| |
| |
| |
Nasionalisme in Kuns.
NIE slegs in Suid-Afrika nie, maar ook oor die hele wêreld word aangedring, miskien hedendaags soos nooit tevore nie, op 'n nasionale element in kuns. 'n Hernude belangstelling word bespeur in ou volksgebruike, volksliedere, volksdanse, nasionale argitektuur en kleredrag, kortom, in alles wat van oudsher af die een land en volk van die ander onderskei het. Die oorsaak van dit alles lê voor die hand. Wat onherroeplik verlore geraak het word dàn eers gewaardeer soos nooit tevore nie, maar soms is ons darem ook versiende genoeg om te besef dat iets vinnig aan verdwyn is, en dan probeer ons red wat nog daaraan te red mag wees.
Ons weet mos, in vroeëre tye was daar, naas geografiese verskille, ook nog die wat gerieflik aangedui kan word as kultuur-historiese verskille tussen lande en volkere. Ook weet ons dat laasgenoemde veelal voortgespruit het uit eersgenoemde. Dan moet ook nog onthou word dat verskillende lande en landstreke in die verlede ontwikkel het in betreklike isolasie, sodat skerp verskille ontstaan het in taal, lewenswys, sedes en gewoontes en so meer. Nou is al hierdie verskille, dank sy ons moderne beskawing, vinnig aan verdwyn. Tog al te vinnig, volgens sommige, volgens ander weer nie vinnig genoeg nie. Vaneffe het ons nog gepraat van betreklike isolasie, nou hedendaags bespeur ons dat afstand feitlik nie meer bestaan nie. Al ons moderne vervoermiddels sowel as uitvindings soos die rolprent, die grammafoon, die pers, trou bygestaan deur dradelose telegrafie, is met onverpoosde, onverdrote ywer besig om tot selfs die verste uithoeke van die aardbol met mekaar in gedurige aanraking te bring. En met watter gevolge? Ons almal begin hoe langer hoe meer alle nasionale, kultuur-historiese verskille prys te gee en mekaar gelykvormig te word in die aanneem van 'n kultuur gebaseer op moderne, wetenskaplike ontdekkings en uitvindings. Sê maar gerus meteen, 'n Anglo-Amerikaanse kultuur wat glad nie so stadig nie die hele wêreld dreig te verower. Nasionale kleredrag word oorals opsy gelê vir die gerieflik-praktiese, higiëniese modes van vandag. Ons bewoon al hoe meer dieselfde soort huise, voorsien van dieselfde soort meubilering en moderne installasies, ons eet dieselfde soorte voedsel, veel waarvan uit fabrieke in blikkies kom, ons lees dieselfde soort boeke, tydskrifte en koerante en kry uit hulle dieselfde idees aangaande die lewe, ons hou ons onledig met dieselfde soort werk, doen aan dieselfde soort sport en vermaak ons op dieselfde manier. Ja, binnekort, as ons nie oppas nie, spreek almal dieselfde taal, hetsy Engels, Amerikaans of
Esperanto, en sal
| |
| |
verskillende landstale ook behoort tot die vele onderskeidingstekens van vervloë dae toe daar nog kans was vir indiwidualiteit op allerlei gebied. 'n Blye vooruitsig volgens praktiese, nugtere verstandsmense, 'n droewige volgens onpraktiese dromers, idealiste en kunstenaars.
Hierdie gelykmakingsproses word darem nog ten dele gekeer, en dit wel deur nasionaliste (in die breedste sin van die woord), kunstenaars en toeriste. Ja, toeriste! Want nog nooit was reis so veilig en so gerieflik soos nou nie, en nog nooit was die getal bevoorregtes, wat die tyd en die middele besit om vreemde oorde te besoek, so groot en so onkeerbaar nie. En kom hul dan in 'n vreemde land, dan is die eerste vraag steeds:
‘Wel, en wat is hier te sien wat in my eie land nie te sien is nie?’
En naas geografiese en klimatiese verskil is daar ook nog, ten spyte van die spore van moderne beskawing wat dreig om alles oor die hele wêreld so eentonig te laat lyk, die verskille wat dagteken uit die goeie oue tyd toe die verskil, om maar 'n enkele voorbeeld te noem, tussen 'n gemoderniseerde sjinees en sy omgewing en 'n gemoderniseerde Suidsee-Eilander en syne heelwat frappanter was dan wat dit nou hedendaags is. Want die getal moderne Sjinese en Suidsee-Eilanders neem by die dag toe, en 'n moderne Sjinees en Suidsee-Eilander mag in veel opsigte beter en gelukkiger wees dan sy voorvaders was, maar niemand sal tog wil ontken dat hy in die moderniseringsproses prysgegee het, en nog steeds besig is om prys te gee, wat hom in die verlede onderskei het van ander.
In lande wat reeds lankal en druk deur toeriste besog geword het, kom mens soms tot die gevolgtrekking dat seker eienaardighede, seker besienswaardighede meer terwille van ryk toeriste kunsmatig aan die lewe gehou word dan terwille van die inwoners self. Goddank, sê die kunstenaars onder ons, daar is darem seker verskille wat altyd sal bly bestaan. Die Switserse Alpe sal bergklimmers en sportsmanne nog tot speelgrond strek al het die laaste skilderagtige chalet met sy skilderagtig gekleede bewoners reeds van die toneel verdwyn, en al word die Switserse jodelroep en die klokkies van koeie en bokke nie meer gehoor nie. Die onmeetlike sandwoestyn met sy palme en oases sal nog lok en bekoor al het die vernielingswerktuie van die volgende wêreldoorlog die Sfinks en die Piramiede vergruis. Die slee, die kano, die kameel, die masjiela en die ossewa mag in onbruik raak omdat die moter en vliegtuig hul plek vervang het, maar ysvelde, berge, mere, riviere en woestyne sal daar nog wees om oor te steek, te beklim of te deurkruis.
Nasionaal, om tot ons onderwerp terug te keer, mag dus alles heet wat die een land van die ander nog onderskei of in die verlede onderskei het. Taal, godsdiens, sedes en gewoontes, vervoermiddels, huise, spys en drank, kleredrag, werk en ontspanning - ja, gewis is al wat in verskillende
| |
| |
lande eienaardig, kensketsend was aan die dinge tog te vinnig aan verdwyn. Maar hier kom ons by die heerlike taak van die kunstenaar, die taak, plig, of liewer gesê die voorreg om in boek, lied en beeld te verewig al wat in lang vervloë tye, of nou nog, kensketsend van sy land en volk mag geheet het of heet. Wat vir moderne, praktiese doeleindes reeds totaal uitgedien is, vorm dikwels juis die skoonste en rykste stof tot inspirasie vir die skrywer, digter, musikus, beeldhouer of skilder. Ons reis wel almal tans by voorkeur per lugskip of moter, maar ons ossewa is reeds besing en kan nog vaak besing word in die toekoms.
Vele nasionale instellings wat dagteken uit die donker verlede word tans in die lig van moderne beskawing nie alleen as uitgedien beskou nie maar ook as bepaald afkeurenswaardig. Slegs die kunstenaar verlustig hom nog daarin. Die moderne, geëmansipeerde Sjinese vrou wil nie meer haar voete, deur die digters van haar land voorheen besing as ‘goue lelies’, belet om hul normale formaat te bereik nie; die moderne Fiji-Eilander beskou 'n getatoeerde liggaam as onesteties en onhigiënies. Die toordokter se dae in ons land is getel, en nie lank gelede nie is 'n inboorlingvrou ter dood veroordeel weens die heidense moord van haar tweeling. Maar die kunstenaar mag hom as kunstenaar verlustig selfs in wat van 'n moreel-etiese standpunt verdoem, afgeskaf of onderdruk word. Nog meer, dis sy taak om daarop te wys dat al die nasionale instellings goeies sowel as slegtes, 'n reg of rede tot bestaan gehad het in vroeëre tye en op hul manier bygedra het tot die ontwikkelings-geskiedenis van 'n land en volk.
Maar daarby dien onthou te word dat die kunstenaar nou eenmaal 'n allerlastigste mens is en om die dood nie aan bande wil gelê word nie. Kuns is vir hom nie slegs nasionaal nie, maar ook internasionaal. Wil 'n Afrikaanse skilder byvoorveeld liewer 'n onderwerp kies uit die Griekse mitologie of uit die ou Noorse sagas dan uit ons volksgeskiedenis of Bantoemitologie, dan kan ons hom nie keer nie. Ons kan slegs in alle beskeidenheid daarop wys dat beide die Griekse mitologie sowel as die ou Noorse sagas reeds vir veel ander en beter kunstenaars voor hom tot onderwerp gestrek het, maar dat ons geskiedenis en Bantoemitologie nog wag om aangewend te word. En dan nog sal hy 'n antwoord klaar hê. Hy sien mos verder as ons, ver verby punte van verskil, hy sien tot by punte van ooreenkoms. En dié is ruim so belangrik, ruim so inspirerend vir hom. Daar is seker dinge wat mense oor die hele wêreld met mekaar gemeen het. Menslike hartstogte soos liefde, jaloesie, haat, ambiesie. Realistiese, algemeen-menslike probleme soos armoede naas rykdom, jeug naas ouderdom. In hoever, en in watter opsigte 'n Afrikaner verskil van of ooreenkom met 'n Griek uit die
| |
| |
ou klassieke, of 'n Bantoe of 'n ou Vikinger, kan nie sommer kortweg bepaal word nie. Maar ons weet darem daar is punte van ooreenkoms naas punte van verskil. Alweer die heerlike roeping van 'n kunstenaar om die juiste ewewig te bewaar in sy kunswerke tussen wat nasionaal en wat internasionaal mag heet, tussen tydelike en verganklike punte van verskil en ewigdurende en onverganklike punte van ooreenkoms tussen mens en mens.
Ondertussen mag miskien aangemerk word dat ons reeds in ons jong letterkunde twee uitstaande voorbeelde het van kunswerke wat vir ons taamlik ver buite die grense van ons eie land en tyd voer, te wete Leipoldt se drama ‘Die Heks’ en Langenhoven se heerlike ‘Skaduwees van Nasaret’. Die heksevervolgings van die middeleeue, en Jesus van Nasaret se lewensloop en leerstellings mag 'n Afrikaner ewegoed as enige ander landsman tot onderwerp strek.- Sommige sal selfs wil beweer dat ons in bogenoemde werke gedagtes en gesigspunte aantref wat tiepies van ons land se mense is, en aldus nuwe lig mag gooi op welbekende, vaak tevore behandelde onderwerpe. Ook dink ek hier onwillekeurig aan Leipoldt se Oosterse Dagboek, waarin hy met soveel besieling die skoonhede van Sumatra en Java besing. Lande, persone, tydperke maak eintlik geen saak nie vir 'n kunstenaar wat naas bykomende punte van verskil ook nog die essensiële punte van ooreenkoms raaksien.
Maar dis gewoonlik die belangstellende vreemdeling eerder dan die gebore Afrikaner wat so ernstig wil aandring op 'n eg nasionale element in ons kuns. Al wat ons land eie is, en gevolglik vir hom en die res van die wêreld nuut en vreemd, wil hy daarin verteenwoordig sien. ‘Wil 'n Afrikaner 'n onderwerp vir 'n drama hê’, het 'n Engelse kunskrietikus onlangs beweer, ‘dan moet hy tog in vredesnaam wegkom van dorpe en stede en hom wend tot die eensame veld, die afgeleë boereplase of die kafferkrale vir inspirasie.’ Met ander woorde, die lief en leed van dorp en stad is oor die hele wêreld min of meer dieselfde, maar kom jy weg van die beskawing, dan vind jy ook wat tiepies, kensketsend van 'n land is.
Mag ons eie mense dit nog duld dat 'n digter onder ons die nagtegaal noem, die vreemdeling sal in die plek daarvan die Bokmakierie, Piet-my-Vrou, of tingtinkie wil stel. 'n Swaan? Foei nee, watter aanstellery! Honderdmaal liewer 'n volstruis! Swane en nagtegale is hier nie te vind nie, gevolglik kom hul aanwesigheid in ons poësie hom dadelik voor as stereotiepgekunstel. Rose en maanskyn en liefde? Die is by ons tog ruim so skoon soos elders, al is dit van die dinge wat ons met so baie ander lande gemeen het! Ja... dis waar... sal hy onwillig toestem, maar tog, in hemelsnaam, liewer iets eg en eksklusief Afrikaans! Die wêreldberoemde danseres wat ons
| |
| |
land besoek ontvang liewer 'n ruiker van Afrikaanse veldblomme as huldeblyk dan die fraaiste tuin- of broeikasprodukte. En sy verkyk haar, met 'n entoesiastiese belangstelling wat vir sommige van ons belaglik skyn, aan die primitiewe inboorlingdanse en luister opgetoë na barbaarse inboorlingmusiek en sang.
Van musiek gesproke, 'n aspirant-komponis onder ons is eens flink op die vingers getik omdat hy Barcarolles, Tarantellas en Nocturnes probeer skep het (of, volgens die krietikus, naboots!). Dieselfde krietikus, alweer 'n uitlander van geboorte, het dit darem nie by afbrekende kritiek gelaat nie, maar het gewys op inspirasie wat te kry is uit die lokroepe van ons voëls, ons statige psalms en gesange (deur die voortrekkers ons eie gemaak hoewel van oor die see hierheen gebring), en ook, ja, uit ons Bantoemusiek. Intussen kan ek nie help om in alle beskeidenheid op te merk dat dit lyk of die taak van ons eg nasionale komponiste heelwat moeiliker skyn te wees dan die van ons letterkundiges, boumeesters, skilders en beeldhouers. Laasgenoemdes veral hoef hul slegs te wend tot ons heerlike natuur, ons ryk planteen dierelewe, ons pragtiepes onder die naturelle, om materiaal te vind wat kunstenaars uit ander lande hul wel mag beny.
Dat oorseese kultuur ons kultuur beïnvloed is nou eenmaal nie weg te redeneer nie. Dan kom daar ook nog die spore nagelaat deur 'n opvoeding wat, nog geen twintig, dertig jare terug nie, allesbehalwe nasionaal mog heet. Verrassende bewyse daarvan kom nog kort-kort by ons voor. ‘Noord’ word nog deur meeste van ons in verband gebring met koue, en ‘Suid’ met warmte, net omdat die Europese letterkunde wemel van die assosiasies. Maar ten noorde van ons land lê die ewenaar, en ten suide die poolstreke! Ons dwing nog kort-kort om 'n sentimentele ophef te maak oor ‘lente’ terwyl geen Afrikaner regtig 'n besef kan hê wat die towerwoordjie beteken nie voor hy nie 'n Europese winter met sy ewige wonder van daaropvolgende lente meegemaak het nie.
Maar of ons nou ook al 'n pleidooi wil lewer vir nasionalisme in kuns of vir internasionalisme, een ding dien onthou te word:
Ons wilde diere sal eendag slegs in groot wildtuine soos die Krugerpark aangetref word, ons veldsblomme slegs in kweekplekke soos die Botaniese Tuin te Kirstenbosch te vinde wees.
Ons museum sal eendag volledige versamelings bevat van al wat ons, blanke sowel as naturelle, in hierdie land onderskei het van ander lande en volkere, hoewel die versamelings nie so groot, so uitgebreid sal wees nie soos die van lande en volkere wat heelwat meer as drie eeue se geskiedenis
| |
| |
agter die rug het. Maar ons, saam met die res van die wêreld, sal dan die gelykstellende eenvormigheid van 'n meganiese beskawing reeds ondergaan het. In maniere, gewoontes, idees, leefwyse, in alles sal ons gelyke tred hou met die res van die wêreld. En daar sal dan slegs die kunstenaars wees om vir ons die verlede in boek, beeld en lied te laat herlewe, en ons te herinner aan daardie dae toe indiwidualiteit en nasionaliteit nog hand aan hand gegaan het.
MARIE LINDE.
| |
| |
P.A. HENDRICKS:
APPELS EN KWEPERS.
|
|