| |
| |
| |
Suid-Afrikaanse Kunstenaars in Londen.
IN Londen word nou die groot tentoonstelling van Sweedse Kuns en Kunsnywerheid gehou. Dat so 'n klein landjie, Swede, met so 'n betreklik klein bevolking, soveel kan lewer wat groot en mooi is, veel groter as wat magtige nasies met groot getalle doen, is inderdaad wonderlik. Tegelykertyd gee dit vir ons in Suid-Afrika moed, dat ook ons, nieteenstaande alles, kan soek na 'n groot kuns-kultuuruiting. Maar dit is opvallend hoe die Swede te werk gaan: Die Sweedse kunstenaar is die intieme vriend van die Sweedse fabrikant; die bord, die glas, die tapyt, die kas en stoel, byna alle gebruiksvoorwerpe, is ontwerp deur groot kunstenaars, en so is die ‘mooie’ in elke huis gekom, hoe eenvoudig dit ook is. As ook by ons die kunstenaar nie iemand ‘daarbuite’ is nie, iemand vir die ryke, ongenaakbaar, maar een stuk van ons volk - dan hoef seker so baie van ons bestes nie in Londen, Parys, Berlyn en elders te woon nie, dan sal daar seker genoeg ondersteuning in Suid-Afrika wees en veral waardering. Want die kunstenaar het waardering en 'n simpafieke omgewing nog veel meer nodig as die broodnodige geld.
Maar dit sal nie net die kunstenaar wees wat deur sulke omstandighede sal wen nie. Die hele Afrikaanse atmosfeer sal verander en in plaas van goedkope maar slegte Engelse en Duitse massaware sal daar goedkope maar mooi en goeie dinge in die huis kom.
In Londen alleen woon daar 'n hele groepe Suid-Afrikaanse kunstenaars, sommige permanent, ander weer om so gou as moontlik terug na Suid-Afrika te gaan. Dit lyk egter of die musici nie terug wil of kan gaan nie - ons beste moet hier bly. Daar was byvoorbeeld die groot en sterk begaafde jongman Johannes Fagan, miskien ons grootste hoop vir musiek, wat hier sy vroeë dood moes vind. Daar is veral nog sy jonge broer Gideon, een van ons weinige komponiste en dirigente wat sekere tekens toon van egte talent, maar deur omstandighede losgebreek word van sy land en nou permanent in Londen woon. Tensy dat hy kans kry om Suid-Afrika-toe te gaan. En so is daar meer.
Daar is ook 'n groep jong skrywers van Suid-Afrikaanse afkoms. Maar hulle is meer soos trekvoëls, dit lyk of hulle nêrens rus vir hulle gemoed kan kry nie. Daar is vandag nog in Londen die bekwame Plomer, die jonge Lorenzo Joubert en ander wat hier vir 'n kort of lang tydjie bly. Dit lyk of Sangiro die Londense atmosfeer totaal nie kan verdra nie en dus sy nessie in Berlyn gevind het. Ons kan dit hom ook nie kwalik neem nie. Of dit hom daar sal geval?
| |
| |
ENSLIN DU PLESSIS:
UIT DIE KOMBUISVENSTER.
(Foto: Harold Coster.)
ENSLIN DU PLESSIS:
LANDSKAP.
(Foto: Harold Coster.)
| |
| |
Daar is ook 'n groot groep Suid-Afrikaners wat op die toneel is en reeds in die hele Engeland bekend geraak is. Ons almal het reeds van Marda Vanne gehoor of van Mej. Burrell uit Kaapstad, wat onder Cochran 'n naam verwerf het.
Baie groter en miskien nog meer gewigtig is die kring van beeldende kunstenaars. Daar woon teenwoordig in Londen, onder andere, die volgende bekende skilders: Neville Lewis, Wolfe, Enslin du Plessis en die beeldhouer Moses Kottler. Oor die twee laasgenoemde word hier meer meegedeel en ook van hulle werk in hierdie nommer van ‘Die Nuwe Brandwag’ afgedruk.
| |
Enslin du Plessis.
Enslin du Plessis is heeltemal onbekend in die land van sy geboorte en oppervlakkig sou 'n mens byna kon beweer dat hy geestelik ook losgebreek het van Suid-Afrika. Want hy woon reeds sinds 1914 in Londen waar hy aan die kantoor van die Argus-Maatskappy sy eentonige werk dag vir dag doen. Toe hy in Suid-Afrika was was dit ook hom onbekend dat hy 'n kunstenaar was. Eers hier in Londen het sy omgewing sowel as hyself hom ontdek. En tog is Du Plessis in die kern 'n Suid-Afrikaner gebly en is sy verlange na erkenning in sy eie land.
Du Plessis is die seun van Ds. du Plessis van Rondebosch en 'n neef van Professor du Plessis, vroeër van die Teologiese Seminarium, Stellenbosch. Hy het in Pretoria sy eerste skooljare deurgebring, sy studies verder aan die South African College, Kaapstad, voortgesit Hier was hy o.a. editeur van die Studenteblad waarin hy 'n paar van sy karikature laat afdruk het - geen meesterstukke nie, maar tog noemenswaardig, daar dit toon hoe vroeg Du Plessis reeds 'n liefde vir teken had.
In Londen aangekom het hy hierdie liefde bewaar, het nog altyd oor kuns gelees soos vroeër, en het in sy kunsoordeel ook groot onderskeidingsvermoë getoon. Maar hy had nog altyd nie die flouste gedagte dat hy self kunstenaar was nie. Met pen, potlood en verf het hy wel gespeel, en sy ‘werke’ dadelik weer in die snippermandjie gegooi. Maar toe kom ook sy groot dag. Hy het weer so met verf rondgepeuter en op gewone weggooipapier uit die Argus-kantoor iets geskilder. Ook hierdie werk was vir die snippermandjie bedoel.
Maar een van sy vriende was Mnr. Seabrooke, een van die werklike vooraanstaandes van die moderne groep van Engelse skilders. Terloops sien Seabrooke hierdie skildery van Du Plessis en was diep getref. Hy het dit dadelik laat raam en ingestuur na 'n tentoonstelling. Tot die groot verbasing van Du Plessis word die skilderstuk aangeneem en opgehang. En van toe af wis ook Du Plessis dat hy homself as kunstenaar moes uitbeeld.
| |
| |
Sy werk is intussen ryper geword en sy erkenning in Engeland, veral in Londen, opvallend. Hy is reeds tot lid gekies geword van die London Group, volgens sommige die vernaamste Engelse groep wat moderne kuns aanhang. Ook is hy lid van die London Artists' Association. Sy werke word deur kunsliefhebbers, soos Mnr. Edward Marsh, C.B.E., en andere gewaardeer en gekoop. Mnr. Marsh soek egter net van die beste uit en besit seker een van die beste versamelinge van moderne Engelse skilderye. Maar, en mag ons in Suid-Afrika 'n voorbeeld neem, en mag veral die here van die Nasionale Gallery in Kaapstad, desgelyks doen, die Contemporary Art Society het reeds twee werke van Du Plessis gekoop om vir die Engelse nasie as geskenk te gee!
* * *
Vir baie van ons sal die werk van du Plessis oninteressant en nietig voorkom. En om die waarheid te sê, dit is dit ook. Byna al sy werk is oninteressant en uiters nietig - hy is selfs so suinig met sy verf dat ons selfs nie die bevrediging het om verf te besit as ons so gelukkig is 'n werk van hom te hê: dikwels is die kleur van die helfte van die skilderstuk die kleur van die doek, hout of papier self. Maar juis hierdie eenvoud is die groot aantrekkingskrag by Du Plessis se werk, daar is 'n charme onbeskryflik by elke werk of werkie van hom, 'n intimiteit en 'n liefde. So dikwels lyk sy werk so onbeholpe, of hy dan gladnie kan teken nie, of hy selfs g'n reguit lyn kan trek nie, alles lê skeef: selfs sy briewe is skeef. Maar tog elke detail is vol gevoel. En dit is dit, Du Plessis hoef nooit na skoonheid te soek nie, elke hoekie van Gods Natuur, of van sy huis, is mooi en alles kan tot kunswerk dien.
U moet Du Plessis tuis sien, met sy Franse vroutjie en dogtertjie. Hy beweeg homself so stil, en u voel alles het sy waarde hier, selfs die speelgoed wat hy liefhet soos sy kind. Of u hoef hom gladnie in sy huis te ken nie. U moet maar net sy werk, sy skilderye en tekeninge sien; u sal sy vrou in al haar luime, by haar werk, by haar toilette, by haar drome en alles sien, of sy dogtertjie in haar onbewusheid, spel en alles. Daar is die stoele, so mooi vir die kunstenaar, hy moet hulle teken, daar is die bord op die rak, ook hulle is tog te mooi. Die tafel, alles, is mooi. Maar mooi is veral die gesig van uit die venster. Vir u en vir my miskien maar net Londen, Londen en sy strate. Maar hy sal dit oor en oor teken of skilder en so elke keer die skoonheid opnuut geniet. Want dit voel ons, dit was 'n plesier vir Du Plessis om hierdie dinge te teken of te skilder en hierdie genot gaan oor op ons. En dit is die vernaamste, hierdie stil Du Plessis wat hom so verberg vir sy omgewing, leer ons eers deur sy intieme werk ken.
Sy tegniek lyk onbeholpe, maar dis dié van 'n kunstenaar wat besef dat die skoonheid veral in die eenvoud is. Besonder mooi is sy waterverfskilderye.
| |
| |
KOTTLER:
TOKKIE, 'N BRUINMEIDJIE.
(Foto deur Howard Coster, Londen.)
| |
| |
Du Plessis het pas een van sy skilderye as 'n geskenk aan die Uniwersiteit van Pretoria gegee. Ons wens die Uniwersiteit geluk hiermee.
M. LOURENS.
| |
Moses Kottler.
As jong man het ek in Suid-Afrik Kuns hoofsaaklik uit boeke en reproduksies bestudeer. Met sulke twedehandse kennis bring 'n mens dit nie ver nie, maar watter direkte toeligting was daar vir enige persoon, hoe hartstogtelik-belangstellend hoewel oningewy in die onderwerp ook? Ek het net genoeg geweet om in te sien dat die erkende kunstenaars in die land onbevoeg was, die erkende kunspraktisyne nie betroubaar nie. Die plekke waar 'n mens met reg mag verwag om kunswerke aan te tref was, met uitsondering van twee stede wat meer as 1,000 myl van mekaar lê, woestyne met lewenlose doekspooksels. Ai, die eentonige melankolie van munisipale Kunsgallerye! As 'n mens egte, oorspronklike kunswerke wou sien, was daar in my dae slegs die Michaelis-museum in Kaapstad en die Kunsgallery in Johannesburg. Hier en daar het 'n mens iets egs in die vorm van Boesmanskilderye en neger-houtsnywerk in museums gevind, maar die antropoloë wat oor hulle toesig hou, het besoekers nie aangemoedig om meer as wetenskaplike belangstelling daarin te toon nie.
Hierdie ontmoedigende inleiding bring my tot die onderwerp van my artiekel, want dit was in daardie droewige tyd vir die vurige hoewel half-was jong kuns-liefhebber, dat ek Moses Kottler die eerste keer ontmoet het. Moses was die regte naam vir hom, want hy het gehelp om my na die Beloofde Land te lei, uit daardie dorre wildernis wat Suid-Afrika was, sover dit kuns betref het.
Kottler was 'n skeppende kunstenaar, die eerste Suid-Afrikaanse voorbeeld wat ek van daardie seldsame geslag nog teengekom het. Sy swerftogte deur die wêreld het dit moeilik gemaak om sy spraak te verstaan, maar as 'n mens die newels van sy poliglotte gesprek deurdring het, kon jy jou koester in die strale wat lïg gebring het oor die donkere misterie: Wat is kuns? En meer waardevol as sy spraak, hoewel minder verwarrend nieteenstaande sy ‘moderniteit’, was sy werk. Onderwyl 'n mens na sy beeldhouwerk, skilderstukke en tekeninge kyk, voel jy dat daar eindelik 'n skakel was met daardie ryke, vreemde en betowerende wêreld van die lewende kuns wat in die boeke en reproduksies uit Europa geopenbaar word.
Byna al die oorspronklike stukke wat ek tot dusver gesien het, was lewenloos, so morsdood dat ek my afgevra het of hulle ooit gelewe het. Aan die anderkant kon 'n mens Kottler se werk sonder enige aarseling, lewend noem. Die kontras tussen hulle en dié van sy kunsbroeders in Suid-Afrika, asook die skilderstukke in munisipale kunsgallerye opgehang, het hulle so ver
| |
| |
MOSES KOTTLER:
TEKENING.
(Foto: Howard Coster, Londen.)
| |
| |
na vore gebring dat 'n mens by die eerste oogopslag miskien geneig was om hulle verdienstelikheid te oorskat. Kottler was egter bo vleiery verhewe. Sy gesonde verstand en sy natuurlike beskeidenheid het hom sy perspektief laat behou, maar buitendien het die meeste van sy landgenote sy genie negeer.
'n Ruk na sy terugkeer na sy vaderland uit Europa (hy het in Palestina, Duitsland en Frankryk gewerk en gestudeer), het hy 'n tentoonstelling van sy werk in 'n kamer in die Stadsaal, Kaapstad, gehou. Dit was 'n gebeurtenis van groot belang in die kunsgeskiedenis van Suid-Afrika, want dit het bewys dat die land wat reeds 'n aanmerklike getal goeie skrywers gehad het, nieteenstaande die late begin en gebrek aan kultuur-aangeleenthede, ook eindelik 'n kunstenaar van die eerste rang gelewer het.
Kottler se werk het toe al die stempel van onsterflikheid gedra, maar nou meer as ooit. Hierdie tentoonstelling het egter minder aandag getrek as 'n gewone voetbalwedstryd in die Senior Kompetiesie op Nuweland.
Kottler was natuurlik teleurgestel maar hy het geen tyd verspil in weekla oor die miskenning nie, hy het eenvoudig voortgegaan met sy werk. 'n Paar getroue vriende het portret-bestellings vir hom gekry, en hoewel dit 'n broodwinning was, het hierdie werk nie altyd sy strenge kunstenaarsgewete bevredig nie. Hy het genoeg geld verdien om 'n goeie bestaan te maak, maar sy gees het honger gely. In Suid-Afrika was hy ver weg van al die invloede wat meegewerk het om sy loopbaan as kunstenaar en vakman rigting te gee. Sy werk is misken, selfs wanneer dit lof toegeswaai is en verkoop het, en dit is dus nie verbasend dat hy onder dié omstandighede besluit het om tydelik na Europa terug te keer, sy gees te hernu, nuwe inspirasie te soek en die enigste soort kritiek, waarop hy hom kon verlaat, in te win. Dit was 'n verstandige, tewens 'n gevaarlik besluit, want in hierdie tyd van finansiële depressie is dit besonder moeilik vir kunstenaars om in Europa en Engeland 'n bestaan te maak.
Moderne kuns is egter vandag meer in die mode, en gevolglik verkoop dit beter in Parys, Berlyn en Londen as voor die Oorlog. Toe Kottler enige maande gelede 'n besoek aan Parys bring, het hy gevind dat verskeie kunstenaars met wie hy saamgewerk en honger gely het, nou beroemd en welvarend geword het. Heelwaarskynlik sou hy ook beroemdheid en 'n fortuin verwerf het as hy in Parys gebly het, want hy het stellig net soveel talent soos baie van hierdie gelukkige vriende van die voor-oorlogse kunstenaarskolonie in Montmartre. Die beroemdheid is egter nog binne sy bereik, en solank hy die kans het om voort te gaan met werk waarvan hy hou, is hy heeltemal tevrede om die geld te laat vaar, veral daar hy weet dat 'n weelderige lewe dikwels ontaarding meebring.
| |
| |
Op die oomblik woon en werk Kottler in Chelsea, Londen, naas die studio van die beroemde Engelse beeldhouer Frank Dobson, wat 'n groot bewonderaar van sy werk is. Toe ek Dobson vertel dat Kottler van plan was om na Londen te kom, het hy geantwoord dat hy bly was om dit te hoor, want Kottler was die enigste beeldhouer buite Europa, wie se werk hom aangetrek het. Opvallend is hierdie hulde van 'n man, wat erken word as een van die grootste beeldhouers van die wêreld vandag. Ek haal dit aan hoofsaaklik om te toon dat Kottler se werk net sowel deur 'n beginselvaste modernis waardeer kan word as deur persone wat die meeste moderne kunsstukke onooglik en walglik vind. In sy vroegste tydperk in Suid-Afrika het Kottler onder invloed van Paryse kubiste enige eksperimente van min of meer abstrakte aard gemaak, maar hy het nooit tot die eksentriese of buitensporige oorgegaan me. In sy figure tref 'n mens uitdrukkinge aan wat maklik met die naakte oog erken kan word as behorende tot die alledaagse lewe. Hy haal nie allerlei streke uit met sy onderwerp nie, nog minder probeer hy om 'n beeldhouwerk soos 'n Euklidiaanse probleem te laat lyk nie. Hy hou hom aan die karakter van sy model en maak so weinig gebruik van verwrongenheid as moontlik, en dan slegs om die karakter sterker na vore te bring. Wat sy portretbuuste so interessant maak, is dat hulle nie alleen merkwaardig lewensgetrou is nie, maar dat hulle as beeldhouwerk groots is... hulle is nie slegs goeie afbeeldings nie, maar ook goeie ‘ingenieurswerk’... soos 'n goed-geboude brug waarin al die dele volmaak inmekaar pas en fungeer, en die geheel is pragtig gebalanseer.
In sommige van Kottler se vroegste eksperimentele werk tref 'n mens, miskien as gevolg van genoemde Kubistiese invloed, 'n sekere mate van aanstotelike hoekigheid aan. Sy besliste afkeer van gemaaktheid of mooidoenery het hom soms te dig aan die ander uiterste gebring. Sedert dié tyd het hy sy oppervlaktes sagter gemaak, en so ver moontlik sy vermoë getoets om uitdrukking te gee aan tere sentiment in klei, hout en klip. Kottler se kuns is alles behalwe sensasiewekkend. Hy stuur nie sy emosie tot in die geweldigteatrale soos Epstein nie. Sy mees kensketsende werk is die fyn melankoliespoëtiese kinderhoofde en negerkoppe.
In Suid-Afrika het Kottler 'n borsbeeld van Srinivasi Sastri, die welsprekende Indiese redenaar, gemaak. Mnr. Sastri is 'n groot vriend van Kottler, en toe hy die Indiese Konferensie in Londen bygewoon het, het hy weer voor die beeldhouer gesit met die gevolg dat daar 'n nog beter borsbeeld ontstaan het, wat die nobele gelaat van die groot Indiese Staatsman volkome tot sy reg laat kom.
Kottler het ook 'n merkwaardige kop van William Plomer, die Suid-Afrikaanse romanskrywer, geboetseer. Plomer het na daardie tyd 'n snor laat
| |
| |
MOSES KOTTLER:
TEKENING.
(Foto: Howard Coster, Londen.)
| |
| |
groei en sy hare anders gekam, maar dank sy Kottler, sal die nageslag 'n kans hê om te sien hoe hy daar uitgesien het as gladgeskeerde jong man met 'n Cockney-kuif.
Gedurende sy verblyf in Londen het Kottler onder ander 'n borsbeeld van die Sja van Persië gemaak. Die bestelling is deur die Persiese Petroleummaatskappy geplaas, en was besonder moeilik om uit te voer daar die Sja nie van Persië kon kom om daarvoor te sit nie, en ook nie daarvan hou om sy portret te laat neem nie.
Toe ek laas Kottler se studio besoek het, was hy besig aan 'n naakte figuur van 'n vrou; die figuur leun met geboë liggaam gebalanseer op eep arm eenkant-toe. Die beeldhouer het die probleem van harmoniëring van 'n gekompliseerde reeks gelyktes en rondinge in hierdie beeldhou-komposiesie met wonderbaarlike sukses opgelos. Die afbeelding van die figuur is wonderlik ritmies.
ENSLIN DU PLESSIS.
Londen,
April 1931.
|
|