| |
| |
| |
F.D. OERDER:
PORTRET (Dr. Engelenburg).
(In die besit van Dr. F. Engelenburg, Pretoria.)
| |
| |
| |
| |
| |
Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere
DEEL 2. No. 4. PRETORIA. NOVEMBER 1930
| |
Die Taalstryd in die Transvaalse Onderwys voor 1900.
DIE tradisionele opsomming van die oorsake van die Groot Trek sou allig die gevolgtrekking regverdig dat daar in die vroeë dae, in alle geval in die Oor-Vaalse, geen taalkwessie was nie. Hierdie stelling mag geldig wees vir die eerste tien - miskien twintig - jaar van die daadwerklike nedersetting in Transvaal, maar gedurende die daaropvolgende tydperk - 1860-1900 - was die teendeel die geval.
Met die anneksasie van Natal in 1843 het Engels in hierdie kolonie sterk op die voorgrond gekom, terwyl dieselfde gebeurtenis die invoering daarvan in die Transgariep en in Transvaal 'n oomblik vertraag het. Nadat egter in 1848 die Oranjerivier Soewereiniteit geproklameer is, was die weg vir die Engelse taal ook hier gebaan. Dit het hier al gou soveel invloed gekry op onderwysgebied dat Prof. Lauts, wat in Holland gedurig in die weer was om in die geestelike en opvoedkundige belange van die trekkers te voorsien, 'n paar jaar later uit die Soewereiniteit geadviseer is, om vereers geen onderwysers meer te stuur nie, aangesien die persone wat hy kon lewer te sleg op die hoogte was met Engels om hier bruikbaar te wees.
Die Trekkers se handel moes nou byna uitsluitend met Engeland gedryf word, want die poging van handelskonneksies, via Delagoabaai, met Nederland aan te knoop, het op 'n groot mislukking uitgeloop, gedeeltelik te wyte aan die uitgestrektheid van die tsetsegebied wat tussen die Trekkers en die Baai was, en gedeeltelik aan die onsekerheid van die diens. Hierdie faktor sou gou sy invloed begin uitoefen.
In die eerste onderwyswetgewing van 1853, word Engels nie genoem nie. Dit was destyds nog so vanselfsprekend dat daar maar net een moontlikheid was, dat die naam Nederlands nie eens voorkom nie. Selfs in die
| |
| |
reglement van 1859, wat vollediger was as sy voorganger, word geen taal genoem nie. In die samelewing had Engels egter al baie vordering gemaak en in 1860 stuur die Engelssprekende inwoners van Potchefstroom 'n memorie aan die Regering waarin hulle toestemming vra om in Engels kerkdienste te hou en om 'n predikant te beroep.
Die vooroordeel wat daar vroeër miskien teen Engels as taal mag bestaan het, is al gou verdwyn en die opvatting dat een van die vernaamste vereistes van 'n goeie opvoeding deeglike onderwys in Engels was, het reeds toe al posgevat en sou gou gevolg word deur die idee, wat later baie diep gewortel het, dat die moedertaal vanself kom en dat Engels op skool geleer moet word. Dit verwonder ons dus nie dat daar gou aanvraag vir Engels op die Goewermentskool begin kom het nie. Aan hierdie eis is soveel moontlik tegemoet gekom. Die Skoolkommissie van Potchefstroom het, sodra die wanorde, deur die periode van burgeroorlog veroorsaak, verby was, sterke pogings aangewend om 'n geskikte onderwyser vir Engels te kry en in hulle verslag oor 1865 rapporteer hulle: -
‘dat weldra een onderwijzer aan de school zou worden toegevoegd, om doelmatig onderwijs in de Engelsche taal te geven en dat daardoor aan eene groote behoefte voor deze gemeente zal worden voorzien.’
Die kommissie het uit die volgende personeel bestaan: - Ds. D.v.d. Hoff (Voorsitter), A.F. Schubart (Sekretaris), W.J. Otto, P.F. Pretorius, D.F.J. Steyn, D.P. Taljaard, J.P. Kleyn, A.M. Goetz en C.J. Olivier. Die Engelse element was hierop dus nie verteenwoordig nie.
Hierdie invoering van Engels was nie in ooreenstemming met die gees van die Reglement van '59 nie en dit verwonder ons dus nie dat toe in 1866 'n nuwe onderwyswet in werking gestel is, daar ruimskoots tegemoet gekom is aan die algemene eis vir Engels. Art 3 lui: -
Er zal zoveel mogelijk gezorgd worden, dat op de Gouvernementsschool, behalve de Hollandsche ook de Engelsche taal onderwezen worde.
Art 5 bepaal dat onderwysers ‘die ook tevens de Engelsche taal leeren’ 'n spesiale toelaag sal ontvang. Maar die wet gaan nog verder, want art. 9 van reglement A, wat die pligte van die ‘Algemeene Schoolcommissie’ vaslê, lui: -
Zij zal bij het aanstellen van onderwijzers of by het verleenen van den rang van onderwijzer (ons kursiveer) den voorkeur geven aan diegenen die zoowel in de Hollandsche als in de Engelsche taal ervaren zijn, opdat de jeugd alhier in de gelegenheid gesteld worde, ook de laatstgenoemde te kunnen aanleeren.
| |
| |
Die uitdrukking ‘het verleenen van den rang van onderwijzer’ is in ons hedendaagse terminologie ‘die toekenning van 'n onderwyssertifikaat’. Ons kon nie vasstel of, en hoe, die laaste instruksie uitgevoer is nie. Dis egter 'n eienaardige geval wat tewens duidelik laat sien dat Engels in hierdie dae 'n baie bevoorregte plek ingeneem en om so te sê die twede landstaal geword het.
Blykbaar het die Algemene Skoolkommissie gou ingesien dat hulle met hierdie verreikende bepalings oordryf het, want reeds die volgende jaar was hulle met 'n nuwe konsepwet gereed, wat die wet van '66 moes vervang. Hoewel daar nie baie ingrypende veranderings is nie word egter bogenoemde art. 3 so verander dat dit - op papier in alle geval - Engels weer in sy normale posiesie terugbring. Die voorgestelde verandering lui as volg:
Zij heeft het regt zoodanige voorzieningen te maken, waar door het aanstellen van een onderwijzer in de Engelsche of andere talen de belangen van het onderwijs kunnen worden bevorderd.
Dit sou Engels dus teruggebring het tot die posiesie van 'n bevoorregte vreemde taal, nou was dit egter 'n twede landstaal. Die konsep het egter nooit wet geword nie. Deur finansiële en maatskaplike moeilikhede, sowel as deur gebrek aan vertroue in die Algemene Skoolkommissie waarvan die twee lede wat nog oor was - die derde lid, Ds. van Heyningen was na die Vrystaat vertrek - 'n nie te voorbeeldige lewe gelei het nie, het die Volksraad skynbaar alle belangstelling in onderwyssake verloor en die konsep nie verder behandel nie. Die wet van '66 het dus, sover moontlik, in werking gebly.
Onder hierdie wet het die onderwys snel ontwikkel, maar hoofsaaklik die Engelse deel daarvan. Die doel van die wet was dat Hollandssprekende kinders onderwys sou ontvang in Engels as taal en nie as medium nie. Daar is egter nie die hand aan gehou nie. In baie gevalle het die skole ontwikkel in skole met parallelklasse, die een groep met Engels medium en die ander met Hollands. In Juni '66, net na die indienstreding van die Engelse onderwyser op Potchefstroom was die 62 kinders in die goewermentskool aldaar as volg verdeel: - 22 alleen Engels medium; 20 alleen Hollands medium; 20 Hollands medium maar Engels as vak. 'n Paar jaar later het van die 65 kinders 50 uitsluitend deur medium van Engels onderwys ontvang. Op Pretoria en Rustenburg het dit presies net so gegaan.
Die situasie sou egter nog ingewikkelder word. Die daling van die koers en die feit dat die Republiek van Holland afhanklik was vir sy onderwyspersoneel het dit gedurig moeiliker gemaak om die pos van Hollandse onderwyser in die snel toenemende aantal dorpskole te vul. Daarby het nog gekom dat die paar goeie onderwysers wat nog beskikbaar was deur beter poste in die
| |
| |
Publieke Diens weggelok is. Die Engelse afdelings van die skole het nie dieselfde moeilikhede ondervind nie. Daar was Engelse onderwysers in die Kolonie beskikbaar en ook was die Engelse predikante in die geleentheid om meer aandag aan onderwys te bestee as hulle Hollandse kollegas.
'n Gevolg van hierdie skaarste aan onderwysers was dat in verskillende gevalle die Hollandse groep in die skool opgehou het om te bestaan, terwyl die Engelse groep, vermeerder met die grootste gedeelte van die Hollandse afdeling, bly voortbestaan het. So kom ons voor die eienaardige feit te staan dat b.v. in 1871 die Regering van die Republiek in die Hoofstad, Pretoria, en ook op Rustenburg, alleen onderwys deur medium van Engels verskaf het. Hierdie ruime voorsiening in die onderwys in Engels was skynbaar nog nie genoeg vir 'n groot gedeelte van die dorpsbevolking nie, want private Engelsmediumskole is orals opgerig en hulle het in leerlingetal nie agtergestaan by die Goewermentskole nie; daarby was 'n groot persentasie van hulle leerlinge Afrikaanssprekende kinders. Die rol van die goewermentskole het onder hierdie mededinging sterk gedaal; op Potchefstroom b.v. van 10O kinders in 1869 tot 23 in 1870. Deur die moeilikhede van die Regering het die verwaarlosing van die landstaal steeds toegeneem.
Met die koms van President Burgers in 1872 het dit vir 'n oomblik gelyk of sake weer reggeruk sou word. Vol entoesiasme het hy sy taak aanvaar en hy het 'n menigte vooruitstrewende planne ontwerp. Deur sy betowerende oorredingsvermoë en sy hipnotiese persoonlikheid het hy die Volksraad eers meegesleep. Hy was nie 'n voorstander van verengelsing nie. In sy godsdienstige opvattings was hy ultra-modern. Die eerste het hom die teëwerking van die Engelsgesinde element verseker en die laatste die teëstand van die eg Gereformeerde plattelandsbevolking. Oor-en-weer het hierdie partye die werklike of vermeende tekortkomings van die President geëksploiteer. Die mees laakbare middels is deur vooraanstaande persone gebruik om die wettige gesag te ondermyn. Die onderwyswet van 1874, wat ten onregte gebruik is om Burgers ten val te bring, het tengevolge van hierdie ontreddering feitlik nooit in werking getree nie. Die nog geldende wet van '66 is steeds meer oortree en private, uitsluitend Engelse, inrigtings het verantwoordelik geword vir die onderwys. In 1876 was daar onder die Goewermentstelsel: - 4 Engelsmediumskole met 71 kinders, 3 Hollandsmediumskole met 50 kinders en 1 skool met 30 kinders waar beide tale onderwys is. In die hele Republiek het dus net 80 kinders op die goewermentskole Hollands geleer.
Onder hierdie landsomstandighede was dit maklik te voorsien dat anneksasie die gevolg moes wees; die Engelsgesinde party en die Republikeinse party het die saak ewe sterk in die rigting gestuur, en die gevolge het nie uitgebly nie, want in 1877 het Shepstone die Transvaal geannekseer. J.
| |
| |
Vacy Lyle, Sir Theophilus se huisdokter, is al gou met die sorg vir die onderwys belas, en het 'n baie belangrike rapport in verband daarmee uitgebring. Hy beveel aan dat goewermentskole alleen daar opgerig word, waar dit absoluut nodig is en dat alle ander skole wat aan seker vereistes voldoen subsiedie moet ontvang. Hy was baie verwonderd oor die algemene vraag vir Engelse onderwys, en hy het dus wyselik aanbeveel dat die vasstelling van die medium aan die skoolkommissies oorgelaat moes word. Na aanleiding van die verslag is voorlopige regulasies in werking gestel en die onderwys het - wat leerlingetal betref - goeie vordering gemaak, sodat daar begin 1879 nie minder as 838 kinders onder die Dept. geval het, terwyl daar in 1876 maar 151 was. Ons mag veilig aanneem dat meer as 90% deur medium van Engels onderwys ontvang het, want onderwys deur Hollands medium is in baie gevalle gewoon afgeskaf. Die goewermentsonderwyser van Utrecht b.v. skryf gedurende die anneksasie-periode dat hy alleen deur medium Engels onderwys: ‘nobody here being interested in the Dutch language’.
Op politieke gebied was sake egter al weer lewendig. Nadat die vreugde oor Burgers se val verby was het die ingebore drang om vry te wees weer nasionale eenheid uit gaos geskep. Die rondreis van die bevolking na die monster-vergaderings wat deur die voormanne belê is, het die gereëlde onderwys op die platteland gestrem, selfs ook in verskillende dorpe. Die Vryheidsoorlog het gevolg en 'n verenigde, selfbewuste nasie is gebore.
Die wette van voor die anneksasie is weer in werking gestel, dus ook die onderwyswet van Burgers. Volgens hierdie wet kon Engels parallel met Hollands gebruik word, maar was tog ondergeskik.
Omdat van Gorkom, die Superintendent van Onderwys onder Burgers se regime, deur die Engelse bestuur min of meer gedwing was om sy ontslag te neem, moes die Driemanskap 'n nuwe aanstelling maak. Hulle keuse het geval op Ds. S.J. du Toit, destyds predikant op Paarl, 'n persoon wat deur sy aktiewe belangstelling in die Kaapse onderwys, sowel as deur sy openlike verdediging van die Republiek gedurende die anneksasieperiode, die aangewese man gelyk het vir die pos. Na enige onderhandeling en op sekere voorwaardes het hy die betrekking aangeneem. Een van die voorwaardes was dat die Regering die grondbeginsels van 'n deur hom op te trekke onderwyswet sou goedkeur. Hieronder het o.a. geval die bepaling dat die medium van Onderwys Hollands sou wees; vir Engels was daar geen spesiale voorsiening gemaak nie.
Hierdie verandering ten opsigte van Engels is sonder kommentaar aangeneem. Die pas ontwaakte nasionale selfbewussyn het tydelik die voorliefde vir Engels oorskadu, maar dit sou gou blyk dat 'n belangrike gedeelte van die bevolking nog sterk verkleef was aan Engels. Op Pretoria was toe- | |
| |
stande so dat die bewering destyds gemaak is dat as op die grootste skool aldaar Hollands as hooftaal sou ingevoer word, van die 120 kinders net 10 sou terugkom.
Die Superintendent self het die artiekel in die wet wat die medium vasstel skynbaar nie so letterlik bedoel nie, want in antwoord op 'n brief in verband hiermee skryf hy: ‘Dit artiekel spreekt slechts een beginsel uit; maar de Superintendent ziet geen bezwaar om zich in de toepassing daarvan met de partijen te verstaan aangaande de meerdere of mindere uitvoerbaarheid.’ Hy suggereer selfs dat dit beter is om onderwys in rekene deur medium van Engels te gee. Al gou het dan ook aansoeke vir subsiedie begin inkom van skole waar heeltemal geen Hollands, of net Hollands as taal, onderwys word. Die Volksraad het egter meer op die letter van die wet gelet en die versoeke negatief beantwoord. Hierdie interpretasie is nie lank volgehou nie - in alle geval nie deur die Superintendent nie, want in 1883 het hy subsiedie toegeken aan die Wesleyaanse Skool op Pretoria waar Hollands alleen as vak in die hoër standerds onderwys is. Dit was 'n begin van wat later 'n sistematiese oortreding van die wet sou word. Met die opkoms van die goudvelde is veral hier die wet baie ontduik. In die daaglikse lewe en in besigheid het Engels so toegeneem dat die Volksraad selfs op hierdie gebied die gebruik van Hollands by wetgewing vasgelê het in Wet 10 van 1888.
Deur du Toit se veelsydige belangstelling kon hy uiteindelik nie meer al sy tyd aan die onderwys bestee nie en gevolglik het hy in 1888 sy bedanking ingestuur. H. Stiemens het as waarnemende Superintendent opgetree totdat die nuwe Superintendent, N. Mansvelt, Professor in Nederlands aan die Victoria Kollege, Stellenbosch, in 1891 die leiding oorgeneem het.
Nadat die Volksraad herhaaldelik sy misnoeë in verband met die gedurige verkragting van die mediumklousule uitgespreek het, is uiteindelik die suggestie gemaak dat as die bewuste artiekel dan werklik onuitvoerbaar was, die wet dan maar moes verander word in die gees wat die publieke opienie aangegee het. As gevolg van hierdie suggesties het die Regering dan ook aan die Superintendent opdrag gegee om 'n nuwe onderwyswet op te trek.
Mansvelt was egter van mening, dat by die opbouing van 'n selfbewuste nasie, die regte van die landstaal in geen geval mog prysgegee word nie en hy was hom so bewus van die groot voorliefde vir Engels, dat hy maatreëls geneem het om die invloed daarvan op die ontwikkeling van die vereiste kennis van die landstaal teen te gaan.
Hy gee dus geen ag op die tegemoetkoming van Engels wat deur die Raad beoog was nie en stel as vereiste in sy wet: -
‘Alle onderwijs moet gegeven worden in de Hollandsche taal. Alleen bij het onderwijs in vreemde talen is het den onderwijzer geoorloofd zich van de taal te bedienen welke hij onderwijst.’
| |
| |
Verder word bepaal dat ‘desvereischt’ in St. III. drie uur per week gebruik mag word vir onderwys in 'n vreemde taal en in St. IV, V en VI vier uur per week. Hoewel daar heftig teen hierdie artiekels geprotesteer is in die Raad is dit tog in die vorm aangeneem. Hollands was dus offisiëel in sy regmatige posiesie herstel en Engels was teruggebring tot die rang van vreemde taal, nie eens bevoorreg soos in die konsepwet van 1867 of in die Burgerswet nie. Vir kinders van Engelssprekende ouers is in 'n afsonderlike Raadsbesluit voorsiening gemaak.
Dis duidelik - uit 'n psigologiese oogpunt beskou - dat die toepassing van hierdie beginsels, hoe gesond en ideaal hulle ook was, groot ontevredenheid sou verwek. Dadelik het versoeke om meer Engels dan ook begin inkom en ouers het begin om hulle kinders na Engelsmediumskole te stuur. In sy rapport oor 1892 moet Mansvelt melding maak dat die rol gedurende die jaar van 9,537 gedaal het tot 7,035. Hy het die oorsaak tereg aan die toepassing van die mediumklousule toegeskryf en hy sê in verband hiermee: -
‘Sinds verleden jaar is nu die wet toegepast en is er eene sterke reaktie ontstaan want de menschen willen zich niet laten dwingen en er is een soort bitterheid ontstaan waarvan het gevolg is geweest, dat de ouders hunne kinderen hebben weggenomen en naar andere scholen gezonden waar ze misschien geheel en al verstoken blijven van het onderwijs in de landstaal. --- Spreker moest erkennen dat er onder de tegenwoordige toestand niet meer gevaar bestaat dat vele landskinderen zullen opgroeien, niet alleen buiten kennis van de landstaal, maar dat ze in een verkeerde geest zullen worden opgevoed.’
Ons sien dus dat die eis vir meer Engels sterk ondersteun is. Selfs in die onderwyswêreld was daar sterke partygangers. Mansvelt en sy landgenote was sterk verdedigers van die historiese regte van die Hollandse taal, terwyl die Afrikaners byna sonder uitsondering die eis vir meer Engels onderskryf het. Dit was nie lank nie of Mansvelt was verplig om die teëparty tegemoet te kom en hy het toegestaan om in St. II al 'n aanvang te maak met Engels op 'n ‘practische wijze’.
Hierdie tegemoetkoming het maar min bevrediging gegee. Die publiek en die pers het aangehou met agiteer. Land en Volk raai ten sterkste wysiging van die taalklousule aan voor dit te laat is en sê aan Mansvelt: ‘Men loope tog niet als een dwaas met zijn kop tegen de muur’. Die jaarverslag oor 1893 wys daarop dat toestande nog steeds ongunstiger word en die rol het nou gedaal van 7035 tot 5909.
By die behandeling in die Volksraad van die memories wat meer Engels vra is lank oor die saak gedebatteer, maar uiteindelik is besluit om
| |
| |
die wet te handhaaf. Die stemming was 13-9. Dus in hierdie liggaam het die party wat meer Engels verlang al baie sterk begin word. Mansvelt het hom nog ewe vasberade teen enige verdere tegemoetkoming bly verset. Vir hom was taal en volk een, die Hollandse taal was vir hom ‘het bolwerk onzer onafhanklikheid’. As die taal deur Engels sou verdring word dan sou dit die ondergang beteken van die Transvaalse Afrikanerdom. Hy deel dan ook in 1898 met blydskap mee dat uit die 11,620 kinders net 2326 onderwys in Engels ontvang en hy verwelkom dit as 'n teken dat die onnasionale denkwyse sterk begin af te neem. Sy konklusies is egter nie juis nie want in daardie jaar was 56.7% van die totaal leerlinge in St. I en 24.4% in St. II, wat dus 18.9% gee in Sts. III, IV, V en VI, d.i. 2196. Die berekening klop nie heeltemal nie omdat in 'n paar skole op die goudvelde vir Engelse kinders ook in St. I en II Engels onderwys is, maar dit laat tog duidelik sien dat byna iedere kind wat Engelse onderwys volgens wet mog ontvang daarvan gebruik gemaak het - daar was natuurlik 'n hele paar onderwysers wat nie Engels kon onderwys nie en in daardie gevalle is daar gewoonlik in die hoër standerds geen onderwys in Engels gegee nie.
Gedurende dieselfde jaar is memories met 3872 handtekeninge, wat meer tyd vir Engels vra, by die V.R. ingedien en na aanleiding daarvan is besluit dat aangesien die werktyd van onderwysers nie tot 5 uur per dag beperk was nie, kommissies wat dit verlang 'n uur per dag langer mog laat skoolhou en die ekstra tyd aan Engels mog gee. Hierdie besluit was nie in ooreenstemming met die politiek van die Departement van Onderwys nie, en dis miskien die rede dat dit nie van Departementsweë aangemoedig is nie. Tog was dit 'n prosedure wat al in gebruik was, nie so seer deur die bevel van die Kommissie nie, as wel deur die strewe van onderwysers om aan die wense van ouers te voldoen om sodoende te voorkom dat kinders uit skool geneem en na Engelsmediumskole gestuur word. Geo. M. Hofmeyr skryf in September 1898: -
‘Vinden we niet dat op vele plaatsen de onderwijzers, behalve de door de wet vastgestelde schooluren, een half uur ekstra per dag onderwijs geven en wel in de Engelsche taal.’
Die stryd voor of teen meer Engels op die skool het egter gaandeweg ontwikkel in 'n stryd tussen die Hollandse en die Afrikaanse element - onder die laaste was die Kaapse onderwysers baie aktief. Kongresse en teëkongresse is gehou, memories en teëmemories is gesirkuleer. Die Afrikaanse element wat ten gunste van meer Engels was, het net hulle eerste oorwinning behaal toe die oorlog beide partye oorval en die vraag of meer of minder Engels op skool onderwys moes word, vir 'n paar jaar in alle geval, nie meer urgent sou wees nie.
A.H. LUGTENBURG.
| |
| |
F.D. OERDER:
BLOMME.
(In die besit van Mnr. C. de Vries, Pretoria.)
|
|