breide steenbokvelletjies. Na die begroeting en oor en weer verneem na die liggaamlike welstand, laat oom Alwyn op takvolle manier uitkom, dat die ander sig met vee en al op sy gebied bevind.
‘My veld is vanjaar mooi, nè?’
‘Ja - nee, oom Alwyn is 'n geseënde man.’
‘Jy kan maar jou veetjies 'n bietjie laat uitwei; ek meen ek gee nie om nie.’
‘Baie dankie, oom.’
Na nog 'n bietjie gesels haal die oukêrel so ongemerk die twee leersakkies voor die dag, met die woorde: ‘Hoe lyk dit, kan jy my nie 'n paar trekseltjies koffie en 'n bietjie suikertjies laat kry nie? Die dorp is so ver en die paaie tog so sleg, dat ons al so te sê totaal uit is.’
In daardie dae moes 'n trekboer se huisvrou, voordat die trek 'n aanvang neem, 'n genoegsame voorraad meel, koffie, suiker, sout, kerse, seep en ander kosware inslaan vir die hele winter, want winkels was skaars in die Bosveld en selfs wanneer die enkele een, wat nog binne bereik val, op sy uithangbord homself aankondig as ‘Dealer in Boer and Kaffir Goods’, was slegs die twede deel van die bewering ten volle gegrond. Daar moes dus spaarsaam omgegaan word met die bepaalde kosware wat nie, soos die vleis, telkens uit die trop of deur middel van die jag, aangevul kon word nie. Maar wat kan 'n trekboer by die verneem van so 'n versoek anders doen as daaraan gevolg gee? Hy is op die man se grond, hy is van nature goedhartig, sodat sy eie geaardheid en die sedelike verpligting van die oomblik saamspan teen moeder die vrou se wintervoorraad.
Van die betreffende kalbasse word twee voor die dag gehaal, asook twee lepels. Onderwyl die man die begeerde uitskep en oorgooi in die oopgehoue sakkie, verslind ou Alwyn elke lepelvol met sy oë en bereken in sy siel die aantal koppies genot, wat dit hom gaan verskaf. Sodra hy merk, dat die gewer reken dis nou haas genoeg, spreek hy hom aanmoedigend toe: ‘Jy moet jouself nie ontriewe nie, maar kan gerus nog 'n paar lepeltjies ingooi.’ By die een het dit die gewenste uitwerking; ander gee enigsins nukkerig die sak terug met iets as: ‘A nee - a, oom Alwyn, jy moet weet, dat ons die hele winter moet uitkom met wat ons op die wa het.’
So word dag vir dag, wa vir wa bygery en gebrandskat, solank as die intrekkery duur. Selfs Dennie weet al, dat as die oubaas haar opklim, sy die voetpad na die uitspanning moet vat. En wanneer die trekboere daar so teen Augustus - September weer uittrek, laat die ou hulle opnuut elkeen tol betaal, met die verskil, dat dit dan ‘'n stukkie wildsbiltong’ is, wat ou Alwyn van elkeen afbedel.