Die eerste deel heet ‘Leg med Straa’ (Speletjies met Strooi), 1923, en behandel sy vroegste kinderjare; ons leer hier sy ouers, en susters, grootouers en ander famieliebetrekkinge ken, maar vernaamlik ook die bediendes op die plaas, kuiergaste en rondlopers, ja selfs ook die beeste, perde, skape en honde. Maar die grootste figuur in sy kinderjare en die edelste karakter is sy moeder, aan wie die seun hartstogtelik geheg was. In die twede deel ‘Skibe paa Himlen’ (Skepe in die Lug), 1925, leer ons haar beter ken: op treffende wyse skryf Gunnarsson oor haar op bls. 220: ‘My moeder is die enigste een wat ook maar naasteby tyd het, maar baie keer kan ek op haar gesig sien hoe moeg sy is, en dit sny my in my hart, knaag aan my met 'n eensame angs en pyn. Groot vrede volg haar altyd, waar sy gaan, 'n eie soetheid en saligheid. Waar sy is, daar is as 't ware die kern van die dag. Selfs die lig wat op haar val, is nie soos gewone lig nie. Besadiging, welsyn, die rus van die nag, die betekenis van alles: in haar is dit verenig. Die oplossing van alle vraagstukke is sy, alle honger, alle dors stil sy, alle kwaad verjaag sy. In haar mond kry selfs die nietigste woorde 'n geheimnisvolle diepte - as sy net jou naam roep, ril dit deur jou soos sonskyn, soos voëlgesang, soos blommegeur. Kyk sy jou daarenteen berispend aan, krimp jou hart inmekaar - met verwelkte gemoed gaan jy op 'n voetstoeltjie sit en verlep soos afgemaaide gras. Dikwels versamel sy ons kinders om haar, trakteer ons met warm potkoek en botter, sing vir ons rympies of versies, vrolik met laggende oë, wat plotseling bedou word en net so plotseling weer begin glinster. Die gehekelde alledaagse ligbruin sjerp met die rooi streep sluit straf om haar skouers en ronde borste. Daar is vir my iets geheimsinnigs aan daardie sjerp. As ek siek is of net effens kla, wil ek altyd daarin gedraai word en dit het nog altyd gebeur dat ek daarvan gesond geword het. Ek hou daarvan
om aan daardie sjerp te trek, om my wang daaraan te skuur, my oë daarmee af te droog as ek gehuil het. As ek van 'n nare droom ontwaak, spring ek uit die bed, soek dit op en steek dit onder my kussing - mis my moeder dit soggends, soek sy dit altyd daar.’ - Wat die dood van sy moeder vir die agjarige kind, wat [...] op haar liefde en sorg aangewese was, beteken het kan ons goed besef, temeer omdat sy vader kort daarna 'n twede huwelik aanvaar het. Die herinnering aan sy moeder loop as 'n goue snoer deur alle dele van die outobiografie en was hom tot steun in daardie jare, toe hy as vreemdeling in 'n groot stad met die onbuigbaarheid en aardgebondenheid van sy stof te kampe gehad het.
Die derde deel van die saga heet ‘Natten og Drômmen’ (Die Nag en die Droom), 1926, en is miskien die interessantste van die hele cyklus, omdat dit die puberteitsperiode dek en ons 'n intieme blik gee in die verhouding van die opgroeiende seun tot die natuur, in 'n land waar die son maar sowat sestig dae in die jaar skyn, waar geen bome groei nie, waar die lewe