nie alleen was sy duiselig nie maar haar ogies het geswem in trane sodat sy skaars een tree voor haar kon sien. Daar in haar skuilplekkie het Salomè haar vir 'n goeie uur gaan wegsteek en niks uitgevoer nie. Selfs nie een opknappende gedagte het by haar opgekom nie. Sy was suf. Buitekant het die son heerlik warm geskyn en op die werf het alles maar sy stille alledaagse gang gegaan. Selfs die gepraat van die mense was alledaags, niemand sou ooit kon droom dat daar moord in hulle harte was nie. Onduidelik het Swartkoppie se geblêr haar bereik. Hy het sy Ounooi gemis en na haar begin soek. Eers kon dit Salomè nie byval wat die geluid kon wees nie maar stadig het sy bewus geword van Swartkoppie se stem.
Soos 'n lanfersluier val die swaarmoedigheid van haar af en in 'n kits is sy uit die boomholte en kniel sy langs die hanslam. ‘A! Swartkoppie, jy is al so groot dat ek jou glad nie eens met my twee arms kan omvat nie. Plaas dat jy klein bly - klein vir jou Ounooi, want jou mooi, vet, ronde lyfie het alweer die duiwel se lis opgewek. Heeldag word ek gewaarsku teen die listigheid van die duiwel en hulle weet nie eers nie dat hy in hulle harte regeer nie.’ Maar swaarmoedig kon geen mens in Swartkoppie se teenwoordigheid bly nie want uit hom het te aansteeklik die lus vir die lewe gestraal. Hy het met haar begin stoei en gou was hulle verdiep in hulle ou speletjie van huppel-spring soos Salomè dit genoem het. Nie te lank nie of Salomè gewaar een van die plaaskaffers. Meteens is al die vreugde wat so spontaan by haar opgewel het, gedemp en met haar hand nou om Swartkoppie se snoetjie gesluit om hom stil te hou, vra sy met 'n bedrukte stemmetjie: ‘Waarom is jy dan nog nie veld-toe nie, Johans?’ Vrees het haar ogies verglaas - amper soos die van 'n dooie laat lyk terwyl sy in die grootste spanning op sy antwoord wag.
‘Ek moet help slag vanoggend, my nooi - jy weet môre dis die groot dag.’
Salomè sou sonder twyfel inmekaar gestort het as haar vader nie net juis op daardie oomblik langs hulle verby gekom het nie. Nuwe hoop het haar vir 'n oomblik besiel maar toe merk sy dat hy nie eens bewus is van haar en Swartkoppie se teenwoordigheid nie. Met sy sambok in sy hand stap hy aan in stilte.
Sonder om haar aan hom op te dring het Salomè langs hom gaan loop. Swygend stap sy aan langs hom en toe in stille vertroue lê sy haar handjie in syne en met groot oë kyk sy op in sy gesig of sy daar geen tekens van erkenning kon bespeur nie. Maar, helaas nee. So ver as dit hom aangaan het daar op daardie oomblik ten minste nie so iemand soos sy bestaan nie. Telkens weer egter het sy haar ogies op hom gerig maar sy gesig was vir haar soos 'n geslote boek. Mismoedig en senuagtig het sy haar handjie in syne begin ronddraai - sonder enige uitwerking egter. Sy kon eenvoudig sy aandag nie trek nie. Salomè wou net weer omdraai om haar