Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930
(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 287]
| |
Frans David Oerder.DIT was in die winter van 1898 dat 'n rondreisende arties 'n portret skilder van Mnr. ‘Blink Daniel’, toe Pretoria se super-dandy, en in een van Kerkstraat se winkelrame tentoonstel. Almal loop kyk na ons modieuse stadgenoot se treffende reproduksie op die gespanne doek. Ek vind Frans Oerder voor die paneel staan, in krietiese stemming. ‘Ek kan 'n baie beter portret maak,’ so brom hy. ‘Ons weet hoe jy verstaan om 'n mooie landskap of stillewe te produseer,’ sê ek plaend. ‘Maar 'n portret? Hm! Dit het jy nog nooit gedoen nie.’ Hierdie opmerking irriteer die kunstenaar. Oerder dring aan: ‘As ek net maar iemand het, wat model wil sit,’ sug hy. ‘Hier is jou model,’ is dadelik my besluit; want ek voel dat Oerder bekwaam sal wees, ook as portretskilder. Die volgende namiddag begin hy met my sy eksperiment. Die resultaat was so bevredigend dat sy faam as portretskilder gevestig is. Later skilder hy o.a. die reeks burgemeesters wat in Pretoria se stadhuis hang. Sy laaste konterfeitsel, tans in die plaaslike Museum, is lewensgroot die van Genl. Louis Botha, anno 1908. Gebind deur my belofte om vir hom te sit, vervul ek gedurende menige uur geduldiglik die rol van Oerder se proefkonyn en laat hom van sy lewe vertel. Hy is nie groot van gestalte nie, rossig-blond, bedaard van maniere en onderhoudend in konwersasie, ook al is sy veld vir weetgierigheid beperk. Hy het, in Nederland, op vakskole grondig sy moeilike ‘métier’ van kunsskilder geleer en sonder tydvermors sy ryk talent kon ontwikkel, met simpatieke steun van famielie en huisvriende. 'n Oud-oom had mos indertyd naam gemaak as skilder! Frans Oerder is vroeg-ryp; hy win 'n goue medalje en 'n deur Koning Willem III ingestelde beurs vir studie in die buiteland. Die onvermydelike reis na Italië bly dus nie agterweë nie. Nog as jongman maak hy, in Rotterdam, tot versiering van 'n nuwe restaurantsaal, groot stillewes van blomme, vrugte, groente, krewe en sjampanjebottels. Die vrolike publiek waardeer hierdie soort van via die gesigs-organe aktiewe ‘appetisers’; die eethuis is altyd tjokvol. Dog Holland wemel van eersugtige, maar onvermoënde kunstenaars. Elkeen praat van Transvaal. Oerder kom in 1892 hier aan, op 'n, vir 'n man met sy aanleg, ongunstige tydsgewrig. Goudkoors het endemies geword; niemand maal om kuns. Tevergeefs probeer die nuweling om as tekenmeester leerlinge te kry. Hy neem | |
[pagina 288]
| |
diens by die Z.A.S.M.; sy taak is om in die toenmaals ongesonde Laeveld tussen Komatiepoort en Krokodilpoort langs die spoorlyn houtpaaltjies wit te verf en met swart letters te voorsien. Die Hollanders, wat in 'n verraderlike subtropiese wêreld die Delagoabaai-roete bou, gaan deur swaar tye. Oerder kon somtyds daarvan, op pynlik sieniese manier, praat. Na afloop van sy kontrak vestig hy om in Pretoria. In 'n snelle tempo het ons arties hom met Transvaal vereenselwig. Hy gee nou les op die Meisiesskool en begin met gemak en vaardigheid landskappe
F.D. OERDER: GENERAAL BOTHA.Ga naar voetnoot*)
en stillewes maak, wat hoog uitsteek bo amateur-gepeuter. Jy sien aanstonds hoe sy oë van kunstenaar skerp oplet en hoe hy die begenadigde skildersvak volkome meester is. Prof. Molengraaff sê eendag vir my: ‘As ek 'n Oerderlandskap aanskou, herken ek daar sonder aarseling sy geologiese geaardheid; daardie berge en koppies is nie somarso koppies en berge nie, maar dolomietof graniet-formasies.’ Oerder se blik op aardse dinge is nugter en deurdringend; hy soek nie na bestudeerde ‘pittoreske’ momente, nòg na sentimentele effekte nie, en hy is alles behalwe gewilddekoratief in sy komposiesies. Dog waarheidsliefde vorm die grondtoon van sy oeuvre, ook al glans sy doeke van ongesogte poësie.
Dit gebeur dikwels, wanneer ek in die môre op pad na kantoor vlug met al die ander ‘arbeidsdiere’, dat Oerder daarbo uit die venster van sy ateljee, in Kerkstraat-Oos, hang en met uittartende kalmte op ons, haastige werkmiere, neerkyk. Eenmal verwyt ek hom hoe benydbaar sy onbesorgde ledigheid my toeskyn. Hy wys my tereg; hy beduie hoe hy aandagtig en sorgvuldig die gebare en houdinge van die verbygaande mens en dier, en die intensiteit van wisselende skaduwees en sonlig bestudeer, en dinge deurgrond, waarvan lede van Regering of Kamer van Koophandel nouliks die bestaan vermoed; sonder harde voorafgegane inspanning van oog en hand kan geen kunswerk geskep word nie!
Die grootste deel van 1903/04 - Pretoria was in daardie jare nie 'n oord van aantreklike beskawing nie, soos vandag die geval is - swerf Oerder | |
[pagina 289]
| |
rond in die interessante kus-stede van Mosambiek; uit hierdie periode dateer talryke klein, knap skilderye, wat hy in Ibo, Palma en Inhambane voortgebreng het, sommige waarvan getuienis aflê vir sy bekwaamheid as figuurskilder. Namate sy jare vorder, voel hy met ernstiger waarskuwinge die onsekerheid van sy stoflike vooruitsigte. Jy kan nie 'n bestaan voer uit die ydelheidsdurf van 'n paar plaaslike magnate, wat hul portret bestel of wat, in 'n bevlieging van spekulateurs-ligsinnigheid, enkele vyfpondnote weggooi op 'n beverfde stukke linne nie! Kort voor Unifikasie verdwyn Oerder, na 18-jarige verblyf in ons wêrelddeel, geluidloos uit die hoofstad. Tans woon hy in Amsterdam, Nederland, en hanteer onvermoeid en met voordeel sy vrugbare penseel, 'n Paar jaar terug het die ondernemende artieste-vriend, Mnr. Ernest Lezard in Johannesburg, 'n veiling van oorseese Oerders gehou. Vir my bly egter die skilder se Transvaalse doeke die mees persoonlike en waardevolle van Oerder se werk. F.V. ENGELENBURG. |
|