Hy het gesien hoe die Landbou-departement vernielende haelstorms verhinder deur priesters die aankomende storm met kunsmatige haelstene van modder gemaak en behoorlik ‘getoor’ te laat bestook. Somtyds keer dit die storm, maar as dit niks baat nie, word 'n priester goed afgeransel en die priesters moet skadevergoeding betaal. Die boere betaal 'n swaar assuransiefooi vir hierdie Landbou-diens.
In Tibet moet 'n mens jou tong uitsteek om respek te betoon; ek vrees in Suid-Afrika sal ons predikante so'n handelwyse verkeerd opneem.
As gevolg van sy kennis van medisyne is ons pelgrim 'n tydlank gewild in Lhasa, en daardeur kan hy sy studie ongedeerd voortsit. Hy slaag in die Matrikulasie - wat hom onder Suid-Afrikaners bemind behoort te maak. Daar dit ietwat anders gereël word as by ons, hoewel dit daar byna net so verafgood word, sal 'n kort beskrywing miskien interessant wees.
Die onderwerpe vir die eksamens is Kategismus, en Boeddhiste-metafisika. Die examinandus sit en die examinator staan oor hom en bulder vrae in groot opgewondenheid, onderwyl hy sy hande saam stamp en met sy voete die grond laat dreun. Die doel is om alle duiwels deur 'n manhaftige houding af te weer en op dié manier die waarheid op te diep. So vinnig soos die kandidaat antwoord (bv. Was Boeddha menslik?) ontstaan daar 'n stroom van vrae uit sy antwoord, almal daarop gemik om hom in 'n hoek te keer. Na twintig jaar van hierdie soort eksamens behaal die inboorlinge die doktorsgraad.
Soos in Suid-Afrika regeer die vrou in Tibet die huis. Sy deel sakgeld uit aan haar eggenotes uit hulle verdienstes. Wee enige eggenoot wat van sy verdienste terughou; in plaas van liefkosing is klappe sy deel.
Tibet is gelukkiger as Suid-Afrika, want daar is drie Ministers van Finansies, elkeen waarskynlik om 'n oog op die ander te hou. Hoër Onderwys is daar baie soos by ons, want dit is hoofsaaklik op die geheue gegrondves; daar moet minstens honderd bladsye uit die hoof geleer word elke jaar. Die bamboes is die vernaamste leermiddel. In hierdie opsig ontbreek ons kennis ver, met die gevolg dat ons seuns nooit Engels leer spel nie. Ons skrywer verkies egter die Suid-Afrikaanse metodes en keur dit nie goed dat onderwysers die seuns uitskel met woorde soos ‘bees’, ‘bedelaar’, ‘duiwel’, ‘esel’, en ‘eter van ouervleis’. Seuns is seuns dwarsdeur die hele wêreld.
'n Mens neem met leedwese afskeid van hierdie vrome lama, en voel groot respek vir sy barmhartige, genadige geloof, waarvan Kipling ons in Kim reeds 'n idee gegee het.
Daar ek sewe jaar onder die Boeddhiste gewoon het, het ek 'n groot eerbied vir hulle godsdiens, maar ek kan nooit 'n Boeddhis wees nie, - want ek maak vlieë dood.
MAX DRENNAN.