‘Ek is jammer,’ antwoord ek skuldig.
‘Het jy gedroom?’ vra hy.
‘Nee... gestruikel.’
‘Kyk dan waar jy loop.’
‘'n Mens sou sê ek het op jou tone getrap.’
Ek het 'n antwoord verwag wat nie gekom het nie en ek het maar die spanning van my afgegooi. Waarom moet so'n kleinigheid tog soveel steurnis veroorsaak? En per slot van rekening, ek het hom maar net laat skrik en dit per ongeluk. Vir 'n hele ruk weer loop ons langs mekaar aan, flink, nie meer op ons slentergang nie.
‘Dit is donker,’ sê ek net om iets te sê, want waarom weet ek nie, maar die swygsaamheid het my nou nie meer so goed geval nie.
‘Ja, daarom stap ek vinniger.’
‘Hoe laat is dit?’
‘Kan ek miskien in die donker sien?’
So, dan is die meneer se bui nog nie gesak nie? Wat 'n domme streek was dit van my gewees om so te struikel! Een ding was nou vir my duidelik, en dit was dat ek nog vir my lompe daad sou moes boet. Moet daar dan altyd iets gebeur om die vreugde uit 'n mens se lewe te verjaag? Ek gaan nog 'n poging aanwend om my misdaad reg te maak. Ek trek met die voornemens my gesig uit sy bekommerde plooi. Ewe vriendelik kyk ek hom in sy oë en met my mooiste glimlag vra ek: ‘Waar was julle gister?’
‘Waarom?’
‘Ek vra maar; my man en ek het gaan kyk hoedat Borotra vir Austin 'n pak gegee het.’
‘Nee,’ laat hy stadig volg, ‘ons was na Aldershot.’
Aldershot? En toe het my ou bloed skielik gekook en kon ek my tong nie in toom hou nie.
‘Om die Engelse leër in sy volle prag of liewer volle mag te aanskou?’
‘Ja.’
Ek was woedend. As hy my nie so'n kort ‘ja’ gegee het nie, dan sou ek miskien nie so opvlieënd gewees het nie. Die ding het ook so onskuldig op my gekom dat ek die noodlot dit nie kon vergewe nie.
‘Dit is reeds wat ons nie wou doen nie, want die dinge geskied maar net om ons te imponeer - ons te laat sien hoe groot en magtig die Engelse nasie is.’
‘En as jy dink die Engelse is nie 'n magtige nasie nie, is jy gekul.’
‘Glad nie. Ek is heeltemal bewus van hulle grootheid, maar ek gaan hulle nie nog verheerlik deur hulle grootheid te aanskou nie.’