oorloë hierdie sigbare simbool by hul dra, wat hulle verseker van die steun en beskerming van die groepgod teen die gemeenskaplike vyand.
By die Australiese horde reeds vind ons naas die idee van die oertotem ook die voorstelling van 'n oervader, maar die totemistiese gedagte oorweeg. Die omgekeerde verhouding vind ons by die Bantoestamme van Afrika. Hulle noem hulself met name van diere en hulle ‘dans’ hierdie totemdiere. Ook mag hulle die bepaalde dier wie se naam hulle dra nog dood nog eet, maar die goddelike eienskappe daarvan het verdwyn. Die verhouding tussen mens en totem is allesins negatief. Ons sien die hoofbetekenis van Afrikaanse totemisme hierin, dat dit die naam gee aan stamme wat op sosiaal, ekonomies en godsdienstig gebied 'n eenheid vorm. Aan die hoof egter van so'n totemstam staan die oervader, die voorvadergod. Met die totemgod stem hy hierin veral ooreen, dat ook sy magbereik beperk is tot een enkele stam, vir wie hy reën, voedsel, vrede en oorwinning in die oorlog gee, mits hy deur sy volk geëer word soos 'n nog lewende vader.
Hierdie verskil in religieuse uitkyk kan ons verstaan. Vir die Bantoebevolking is jag alleen maar 'n bysaak naas hulle volksbedryf van pikbou en veeteelt. Die wilde dier beheers nie meer hulle ekonomiese lewe nie. Daarenteen het hulle produktiewe bedryf dit vir die Bantoe moontlik gemaak om in groot getalle bymekaar te woon en so kon uit die eertydse famielievaders stamgode ontwikkel. Tot hierdie gode moet hulle afstammeling, die kapteinpriester van die stam, sy gebede rig om voorspoed en geluk vir sy stam te verkry.
By die pikbouherder-Bantoe vind ons nog die totemnaam, 'n oorblyfsel van 'n vroeër meer daadwerklike wilddier-reliegie. Eintlik sou ons verwag om te sien dat in die godsdiens van herdervolke die wilde dier vervang word deur die getemde as goddelike simbool. En, inderdaad, die Herero en die Masai laat albei die getemde bees 'n vername rol in hul religieuse lewe speel. Ook die ou Egiptenare het 'n heilige stier gehad. Dit is nie toevallig nie dat die Israeliete in die woestyn, toe hulle gehunker het na 'n sigbare simbool vir God, by die eerste die beste geleentheid onder leiding van Aaron 'n goue kalf gemaak het. Immers hulle was voorheen 'n herdervolk gewees.
Die voorkristelike kultuurvolkere en barbare in Europa het gode aanbid aan wie 'n menslike gedaante toegeskryf is. Dikwels vind ons dat hierdie gode vergesel word deur heilige diere, ons herinner hier aan die Arend van Zeus, die uil van Pallas Atene, die perd van Wodan, en die haas van die godin Ostara. Die diere is nie meer heilig terwille van hulle self nie maar ontvang hulle heilige karakter van hul goddelike meesters. Ons sal egter nie verkeerd gaan nie as ons aanneem dat in vroeër eeue dié diere in hul eie reg goddelik was en dat hulle hier as 'n oorblyfsel moet beskou word uit die jag-totemperiode vir die geskiedenis van die ou Europeane.