werking aan die F.A.K. toegesê het nie. In 'n kultuurstryd is koördinasie van kragte 'n nog baie groter vereiste as in enige ander kamp. Ons veg teen onsigbare vyande wat in die eie boesem skuil en daarom moet ons kennis dra hoe om die kwaad uit die weg te ruim. Dis alleen die F.A.K. wat u daardie kennis kan verskaf. Deur by die F.A.K. aan te sluit verloor u nie u eie identiteit nie, en u word geen geldelike verpligtinge, behalwe 'n luttele 10/- as toetredingsfooitjie, opgelê nie. Van u sal verwag word om, in samewerking met ander plaaslike geaffilieerde vereniginge eenmaal per jaar 'n kultuurfunksie te organiseer, en die ingesamelde geld na aftrek van onkoste, aan die F.A.K.-kas te stuur. Deur aansluiting word u wens van jare verwesenlik, n.l. dat al die vereniginge van S.A. een oogmerk, die bevordering van ons taal en kuns op 'n bepaalde en omlynde wyse sal nastrewe. Dan sal die allenigheid en verlate gevoel u nie meer kwel nie. Die Konstitusie en Program van die F.A.K. is op aanvraag gratis verkrybaar.
Soos u u nog sal kan herinner was die Kultuurkongres van 18 en 19 Desember 1929 te Bloemfontein gehou 'n skitterende sukses gewees. Daar was ruim 300 afgevaardiges en die besieling wat ons daar ontvang het, het soos 'n lopende vuurtjie die hele S.A. aan die brand gesteek.
As daardie Kongres u met ywer besiel het dan sal die een wat op 22 en 23 Desember a.s. in die Moederstad gehou word, 'n lewenslange werklus in u wakker roep.
Ons meen om daar 'n 500 afgevaardigdes te hê. Ons wil die twee aangenaamste dae van 1931 aan die voet van Tafelberg deurbring. In die stad van van Riebeek wil ons wys wat die Afrikaanse taal en kuns in die laaste 30 jaar vermag het. Kom bekyk die kunswerk van u nasie, kom ontvang nasietrots. Kom haal die kole van die haard wat patriotisme in die afgeleë hoekies moet laat ontvlam. Kom oortuig u dat ons vanaf 1929-31 nie verniet gelewe het nie. Kom besigtig die nuwe bydraes tot ons volkskuns.
Die groot oogmerk van die kongres gaan wees om die kultuuraspek te beklemtoon en nie soseer taalhandhawing nie. U word dus gevra om noual die noodsaaklikheid van afgevaardigdes te oorweeg en reëlinge vir losies te tref Volgens art. 6 (b) van die konstitusie sal elke gefedereerde vereniging die reg hê om een afgevaardigde vir elke 50 of minder lede (tot 'n maksimum van 3) na die Kongres te stuur, terwyl die lede van 'n Hoofbestuur van 'n organisasie, wat tien of meer takke het wat tot die Federasie behoor, elkeen volle reg van sitting op die Kongres sal hê. Voorts sal alle lede van gefedereerde Vereniginge, liggame, ens., die reg hê om die Kongres by te woon met adviserende stem.
Binnekort meen die F.A.K. om 'n lys van hotelle en losieshuise in Kaapstad te publiseer, sodat die afgevaardigdes hulle van die ingewonne inligting