met 'n leë twaksak eindelik te voorskyn haal en daarna verder rondvoel na los tabak in sy sak en niks vind nie, begin hy rondloer soos 'n tier in 'n val.
Vir 'n tyd sou hy nog so hulpeloos met geelswartgevlekte kalabaspyp in die mond gesit het, as hy nie na die kant van die rusbank moes kyk nie, net om aan te hoor:
‘En wanneer is jou plan om die petiesie op te trek, Willem?’
Dowwe oë probeer die duisternis te deurboor - vir 'n uitweg buite-toe, na 'n aand se roesrooi in die verte, kragtige tandvleise gryp die steel van 'n ou kalabaspyp stewiger vas, dog in grys baard heers 'n kalmte, en dan na 'n verder oomblik se aarsel, meteens:
‘Wanneer? Ons sal moet wag totdat ons die veldkornet of 'n ander bekwame man kan kry om vir ons die ding op te trek, vrou, want dis 'n gewigtige saak hierdie wat sal deeglik gedaan moet word.’
'n Kop word diekant afkeurend geskud, maar daar word gou beduie:
‘Verstaan, vrou, hierdie mense is mos meer op hoogte van sake met die soort van dinge as ons.’
‘Nee.. e e, Willem,’ klink dit terug van die rusbank oorkant, en 'n kop bly skud, ‘ons kan op hierdie mense nie wag nie, my ou man. Stoksielallenig sit die arme kind in sy eensame, donker sel sonder troos vanaand en elke oomblik tot sy vryheid meen vir hom wat. Ons moet self skrywe. Die petiesie moet nog vanaand - -’
Maar 'n hoesvlaag breek los, dit duur vir oomblikke.... dit bedaar. Die hoes hervat, maar nou onder die bui:
‘Nee, nee, Willem, daar kan geen uitstel wees nie,’ en 'n kop bly skud. ‘Vanaand nog moet die petiesie opgetrek word, en deur onsself. Ek is bekwaam genoeg daarvoor. Ons arme kind,’ asem hyg, ‘kan nie langer in die tronk sit nie. Hy moet uit en so gou as moontlik, Kristiena’... hoes-hoes... ‘tiena!’
Die hoesbui bedaar. ‘Ja, Kristiena. My liefste kind, bring vir jou Pa pen, ink en 'n paar velle papier tog hierso, sodat jou Pa nou somar oor Adriaan aan die Goewerment kan skrywe,’ word gebied met 'n hygende stem.
'n Endjie kers flikker in die voorhuiskamer dof op en, terwyl 'n jong vrou haar daarna verwyder en weer terugkom met skryfmiddele, staan Willem van Vuuren uit sy leuningstoel sugtend op. Sy skaduwee val grotesk teen die gewitte muur van 'n eenvoudig gemeubileerde kamer. Hoewel 'n man diep in die sestig, is daar nieteenstaande iets vrymoedig en jongensagtig in sy uiterlike voorkoms te bespeur, nes asof hierdie grysaard die lewe nog vind so vol gloed en wonderlik soos drome van jeug dit maar kan voorstel. Maar sodra die kers opvlam, word egter 'n pynlike-verouderde trek op sy aangesig bemerk onderwyl hy 'n stoel nader aan hom pluk, dit ernstig regskuiwe en by die tafel gaan sit, gereed om te skrywe.