Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 241] [p. 241] Land van Belofte. Stuurman, wend oos toe die tobbende stewe, Winter-verweer en gekwel uit die Suid, Oos toe waarheen my wensdrome strewe en waar die blou berg uit newels spruit. Skatte van vloeiende goud op die bare streel nie my hart meer as son op die vlei, landkind sy bloed bruis weer warm in my are, nimmermeer swalk in die wintergety. Seile is swart van siltige slae, node deurstaan op die bors van die see, en van wanguns se swiepende vlae dra hul 'n ruwe herinnering mee: barnende breking van hartstog ontbonde, hoog in die doming van troebele dag, listige steek in stuwing van sonde, wat oor wankel vriendetrou lag. Voor bloei my tuiste onder die berge, lou in geneugte van somerse skyn, vry van die suide se bitter geterge, sneeu van bloeisels en geur van jasmyn. Daar lê die môreson blink op die lande, blink op die blou van spruitende graan, daar weef die skemer sy minsame bande, sielegebede met rysende maan. Stuurman, o wend tog die stewe eer Duister sielebeswarend kruip oor die vloed, eerdat my hart in die wind se gefluister node opnuut ontwaar om te boet - voor wag my tuiste in somerse vrede, voor wag my liefste, bestendig en rein, Stuurman, my enig en enigste bede: tuis-wees by Liefste en geur van jasmyn. D.F. MALHERBE. Vorige Volgende