gaan na hy 'n goedgaargemaakte biefstuk met uie, liefdevol bruin gebak, verorber het nie.
Die twede lakune, wat ons besoeker vind, is die afwesigheid van daardie klein, plaaslike aantreklikheidjies en patriotismetjies wat 'n mens orals in Europa aantref. As 'n man in Holland van-huis gaan op 'n moter-toer sal sy vrou tussen haar snikke deur sê: ‘En moet tog nie my Brusselse kant vergeet nie!’ En net die in-gedagte-sien van daardie Brusselse kant sakdoeke is genoeg om dadelik haar trane te droog. As die onverskrokke reisiger weer tuis kom, is Jantje en Susje soos 'n blits in die kar en wroetel rond vir skatte: Kruidnote van Zwolle, Deventerse Koek en van die heerlike Haag daardie verruklike Hopjes wat soveel bydra tot Vredes-Konferensies in huislike kringe.
In Europa, as ons rond reis, bring ons altyd plaaslike aandenkings terug vir ons geliefdes tuis, of anders verloor ons tereg ons populariteit. In Suid-Afrika is dit moeilik, daar ons dorpe totnogtoe nie ontwaak het tot die besef van hulle pragtige kanse nie, hoewel 'n mens 'n prent-poskaart bo-op Tafelberg kan koop.
Ek sou onteerd voel as ek nie van Verviers of Market Drayton, dorpe respektieflik in België en Engeland, 'n groot voorraad van elkeen se heerlike peperkoek saam huistoe bring nie; van Kendal, in die Mere Streek, Ruskin erdewerk; van Leipsig boeke, daar so goedkoop as neute op ander plekke; van Jersey reukwater en wandelstokke - laas- en nie eersgenoemde van hierdie eiland se tamaai-groot kole gemaak. Die voortbrengsels van Edam, Gouda, Camembert, Limburg en Keulen styg in lieflike geure op na die hemel. Watter Engelse kind het nog nooit ‘Edinburgh rock’ gekou of met lewendige genot die drop-koekies van Pontefract gesuig nie?
Suid-Afrika en Ierland is die enigste twee lande wat ek van weet, wat hierdie klein plaaslike aantreklikheidjies kortkom, hoewel Dublin eens op 'n tyd vermaard was vir sy ‘Irish Blackguard’, 'n heerlik-kittelende snuif, en selfs nou nog voorsien dit die wêreld van 'n ‘Stout’, hoewel dit nou nie eintlik 'n geskikte aandenking is om vir die vrome, gelukkige mense tuis saam te bring nie. Selfs Turkye, so agterlik as wat dit in sekere opsigte is, kan ons kinders die smaaklike ‘Turkish Delight’ lewer; dit is die naam van 'n soort lekkers en nie, soos U dink, van 'n Armeniaanse bloedbad nie.
Ek moet dikwels deur die onbekende gevare en vreemde volkstamme langs die Hoofrif Weg my pad vind na Brakpan. Ek sou graag flesse Bouquet de Brakpan, wil koop om die neuse van my geliefdes te verbly, maar waar kry 'n mens dit? Na ek ywerig deur die lengte en breedte van Suid-Afrika gesoek het, is ek slegs beloon deur die ontdekking van 'n kaas in Greylingstad - en terwyl ek op sy spoor was, het ek net naalskraap met my lewe daaraf gekom deur 'n botsing met 'n trein, wie se drywer klaarblyklik die jag op verborge