| |
| |
| |
Iets Omtrent die Volksoorlewerings van die S.-A. Bantoe.
VI. Slotwoord.
IN die voorafgaande het ons enige grepe uit die Bantoevolksoorlewerings gedoen; tyd en ruimte was te min om ook maar 'n klein gedeelte, selfs van die mees tiepiese, van die oorryke stof weer te gee; maar as ons in die taak wat ons ons opgelê het nie heeltemal gefaal het nie, dan sal die lesers van hierdie reeks artiekels tenminste één indruk onder anderes van die materiaal gekry het, die indruk naamlik van sy oorspronklikheid. En ook meen ons te durf hoop dat daar saam met die indruk die gevoel opgewek is dat daardie oorspronklikheid in die Bantoe-volksgees bewaar en ontwikkel moet word, en dat daar iets skoons vir die wêreld verlore sou gaan as dit moes kwyn en uitsterwe, en net nog bewaar sou wees in onvolledige, half-verstarde oorblyfsels, die stukke en brokke van 'n kultuur wat dood is: hoogs interessant vir die kunskrietikus, hoogs belangrik vir die kunshistorikus, prikkelend vir die kunstenaar, die kunsliefhebber, maar dood in die lewende wêreld.
Ons het hier gedoel op die tweevoudige belangrikheid van die Bantoevolkskuns, die esteties-historiese en die lewend-kulturele. Wat is die posiesie van daardie volkskuns met betrekking tot daardie twee kulturule momente, en hoe kan ons te werk gaan dat hy tot sy reg mag kom in hierdie twee opsigte?
Ten eerste, wat betref die esteties-historiese waarde. Al besit ons genoeg gegewens om seker te wees dat die Bantoe-volksoorlewerings 'n onomstootlike kunshistoriese waarde het, tog is ons nog ver daarvan om genoeg te besit om die volle waarde daarvan te skat, laat staan om alles te besit wat nog opgeteken kan word, om maar nie eers te praat nie van wat alreeds waarskynlik vir altyd verlore gegaan is. So bestaan daar, om maar net van één betreklik klein taalgroep te praat, drie gedrukte versamelings van net spreekwoorde, van omtrent 'n sewehonderd elk, wat bymekaar 'n versameling sou vorm van omtrent 'n twaalf- tot dertienhonderd spreekwoorde, as ons die wat in die verskillende versamelings identies is of die wat maar net variante is, uitskakel. En tog verteenwoordig dit, die skrywer is daarvan oortuig, maar 'n betreklik klein gedeelte van die Sotho-spreekwoorde wat nog op te teken is, om maar te swyg van die wat ons nooit meer sal kan opteken nie. En dit in één taalgroep, één enkele uit die by die honderd groepe waaruit die Bantoe-taalfamielie bestaan; één taalfamielie, laat ons dit nog
| |
| |
daarby sê, uit minstens drie autochthone taalfamielies in Afrika! Maar, al is die beraamde rykheid van die volksoorlewerings so groot, tog moet ons met leedwese erken dat die deel daarvan wat ons tot ons beskikking het vir wetenskaplike of kulturele doeleindes heelwat kleiner is en - kleiner word. Want nie alleen is daar baie verlore gegaan, nie alleen kan ons die goed nie so gou opteken nie as die enige vraagbake vir die ou-Bantoe-volkskultuur, die ouere geslag van mans en vrouens, doodgaan. Erger nog: die ou volkswysheid en -kuns word nie meer, soos vanouds, van die ouere op die jongere geslag oorgedra nie, sodat daar minstens 'n sekere persentasie van die intellektuele skat van die volk bly bestaan. Die ouere geslag sterwe uit, en met hom sterwe sy kennis, want die jongere geslag leer dit nie meer van hulle nie.
Dit bring ons naar die twede moment in die betekenis van die kwynende volkstradiesie, die kulturele, lewende waarde. Wat kan 'n dooie of sterwende kultuur vir 'n volk of vir die wêreld beteken, behalwe esteties-histories? Die Bantoe-kultuur is nog nêrens heeltemal dood nie, maar orals aan kwyn, op sommige plekke bepaald aan sterwe. Kan dit nog iets vir die Bantoe-volke en vir die wêreld in die algemeen gaan beteken, buiten dat ons hoop om nog baie van die ou kultuur te boek te stel om dit vir kunshistoriese doeleindes te besit?
Om hierdie vraag ook maar enigsins bevredigend te kan beantwoord moet ons bietjie stilstaan by die redes waarom die Bantoe-kultuur aan kwyn is, en moet ons die gevolge daarvan bietjie noukeurig bekyk. Heelwat van die rede is natuurlik die uiterlike verandering van die Bantoe deur kontak met die witman en ander volke. Die innerlike verandering beskou ons nie as 'n gevaar nie, eerder 'n wenslikheid: want 'n kultuur wat lewende waarde wil besit moet nie verstar nie, dit moet op eie bane verander, omgeskep word, uitbrei, hier en daar verval. Maar die uiterlike veranderings wat daar in die lewe van die Bantoe plaasgevind het is nie van die aard nie: hulle dra nie by tot die natuurlike vervorming en ontwikkeling van daardie kultuur nie: hulle verwurg dit en trap dit dood.
Heelwat van so'n verskynsel is onoorkomelik. Dit is 'n natuurlike loop van sake dat 'n sterkere kultuur 'n swakkere verdring, al moet ons daarby onthou dat 'n fiesiek-magtigere ras nie altyd die draers van 'n kultureel-sterkere tradiesie is nie. Graecia capta... En om dit 'n natuurlike verskynsel is hoef ons nog nie toe te gee dat dit 'n wenslike is nie.
Maar wat, veral in ons land, met die Bantoe-kultuur gebeur is, en nog vandag gebeur, is nie net die natuurlike loop van sake nie.
Wel die meerderheid, al is dit nie die oorgroot meerderheid nie, en al is dit seker nie almal nie, van die witmense het 'n gevoel dat hulle, uit morele of ander gronde, 'n sekere verpligting het om die Bantoe- en ander primitiewe volke in seker mate op te hef. Aan daardie pligsgevoel word ver- | |
| |
vulling gegee op verskillende maniere, waarvan ons één enkele, om ons pleidooi nie te lank te maak nie, sal beskou, naamlik die opvoeding van die Bantoejeug in die skole. Maar nou is die meeste wat met die opvoeding van die swart rasse in ons land te doen het nie alleen trots gewees op ons Europese kultuur nie, iets waar hulle alle reg op had; hulle is ook verbasend en tragies blind gewees vir die waarde van die Bantoe-kultuur. So is dit dan dat hulle naar vermoë gestreef het om daardie kultuur uit te roei, en daarvoor te sôre dat die jonge Bantoe-kind en die ouere Bantoe-leerling in kerk, skool, opleidingsinstituut, en waar ook al, niks van die Bantoe-kultuur sal leer nie, maar net die Europese kultuur met lepels in sal kry; die doel moes tog oënskynlik gewees het om die Bantoe so gou as moontlik te assimileer tot witmense, altans in kultuur. So is daar dan nog wèl deur die sendelinge, tenminste in hulle suiwer evangelisasie-werk, die Bantoetale gebesig, al vind ons selfs nou nog 'n aantal kerk- of sendinggenootskappe wat dit heeltemal nie nodig ag om die Bantoetale te besig nie, en die witmans-godsdiens dan ook maar tegelyk in die witmans-taal verkondig; nog meer genootskappe vind ons wat, hoewel hulle wel meen dat die Bantoe hulle godsdiens in hulle moedertaal moet kry, tog dit nie nodig ag dat die wit sendeling daardie moedertaal moet ken nie, sodat hy hom maar altyd op 'n tolk moet verlaat. Tog is die kerke en die sendinge nog betreklik gunstig gesind teenoor die Bantoetale, al is hulle ook, somtyds maar net uit blinde oorywer, gewoonlik volstrek teen alle Bantoe-kultuur, selfs waar daardie kultuur nie, selfs uit
'n nou-Christelike oogpunt beskou, ‘sleg’ kan genoem word nie. Maar in die skole is die toestand anders. Daar word die Bantoetale, met 'n paar prysenswaardige uitsonderings, lydelik getolereer, niks meer nie, en skyn die kontrolerende gees in die onderwysbestuur in die rigting van minder tolerasie te gaan, al is daar ook 'n sterk beweging om die tale juis aan te wakker. Die tale, dit hoef ons hier wel nie te beklem nie, is die draers van die kultuur: en aangesien die Bantoetale in die Bantoeskole op so'n wankelende voet staan kom die kulture heeltemal nie tot hulle reg nie. Dus, die Bantoe-kinders word groot met die minimum van kennis van hulle eie tale, hulle eie kulture, hulle eie volkstradiesies en volksgees. Blankes word hulle natuurlik ook nie, maar dit skyn nie in te dring by die gros van diegenes wat hulle vir die assimilasie van die Bantoevolke beywer nie.
Ons kan nou die vraag wat ons hierbo gestel het begin beantwoord. As die Bantoekultuur bly kwyn, bly uitsterf, soos hy nou dreig te doen, dan sal dit seker nie 'n rol van betekenis kan speel in die lewe van die Bantoe nie, nog minder enige rol in die wêreldkultuur, en dan moet ons ons gelukkig ag as ons nog kan red wat daar te red is van die verdwynende volksoorlewerings, die tenietgaande kuns, die doodgedrukte volksiel. Maar, as teenvraag, kon ons dan tegelyk vra: Waarom moet die Bantoekultuur
| |
| |
kwyn, waarom moet die Bantoe-kuns dood, waarom moet die Bantoe-siel stik? Toegegee dat daar heelwat in die Bantoe-volksoorlewerings is wat nie die moeite werd is om te bly bestaan nie, toegegee dat daar baie in die volksgewoontes is wat bepaald onwaardig is en wat doodgedruk moet word, kan daar dan niks gedoen word om die goeie uit die Bantoe-verlede te bewaar nie en daarmee 'n betere Bantoe-toekoms bou? Bestaan die redding van die Bantoe-volke alleen dan daarin dat hulle moet ophou Bantoe-volke te wees?
En dan kry mens weer moed. Want, gelukkig, daar is 'n gedagtestroom wat die wêreld deurloop, en wat selfs in ons afgeleë Suid-Afrika weerklanke vind, 'n gedagtestroom wat nie wil hê dat enige goeie ding in enige kultuur wat ooit op die wêreld gewees het verlore moet gaan nie, vir die beswil èn van die draers van daardie kultuur in besonder, en vir die wêreld in die algemeen. En daardie gedagtestroom win veld, gelukkig ook in ons land. Dit word besef dat daar onreg gedoen is aan die negerkulture, 'n heeltemal vermydelike, onnodige en onnatuurlike onreg, deur hulle orals dood te wil maak. So wil opvoedkundiges in Afrika, soos Pater H.M. Dubois in Frans-Kongo en Dr. Bryant Mumford in Brits-Oosafrika, die ou kultuurvertrap-politiek opsy sit: so het, om nader tuis te kom, die opvoedkundige outoriteite in Natal en die Vrystaat al enige jare nuwe paaie ingeslaan, waarby, sonder om ons naturel sy broodnodige kennis van Engels, die wêreldtaal, en Afrikaans, die spreektaal van die meerderheid van die blanke bevolking van Suid-Afrika, te onthou, sonder om hom 'n kennis van die Europese beskawing in enige mate te ontsê, meer ag geslaan word op wat in die grond geneem sy eie is, sy moedertaal, sy volkskultuur, sodat hy meer selfstandig, meer natuurlik, beter kan ontwikkel, sodat hy respek sal hê vir homself, die respek wat die grondslag is van 'n beter lewe.
Dit wil in die minste nie sê dat ons die ou Bantoe-kultuur presies in dieselfde graad van ontwikkeling wil behou as ons dit vandag ken nie, of soos ons meen dat dit 'n honderd jaar gelede was. Nog minder wil ons die skadusy van die ou Bantoe-lewe laat voortbestaan. Daar is baie van die ou goed wat moet verdwyn, baie wat gerus maar kan verdwyn sonder om besonder afbreuk te doen aan die volkslewe. Maar aan die ander kant is daar baie wat bepaald moet bewaar word, wat nooit mag sterwe nie, en nog baie meer wat, al is dit nie onoorkomelik nodig vir die voortbestaan van die Bantoe-gees nie, tog so tekenend is dat dit tog ook weer skadelik sou wees as dit moes doodgaan. Met daardie goeie, met daardie heel- en half-onmisbare, en met die toevoeging van die goeie uit ons eie kultuur wil ons vir die Bantoe 'n nuwe kultuur in die lewe roep, wat hy kan ontwikkel, waarop hy kan voortbou; ons wil hom nie omskep tot 'n lawwe karikatuurvormige weerspieëling van die witman nie. Van daardie eksperiment het ons tog al genoeg gesien om seker te wees dat dit 'n baie aanvegbare metode is. Maropeng xo a boêlwa, xo sa boelwe ké teng, sê die Sotho-spreekwoord: Uit die slyk kan mens terugkeer,
| |
| |
na sy moeder se liggaam kan niemand terugkeer nie. Laat ons probeer die Bantoe uit die slyk van 'n barbaarse verlede red, maar laat ons tog nie meen dat hy iets beter daardeur word as hy probeer sy innerlike siel te verander nie.
Die meeste en heftigste opposiesie by so 'n stelling kry ons, nie van witmense nie, al is hulle nog so groot aanhangers van die ou rigting wat ons hierbo bespreek het, maar - dis die Frankenstein wat ons vir onsself geskep het - van die Bantoe self. Hulle is so gedenasionaliseer dat hulle, veral die intelligentia onder hulle, g'n respek hoegenaamd vir hulle eie kultuur het nie, of die respek wat hulle nog het met rasse skrede verloor. Dat hulle vir die grootste deel wangedrogte is waarvoor nòg die witman nòg die reggeaarde Bantoe self enige respek kan hê skyn hulle nie te hinder nie. Vir hulle sê ons wat die Sotho-spreekwoord ook sê: Kxanu, o re'ng o namêla seolô? Bohubedu o bo tsere kae? Erdvark, wat klim jy op die miershoop en maak vir jouself dik? Waar het jy daardie rooi kleur vandaan gekry? Laat Afrika dit tog onthou, hierdie wysheid wat in hierdie spreekwoord van ou-Afrika opgesluit lê. As jong-Afrika op die miershoop van Europese naäpery klim sal ou-Afrika sy skouers optrek en hom uitlag. Maar daarom sal dit nie minder 'n tragiese gebeurtenis wees nie. Want daar sal iets in Afrika uitgesterwe wees, iets waaroor die nageslag nog sal treur.
G.P. LESTRADE.
|
|