sigtigheid nader en met die vrees wat 'n mens vir strikvalle het. Sy was inderdaad net soos 'n strikval met haar arms en lippe uitgestrek na die man.
Net die nonne kon hy veel want hulle gelofte het hul onskadelik gemaak; maar selfs hulle het hy op 'n afstand gehou, want in die diepte van hul getekende en vernederde hart het hy altyd nog daardie eindelose hunkering na liefde sien lewe. Dit dring tot hom deur al is hy 'n priester. Hy sien dit in hul oë, wat meer betraand is as dié van die monnike, in die vervoeringe waarin hul geslag hom meng, in hul drang van liefde tot Kristus - 'n drang wat Hom onwaardig is omdat dit vroueliefde is, liefde uit die vlees; hy sien dit, daardie vervloekte liefderikheid, selfs in hul onderdanigheid, in die teerheid van hul stem as hul met hom praat, in die neergeslane oë, en in die trane van berusting as hy hul skerp tereggewys het.
En hy skud sy kierie as hy uitgaan by die kloosterpoort, en hy loop met uitgerekte treë asof hy vlug vir 'n gevaar.
Hy het 'n niggie wat met haar ma daar naby woon. Hy wil graag hê dat sy 'n liefdesuster moet word, maar daarvoor is sy te vol lewensblyheid en ligsinnigheid, en wanneer die abbé preek, lag sy. As hy dan boos op haar word, omhels sy hom hartstogtelik en druk hom teen haar hart; en al probeer hy onwillekeurig om hom te bevry, laat dit hom tog 'n sagte vreugde smaak, roep dit in hom wakker die gevoel van vaderskap wat diep in elke man sluimer.
Dikwels het hy met haar van God gepraat, van sy God, as hulle langsmekaar deur die velde loop. Sy het weinig daarna geluister en liewers die hemel, die bome en blomme beskou met die lewensgeluk stralend uit haar oë. Soms het sy vorentoe gehardloop om 'n vlieënde insek te vang, en as sy dit teruggebring het, roep sy uit: ‘Kyk, hoe pragtig is hy, oom; ek het lus om hom te soen.’ En daardie ‘lus om te soen’ het die priester geprikkel en vererg, want daarin het hy weer die onuitroeibare liefderikheid gesien wat altyd aan die ontkiem is in die vrouehart.
Dan, eendag fluister die huishoudster van vader Marignan hom in die oor dat sy niggie 'n minnaar het. Dit gee hom 'n groot skok en hy bly verstomd staan, met sy hele gesig vol seep, want hy was net besig om te skeer. Toe hy weer tot verhaal kom, roep hy uit:
‘Dis nie waar nie, jy vertel 'n leuen, Mélanie!’
Maar die boervrou lê haar hand op haar hart:
‘Dat onse Heer oordeel of ek 'n leuen vertel, meneer. Sy gaan elke aand soontoe netsoos haar ma gaan slaap het. Hul kry mekaar langs die rivier. Loop maar net tussen tien- en twaalfuur en u sal sien.’
Hy hou op met skeer en begin driftig op en neer stap soos hy altyd doen in ure van ernstige oorpeinsing. Toe hy weer begin skeer sny hy hom