| |
| |
| |
Die Kuns van die Netskie.
(Illustrasies dear Gregoire Boonzaier.)
HOE gelukkig is dit tog vir ons wat nie so bemiddeld is, dat daar werklik geen groot gevaar bestaan, dat kunswerke die monopolie van die ryk man sal word nie. In alles sit daar skoonheid, maar dis nie elkeen wat dit kan raaksien nie. Deur Confuscius was geboekstaaf hierdie grondige waarheid van die skoonheidsleer, wat dit moontlik maak vir die minder welgestelde om ook skoonhede
BEELD VAN 'N HEILIGE.
te besit. As al die, baie ryk mense die skoonheid wat daar orals is kon ‘sien’, dan sou kunswerke onbereikbaar geword het vir algar behalwe miljoenêrs. Dis gelukkig vir ons andere dat die ryk mense nie altyd die skoonheid in al haar velerlei vertonings kan herken nie. Gelukkig ook dat die besit van weelde nie noodwendig die besit van goeie smaak aandui nie, want dan sou die pryse van kunswerke gestyg het ver bokant die vermoëns van mense van matige inkomste. Die ryk man se smaak op kunsgebied is maar meestal 'n kwessie van outoriteit liewer as onderskeidingsvermoë; sy vrou se smaak is bloot 'n modesaak liewer as eie skoonheidsgevoel; dus kan die arm man wat skoonheid kan sien, wat haar werklik liefhet in al haar openbaringe, hom nog verlustig in 'n versameling van kostelike kunswerke waarin die ryk man geen skoonheid kon vind nie.
Hierdie gedagtes skiet my te binne nadat ek sommige van die Japanese beeldsnywerk, genaamd Netskies, in besit van Mnr. D.C. Boonzaier, die spotprenttekenaar besigtig het. Ek sê ‘sommige’ want, hoewel ek die hele wonderlike versameling van honderd-en-tagtig eksemplare gesien het, soos hul van tyd tot tyd in sy besit gekom het, nogtans, dit is onmoontlik om hul algar tegelykertyd te waardeer. Die skoonheid van dié beeldsnywerkies is nie alleen 'n genot vir die oog nie. Dit lok tot hantering, byna tot liefkosing, sodat 'n mens ten volle die bekoring van hul sierlike en demoniese volmaaktheid van detail kan geniet.
| |
| |
Wat is nou juis 'n netskie? Om duidelik te kan verklaar wat 'n netskie is, is dit nodig om 'n bietjie uit te wy oor Japanese kleredrag. Japanese kleredrag het onveranderd gebly vanaf die agste tot die neëntiende eeu, toe die pragtige en skilderagtige kostuum van oud-Japan vervang was deur die lelike en praktiese drag van westelike Europa. Die voornaamste en dikwels enigste kleed wat in die somer gedra word is 'n lang rok van sy, katoen of hennep vervaardig soos 'n kamer- of bad-kleed, en genaamd 'n Kimona. Dis om die middel vas met 'n gordel (genaamd die obi), gewoonlik gemaak van 'n syserp, vier-en-'n-half jaart lank en ses duim breed. In die voue van die gordel word verskeie artiekels gedra soos die tabaksak, pypdosie, beursie, 'n klein medisyne-trommeltjie en 'n draagbare inkpot. Al hierdie artiekels word aan die linker-, regter- of beide sye gedra in die obi, want die Japanese drag ken geen sakke in die sin waarin ons die woord gebruik nie; ook geen hakies en ogies, geen knope- en knoopsgate nie. Om te voorkom dat hierdie goed tussen die gordel en die kleed deurgly word hul in die plek gehou deur 'n ornament, die netskie. Die netskie is sigbaar op die boonste deel van die obi, en is vasgebind aan 'n sydraad, wat enige duim, verder deur 'n skuifgespe, baie soos 'n knoop, deurloop en dan vas is aan die artiekel wat in die gordel gedra word. Weens sy spesiale gebruik en die feit dat hy twee gate het waardeur die sydraad loop, is die netskie maklik te onderskei van ander voortbrengsels van die Japanese kuns. By enkele gevalle ontbreek die twee gaatjies, wanneer die kunstenaar dit oorbodig ag omdat 'n deel van sy ontwerp, soos byvoorbeeld die opening tussen blare of ledemate, kan diens doen.
Uit die aard van sy gebruik word die netskie gewoonlik in 'n uiters beknopte fatsoen vervaardig, want dis heeltemal duidelik dat uitstaande puntjies lastig sou wees, en daarby nog dikwels sou afbreek. Dan is hul ook so klein dat hul gewoonlik in die holte van 'n mens se hand kan omvat word. Die ryke verskeidenheid van stowwe wat gebruik word vir hierdie beeldsnywerkies is merkwaardig. Elke moontlike materiaal uit die diere- of plante-wêreld of van stoflike aard word gebruik. Die beeldsnyers het ivoor, takhorings, gewone horings, pêrlemoer, selfs die snawels van groot voëls, skilpaddop en skulpe gebruik. Hulle het die hout van verskillende soorte bome gebruik, ook bamboes, kalbas, note, seepsteen, perskepitte, koraal, jaspies, brons, agaat, bergkristal, koper, yster en glas. Die lys is amper eindeloos. Nogtans, hout was meestal gebruik, en die kunsvolste netskies is waarskynlik dié wat van hout gemaak is - palmhout, die hout van mispel-, kers- en sipres-bome was dikwels gebruik. Selfs ebbehout, ingevoer uit China was herhaaldemale gebruik deur Miwa, een van die beroemdste netskiebeeldsnyers, en die Japanese beskou dit as 'n bewys van die egtheid van 'n ‘Miwa’ as hy na onder sak
| |
| |
1. TENGU KOM UIT DIE EIER.
2. MOSSIE.
3. EIERVRUG.
4. WATERBUFFEL.
| |
| |
wanneer die netskie in water gesit word. In Mnr. Boonzaier se versameling is daar 'n prageksemplaar van 'n waterbuffel in ebbehout vervaardig deur die grote Miwa (sien illustrasie 4). Hoewel maar slegs die grootte van 'n appelkoos, nogtans hoeveel krag en massiefheid vertolk daardie paar duim swart ebbehout, die hardste en soliedste van alle houtsoorte. Daar is nie alleen krag nie; daar is voortreflike skoonheid ook. Herr Albert Brockhaus, wie se versameling van netskies wêreldberoemd is, het in sy monumentale werk oor dié onderwerp geskryf: ‘Vir 'n Europeaan wat gewoond is aan allerhande tekengereedskap is dit verbasend om te sien met hoeveel sekerheid die Japanese kunstenaar die fatsoen en vorm opvang en reproduseer sodat elke beweging weergegee word. Terwyl die Europeane gewoond is om van 'n model te werk, sal die Japanese beeldsnyer meestal vry beeld sonder enige model. Deur die nougesetste beskouing van die gekose onderwerp kan hulle 'n volmaakte reproduksie uit hul geheue weergee, en daarby alle mense uit alle eeue verreweg oortref in bekwaamheid.’
Nogtans, ons moet nie onder die waan verkeer dat 'n netskiebeeldsnyer vinnig of maklik werk nie. 'n Parysenaar, wat in 1874 Japan besoek het, vertel:
‘Op 'n dag kom ek 'n Japanees teë wat op sy drempel sit en beeldsny aan 'n byna voltooide netskie. Ek vra hom of hy dit aan my sou verkoop wanneer dit klaar is. Laggend sê hy vir my, ek kannie daarvoor wag nie, aangesien dit te lank sal duur, want hy het minstens nog 'n jaar-en-'n-half se werk daaraan, voordat hy sou klaar wees. Uit sy gordel haal hy 'n ander waaraan hy enige jare bestee het. Dit is wel waar dat hy nie gereeld daaraan werk totdat die netskie klaar is nie; inteendeel, hy moet juis lus voel daarvoor. Dit is ook nie elke dag die geval nie, sê hy, maar alleen wanneer hy een, twee of drie pype gerook het en verkwik en tevrede voel.’
Mnr. Boonzaier vertel my dat hy ongeveer vyftien jaar gelede netskies begin versamel het. In dié dae was daar in Kaapstad 'n sekere Furuya, 'n Japanees, wat die wonderskoon kunswerke van oud-Japan en ook wel van China verkoop het, sowel as die minderwaardige, dog nooit lelike, koopware van die hedendaagse Japan. Dié beroemde winkel was bekend as ‘Die Mikado’, en gedurende die eerste paar jare van sy bestaan het hy menige wonderlike bronswerke, porseleinjuweeltjies of pragtige ingewikkelde stukkie borduurwerk bevat. Helaas! dit is nie winsgewend om kunswerke in ons land in te voer nie, en eindelik het Furuya ons land vaarwel geheet en sy winkel oorgegee aan 'n landgenoot, onder wie se sorg die ganse aard van die winkel totaal verander het. Dit was na hierdie Furuya wat Mnr. Boonzaier gegaan het nadat hy in Blaeker se boek: ‘The A.B.C. of Japanese Art,’ gelees het van die kuns van die netskies, waarvan hy nog nooit 'n eksemplaar gesien het nie,
| |
| |
ofskoon hy al soveel jare innig belangstel in die Oosterse kuns. Uit 'n glasekas in sy kantoor haal Furuya 'n netskie, aan 'n medisynetrommeltjie (inro) vas, te voorskyn, en hy sê dis die enigste een wat hy het om te verkoop. Die koop is onmiddelik deur; en Mnr. Boonzaier sê hy is van daardie dag af 'n geesdriftige versamelaar geword van hierdie wonderskoon beeldsnywerkies. Dit was daardie tyd, en is vandag nog, uiters moeilik om eksemplare in Suid-Afrika te vind. Maar hy was gelukkig genoeg kort daarna om in Kaapstad iemand te ontdek, wat omtrent tien van dié pragtige netskies had. Dit was eers toe hy hierdie tien gesien het dat hy ten volle besef het hoe pragtig en verskillend die bekoring van hierdie skone kunswerkies is. Hul eienaar was eers huiwerig om hul af te staan, maar langsamerhand het hul algar in Mnr. Boonzaier se besit gekom. En so met 'n begin van elf het sy versameling toegeneem, totdat dit nou honderd-en-tagtig is. Meeste van hulle kom direk uit Londen. 'n Vrind wat die versameling hier gesien het en nou daar woonagtig is, en wie met oneindige moeite en klaarblyklike genot 'n spesiale studie van hierdie kunsvorm in al die museums en kunswinkels gemaak het, stuur van tyd tot tyd nuwe eksemplare iedereen interessanter as sy voorganger.
Die versameling is rykste aan houtsnywerk van diere, want uit die staanspoor uit was dit opmerklik dat die minderwaardige soort netskies (wat gewoonlik van ivoor gemaak was) persone voorstel. Buitendien, selfs die skoonste outydse ivoorbeeldjies kan nie kersvashou vir die werklik oue houtbeeldjies nie wat mettertyd heerlik warm-gloeiende tinte aanneem.
Dit lyk asof enige voorwerp wat die beeldsnyer gadegeslaan het 'n geskikte onderwerp was vir sy kuns. 'n Blom, 'n vrug, 'n kruipende gedierte, 'n insek, 'n voël, 'n dier, die menslike gedaante of wat ook al sy oog aanskou het, het hy trou weergegee en verheerlik ‘met 'n geduld wat alle verstand te bowe gaan,’ soos Blacker tereg sê. ‘Met geen ag op tyd of geld nie, en met 'n goedgeslaagde uitslag wat ons vandag nog verstom. Ses maande of 'n jaar. Wat kom dit opaan? Die werk sal betyds voltooi word, want daar is geen pligsversuiming nie, alleen 'n toegewyde volharding.’
Nie alleen voorwerpe wat die beeldsnyer (ek sou liewer sê die beeldhouer) in die Natuur om hom heen aanskou nie, maar ook die ontelbare voorwerpe van sy verbeelding, van die bygeloof, mitologie en die fabels van Japan word geskikte onderwerpe vir sy kunsbeoefening. Herhaaldelik sien ons die gode, die filosowe, goeie of bose geeste voorgestel met 'n sekere mate van vasgestelde konwensie, maar nogtans op 'n wispelturige, 'n ironiese, koddige wyse wat sy oorsprong het by die kunstenaar.
Die ‘Tengu’, byvoorbeeld, (sien illustrasie 1) is 'n bowenatuurlike gedaante wat in twee vorme verskyn - met die snawel van 'n voël of 'n menslike gesig met 'n enorme neus wat lyk op 'n stuk wors. Die Tengu, half
| |
| |
6. INSEK OP 'N STROOIHOED.
7. TIER.
8. 'N GOD MAAK 'N STROOISANDAAL HEEL.
9. 'N ROT OP 'N MANDJIE VOL KASTAIINGS.
| |
| |
mens en half arend, is die koning van die voëlwêreld. Die pragtige een wat hier gesien word is van hout, gemerk met die private merkteken van die grote Minko, en stel die Tengu-arend voor as hy uit die eier uitkom. Sy snawel is van ivoor. Hierdie besondere netskie is welbekend, want dertig jaar gelede het hy gepryk in die beroemde versameling van Mnr. Marcus Huish, en later was hy in besit van 'n ewe beroemde versamelaar, Mnr. H. Seymour Trower. In 1921 het Mnr. H.L. Joly die gelukkige besitter daarvan geword. Toe sy versameling opgebreek is, het dié netskie beland by die welbekende kunshandelaar van Oosterse kuns, Mnr. F. Meinertzhagen, van wie Mnr. Boonzaier hom gekoop het. Die drie beroemde versamelaars het algar gesaghebbende boeke geskryf wat goed bekend is aan alle kunskenners van die Oosterse Kuns.
'n Ander netskie, wat 'n berugte figuur uit die Japanese mitologie voorstel, is die hoë ivoor een van ‘Gama-Sennin’ (sien illustrasie 5). Dit dra die merkteken van die grote beeldsnyer Tomotado en stel die god voor met sy padda op sy linker skouer. Dit word gesê dat ‘Gama-Sennin’, 'n heilige, wat in die berge gewoon het, eenmaal hom ontferm het oor 'n siek padda of brulpadda. Hierdie dier was in werklikheid 'n wyse demon, wat aan sy weldoener allerhandse geheime geopenbaar het uit loutere dankbaarheid.
Die heeleerste netskie wat aan Mnr. Boonzaier behoort het is juis 'n houtbeeld van dieselfde heilige of god. 'n Ander pragtige ivoorbeeld is van die gelukkige mossie (sien illustrasie 2) Fukura Suzumé, met 'n garskorrel in sy bek. Dit dra die merkteken van die hooggeëerde beeldsnyer Hidemasa.
Die oudste netskie in die versameling, en ook tegelykertyd een van die ingewikkeldste is van die god Ni-o (sien illustrasie 8), wat, volgens Japanese mitologie, die tempel bewaak teen bose geeste en wat die kwaadaardigste gelaatsuitdrukking gehad het. Ons sien Ni-o sittende op 'n groot sandaal wat hy heelmaak. Dié beeldsneewerkie dra die teken van Hokei, wie se werk baie seldsaam is. Hy het vanaf 1700 to 1750 geleef en was die leermeester van die beroemde beeldsnyer Ryiekei.
Onder die houtnetskies in hierdie versameling wat so goed verteenwoordigend is van die kuns van die netskiesnyer, is daar van die allerskoonste eksemplare waarin vrugte of blomme met realistiese getrouheid weergegee word. Daar is, byvoorbeeld, 'n vrot peer waarin 'n perdeby besig is om te eet. Weens sy volmaakte naturalistiese detail is hy een van die skoonste juweeltjies in die versameling. Kyk eens na daardie mandjie vol kastaiings (illustrasie 9), waaroor 'n rot heen klouter, vervaardig deur Tametako in die agtiende eeu. Kan realisme groter wees? Daar is 'n bos krisante, nie groter as 'n pruim nie, nogtans so fyn uitgesny dat elke blomblaartjie, knoppie en blaartjie duidelik te onderskei is. Daar is die pragtige ontwerp van 'n eiervrug (illustrasie 3) met stengel en blaartjies. Die eiervrug of ‘aubergine’, net
| |
| |
soos die lotus en graankorrels, is 'n heilige simbool van die verering van die nagedagtenis van voorouers. Dit word sinnebeeldig gebruik by geleentheid van die groot Boedistiese begrawingsfees op die twaalfde dag van die sewende maand - die ‘Bou’-plegtigheid.
Ewe fraai, maar soms grotesk en vermaaklik, is die houtsneewerke van diere of insekte. 'n Besonder klein netskie van twintig rotte wat oor 'n stukkende vismandjie rondkruip, is een van die wondere van hierdie wonderlike versameling. Die groep met die drie bobbejaantjies, deur die grote Miwa in hout uitgesny is miskien nog wonderliker, vanweë die diertjies se gelaatsuitdrukkings, so intens na die lewe. Hierdie vermaaklike groep stel voor 'n bobbejaantjie wat 'n pootjie in sy ma se bek het, terwyl laasgenoemde met die regterpoot op haar maat se skouer sit en met die linkerpoot 'n vrug agter haar rug wegsteek. Naasaan sit die pa wat gulsig, met albei die hande voor die bek, 'n vrug verslind. Die jakhals, wolf, leeu, tier, haas, perd, os, olifant, buffel, hoenders, skilpad en hond word algar verteenwoordig in hierdie uitstekende versameling, en 'n kragtige beeldsneewerk (sien illustrasie 7) is die snouende tier van gelerige hout, gemaak met oë van ingelegde koper. Dit is geteken deur Minko met die kunstenaar se private merkteken, en verder staan daarop: ‘op twee-en-tagtigjarige leeftyd’. Die ‘tier’ van die netskiebeeldsnyer was natuurlik 'n bowenatuurlike skepsel, net soos die draak en die feniks, en was sinnebeeldig van lis en sluheid. Hy lyk op 'n gestreepte kat, en dit word veronderstel dat hy op vyfhonderdjarige leeftyd wit word en dat hy leef totdat hy 'n duisend jaar oud is.
Een van die pragtigste insekte-netskies (sien illustrasie 6) stel 'n insek voor wat aan die strooihoed van 'n boer vasklou; een van die vermaaklikste vertoon drie spelende klein hondjies wat oor mekaar klonter. Die duiwel of Bose speel 'n vername rol in die netskiewêreld, en Mnr. Boonzaier besit voortreflike prageksemplare hiervan.
Dit is merkwaardig dat, hoewel die beeldsnyer die boonste kant wat getoon word so dekoratief en fraai as moontlik maak, hy ook altyd die grootste aandag aan die anderkant wy. Elke kant word so sorgvuldig afgewerk dat daar nêrens blyke van knoeiery te bespeur is nie. Onder die Europeane word dikwels al die werk bestee aan die voorste kant van die voorwerp; die agterkant moet tevrede wees met enige soort knoeiwerk. Nie so onder die Japanese nie.
Daar is soveel om die bewondering en geesdrif gaande te maak in Mnr. Boonzaier se netskies, waarvan soveel afkomstig is uit beroemde Europese versamelinge, en vyf selfs uit die wêreldberoemde Behrens-versameling van vierduisend stuks, dat ek boekdele oor die onderwerp kon skryf en nog nie die wonderlike bekoring van die netskies tot sy regte kan laat kom nie. Nogtans,
| |
| |
die tekeninge wat Gregoire hier gemaak het van sy vader se netskies sal, sover dit moontlik is, 'n vertolking gee van die bekoring van een kunsvorm deur medium van 'n ander. Brockhaus herinner ons daaraan dat die netskie 'n kunsvorm is wat net eenmaal kan bestaan, alleen in Japan verkrygbaar is en ‘soos die blare van die bome, is daar nooit twee wat presies eners is nie’. Wat 'n aanloklike en uiters interessante speelruimte bied hul aan die versamelaar. Die bymekaarmaking van hierdie versameling - ek glo stellig die enigste van sy soort in ons land - het vir die eienaar in die afgelope vyftien jaar nie alleen die skoonste estetiese genot verwerf nie, maar ook vele genotvolle ure van nadenking oor die mietes en fabels van die Ooste, en 'n geesdrif vir 'n kunsvorm wat binne die beperking van een duim die krag van 'n standbeeld van Michael Angelo of Auguste Rodin, of die groteskheid van 'n enorme gebeeldhoude klipwaterspuit van 'n katedraal uit die middeleeue kan weergee - en ewewel in die delikate vlerkie van 'n perdeby op 'n verrotte vrug die grasie van 'n herfsdraadjie kan vertolk. Daarby kan daar nooit 'n einde kom aan die sielsgenot, geesdrif en vertroosting wat die beskouing van 'n ware kunswerk besorg aan die kunskenner nie, want - ‘A thing of Beauty is a Joy forever’.
BRANDER.
|
|