| |
| |
| |
Semietiese Invloede op Wes-Europese Kuns.
I.
EEN of ander kunskenner sal by die lees van die tietel geneig wees om die skamper opmerking te maak: ‘Excusez du peu!’ Die onderwerp is inderdaad bietjie groot. Tientalle boeke is al geskryf, ditsy net daaroor of oor vertakkings van die kwessie. Dit spreek vanself dat wie onderneem om iets daaroor te sê, binnekant die taamlike eng perke van 'n kort reeks artiekels in 'n tydskrif, te kenne gee dat hy maar net vlugtig omtrekke kan probeer skets.
In ons dae trek Semietiese, veral Joodse, invloede op die Westerse beskawing alhoe meer aandag. Vir die Joodse volk is hierdie omstandigheid lank nie altoos van aangename aard nie, want die aandag is dikwels ingegee deur vyandigheid. Veral die Bolsjewisme het sterk krietiese oë gerig op Joodse neigings en die wyse waarop hut Europa beïnvloed. Dis al baie jare gelede dat Houston Chamberlain 'n eensydige beeld gegee het in sy ‘Grundlagen des neunzehnten Jahrhundert’ e.a. propaganda-geskrifte. Sombart en ander Duitse skrywers het hul spesiaal toegelê op die staathuishoudkundige sy van die vraagstuk. Spengler was in sy ‘Untergang des Abendlandes’ wel verplig om 'n deel van sy betoog te wy aan Semietiese invloede.
Niemand kan by so'n onderwerp ontkom aan die gebruik van algemeenhede nie, hoe misleidend hul ook menigmaal mag wees. Sommige geleerdes ag dit te algemeen wanneer die Jode gereken word as Semiete, b.v. Chamberlain. Praat ons van anti-semitisme, dan word daarmee vyandigheid teen die Jode bedoel, maar hier kom 'n man wat groot studie gemaak het van sy vak - hy was in sy dae die hoëpriester van anti-semitisme - en wil aan die Jode selfs die reg om onder die Semiete te tel ontsê!
Hierbo is iets gesê oor Bolsjewisme. In die begin van die beweging is die leidende rol, deur sommige Jode daarin gespeel, so dikwels genoem dat baie vandag nog onwetend of onnadenkend genoeg is om Jodedom en Bolsjewisme (as staatsvorm, denkwyse en artistieke rigting) te hou vir feitlik dieselfde ding, net onder twee name. Alger wat werklik ingelig is oor Russiese toestande weet beter, maar so word misverstande gevorm.
Menigeen sal sy opienie klaar hê. Wil hy, en sy, so vrindelik wees om dit nog effens op te skort? Dit mag wees dat hier of daar 'n paar feite en beskouings gegee word wat in staat is om, op goeie gronde, daaraan iets toe
| |
| |
of af te doen. Dit is nl. maar net die betrekklik klein groep mense wat bekend is met die vernaamste feite, wat werklik 'n oordeel kan vorm.
Laat die leser wat sy mening klaar gehad 't die hand op die hart lê en beken of hy geweet hat dat al die wat hier genoem word Jode was. Daar was die Franse komponis ‘Georges Bizet’, 'n pseudoniem. Daar was die Duitse skrywer en vryheids-voorvegter Ludwig Boerne. Daar was die Hongaarse antropoloog en taalkundige Arminius Vambéry. Daar was die Italiaanse sielkundige Cesare Lombroso. Daar was die Russiese beeldhouer Antokolsky. Daar is nog die Italiaanse digter en patriot (jingo-patriot... maar nietemin) Gabriele d'Annunzio. Daar was die Deense krietikus, kort gelede dood, George Brandes. Daar is die hedendaagse Engelse komponis Landon Ronald.
Daar was die humoris ‘De oude heer Smits’. Hoeveel het geweet dat hy, die geestige skrywer in Nederlands en Engels, aan die ou volk behoor het?
Daar sal geleentheid wees om die lys aan te vul. Hierdie was maar net bywyse van inleiding. Vir 'n Suid-Afrikaanse publiek hoef ons nie die Da Costa's en die Cachets afsonderlik te vermeld nie, hul afkoms is welbekend. Dog selfs in ons dae van algemene rolprent-vermaak en liefhebbery vir oorverskeurende klanke weet min mense dat die Amerikaanse jazz-fabrikant Irving Berlin 'n Russiese Jood van geboorte is en dat die leiers wat met hul geld en ondernemingsgees agter die skerme van Hollywood staan hoofsaaklik Jode is. Die onderwerp is dus groot genoeg en aardrykskundig breed genoeg. Wat jaartelling betref gaan hy duisende jare terug, en loop hy tot nie net vandag nie maar tot die dag waarop die Joodse volk hom sal opgelos hê. En dit kan nog lank duur, al is assimilasie hard besig met sy werk.
Dit geld veral vir Amerika, wat mos, min of meer, behoor tot die Europese beskawing! Dit het oorspronklik sy bietjie beskawing geput uit Wes-Europa en dit is nou hard besig, helaas, om sy kultuur terug te spuit oor die blomtuin van Europa heen. Hoe barbaars, agterlik en Asiaties Sowjet-Rusland al mag wees, is tog een van sy mees kensketsende uiterlike verskynings die amerikanisasie van die lewe in die groot stede. Die moedzjiek doen intussen sy bes, op sy oneindige graan-vlaktes, om ou oorlewering te handhaaf. Nou is die Amerikaanse invloed op Rusland grotendeels die gevolg van Joodse konneksies.
Waar begin eintlik die Semietiese invloed op die Weste? Ons dink daarby tog in die eerste plek aan die Bybel. Dit sou te ver voer om selfs 'n kort opsomming te gee van wat hierdie versameling - want die Bybel is nie 'n enkele ‘boek’ nie - bewerk 't in die geestelike lewe van Europa. Daarvoor sou 'n afsonderlike reeks artiekels nodig wees. Dit is hier meer te doen om invloede wat ontstaan het in die nuwere tyd en dit sou ook oorbodig wees om vir Afrikaanssprekendes, wie se hele volksaard gevorm is deur die Bybel, te wil stilstaan by hierdie deel van die onderwerp.
| |
| |
Dikwels word uit die oog verloor dat die Turke behoor tot die Semiete. Weliswaar kan ons hul artistiek amper verwaarloos, al het hul voorvaders, die Seldsjoeke en Sarasene, wel deeglik groot invloed gehad op die Weste, soos ons naderhand nog sal sien.
In ons dae is hul invloed op Wes-Europa hoofsaaklik politiek-militêr, soos dit al was in die tydperk toe hul voor die Poorte van Wenen gestaan 't. Die Westerse letterkunde het min van hul gekry, behalwe die besieling van Slawiese en Griekse digters om hul volkshelde te besing soos dié teen die Halve Maan baklei het. Die Semietiese stam het ander vertakkings waaroor meer te sê sal wees. Sommige invloede het hoofsaaklik uit die verte gewerk, maar die Arabiere het heel bietjie te brokkel gehad in die Westerse melk.
* * *
Terwyl tot dusver maar net 'n paar los grepe gedoen is, hot en haar, om die omvang van die taak aan te dui, sal by verder behandeling van die onderwerp afgesien word van die streng geskiedkundige metode. Dit lyk nl. geriefliker om eers iets te sê oor 'n periode wat nog maar kort agter ons lê, om dan terug te gaan na die verlede. Laat ons begin met 'n paar opmerkings oor een van die figure wat in menige opsig tiepies was en met onmiskenbaar krag ingewerk het op die Europese kunslewe, nl. Heine.
Ja, dis Heinrich wat bedoel word - nie Cincinnatus Heine, beter bekend onder sy skryfnaam Joaquin Miller, nie. Die Amerikaanse digter-geluksridder tel onder die goeie Protestante van huis uit.
Heinrich Heine is amper 'n man van ons eie tyd. Daar is nog mense onder ons wat al gebore was toe hy, op die matras in 'n Paryse solderkamer, sy vreeslike lewe-in-die-dood gelei het. Hy was, in menige geskrif, sy tyd so ver vooruit dat sy werk vandag nog as modern sou kon geld, was dit nie, dat in die afgelope kwart eeu die kuns op elke gebied sulke snaakse Kaperjolle geslaan het nie. In die Duitsland van sy dae was dit nie 'n misdaad om Jood te wees nie (soos Hitler dit in ons verligte eeu wel wil maak), maar 'n Kniehalter was dit tog. Dit is dan ook lig te verstaan dat hy, liberaal-onverskillig opgevoed, al taamlik jonk die protestantse godsdiens aangeneem het. Soos Spinoza, Beaconsfield, Felix Mendelssohn en baie ander vooraanstaande manne van Joodse bloed het hy hom onttrek aan die lewe van die stam waaruit hy voortgekom het.
Dat hy in sy hart nooit heeltemal daarvan weggeraak het nie blyk uit verskeie prosa-stukke, uit sy Hebreeuse Melodieë en heelparty ander gedigte. Selfs waar hy reguit die spot dryf met die Jodedom doen hy dit soos een van die volk self en nie soos 'n buitestaander nie. Die Duitsers, wat dit wel gevoel 't, het hom sy geboorte nooit vergewe nie. Dit het lank geduur voor 'n standbeeld vir hom opgerig is, al was die Oostenrykse keiserin Elisabeth een van sy vurigste
| |
| |
bewonderaars. Hy was, na die oordeel van baie kenners, die grootste suiwer lieriese digter wat Duitsland (of Europa) ooit gehad 't, maar in Kluge's ‘Auswahl deutscher Gedichte’ kry hy net vyf bladsye. Om van Goethe se meer as dertig in daardie uitgawe nie te praat nie, word aan 'n twede-rangs lig soos Herder dertien toegeken!
Hierdie feit word genoem omdat dit kenskefsend is. Heine se karakter mag gewees het wat dit wou (en sy protestantisme bv. het hy weer versaak toe hy met 'n Katolieke vrou getroud is in Parys), maar bloemlesings word, by volke wat die kuns regtig eer, tog nie na eweredigheid van Brawe Hendrikdeugde saamgestel nie! Daar is natuurlik ander dinge wat by die Duitsers teen Heine tel, buite en behalwe sy geboorte. Hy was in die politiek Fransgesind. Sy bewondering vir Napoleon het al uiting gevind in ‘Die beiden Grenadiere’, wat uit sy pril jeug stam. Was dit wonderlik? Was dit landsverraad? Nee. Beethoven, die kern-Duitse kunstenaar, was in sy jong jare net so goed vol geesdriftige gevoelens jeens die Franse artillerie-offisier wat opgetree het as kampvegter van die omwenteling, van mensregte en vryheid soos in die vermufte ou staatjies van Duitsland onbekend was.
Die toestande van destyds kannie vergelyk word met die waarin ons geslag opgegroei het nie. Nasionalisme was maar eers in sy begin. ‘Duitsland’ was 'n geografiese uitdrukking, soos later van Italië gesê is, tot Garibaldi die eenheid help ontstaan 't. Die Duitse state het hul vandag só, more weer só verhou teenoor buitelandse politiek. Leërs was by hul nie die volk nie, maar die huurlinge van vorste. Terwyl Heine dikwels daardie vorste, sowel as Pruisiese styfheid en onvryheid, sleggemaak 't met al die skerpte van sy bytende vernuf, het hy van kinds af waardering, ja liefde, betoon vir die beuke en berge, die beke en bosse, die blomme en beemde van sy geboorteland. Dis net die barsheid en die beersheid van Noord-Duitsland wat hy nie kon verdra nie.
Hierin lê grotendeels sy betekenis op kunsgebied, dat hy, self romantikus, maar krities aangelê jeens die Duits-romantiese skool van daardie dae, 'n ooplug-man was en g'n boekwurm nie. Die leser wat belangstel in hierdie kant van die saak sal wel doen deur Brandes se diepgaande studie oor romantiek in Europa daarop na te lees. Ook sonder daardie gids kan hy egter op die terrein genoeg stof vind vir vergelykings. Die digters vóór Heine het wel aandag geskenk aan die natuur, maar die meeste was in die diepste van hul siel dorpsmuise, ‘mystisch angehaucht’. Sodra die landelike omgewing wat hul besoek iets wilder word as die mak sandvlaktes rondom Berlyn, skrik hul in hul binneste. 'n Rotskloof is vir hul iets al te gruweliks, waar die ou drake-gebroedsel in die skaduwee loer om hul te bekruip. Kom hul by die Ryn, dan let hul meer op die ou bouvalle van kastele, met hul legendes van geweld en verraad, as op die pragtige hange en vrindelike dale.
| |
| |
Daar is 'n oorlewering van 'n man wat sy hele lewe in Kaapstad gewoon het, maar op sy ou dag tog eenmaal in die Boland kom. Dit was in die tyd toe in Kaapstad nog orals die geur van vis (wat nie van gister was nie) gehang het. Die sterk, vars lug van die oop veld slaan die oubaas katswink. Hul kon hom ook nie bybring toe, tot die eienaar van die plaas, wetende met wie hy te doen het, dink aan 'n paar vrot bokkems wat in die spens staan. Die hou hul onder Kapenaar se neus. Skielik kom die man by: ‘Dit ruik soos by die huis’, het hy met 'n dankbaar gesigs-uitdrukking geroep!
Netso was die sieklik romantiese digters uit die nasleep van die ‘Biedermeier’-tyd. Soos later in Frankryk die Arcachon-groep getoon het dat mens onder die blou hemel moet gaan staan voor hy regtig landskap kan skilder, so het Heine bewys dat jy nie die natuur kan geniet tensy jy deeglik wegkom van vunsige stads-omgewing nie. Sy Harzreise, sy Noordsee, sy ‘Die Heimkehr’ besing die lieflikheid van die natuur soos g'n Duitser voor hom gedoen het nie. In ‘Die Lotosblume’’ voel ons die indrukwekkende plegtigheid van die nag. Dis wel waar dat ook hy hom nie altoos kon losmaak van die grillerige of sentimentele nie. Sy ‘Doppelgänger’, ‘Ein Fichtenbaum steht einsam’ en ‘Auf Flügeln des Gesanges’ getuig van daardie twee rigtings. Hy vertolk die stemmings van die natuur en die menslike hart met 'n tegniese vaardigheid wat hom heeltemal aanpas by die voorwerp van sy verering.
Snaaks dat dit 'n lid was van 'n koopmansfamielie, nouliks aan die Ghetto ontgroei, wat vir die Duitsers (toe al van oudsher gewoon om, met bagasie in hul rugsak, tevoet hul land te deurkruis) warm natuur-verering moes leer. Miskien is dit een van die onbewuste oorsake van Duitse wrok teen Heine. Hoe dit ook sy, die lofsange op ons aller Moeder, wat deur hom so kwistig die wêreld in gestuur is, het lesers gekry in elke beskaafde land en sodoende nie net Duitse digkuns nie maar digkuns in die algemeen gehelp om die plek te verower wat hom toekom.
* * *
Hoe staan Heine se werke teenoor die van Goethe, wat lank sy tydgenoot was, en van Schiller, in wie se sterfjaar Heine ses jaar oud was? 'n Behoorlike heldedig het Heine nooit kan skryf nie, netso min as 'n roman. Op hierdie laaste gebied was hy wyser as Goethe, wat dit ook nie kon doen nie, maar dit tog wou regkry. Of wil iemand vandag nog sê dat W. Meister, dat ‘Die Wahlverwandtschaften’, leesbare romans is? In die drama was die groot tweemanskap van die Duitse letterkunde meesters. Daarin kon Heine niks nie, maar sy betekenis lê daarin dat hy vir sowel Goethe as Schiller uitgestof het wat spontane humor, natuurlikheid en frisheid van taal betref.
| |
| |
Goethe, met al sy verdienste, het nie net sy onderwerpe baie gesoek in die vèr, vèr oudheid nie maar het ook sy styl grotendeels gemodelleer na klassiek voorbeelde. Onwillekeurig dink mens aan die ongeëwenaarde ‘Faust’ wanneer daar sprake is van Goethe, maar laat ons tog bietjie die ou werke uit ons jeug-leertyd weer naslaan en dit opnuut toets. Hoe onwaarskynlik is baie in ‘Egmont’, hoe stelterig die taal selfs in 'n rewolusionêr getinte werk soos ‘Gȫtz’, hoe fabrieksmatig heelwat van die gedigte! Vir elke juweeltjie in Goethe wat naby ‘Ueber allen Gipfeln’ kom, kan mens 'n tiental of meer in Heine se liedere aanhaal.
En Schiller? Wie kan vandag voor die spieël gaan staan en homself in die oë kyk terwyl hy beweer dat ‘Die Räuber’, ‘Kabale und Liebe’ en wat dies meer sy behoor tot die hoogste kuns? Hul smaak te sterk na hul tyd, baie meer as bv. Shakespeare, wat anderhalf eeu ouer is. Die taal is geswolle; die karakters mis fynheid; hul gee te sterk blyk van gietyster modelle. Schiller was minder klassiek as Goethe, maar het tog in sy ballades menige onderwerp geput uit die Middellandse See-lande van die lang vervloeë oudheid, terwyl die Germaanse geskiedenis hom oorvloedig stof kon lewer het. Die hele toon van sy werk is spitsburgerlik. Hy was 'n groot gees maar artistiek 'n ‘Streber’. Heine staan daar, onder die Duitse digters, soos die eerste ‘Bohémien’.
Hierdie woord teken hom op meer as een manier, want na sy hele wese as kunstenaar was hy meer Fransman as Duitser. Die advokatery, waarvoor hy bestem was, het hom teen-gestaan. Ofskoon hy oor Duitse wysbegeerte geskryf 't, het hy nooit diep in filosofiese vraagstukke kon deurdring nie. Hy was bo-al geestig, verfynd, bietjie oppervlakkig soos die Fransman maar almelewe is, nie al te betroubaar wat betref feite nie, 'n liefhebber van lekker leef en 'n vrind van 'n soen, waar hy hom ook al kon kry. Sy styl het iets van die al te gloed- en blomryke wat dikwels vir Joodse kunstenaars eie is. Sy gemoedsaandoenings wissel vinnig, soos sy gedigte bewys. Oosterse prag trek hom aan, maar ook Westerse eenvoud (‘Es war ein Traum’). Hy is veelsydig en sierlik sonder die noodlottige gladheid van 'n Mendelssohn. Sy verbeeldingskrag is ‘überschwenglich’.
Hy kan venynig wees en onbillik (soos teenoor Meyerbeer, vir wie hy met die grofste ondankbaarheid behandel het), maar vir ware grootheid is hy nie blind nie. Sy muse is tereg so genoem: in sy eie tyd al is baie van sy gedigte op musiek gesit. Hy het vir Schubert, Schumann, Mendelssohn en ander bekende tydgenote geïnspireer. Op meer as een van sy verse het verskeie toondigters hul kragte beproef. Die sangerige taal, die woordeprag, die meesterlike versmaat, lok vanself daartoe uit. By sy lewe al is duisende van sy boeke verkoop.
| |
| |
Ook sy prosa was digterlik, onderhoudend, soetvloeiend. Sy staatkundige berigte uit Parys mog tereg onder verdenking staan (hy het hom laat subsidieer deur die Franse regering), maar sy beskrywing van die maatskaplike lewe is skitterend. Sy oordeel oor Chopin, Liszt e.a. groot musisie van sy tyd is grotendeels deur die nageslag bekragtig.
Sy liefdes-gevoelslewe was nie groot nie. Hy was 'n man van sinlikheid en het hom daarvoor nie geskaam nie. Somtyds is hy vir ons smaak al te reguit, maar teenoor die preutsheid wat so baie digters en skrywers gekenmerk het was afkeer van huigelary 'n deug. Hy het in hierdie opsig groot invloed gehad op baie wat wel wou erken dat hul sy disiepels was sowel as op party wat hom verloën het. Hy het die kampioen van nuwe bane in die digkuns geword, soos Schumann dit was wat betref musiek. Hy het homself, deels uit Parys en temidde van sy jarelank durende sterwensweë, deur die mag van sy digterlike gees opgedwing aan sy geboorteland. Ofskoon hom dit kwalik geneem is, kon hy uitroep:
‘Ich bin ein deutscher Dichter,
Bekannt im deutschen Land;
Nennt man die besten Namen,
So wird auch der meine genannt.’
Valse beskeidenheid was een van die afgode wat deur sy, somtyds skennende, hand omver geruk moes word; Goethe het mos gesê: ‘Nur Lumpen sind bescheiden!’
* * *
Die Franse het nooit bra Duits verstaan nie. Van Heine s'n Grisettevrou af tot die meeste groot Parysenaars van sy tyd het in onwetendheid geleef omtrent die merkwaardige woord-kunstenaar wat wel die boulevards, die koffiehuise en die skouburge geniet 't, maar tog nie sy materiaal as digter daar betrek 't nie. Die Engelse begin maar nou eers tale leer en Heine is so min vleiend jeens hul dat hul (die groot vrinde van publisiteit) hul eintlik nog nooit goed vir hom geinteresseer het nie. ‘Wie hausbacken, wie steifleinen, wie eng, wie Englisch!’ het hy van hul gesê. Ook wat daar groot is in die karakter van die Hollanders kon hy nie raaksien nie. ‘Hollands’ was vir hom altoos sinoniem met klein en pieterig. Die Slawiese volke is eers reg verspot deur hom gemaak (‘Eine Laus und eine Seele, kratzten sie sich um die Wette’), maar ook onder sy nasionale slagoffers tel hy miljoene wat sy gedigte verslind. Sy ‘Lorelei’, sy ‘Du hast Diamanten und Perlen’ het volksliedere geword.
In sy jeug het Heine altoos gesmaal op die Joods-Kristelike lewensbeskouing, met dié se nadruk op sedelikheid. Hy het dit skerp gestel teenoor
| |
| |
die Helleense blyheid en sorg vir die liggaam. Naderhand het hy daarop teruggekom, soos hy menige spotterny op godsdiens in die algemeen berou het. Menige leser ken egter maar net sy oorspronklike gevoelens en so het hy daartoe bygedra om, in aansluiting by die twyfelgees van die agtiende eeu, 'n heidense opvatting te bring onder die mense.
Goethe het in dieselfde rigting gewerk, al was dit op ander manier, terwyl ook Schiller met sy gemeensame ‘Dieses Glas dem guten Geist, Ueber'm Sternenzelt dort oben!’ nie juis die gebruiklike eerbied bewys het aan die Godheid nie. Dis dus verniet om te wil sê, soos die anti-Semietiese propaganda doen, dat daar 'n ongelowige Jood vir nodig was om die tradisionele vroomheid en mistiek van die Duitse digkuns, honderd jaar gelede, te besoedel.
Wie vandag in Parys besienswaardighede besoek en nie weet waar Heine se rusplek is nie, sal maar swaar kry om dit na te speur, al het hy self in ‘Gedächtnisfeier’ profeties gesê: ‘Geht spazieren auf Montmartre... Frau Mathilde!’ Die Duitse Aristophanes het hom egter 'n onsterflike plek verower in die kunslewe van Europa. Soos 'n kind van sy ras was hy 'n vereerder en 'n spotter tegelyk; in opstand teen baie instellings en tegelyk versigtig om persoonlike riesiko te neem; bewus van die tragi-komiese in die merkwaardige eienskappe van die Joodse nasie en tegelyk van die skewe posiesie waarin sy lede dikwels in die Wes-Europese samelewing kom; skerpsinnige kroniekskrywer van die lewe om hom heen en tewens idealistiese verheerliker van die kinders van sy wulpse verbeelding; kleinsérig in gewone dinge maar 'n held in die lyding van sy laaste jare.
Sonder die diep erns van 'n Ibsen was hy tog een van die grootste kragte wat saamgewerk het om die pad skoon te maak vir die nuwe skool van vrysinnige denkers en maatskaplik-gesinde kunstenaars in Europa. Hy was een van die vyande van alledaagse platheid en slawerny, wat miskien meer as enig ander verdien om deel te neem aan Schumann se seëvierende ‘Marsj van die Dawidsbond-lede teen die Filistyne’.
Die bande van klassisisme het hom nie geknel nie. Die wierook van romantisme het nooit sy kop heeltemal ophol geja nie. Hy het vir die stroewe Duitse taal elegant help maak. Hy was g'n dwepende martelaar nie, maar 'n praktiese voorman in die wingerd waaruit sinds sy tyd so baie geurige wyn gekom het.
In 'n volgende artiekel sal ons sien hoe sy werk pas in die van rasgenote van hom.
N. LEVI.
| |
| |
KOTTLER:
GREGOIRE BOONZAIER.
(Foto deur Howard Coster, Londen.)
|
|