Riempies, vanaand moet ek my hart aan jou uitpraat al loop ek sodoende gevaar dat jy my sal aansien vir 'n sentimentele askoek. Maar ek moet vanaand uiting gee aan die geweldige aandoening wat hier binne in my spook. En met wie anders kan ek dan vanaand daaroor praat as met jou, ou maat, wat al soveel jare van lief en leed met my daar in Europa deurgemaak het.
Kêrel, dis 'n wonderlike ondervinding om na vyf jaar van afwesigheid uit jou Vaderland eindelik weer tuis te kom - vyf jaar van soveel ongewone spanning, soveel nuwe ondervindinge, veranderinge, nuwe gewaarwordinge, verlange, swaarkry en genot. Want daar was mos ook soms baie genot by al die dekselse swaarkry, nie waar nie, ou Riempies?
En dan die tuiskoms! Goeie Hemel! Hoe kan ek dit met kalmte tegemoet sien! Duisende gedagtes en vrae bruis gedurig deur my brein. Wat sal hul nou van my dink? Het ek baie verander in die tyd? Hoe sal ek my weer kan aanpas by die ou lewens- en sienswyse? Sal Elise nog dieselfde vir my lyk, of liefliker en mooier as ooit? Wat sal Elise van haar bruidegom dink? Kan ek haar gelukkig maak soos sy verdien te wees?
En die trouery Woensdag! Goeie genugtig, Man! Wat 'n opgewondenheid lê daar nog vir my voor in die volgende drie dae! Ek wens al amper dat dit alles verby is en dat ek en my bruidjie al op ons wittebroodsreis is.
Jy weet, Riempies, dis of ek vanaand eers reg besef hoe onbeskryflik diep die verlange na my Vaderland, my famielie en meestal na my nooientjie gewortel het in my siel. Vanaand eers besef ek ten volle wat Elise vir my beteken het in al die jare daar in Ierland, daar onder al die magtige versoekinge, die swaarkry van die oorlog en die werk, en die eensame ure vol heimwee en moedeloosheid. Jy, ou maat, wat self in Europa gewees het, verstaan wel wat 'n geweldige invloed dit vereis om daar onder al daardie veranderde lewensopvattinge, die Europese sienswyse op sedelike gebied, die onuitspreeklike heimwee en die magtige versoekinge, sonder die beskerming van publieke opienie, - onder dit alles - nog jou eg-Afrikaanse lewensopvattinge te behou en langs die ou paadjie van die deug te volhou.
Dat ek in die geweldige stryd volhard het is alleenlik te danke aan die inspirasie van die liewe nooientjie wat met haar toegewyde liefde, hoë idealisme, inspirerende vaderlandsliefde en reine lewensopvattinge my elke week aangespoor het - aangemoedig het soos alleen sy die kuns verstaan het. Nooit sal Elise kan begryp wat 'n magtige faktor ten goede sy in my lewe was nie, want nooit sal sy kan besef wat ons Afrikaners daar anderkant mee te kampe het nie. Boetie ek is bly dat jy daardie gawe, liewe ou moedertjie van jou het om te dien as jou beskermengel, want ek weet mos alte goed wat so'n dierbare beskermengel kan beteken vir 'n kêrel daar in Europa. Hou maar goeie moed, jong; die volgende jaar sal vir jou ook gou verbysnel, en dan -