| |
| |
| |
Irene Holm.
deur Herman Bang.
I.
EEN Sondag ná die diens, het die skout se seun by die vergaderklip voor die kerk afgekondig dat Mej. Irene Holm, danseres van die koninklike teater, op die eerste November in die dorpshotel haar kursus sou open in postuur, dans en beweging, vir kinders sowel as vir gevorderdes, dames en here - mits daar genoeg deelnemers inskrywe. Die prys vyf krone per kind, vir broers en susters afslag.
Sewe deelnemers het ingeteken. Jens Larsen hulle skrywe die drie in ‘met afslag’.
Mej. Irene Holm het dit as toereikend beskou. Sy kom toe een aand laat in Oktober en klim by die dorpshotel met haar bagasie af, 'n ou sjampanje-mandjie wat met 'n tou vasgemaak is.
Sy was klein, dun-geslyt met 'n veertigjarige kleinmeisietjies-gesig onder 'n pelsmus, en met sakdoeke om die handgewrigte gebind vir die jig. Sy spreek al haar woorde presies uit en sê: ‘Dankie - ag dankie - ek kan mos self,’ by ieder hulpreiking en lyk daarby so hulploos.
Sy wou slegs 'n koppie tee geniet en kruip toe, met klappertande uit angs vir spoke, in die bed in die klein kamertjie agter die saal.
Die volgende dag kom sy te voorskyn met 'n krulkop en 'n engaansluitende snyersjas met pelsrand, wat blyke dra van die tand van die tyd. Sy sou die agbare ouers besoek. Of sy miskien ewe die pad mag vra? Mev. Henriksen gaan uit tot in die gangdeur en wys oor die velde heen na die plase. Mej. Holm klim die drie treetjies af met knik-buiginkies van dankbaarheid.
‘Arme ou ding,’ sê Mevr. Henriksen. Sy bly staan in die gangdeur en kyk Mej. Holm agterna, wat in die rigting van Jens Larsen hulle op die wal langs af loop - om haar skoene te spaar. Mej. Holm was ‘geskoei’ met bokvel en kouse met regs en aweregs.
Nadat sy toe die ouers besoek het - Jens Larsen hulle betaal nege krone vir hulle drie - soek Mej. Holm losies. Sy kry by die smid hulle 'n klein witgewerfde kamertjie met 'n uitsig oor die plat veld. Die ameubelment is 'n laaikas en die bed en 'n stoel. In die hoek tussen die kas en die venster kry die sjampanje-mandjie sy plek.
| |
| |
Daar trek Mej. Holm in. Die oggende gaan verby met baie omslagtighede met die krultang, en koue tee en warm griffels. As die krulkop in orde is, maak sy kamer aankant, en namiddags hekel sy. Sy sit op haar sjampanjemandjie in die hoek en steel die laaste daglig. Dan kom die smid se vrou in en gaan sit op die houtstoel en gesels. Mej. Holm luister glimlaggend en met vriendelike geknik van die krulkop.
Mevrou sit 'n uurlank in die skemer die storie uit te rek, totdat die aandete op tafel moet kom. Mej. Holm weet selde wat sy vertel het. Buiten dans, poste en dan die berekening vir die daelikse brood - 'n langsame, ewige pas en meet - is dit vir dinge van hierdie wêreld effentjies moeilik om tot Mej. Holm se bewussyn deur te dring. Stil bly sy met haar hande in haar skoot op haar mandjie sit, en staar net op die smal ligstreep onder die smid hulle se deur.
Uit gaan sy nie. Sy kry heimwee as sy die plat, kaal velde sien. En dan is sy ook bang vir bulle en perde, wat op loop is.
Wanneer dit laat in die aand geword het, kook sy water op die kaggelvuur en eet. Dan kom die krulpapiere aan die beurt. As sy met die uittrek tot by die onderklere gekom het maak sy haar pas by die katelsteil. Sy strek haar bene uit, sodat sy sweet daarvan.
Die smid en sy vrou wyk nie van die sleutelgat nie. Hulle sien balletspronge van agter; die krulpapiere staan weg van haar kop soos die penne op 'n ystervark.
Mej. Holm word so ywerig dat sy hardop begin neurie terwyl sy hurk en opspring, hurk en opspring...
Die smid en sy vrou en kinders baklei voor die sleutelgat.
Nadat Mej. Holm haar minute geoefen het, kruip sy in die bed. As sy oefen, begin sy byna altyd dink aan die tyd ‘toe sy op die koninklike balletskool was’... En dan kan sy skielik halfhard ondeund lag, soos sy daar lê....
En sy raak aan die slaap, terwyl sy nog dink aan daardie tyd - daardie vrolike tyd...
Die vóóropvoerings, toe hulle mekaar met knopspelde in die kuite gesteek het... en gegil het...
En die aande in die kleedkamers - hoe het dit nie gegons nie... al die stemme... en die regisseur se klok...
Mej. Irene Holm word nou nog snags wakker, wanneer sy gedroom het, dat sy haar beurt mis...
* * *
| |
| |
| |
II.
‘- Nou - één - twee...’ Mej. Irene Holm lig haar rok op en strek haar voet uit... ‘Tone uit - één - twee - drie.’
Die sewe stuks se tone wys na binne - met die vingers in die mond spring hulle.
‘- Jensie - tone uit - één, twee, drie - Compliment - één - twee - drie - nog 'n keer.’
Jens Larsen se drie doen Compliment met die stywe tong ver uit die mond...
‘- Marentjie regs - één - twee - drie -’. Maren gaan links...
‘Weer oor - één, twee, drie - -’
Mej. Holm spring soos 'n bokkie, sodat 'n mens 'n lank stuk van die ‘regs en aweregs’ kan sien...
Die kursus was in volle gang. Hulle dans drie keer per week in die hotelsaal by die lig van twee lampe wat onder die balke hang. Onder die voete rys die ou stof in die koue kamer. Die sewe stuks is so verwilderd soos 'n swerm elsters. Mej. Holm druk rugge reg en buig arms.
‘- Een - twee - drie, battement...’
‘Een - twee - drie - battement...’, die sewe val wydsbeen neer van die battement...
Mej. Holm kry stof in haar keel van al die roep. Hulle moes 'n wals dans, paar en paar. Hulle hou ver uitmekaar, skaam en met stywe arms, asof hulle in die slaap draai. Mej, Holm praat en swaai hulle.
‘Goed - swaai - vier, vyf - goed, swaai - Jettie...’
Mej. Holm gaan al agter Jens Larsen se twede en klein Jette aan en draai hulle, soos 'n tol...
‘Goed - mooi so - Jettie...’
Jettie se ma was daar om aan te kyk. Die boerevroue kom met styfgestrikte hoedlinte en kyk aan; langs die mure sit hulle, onbeweeglik, met die hande in die skoot, sonder om 'n woord met mekaar te wissel.
Mej. Holm noem hulle ‘Mevrou’ en glimlag hulle toe onder die battements.
Die lansers kom aan die beurt. Jens Larsen se drie spring met oorskoenneuse hoog in die lug.
‘Dames regs - goed - klein Jette, drie tree links - mooi Jettie...’
Haar oë sweet van die ou stof... In die middel van die vloer bly die sewe aan rondspring in die skemerdonker.
As Mej. Holm tuiskom na die danslesse, bind sy sakdoeke om die krulkop. Sy loop al ewig met 'n verkoue. In vry ure sit sy met haar neus oor 'n kom kookwater om die kwaad te stil.
| |
| |
Hulle kry musiek by die lesse. Mnr. Brodersen se viool. Mej. Holm kry twee nuwe leerlinge. 'n paar gevorderdes. Hulle spring almal rond op die maat van kleermaker Brodersen se instrument, sodat die stofwolke warrel en die kaggel op sy leeupote dans.
Daar kom ook verskeie toeskouers. So nou en dan ook hulle van die pastorie, die juffrou en die kapelaan.
Mej. Holm dans voor onder die twee olielampe met haar bors uit en uitgestrekte voete:
‘Gooi die voete uit, kindertjies, gooi die voete uit, so...’
Mej. Holm gooi haar voete uit en lig haar rok op: Daar is mos toeskouers.
Elke week stuur Mej. Holm haar hekelwerk na Kopenhagen. Die pos word afgelewer by die skoolmeester. Elke keer het sy òf verkeerd gepak òf verkeerd geadresseer en die skoolmeester moet dit regmaak.
Sy staan en kyk toe met haar sestienjarige kopknikkies.
Die koerante wat met die pos gekom het lê vir uitdeling op een van die lessenaars. Een dag vra sy of sy nie miskien ‘Berlingske’ mag sien nie.
Sy het ag dae lank al na die koerantstapel gekyk sonder om te durf vra.
Van toe af kom sy elke dag in die middagpouse - die skoolmeester ken haar sagte geklop met één kneukel:
‘Toemaar, Juffroutjie - dis oop,’ sê hy.
Sy gaan oor na die skoolkamer en neem ‘Berlingske’ uit die stapel uit. Sy lees kennisgewings van teaters en die program en die kritieke, waarvan sy niks verstaan nie. Maar dit was mos omtrent ‘hulle daaroorkant’.
Dit neem lank om deur 'n kolom te kom. Met haar voorvinger volgs sy grasieus die reëls.
As sy klaar is met die koerante, loop sy oor die gang en klop weer soos tevore:
‘Nouja,’ sê die skoolmeester, ‘was daar iets nuuts in die stad?’
‘Dit is altyd “hulle daaroorkant”,’ sê sy, ‘die ou toestande.’
‘Arme ou dingetjie,’ sê die skoolmeester en kyk haar agterna deur die venster. Mej. Holm gaan huis toe na haar hekelwerk.
‘Arme ou dingetjie, sy is jou werklik heeltemaal dol op haar dansmeester...’ sê hy.
Dit was 'n ballet wat sou opgevoer word in die teater, deur 'n nuwe balletmeester. Mej. Holm ken die naamlys van buite en die name van al die solodanse.
‘Ons was mos saam op die skool,’ sê sy, ‘almal van ons.’
| |
| |
Die aand, toe die ballet opgevoer sou word vir die eerste keer, het sy koors asof sy self moes dans. Sy steek die twee kerse wat al grys van ouderdom is, op, elkeen aan sy kant van 'n Thorwaldsen gipsbeeldjie op die laaikas, en gaan sit op haar sjampanje-mandjie en staar in die kerse.
Maar sy kon nie alleen bly nie. Al die ou teaterrusteloosheid kom in haar op. Sy gaan in na die smid hulle, wat aan tafel is vir aandete, en gaan sit op die stoel langs die staanklok. Sy praat meer in hierdie ure as anders in die hele jaar. Sy vertel van die teater en eerste opvoerings. Van groot solos en meesterlike passe.
Sy neurie en wieg met haar bolyf, terwyl sy daar sit.
Die smid word deur dit alles so vrolik dat hy 'n ou wysie begin brom en sê:
‘Ou vrou, daarop drink ons 'n pons - van die sterk arrak!’
Die pons word gebrou en die twee kerse kom van die kas af op die tafel, en hulle drink en gesels ywerig. Maar temidde van die vrolikheid word Mej. Holm meteens stil en sit met groot trane in die oë. En sy staan open gaan.
Binne op haar mandjie bars sy uit van die huil en sit lank voor sy uittrek en gaan slaap. Sy maak g'n pas by die katelsteil nie.
Sy dink maar aanhoudend aan die één ding!
Hy was saam met haar op die skool gewees.
Sy lê stil in die bed. Af en toe sug sy in die donker. Sy woel effe met haar kop op die kussing: sy hoor in haar ore die hele tyd die stem van die balletmeester van die skool, bitsig en ru:
‘Holm het g'n gees nie... Holm het g'n gees nie...’ Hy roep dit sodat dit skree deur die hele saal.
Die koor-danseresse doen hulle oefeninge in 'n lang ry - pas na pas. Vermoeid leun sy 'n oomblik teen die muur - dit was asof die geplaagde ledemate van haar lyf afgekap is - en sy hoor weer die balletmeester wat gil:
‘Het Holm dan g'n ambiesie nie?...’
Sy sien hulle kamer tuis. Haar moeder wat in die groot stoel sit en steun, en haar suster wat die klapperende naaimasjien draai, vlak by die lamp en sy hoor haar moeder met haar asma-stem sê:
‘Het Anna Stein solo gedans?’
‘Ja, moeder.’
‘Dit was seker “La grande Neapolitaine”?’
‘Ja, moeder.’
‘Julle twee het nog saam in die skool gekom,’ sê haar moeder en kyk na haar van agter die lamp uit.
‘Ja, moeder.’
| |
| |
En sy sien Anna Stein in die borduurde rok, - met die fladderende linte in die tamboer - so lewendig en laggend in die lig van die voetligte in die groot solo...
En meteens druk sy haar hoof in die kussings en snik, heftig en onophoudelik, in hulpelose en hopelose smart...
Dit het oggend geword voordat sy aan slaap geraak het.
Die ballet was 'n sukses. Mej. Holm het die kritiek in die skool gelees. Terwyl sy lees val 'n paar klein ouvroutraantjies neer op Berlingske se koerant.
Van haar suster kom daar briewe aan. Dit was briewe omtrent leenbewysies en nood. Die dae, wanneer sy die briewe kry, vergeet Mej. Holm haar hekelwerk, en sy sit met haar hande in haar slape geboor, en die oop brief op haar skoot. Eindelik gaan sy om by die ouers en, rooi en bleek, via sy die helfte van haar betaling.
Dit stuur sy huis-toe.
Die dae gaan verby. Mej. Holm loop na en terug van haar dans. Sy kry nog 'n klompie leerlinge. Dit was 'n tien stuks jong boerevolk wat saamgesluit het. Hulle dans drie aande per week in die voorkamer by Peter Kladsen by die bos. Mej. Holm loop 'n half myl in die winterduisternis, so verskrik soos 'n haas, vervolg deur al die balletskool se ou spookstories.
Sy moes by 'n dam, met populiere omring, verby. Sy staar onafgebroke op die bome wat hulle groot arms in die donkerte opstrek. Sy voel haar hart soos 'n koue klip in haar bors.
Hulle dans drie uur lank. (Sy kommandeer. Sy swaai. Met die hereleerlinge dans sy sodat sy hektiese rooi wange kry.) Dan moet sy huis-toe gaan. Peter Kladsen se poort is toe. Die kneg volg haar met die lantern en maak oop. Hy hou die lig 'n oomblik omhoog in sy hand, terwyl sy uitgaan, die donker in.
En sy hoor sy ‘Goeie nag’ agter haar, en die poort wat oor die grond getrek en gesluit word.
Op die eerste stuk pad was daar heinings met struike wat buig en knik...
Lente het begin, toe Mej. Holm se kursus op 'n end was. Die klompie van Peter Kladsen hulle wou 'n afskeidsdans in die dorpshotel hê.
| |
III.
Die fees was baie elegant met ‘Welkom’ in ligskrif bo die deur en koue verversinge teen twee krone, met die kapelaan en die juffrou van die pastorie as gasheer en -vrou.
| |
| |
ENSLIN DU PLESSIS:
IN DIE KOMBUIS (Waterverf).
(Foto deur Howard Coster, Londen.)
| |
| |
Mej. Holm was in barège met versiersels en 'n romeinse band om haar kop. Haar vingers was belaai met vriendskapsringe van die balletskool.
Tussen die danse sprinkel sy laventelwater op die vloer en dreig die ‘Mevroue’ met die fles. Mej. Irene Holm word weer so jonk op 'n afskeidsdans.
Eers dans hulle die quadrille.
Die ouers en bejaardes staan langs die mure en in die deure en hou stilgeïmponeerd almal hulle eie in die oog. Die jonges gaan rond in die quadrille met gesigte so styf soos maskers, met sulke versigtige treë asof hulle op ertjies loop.
Mej. Holm is een en al opgeruimde knikkies en half-luide Franse benaminge. Die orkes is Mnr. Brodersen en seun. Mnr. Brodersen junior trakteer op die predikant se goedwillig geleende klavier.
Hulle begin met 'n rondte-dans, en dit word vryer van toon. Die mans klink met die pons in die kamer langsaan, en die ‘here-leerlinge’ vra Mej. Holm toe, wat haar voete 'n bietjie verder uitstrek onder haar rok, en met haar heupe swaai.
Die pastoriejuffrou vind dit so vermaaklik dat sy die kapelaan aan die arm knyp.
Na 'n Mazurka roep die skoolmeester ‘bravo’, en almal klap. Mej. Holm maak 'n balletbuiging met twee vingers op haar hart.
Hulle moes ingaan vir verversinge, en sy organiseer 'n polonaise. Almal neem deel; die vrouens stamp mekaar van verbouereerdheid en plesier. Die mans sê:
‘Nouja - ou vrou - so moet ons...’
'n Paar begin die ‘handsoldate’ sing en stamp die maat daarby.
Mej. Holm het die skoolmeester as tafelmaat en sit onder die borsbeeld an Sy Majesteit die Koning.
Die toon word weer formeel, noudat hulle aan tafel is en Mej. Holm is diè enigste wat praat in salontoon soos: ‘Hulle van die toneelstuk’ in 'n komedie van Scribe. Langsamerhand word hulle meer versadig. Die mans begin mekaar toedrink en klink oor die fafel heen.
Onder by die jonges se end van die tafel word dit baie vrolik, en dit duur 'n rukkie voor daar stilte kom vir die skoolmeester, wat wil praat. Hy praat vir Mej. Holm en die nege Muses. Hy praat lank. Langs die tafel sit hulle en kyk af in die borde - naderhand kry die gesigte 'n plegtige en
| |
| |
stramme uitdrukking soos wanneer die predikant op die preekstoel verskyn - en met hulle vingers maak hulle broodpilletjies.
Die spreker kom by Freja en haar twee katte en stel toe die gesondheid in van: ‘Die priesteres van die kuns’, Mej. Irene Holm. Nege lang hoera's word geroep, en almal wil met Mej. Holm drink.
Mej. Holm het nie die toespraak verstaan nie en voel baie gevlei. Sy staan op en buig met die glas omhoog. Die feestelike poeier het heeltemal verdwyn van hitte en inspanning, en sy het twee donkerrooi vlekke op haar wange.
Nou word dit 'n groot lawaai. Die jonges begin sing, die oues drink private glasies en staan op van hulle plekke om mekaar op die skouer te slaan of mekaar, onder gelag, op die maag te klop. Die vrouens begin streng te kyk, bang dat hulle wederhelftes te veel in sal kry.
En te midde van die vrolikheid hoor 'n mens Mej. Holm wat baie opgeruimd geword het en oudeund lag soos dertig jaar gelede op die dansskool.
Toe sê die skoolmeester: Mej. Holm moes eintlik dans - - -
- Maar sy het mos gedans...
- Ja - maar vir hulle dans - 'n solo - dit was nou iets...
Mej. Holm het gou verstaan - en sy kry vreeslik lus: sy kon dans. Maar sy begin te lag en sê aan Peter Madsen se vrou:
‘Die orrelis wil hê dat ek moet dans’ - - asof dit die belaglikste ding ter wêreld is.
Dié wat naaste by is hoor dit, en dit word 'n algemene geroep.
‘Ja - u moet dans....’
Mej. Holm word rooi tot in haar hare en sê: dat die feestelike stemming 'n bietjie te verhewe word.....
‘En buitendien is daar g'n musiek nie...’
‘En 'n mens dans nie met 'n lang rok nie...’
'n Kêrel roep deur die kamer: ‘Dié kan opgelig word’ - en almal lag hardop en begin van nuuts af soebat.
‘Ja - as die juffrou van die pastorie sal speel - 'n tarantel...’
Hulle omsingel die juffrou. Sy is gewillig en sal probeer. Die skoolmeester staan op en slaan op sy glas: ‘Dames en Here’, sê hy, ‘Mej. Holm wil ons die eer doen om te dans....’ Hulle roep weer: ‘Sy sal lewe!’ en ‘hoera!’, en begin opstaan van die tafel.
Die kapelaan is geel en groen, soos die predikant se dogter hom geknyp het.
Mej. Holm en die juffrou gaan om die musiek te probeer. Mej. Holm is senuweeagtig en loop heen en weer en strek haar voete uit. Sy wys na die vloerplanke wat soos berg en dal is en sê:
| |
| |
‘'n Mens is mos nie gewoond om in 'n sirkus te dans nie.’
Toe sê sy: ‘Ja - die vrolikheid kan begin,’ en is heeltemal hees van gemoedsaandoening.
‘Dan kom ek na die eerste tien takte,’ sê sy. ‘Ek sal 'n teken gee...’ Sy gaan in en wag in die klein kamertjie.
Die juffrou begin speel, en almal se oë is op die deur. Na die tiende takt gaan dit oop en almal klap: Mej. Holm dans met haar rok opgebind met 'n romeinse sjerp.
Dit is ‘La grande Neapolitaine’.
Sy loop op haar tone en sy swaai. Die toeskouers kyk bewonderend na die voete wat so vinnig gaan soos dromstokkies. Dit word geklap as sy op een been rus.
Sy sê: ‘Vinniger’ - en begin weer swaai. Sy glimlag en wink en waai en waai. Dit word meer en meer met die bolyf, met die arms, dit word meer en meer mimiek. Sy sien nie meer die gesig van die toeskouers nie - sy maak haar mond oop - glimlag en wys al haar tande - ('n paar aaklige tande), - sy wink, werskaf, - weet, voel net die ‘solo’ - - -
Eindelik die solo.
Dit is nie meer ‘La Neapolitaine’ nie. Dit is Fenella wat bid - die tragiese Fenella.
Sy weet nie hoe sy opgekom het nie, hoe sy uitgekom het nie... Sy het net meteens die musiek hoor ophou - en die gelag, die gelag - terwyl sy skielik die gesigte sien...
En sy het opgestaan en haar arms nog 'n keer uitgebrei - uit gewoonte - en sy het gebuig terwyl hulle roep...
Binne in die klein kamertjie staan sy 'n oomblik by die tafel... dit is so donker vir haar, so totaal leeg...
Toe maak sy langsam die sjerp los, met baie stywe hande, en trek haar rok glad en gaan stil in - waar hulle aanhou bly klap.
Sy buig, dig by die klavier, maar haar oë lig sy nie van die grond af nie.
Hulle is haastig om te begin dans.
Mej. Holm gaan stil rond. Sy begin afskeid neem, en die leerlinge druk haar geld, in papier toegedraai, in die hand.
Peter Madsen se vrou help haar haar jas aantrek, en op die laaste oomblik kom die pastorie-juffrou en die kapelaan en wil haar begelei.
Hulle loop swyend met die pad langs. Die juffrou is eintlik ongelukkig en wil verontskuldiging maak en weet nie wat sy moet sê nie. En die danseressie loop maar langs hulle, stil en bleek.
Toe sê die kapelaan, ongemaklik gemaak deur die stilte:
| |
| |
‘Sien u, juffrou - dié mense het g'n oog vir die tragiese nie!’
Mej. Holm loop maar nog stil. Hulle kom by die smid se huis en sy buig toe sy handgee.
Die pastoriejuffrou slaan haar arms om haar en seen haar: ‘Goeie nag, juffrou,’ sê sy - haar stem was nie seker nie.
Sy en die kapelaan bly buite op die straat totdat hulle lig in die danseres se kamer sien.
Mej. Holm trek haar barège rok uit en vou dit op. Toe tel sy die geld uit die papiertjies en naai dit vas in 'n klein sakkie in haar roklyfie. Sy is so lomp met die naald, terwyl sy daar by haar kers sit.
Die volgende oggend word haar sjampanje-mandjie op die poskar gelaai. Dit was 'n reëndag, en Mej. Holm kruip in onder 'n stukkende sambreel; haar bene trek sy in onder haar, sodat sy heeltemal turks op haar mandjie sit.
Toe hulle moet vertrek - die poskoetsier loop langs die kar, één passasier is genoeg vir die ou perd om te trek - kom die juffrou van die pastorie kaalkop die pad ophardgeloop. Sy het 'n wit mandjie by haar. 'n Mens moet darem kos saam hê vir die reis, sê sy.
Sy buig in onder die sambreel, omhels Mej. Holm en soen haar twee keer....
Toe bars die ou danseres in trane uit en gryp die jong meisie se hand en soen dit.
Die juffrou bly staan in die pad en kyk die ou sambreel agterna, so lank: as wat dit te sien is.
Mej. Irene Holm het uitgenooi tot 'n ‘voorjaarskursus in die moderne geselskapsdans’ in 'n naburige distrik.
Ses leerlinge het ingeskrywe.
Dáárheen gaan sy - om dit wat 'n mens die lewe noem, voort te sit.
LONDEN.
Vertaal deur LETTIE SMIT.
|
|