen al sy gebrek aan populariteit verklaar! Sy styl het die Joodse feil van al te groot versiering.
Van die Engels-Joodse letterkundiges, gebore in die vorige eeu, kan hier enkel nog genoem word Israel Gollancz, wat sekretaris van die British Academy was en professor in Engelse letterkunde aan King's College. Sy spesialiteit was oud-Engels en Germaanse tale. Onder Shakespeare-kenners neem hy 'n ereplek in en hy was 'n man van outoriteit in die algemeen. Van die Engelse taal bedien hul verder nog die Amerikaans-Joodse skrywers Hergesheimer en Lewisohn, altwee van Duitse afkoms. Hergesheimer se romans munt uit deur styl. Hy skitter deur afwesigheid van die sieklike oorgevoeligheid wat so baie Amerikaanse skrywers kenmerk. Hy is een van die leiers, daargunter. Na Lewisohn word geluister wanneer hy kritieke skryf, maar as skeppende kunstenaar beteken hy minder.
* * *
As skilders het Jode nie sterk op die voorgrond getree in die Westerse wêreld nie. Tog kom hier name voor soos J. Israels, geb. in Groningen, 1824. Hy word beskou as 'n kunstenaar wat die reaksie teen die romantiese skool sterk bevorder het. In sy styl het baie moderns gelê. Dit is realisties, vergelyk by sy onmiddellike voorgangers en heelwat van sy tydgenote. Nietemin is hom deur meer radikaal-gesindes sentimentaliteit en te veel ‘genre’ verwyt, wat betref sommige van sy doeke. Hy was 'n tyd lank die erkende voorman van die Nederlandse skilderskool en is in heel Europa geëer. As
| |
| |
PLAZA KINEMA, PRETORIA:
OUDITORIUM.
| |
| |
volgeling van hom word beskou sy vrind Max Liebermann, geb. 1849 in Berlyn. Hy het in Holland gestudeer en Hollandse onderwerpe met sy penseel verewig. As realis, later as naturalis, het hy skool gemaak en die voorman geword van altans 'n aansienlike seksie van Duitse skilders.
Nog 'n man van Europese naam was Camille Pissarro, geb. in 1830 in Wes-Indië. Hy het een van die mees bekende figure in die Franse skilderskool geword en was 'n tydgenoot van Cézanne, Corot, Monet, Gauguin ens. Hy was heeltemal vereenselwig met Frankryk en het g'n Joodse onderwerpe gekies nie. Lewensvreugde en natuurskoon is deur hom verheerlik met sterk kleure.
In Engeland het Solomon J. Solomon belangstelling vir geskiedkundige tafrele aangemoedig en is Sir W. Rothenstein hoof van die groot ‘School of Art’. Hierdie artiekels word nie geskryf om 'n katalogus van Joodse kunstenaars te gee nie. Derhalwe moet die werk van S. Bender, Kaufmann, Rubin, Hirszenberg en ander skilders ongenoemd bly, want al is dit uitstekend in sy soort het dit in die kunsgeskiedenis nie juis 'n posiesie verwerf nie. Daarenteen sou dit verkeerd wees om stil te bly oor die onmiskenbare invloed van Joodse kunskenners en kunskopers, wat vir die skilders van die wêreld so baie beteken het. Die onderskeidingsvermoë van die Jood en sy bereidwilligheid om nou en dan iets te waag met 'n spekulasie het al menige skilder gebaat.
As beeldhouers het Jode nie uitgeblink nie. Daar word beweer dat dit is omdat die Mosaiese verbod teen beelde, nie net afgodsbeelde nie, daardie tak van kuns ontmoedig het. Is dit die ware uitleg? Of is die verbod by die ou Hebreërs en Arabiere altemit 'n onbewuste uitvloeisel van gebrek aan aanleg in hierdie opsig? 'n Uitsondering was Antokolsky, geb. in 1842, wat die vernaamste Russiese beeldhouer van sy tyd was. Hy het Joodse sowel as Russiese onderwerpe gekies. Op die Paryse tentoonstelling van 1878 is sy werk erken as van die eerste rang. Ook in Rome en elders het hy groot sukses gehad.
Midde in die Europese beeldhouery van ons tyd staan J. Epstein, geb. in N. York maar nou Londenaar. Hy kan skoonheid voortbring, maar verkies gewoonlik die afsigtelike. Hy bring kort-kort die penne en tonge in beweging. Sy invloed op ander kunstenaars, ook skilders en tekenaars, is, helaas, groot.
In Suid-Afrika het ons Joodse beeldhouers, maar daaroor iets in die volgende, en laaste, artiekel. Dit sal hom ook kortliks moet besighou met boukuns, verder, met 'n paar algemene oorwegings maar in hoofsaak met musiek, want dis die kuns waarin die Jode die meeste gepresteer het in Europa. Ander takke van die Semietiese stam, veral die Arabiere, sal nog genoem moet word, wat musiek sowel as ander takke van kuns betref.
N. LEVI.
|
|