By sulke geleenthede was die applous gewoonlik baie hartelik; maar dit het ook al verskeie male gebeur dat net één die hande geklap het - die versoeker. Of ek nou verkeerd was of nie, die feit bly staan, dat ek dan altyd 'n nydige blik na die deur se kant toe gewerp het: mog hy 'n kramp kry!
Die ventjie het van kwaad tot erger gegaan. Reken net die vermetelheid wat hy eendag gehad het om my vertolking van die ‘Kreutzer Sonata’ na te boots! Dan het hy ook sy plekkie nader aan die ingang van die Café verskuiwe. Waarlikwaar, die kêreltjie was met die duiwel besete.
Voorverlede Vrydag het ek my vas voorgeneem om hom met konsertiena en al die ewigheid in te skop as hy weer so astrant sou wees om as my eggo te wil optree. Toe ek die middag by hom verbystap het dit my siel goedgedoen om te sien dat daar nog geen enkele pennie in sy toiingrige keppie gelê het nie en my regtervoet het al klaar gejeuk om somar daar en dan my voornemens ten uitvoer te bring: maar nogeens het ek myself bedwing.
Laat die agtermiddag het Geiske my een van Beethoven se stukke voorgesit en gevra om te speel. Watter onuitspreeklike genot het ek nie in die musiek gevind nie! Hierbinne in my het iets telkens gefluister: ‘Pragtig, eksellent! Laat hom dit probeer naspeel!’ Onder luidrugtige applous het ek gaan sit. Daar bring 'n bediende my toe 'n kaartjie: Mnr. M. wil weet of ek nie asseblief ‘Träumerei’ sal speel nie. Alweer Mnr. M. met sy ‘Träumerei’. Hy was 'n goeie joernalis; maar sy smaak vir musiek was minder goed, tenminste, as ek sy kaartjie sien dan weet ek al klaar wat die versoek is: ‘Träumerei’.
Wel, ek het half lusteloos my viool opgetel en my duim so'n paar keer oor die snare gestryk... Swêrnoot! Die Here bewaar jou as jy daar in die deur gaan sit en speel! Ek kon nie anders nie; ek moes vloek, want daar voor in die deur het 'n maer seuntjie gestaan met die berugte konsertiena onder die een arm en 'n stoeltjie onder die ander. Doodstil soos 'n muis het hy daar gestaan met sy ogies strak op my gerig. Vir 'n oomblik het ek net rooi voor my gesien: sou hy werklik.....?
‘Is jy reg?’ hoor ek toe agter my en ek begin speel. Ek het die figuurtjie daar in die deur egter dopgehou. My oë het meer en meer aan die voorwerp gewoond geword, en naderhand het ek net die swart keppie gesien waaronder 'n paar fonkelende bruin oë uitgeloer het. Ek verbeel my hulle het al hoe groter geword. Of hulle my gehipnotiseer het, weet ek nie; maar ek weet dat ek ‘Träumerei’ vir niemand anders as vir daardie figuurtjie gespeel het nie - Mnr. M. het onder die spele alweer hard aan 't gesels geraak, soos gewoonlik.
'n Rukkie later, toe ek besig was om my musiekboeke weer in te pak, moes ek onwillekeurig ophou om te luister: Dis mos ‘Träumerei’ wat daar