Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1931(1931)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 28] [p. 28] Herfs in Holland. Wanneer die herfs oor Holland sluip dan brand die bome geel, die blare sak in swerms, al ruisend in die wind, en sprei 'n sagte, 'n lewende gewaad oor klam - koel grond; en as die son uit newels duik, styg mild 'n sag-soet geur van skoonheid droef vergaan, van mooi, gestorwe dinge daaruit op, - Soos uit 'n enkel blomgeur soms kan stroom herinneringe uit die newelland van ou ervaring, en die siel dan bewe vol soet verwagting as die oue weer langs nuwe weg ontbloei en botkrag kry. Die pikswart kraaie sit droef-eensaam in die dorre takke, hoog teen diepblou lug, en saans, as ver die son in newels sink groot, rond in wonder-diepe vreedsaamheid, dan maal hul lanfer-swart daarbo en kras bang-skerp 'n boodskap dat die koue kom. Sag in die milde skemerlug streel soet, soos bly musiekgestroom as ons ontwaak, gesuis van sense die gevoel wat droom. Die riete val in hopies neer, - en hoog staan miedens hooi, fris - geurend langs die gragte. Op diep-groen weie kleur die beeste bont, tot hul vervloei in skaduwees wat wyd oor gragte en dieptes soos 'n stemming groei. In skeem'ring-innigheid verdrink geluide in stiltebron, die lug word wyd en groots soos wanneer ons gemoed 'n vrede voel voordat die digterstem ontwaak, daar sing die stilte self. Om bome verlangs lê 'n ring van newels wat wegwaas verder in die skemering om in [pagina 29] [p. 29] die nag se hart soos spierwit vag te glans wanneer die maan dit blink deurstroom met lig. En smôrens is die gras glans-nat van dou wat glinst'rend tril aan krom-gebuigde riet. In waterdieptes droom die somer nog so ryk en vol; maar herfs se skoonheid huiwer in die natuur. 'n Vreemde weemoed bewe in die hart oor goudgeel bome wat hul blare stort in dieptes, die verganklikheid van skoonheid kom weer in alles uit natuur gebore. Tog, o so kort die weemoedsryke uur, so mooi die somergroei se afskeidshuiw'ring: Herinneringe wat verrein en bly. O skoonheid wat vergaan, die sense suis sag in die riet en kraaie kras daarbo, die swawels kwetter en wil suidwaarts vlie! O skoonheid van die herfs, O afskeidsuur, hoe kort die skoonheid met sy weemoed duur! C.M. VAN DEN HEEVER. Vorige Volgende