sus haar ergernis besorg deur haar koppigheid? ‘Jy sal tog ook moet stem, sus Koot.’
‘Ek, sus Martha, ek? Kyk liewerster dood!’
Martha kry 'n bevlieging van drif. Sy gryp die brief, frommel dit opmekaar en gooi hom in sus Koot se hande. ‘Dan wil ek die brief ook nie lees nie,’ en sy snou haar suster toe, ‘Jy moet jou tog nie verbeel dat jy alleen 'n huisvrou en 'n moeder is nie. Ek is net so teen die ontydige wet as jy dink om te wees, maar nou moet ons stem, anders gaan alles wat die voorgeslag opgebou het tot niet.’
Sus Koot laat haar kop sak en die trane kom vanself. Sy had behoefte om haar gemoed te lug, nou kom die hartsgevoel los deur sus se verkeerde haastigheid, waardeur sy haar verneder voel en sy is magteloos om iets terug te sê. As 'n verslae vrou stap sy die huis uit. Net vyf sekondes waarin 'n skielike berou hom van Martha meester maak en sy snel sus agterna.
‘Koot, ou Suster, moenie jou so swak gedra nie.’
Met 'n gebreekte stem kom die temerige verwyt: ‘Nog nooit het iemand my so vreeslik beledig as jy nie. Dink, my eie bloedsuster moet my so bloedig affronteer in haar eie huis.’
‘Ja, maar ek voel net so ontevrede en vies oor die ongesonde toestand waarin ons verkeer, dat ek my nie kan keer nie. Sus Koot, ek vra jou om ekskuus!’
‘Ek het mos in alle ordentlikheid na jou toe gekom, met die beste planne nogal, en ek het jou ordentlik gevra om self te lees wat hulle van ons verwag en toe smyt jy die brief terug in my gesig. Is dit dan nie baie verkeerd van jou nie? Ons moet tog 'n antwoord gee. Ons is tog nie sleg apgevoed nie.’
‘Jy is reg, sus Koot. Gee maar, laat ek sien wat ons te doene staan.’
‘Ek het gemeen dat jy die tak moet stig,’ sê Kootjie Lemmer, so inskiklik asof sy nooit ander gedagtes gehad het nie. ‘Jy is bekwamer as ek om dit te doen. Jy verstaan die werk en ek voel my heeltemal ongeskik daarvoor.’
‘Ek gee nie om om dit te doen nie, sus; maar ek loop in die gouigheid ons vrouens deur om te sien wie ons sal kan kies. Ons moet probeer om 'n sterk bestuur te kry, en 'n sekretaresse wat goed geleerd is.’ Effens afgetrokke asof sy nagedink het vervolg sy: ‘Hoe sal dit wees as ons vir Thelma daarvoor kry? Sy is 'n geleerde meisie, sy is los en sy - - -’
‘Praat jy van daardie hoogmoedige flerrie? Sy sal haar glo verneder om met ons saam te werk. En vernaam nou,’ val Kootjie Lemmer met dieselfde bitsigheid van flus in - - ‘Los vir haar sus Martha, ek vertrou haar nie. Sy werk in die donker. Sy het mos vir meester so stilweg ingepalm, dat die oudjie glad van sy kop af is, en somar besluit het om met