Hy verdwyn tussen die baie mense in die straat, en ek hardloop terug na die winkel. Ek rangskik al die blomme netjies en sing sag 'n deuntjie. Daardie dag, en ook die daaropvolgende dae was ek opgeruimd en bly. Met al die mense wat kom blomme koop, het ek vriendelik gelag. Ou mnr. Koenen het gemerk dat ek in so'n opgeruimde stemming was. Met sy groot, growwe hand het hy aan my ken gevat en gesê: ‘Ek is bly om te sien dat jy nou weer heeltemal herstel is van die siekte.’
Op 'n sekere môre kom hy onverwags vroeër as gewoonlik. Glimlaggend groet hy my, en dit skyn asof al die vriendelikheid van die wêreld uit sy oë straal. Ek was verheug om hom so bly te sien, en hoewel sy ruiker al lankal gereed was, maak ek asof ek nog eers die ander blomme moet rangskik voordat ek dit aan hom oorhandig.
Toe ek hom die ruiker aanbied staan hy vir 'n tydjie stil en beskou dit. Toe sê hy dat ek hom nog 'n ruiker moet gee. Ek was verwonderd, maar haas my om aan sy wens te voldoen. Hy hou die twee ruikers langs mekaar en vra my welke een die mooiste is. Ek leun oor na hom en sê:
‘Die een wat u die eerste geneem het. Elke angelier in daardie ruiker is spesiaal uitgesoek vir u.’
Vir 'n oomblikkie staar hy my glimlaggend aan, en gee toe weer aan my die ruiker wat hy die eerste geneem het terug.
‘Dit is vir jou,’ sê hy, ‘'n present van my.’
Voor ek hom kon bedank was hy weg. Met bewende hande hou ek die ruiker vas en druk dit toe teen my bors. Dit was 'n present van hom, het hy gesê.
Daardie dag was ek blyer as ooit tevore. Ek het die ruiker saamgeneem na my kamer in Potgieterlaan. Van die vrou van wie ek die kamer huur het ek 'n blomvaas geleen, die angeliere daarin mooi gerangskik en dit voor my bed geplaas. Daardie nag het ek min geslaap. Ek het gedurig gedink aan Francois Pieterse en die ruiker wat hy my gegee het.
Die volgende dag het hy nie gekom nie. Ek het die hele dag vir hom gewag, maar hy het nie sy verskyning gemaak nie.
Net voor die winkel sou sluit het ou mnr. Koenen my sy koerant gegee, waarin 'n advertensie was van 'n nuwe blomwinkel wat die volgende dag in dieselfde straat sou geopen word. Ek het die advertensie deurgelees, maar my gedagtes was so verstrooid dat ek nie eintlik geweet het wat daarin staan nie.
Maar skielik het ek die koerant gegryp en dit naby my oë gehou. In die kolom naas die advertensie het ek skielik sy naam gesien, Francois Pieterse se naam. Hy is daardie selfde môre getroud, lees ek daar. Ja, hy was getroud, hy, Francois Pieterse. En die naam van die meisie staan daar, maar ek kon dit nie meer lees nie. Alles het swart voor my oë geword en die druk-