saak, dat ook Moses, onse Meester - vrede sy hom - nie na daarbo gegaan is nie, maar na benede meer as tien span - en die regverdige uit Nemierow ook nie anders nie!
Maar as dit so is, waar is dan die Rabbi in die uur van die Boetgebede?
En die Lithauer sê, dat hy vir hom moeiliker vrae te stel het as hierdie...
Maar in dieselfde oomblik besluit hy by homself om die ding grondig te ondersoek.
En nog dieselfde dag, tussen die namiddag- en die aandgebed, sluip die Lithauer in die slaapkamer van die regverdige en gaan lê onder sy bed..., en hy is nie bang dat die slaap hom te magtig sal word nie; is hy dan g'n Lithauer nie! En hy kies vir hom 'n Talmoed-traktaat uit en leer dit uit sy kop, en hy lê die hele nag, en leer uit sy kop!
Om een uur, voordat die oproep vir die Boetgebede klink, merk die Lithauer dat die regverdige hom omgooi op sy bed, dat hy kla en sug, sug en kla. En kyk, dit was bekend, dat die klagte van die regverdige van Nemierow vol was van smart en lyding en uitstortinge van die siel, en elkeen wat dit hoor moes waarlik uitskree! Maar hierdie man, hy hou nie op met saggies te leer nie....
So lê hul twee daar, die Rabbi op die bed, en die Lithauer onder die bed.
Toe die oproep vir die Boetgebede klink, hoor die Lithauer dit, en kyk, groot is die beweging in die aangrensende kamers, die huisgenote kom uit hulle bedde, steek die ligte aan, was hulle hande, trek aan en gaan weg, en maak die deure oop....
Daarna word alles weer rustig, en die lig, wat uit die aangrensende kamers geskyn het onder die bed van die regverdige, is dood. En hy bly alleen met die rabbi in die huis.
Daarna moes hy erken, en hy skaam hom nie, dat in dieselfde oomblik 'n duister skrik op hom geval het. Want dit is g'n geringe saak nie om alleen te wees met die regverdige in die uur van die Boetgebede! Maar, die Lithauer gee nie gou in nie, hy bewe oor sy hele lyf, maar bly lê!....
Intussen staan ook die regverdige op van sy bed.
Hy staan op, en doen wat nodig is, en kom nader na die klerekas, en neem daaruit 'n bondeltjie klere, naamlik: 'n wit linne-broek, wyd en kort, groot laarse, bestryk met pik, 'n dik, harige baadjie en 'n harige hoë mus, en 'n leer gordel beslaan met kopernaëls - boereklere!
Daardie klere trek die regverdige aan, en uit die sak van sy baadjie steek die ent van 'n dik lyn...