Goeie Vrydag.
DIT is Goeie Vrydag. Vanmôre is sy weg met die moterkar, met haar man, na buite om 'n huisie te soek waar hulle die naweke gelukkig bymekaar kan wees. Want hy is moeg van al sy werk in die week en hy verlang om sy vrou te aanskou in haar mooiheid. En sy om haar man gans te besit, hom wat so lank, sterk en stil is.
Maar Lorenzo is 'n dromer gewees sy hele lewe lank. En vandag is nog boonop Goeie Vrydag. En boonop reënt dit buite en is alles triste. En hy dink: Vandag is Goeie Vrydag, sy is by haar huis en ek gaan daarheen. Die son is tog so warm vandag; wonderlik, dit is nog so vroeg in die jaar. Hy is gelukkig want hy gaan na haar. Lorenzo, Lorenzo - wat doen jy? Hy gaan na binne; stil is alles, net die piano speel. ‘Lorenzo, jy hier!’ ‘Blomme het ek gebring - en my liefde.’ En daar hy nie arm is nie, en daar sy hom so oneindig liefhet, vir hom, Lorenzo, trou hulle en gaan woon daarbuite, weg van die groot stad, op 'n plaas teen die berg, in Suid-Afrika. En daar hy baie ryk is, word dit sonskyn orals.
En elke môre groet hy haar asof sy 'n koningin is: ‘Ek bring jou, ek bring jou my liefde!’ En elke dag word sy mooier, totdat dit eindelik te veel word vir hom. Dan sit hy voor haar en kyk haar in die oë, lank, so lank totdat trane uit haar oë rol. ‘Lorenzo, waarom dan?’ vra sy. Dan sak hy neer voor haar in aanbidding. Maar in sy hart skree dit na verlange na haar.
Toe is hy een môre uitgegaan na die wingerde, wat groen was en swaar van pers, heerlike, sappige druiwe. En met lang deurmekaar hare in die son. En sy is in die huis, al die deure wa-wyd oop, rosakleur op haar rok en in haar oë. Die geluk, die geluk.
* * *
En sy het gewag, die hele nag, 'n hele week en nog 'n jaar. Haar oë is droef geword en haar skoonheid was soos dit van 'n heilige. En as die mense haar sien, dan dink hulle, en sê saggies: Sy is van elders, nie van ons nie. En sonder om te groet gaan hulle gou weg, sku omdat hulle soveel droefheid en skoonheid aanskou het. Toe is ook sy weg.