Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930
(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 185]
| ||||||||||||
Ontwikkeling van Jochem van Bruggen se Mensbeelding.EEN van die vernaamste doele van die psigologiese uitbeelder is om die geestelike lewe van sy lesers te verryk, deur hulle 'n simpatieke begrip in te boesem van tiepes waarmee hulle onbekend is, en van mense wat verkeer in omstandighede waarvan hulle self weinig of geen ondervinding het nie, en om sodoende die samehang in skynbare onsamehangende aaneenskakelinge van lewensgebeurtenisse aan die lig te bring. Die voortreflikheid van 'n romanskrywer op die gebied van mensuitbeelding kan geskat word na gelang van:
| ||||||||||||
Onderwerp en bouplan.In sy eerste twee prosawerke van belang, ‘Die Praatmasjien’ en ‘Oom Jannie’, gee van Bruggen reeds blyk van die kern van die psigologiese romanskrywer wat in hom skuil. Hy behandel in eersgenoemde die botsing tussen 'n niksnut moderne seun en sy deeglike behoudende vader. Die verhouding word meer en meer gespanne, totdat die pa sy opgekropte gemoed laat uitbars, sy seun 'n gedugte pak sla gee, en die aanstootlike grammafoon uit die venster uit smyt. Tewens is die hele skets goed om die sentrale tema opgebou. ‘Oom Jannie’ skets die gemoedsontwikkeling van 'n wewenaar. Na die dood van sy vrou verval hy in neerslagtigheid en amper in ontaarding. Met die troue van sy seun leef hy op, en besluit om self te hertrou en op 'n toevallige ontmoeting met die weduwee Lenie Hein volg 'n spoedige liefdesverklaring. Hier is alreeds 'n enigsins meer uitgebreide opvatting van die maatskaplike verhoudinge en wisselwerking te bespeur. | ||||||||||||
[pagina 186]
| ||||||||||||
Daarna blyk van Bruggen hom genoodsaak te voel om omvangryker probleme te behandel as in die eerste sketse en die liefdesverwikkelinge tussen Maria Brinkman, Gysbert Kloppers, en Dirk Liebenberg sien die daglig. Daarby word hy waarskynlik ook meegesleep in die vloed van historiese romans wat die Twede Afrikaanse Beweging toentertyd voortgebring het. Maar deurdat hy bewus groter dinge aanvaar het as wat hom spontaan ingegee is, dinge waarvoor sy talent nog nie ryp was nie, het die eersvolgende werke 'n reeks letterkundige oefeninge geword, wat nog baie foute bevat.
In ‘Teleurgestel’ bespeur ons in die liefdesgeskiedenis wel iets wat na 'n psigologiese motief lyk. Daarnaas, egter, lewer die behandeling van ingewikkelder temas 'n belangrike fout op - gebrekkige perspektief. In ‘Teleurgestel’ is die aandag van die skrywer verdeel tussen die driehoek waarin Gys, Dirk en Maria verkeer, en die oorlogsgebeurtenisse; later, in ‘Die Burgemeester van Slaplaagte’, tussen die lotgevalle van Levina in die stad, en haar pa en ma op die plaas. Wel is die twee motiewe, breed opgevat, enigsins saamgevleg. Met die verklaring van die oorlog sien Dirk kans om Gys, sy mededinger, om die hand van Maria te dwarsboom, en later dreig hy om volksverraad te pleeg indien sy hom nie met haar ja-woord daarvan weerhou nie. Gys word ernstig gewond, Maria ly ontsettende ontberings en 'n swaar koorssiekte in die konsentrasiekamp, hulle ontwikkel tot groter lewenserns, en gaan die toekoms ‘vol hoop en blydskap’ tegemoet. Maar die eenheid is dikwels oppervlakkig en sonder organiese samehang. Die skrywer verlustig hom in die oorlogsepisodes terwille van hulle self, en wei daar met welbehae oor uit - die poging van Dirk om Stols en Greef tot verraad oor te haal, die skermutseling naby Waterval, en die afbrand van die woonhuise, met die humoristiese Lieptoneeltjies ingelas, dit alles is uitvoeriger, en trouens treffender uitgebeeld as die liefdesverwikkelings. ‘Die Beeswagtertjie’ bring in alle opsigte 'n tydelike agteruitgang in die stygende talent van van Bruggen aan die dag. Na 'n enigsins psigologies gemotiveerde skets van die beeswagtertjie self loop die verhaal op 'n dwase skatjag uit. Na die poging van ‘Teleurgestel’ keer ons 'n slag terug na die eenvoudige sketse, ‘Ouboet’ en ‘Bywoners’. In ‘Ouboet’ is die deurlopende motief nog nie bevredigend afgewerk nie. Ouboet koester 'n innige liefde vir sy gebreklike kleinboet Danie; hy span hom manhaftig in om leergeld vir Danie op te spaar, en ondergaan hartroerende gewetenswroeginge as hy met slegte gevolg met die geld woeker. Later sterf hy aan koorssiekte en sy belangstelling in Danie bly in die lug hang. In ‘Bywoners’ egter word die psigologiese strewe van die eerste twee sketse en die meer breedvoerige opvatting van ‘Teleurgestel’ met goeie gevolg | ||||||||||||
[pagina 187]
| ||||||||||||
verenig. 'n Heersende motief is te vind in die noukeurige waarneming en uitbeelding van die daelikse lewe van die arm-blanke en ander bywoners: en tewens is die behandeling van 'n lewensprobleem aanwesig wanneer die skrywer die proefnemings van 'n mynwerker in die boerelewe, die drang van die plattelander na die stad, en die ingewortelde gebrek aan standvastigheid van die Sitman-tiepe nagaan.
'n Verder verdienste wat met ‘Bywoners’ intree lê daarin dat die motief nie bepaal is tot twee of drie persone nie. Andries Vry help vir De Klerk aan 'n stukkie grond: Sitman kleef hom vas aan De Klerk, maar hy kan nie die slagparty by Willemse terwille van sy nuwe baas opoffer nie. Tegerlykertyd is Willemse weer aan die ander bywoners gekoppel, wanneer sy mededinging met Gouws in die koringlande die nodige stoot gee aan Japie se vertrek na die myne - 'n brokkie van die lewe wat duidelik en harmonies vir die leser saamgestel is.
'n Nog ruimer blik op die maatskaplike verhoudinge word in ‘Die Burgemeester’ aangetref; die naiewe plattelanders kom in botsing met die komplekse buitewêreld, wat 'n verregaande uitwerking op hulle lewe het, en binne die Slaplaagte-kring word die karakters van Oom Lood en Tant Levina skerp belig deur hulle omgang met die Oorholsers en die Skoolkommissielede.
'n Ander verrassende vooruitgang is op te merk in die meer filosofiese, veelomvattende lewenserns, die psigologiese ontwikkelingsproses wat agter die uitwerking sit. Sitman is Sitman van begin tot end, maar die ervarings van Lood het 'n diep en blywende invloed op sy lewe en lewensbeskouing.
Maar die swak tegniek van 'n tweeledige motief raak hom nog baas, hoewel dit nou minder steurend is as in ‘Teleurgestel’. Wel dring Levina haar, deur die noukeurige uiteensetting van haar karakter aan die begin, en die uitvoerige saamvatting van haar lotgevalle by die end, te sterk aan die leser op, sodat sy as twede hoofpersoon gevoel word. Maar tog is sy minder lewendig uitgebeeld as Oom Lood en die verband tussen haar ervarings en die ontwikkeling van Lood se karakter is in elke geval meer direk as dié tussen die oorlog en die Maria-Gys verhaal. Tewens is daar 'n opmerklike vooruitgang in die onderskikking van die orige karakters; Boet Heina en sy vrou, Pieter van Staden, en die Skoolkommissielede tree net voldoende op om die Slaplaagte-gees in die algemeen en die karakters van Oom Lood en Tant Levina in die besonder te belig.
Belangrik in verband met ‘Die Burgemeester’ is ook die klaarblyklike verskuldiging van van Bruggen aan ‘Geertje’ von Johan De Meester. Die dieper tema, die botsing tussen stad en platteland, is hom hoogswaarskynlik deur De Meester ingegee - moontlik slegs deur onderbewuste suggestie, maar genoeg om die aanspraak op suiwer spontane kuns daaraan te ontneem. | ||||||||||||
[pagina 188]
| ||||||||||||
Eindelik in ‘Ampie’ ryp van Bruggen tot die behandeling van 'n sentrale psigologiese motief, diep deurdringend, en verenig met 'n ruime blik op 'n bepaalde stukkie van die samelewing, waar elke voorval in natuurlike betrekking staan tot die hooftema. Orals tree Ampie self op die voorgrond. In die murasie-omgewing ontwikkel die bandelose natuurkind; by Oom Tys - hulle maak hy kennis met 'n hoër trap van beskawing, en sy omgang met Annekie en Ou-Jakob laat sy sagter inbors en sy ondernemingsgees aan die lig kom. Die huislike lewe by Oom Kasper en die bedrywighede van sy vrou word net skerp genoeg geteken om hulle invloed op Ampie voldoende te motiveer. Later word Ampie in sy aanbidding vir Hester Staander teleurgestel, en deur die geweldige eensaamheid wat hierop, saam met die dood van Ou-Jakob volg, ryp hy tot 'n dieper besef van sy liefde vir Annekie.
Verder kom sy kinderlike eenvoud en die kiem van meerdere verfyning in sy inbors uit in sy handelinge met Ou Moosa en in sy teenstelling met die beginsellose Bart. Dieselfde motief word voortgesit in die twede deel. Na die veldbrand kom hy weer gereeld op Vlakplaas. Ampie se verantwoordelikheidsgevoel bloei sterk op, en tewens word Annekie se wassende vroulikheid belig. Ampie ly nog onder periodieke vlae van sy ou hartstogte maar tegelykertyd dring 'n dieper besef van maatskaplike verpligtings sig aan hom op, en met die geboorte van hulle seuntjie tree hy en Annekie hulle volle waardigheid van man en vrou, vader en moeder in. In een opsig is die twede deel nog meer bepaald die hoogtepunt van van Bruggen se ontwikkeling, n.l. in sy geheel suiwer oorspronklikheid. ‘Die Natuurkind’, hoewel dit deurdring is van die Afrikaanse volksgees in milieuskildering, karaktertekening, en taalgebruik, het vir die grondidee en baie van die besonderhede waarskynlik 'n suggestiewe invloed van Brusse se ‘Boefje’ ondergaan: ‘Die Meisiekind’ is 'n selfstandige, spontane bloeisel. | ||||||||||||
Karakterskepping en uitbeelding.In die kort sketse word om so te sê net een voorkome van die karakters behandel, maar as sodanig is hulle goed waargeneem. Stephanus is die troetelkind van sy moeder, wat altoos opgeroep is om die vrede tussen die niksnut seun en die deeglike, behoudende vader te handhaaf. Later voel Oom Sarel die drang om meer in die lewe van sy seun te deel. Maar die grammofoon kan hy nie goed aanhoor nie. ‘Ek wil dit nie in my huis hê nie,’ raas hy, maar laat hom tog deur Dorie kalmeer. Die ergernis styg as dit in 'n psalm oorgaan, en nog meer as Stephanus van die boekevat afwesig is, maar Sarel wil nog nie ongenadig veroordeel nie. Die vlam kom by die patroon as Fanie so ewe onge-erg sit en koffiedrink by die geraas van | ||||||||||||
[pagina 189]
| ||||||||||||
die grammafoon, terwyl Sarel in spanning op sy hulp wag om die dambreuk te maak.
Goed ook is Dorie waargeneem, soos sy altoos sinnetjies tussenwerp om haar man te kalmeer, en Stephanus, wat sy filosofie baseer op die beginsel van 'n mienimum werk en 'n maksimum plesier, kan ons ook in die lewe ontmoet.
Hier en daar kom tieperende sinnetjies voor, maar die toneeltjies is onvoltooi, en dus nie diep ingeleef nie. Trouens behandel dit byna uitsluitend die uiterlike lewenswyse, sodat die gevolg, hoe wel juis, psigologies nie voldoende gemotiveer is nie.
Dieper ingeleef is die toneeltjies in ‘Oom Jannie’. Na die vertrek van die begrafnisgaste besef Oom Jannie eers ten volle sy eensaamheid, word afgetrokke, en verloor sy belangstelling in huis, tuin en medemense. Maar die voorstel van Piet prikkel eindelik sy self-respek. ‘Ek inwoon? In my eie huis? Ek sal nie!’ Hy besluit dat 'n twede vrou vir sy geestelike welsyn nodig is, en na aanleiding van 'n fantastiese droom gaan hy in blinde uit om sy bruid oorkant die spoorlyn te soek. Toevallig ontmoet hy Tant Lenie Hein, hy red haar van die nukke van 'n steekse perd, by die eerste aansien fluister sy hart ‘dis sy’, en by die terugbring van die kar neem hy die kans waar om die huweliksaansoek te maak.
Die droom, en die waarde wat daaraan geheg word, is m.i. 'n treurige psigologiese fout, en daar die verder verband daar heeltemal van afhang, doen dit afbreuk aan die waarde van die skets as geheel, wat anders onmiskenbare verdienstes het.
Hierdie verdienstes lê in 'n paar afsonderlike toneeltjies wat lewendig en in tiepies realistiese taal uitgebeeld is, b.v. die tandtrekkery by van der Merwe (bl. 120), die gesprek tussen Oom Jannie en Jonas in die smitswinkel (bl. 112), en die besoek van Stoffel (bl. 114). Wanneer die skrywer hom egter waag aan die wisselwerking tussen 'n groep persone i.p.v. een indiwidu is sy aandag so in beslag geneem deur die psigiese verskynsels, dat sy persone net omhulsels vir hierdie verskynsels word. Die selfsugtige wewenaar Dirk Liebenberg trek na Waterval om Maria as sy twede lewensgesel te vra. Tegelykertyd begin die lewenslange kinderlike vriendskap tussen Maria en Gys tot liefde to ontwikkel. In die bewegingsvolle lewe op kommando koel Dirk se begeerte vir Maria af, maar al gou word hy moeg van die skynbaar doellose swerftogte, en probeer op die lafste en laagste manier om die ja-woord van Maria af te pers. Die bekendmaak van haar verlowing aan Gys is vir hom 'n harde knal, en geheel gewetenloos sluit hy hom nou by die Engelse aan in hulle aanval op die woonhuis. Maar selfs in sy nuwe omgewing vind hy geen bevrediging nie. In sy teleurstelling gee hy hom | ||||||||||||
[pagina 190]
| ||||||||||||
aan die drank oor, en met dierlike leedvermaak ‘haal hy Gys se siel uit’ met sy hartelose skinderpraatjies oor Maria.
Sy geleidelike ondergang is as psigologiese verskynsel goed uitgewerk, maar dit is te eensydig om die karakter te laat lewe. Hy word uitsluitend as 'n wraaksugtige teleurgestelde man geteken: nooit sien ons hom in 'n ander sfeer van belangstelling, en slegs hier en daar in 'n ander stemming. Ook Gys en Maria is louter tiepes, hierdie slag van patriotisme en onwankelbare liefde. Na die uitbot van hulle wedersydse neiging, besiel dit hulle om hulle rol in die komende stryd met moed te speel. Gys word die held van elke skermutseling en Maria is die siel van die opstal-gemeentetjie, bly altoos hoopvol, en kan elkeen wonderlik troos. Goed is die uitwerking as ook sy deur siekte in die konsentrasiekamp haar jeugdige frisheid verloor, en hulle altwee ernstiger en verouder, met 'n dieper simpatie die lewe tegemoet gaan. Die idee van die ontwikkeling is goed, maar in sy geesdrif vir die ontwikkeling verloor die skrywer die mens uit die oog. Die vergelyking met ‘Ampie’ lê voor hande. Sy hartseer oor die verlies van Ou-Jakob, die enige wese waarmee hy in die verslegting van die Nortje-murasie in simpatieke verhouding verkeer, spoor hom aan om by Oom Kasper werk te gaan soek, en onder die invloed van die beskaafde kring ontwikkel sy selfrespek, en hy bou fraai lugkastele wat hy en Annekie sal bewoon. Maar die lewe is vir hom 'n gedurige stryd tussen die ideale van die natuurkind en die nugter werklikheid. Sy besef van verantwoordelikheid groei, maar as dit by die boekevat kom lyk hy tog nog maar 'n treurige figuur. Ook kan sy natuurlike wilde inbors nie daadlik getem word nie, en as die werk by die masienskroewe vir hom swaar val, gaan hy soos 'n malmens te kere. In sy nukkerige gemoedstoestand stuur hy 'n beledigende brief aan Annekie en 'n tydelike skeiding tree in. As sy kalwerliefde vir Hester Staander teleurgestel word, en hy Ou-Jakob skielik deur 'n bliksemstraal verloor, breek 'n tydperk van treurige eensaamheid aan. Tog is daar 'n klein suggestie van idealisering in die tekening. Die voorval by die masien is 'n taamlike geïsoleerde voorbeeld van sy ou hartstogte, en binne 'n paar maande word hy al 'n uitsoek hulp van Oom Kasper. In ‘Ampie II’ is die eweredigheid tussen vooruitgang en terugslag om so te sê volmaak. Meer opvallend as in die eerste deel word die knelling van die maatskaplike instellings duidlik. En nie alleen wissel sy gemoed van die een dag tot die ander nie, maar van oomblik tot oomblik. Blymoedig oor die versoening met Annekie sit hy in die leë huisie en peins; hy word 'n slag wrewelig as hy hom herinner hoe sy aandring op die aanneme, maar ‘sy optimisme... loop al die swarighede wat voorlê kaf.’ Hy kry van Grieta Booysen 'n vraeboek maar sukkel nog ellendig daarmee. (In 1917 sou hy dit sommer uit sy kop uit geleer het!) Nuwe hindernisse kom | ||||||||||||
[pagina *32]
| ||||||||||||
IRMA STERN:
KONSERT. | ||||||||||||
[pagina 191]
| ||||||||||||
as Tant Annie die vryery agterkom en besware inbring, en die gelol met die aanneem en ouersvra laat hom weer heeltemal opstandig teen die maatskappy voel. Nietemin neem sy planne 'n groot stap vorentoe as hy die dag mondig word, en hy voel hom sommer groots om as selfstandige man naas Oom Kasper en Oom Tys op te tree.
Eindelik breek die troudag aan. Maar hoe beteuterd staan hy nie in sy ongewone vernaamheid nie! en die kastig selfstandige man word soos 'n kind deur die plegtighede gehelp. Wreed word sy ideale gekneus as hy die eerste aand al rusie met Annekie kry, maar daardeur dring sy nuwe verantwoordelikheid sterker tot hom deur, en die volgende môre is hulle op meer vertroulike voet. Met die geboorte van die seuntjie is die band eindelik harmonies saamgesmee, maar selfs op die end kom, realisties, nog die geskilletjie oor die naam. Naas Ampie self is die karakter van Annekie, hoewel minder volledig, soos dit behoort, ook goed uitgewerk. Die vryery is in die begin by haar maar 'n speletjie. Deur die skeiding begin ook sy te besef wat hulle twee vir mekaar beteken, maar sy is nog glad nie haastig nie. Meer en meer tree sy daarna, en veral deur haar ma se sleg - sê van Ampie, as sy meesteres en leidster in die kronkelweë van die beskawingskonwensies op, besiel hom met die moed om die aanneme ernstig op te vat, en neem kalm en natuurlik haar plaas as vrou en moeder in. Wat die ondergeskikte persone betref, staan ‘Teleurgestel’ nie ver by ‘Ampie’ agter nie. Stols, die eenvoudige ja-broer, met sy ewige rug-klagte en sy onskuldige huigelary, is tiepies menslik. Hy is bang vir die oorlog, maar wil nie as 'n lafaard gebrandmerk word nie. Van altwee kante hoogs voldaan sluit hy hom dus by die kommando aan om perde op te pas en vir die ‘inwendige mens’ te sorg, maar as die eerste skoot val, vlug hy, sonder om eers aan sy roer te dink. Anders, maar ook eg, is Greef. Teruggetrek en skynbaar oppervlakkig, is hy tog 'n deeglike patriot, en neem geesdriftig sy plaas in die kommando in. Ou Liebenberg en Oom Karel Brinkman, die eensydige, vurige patriot en die kalmer, redenerende burger, is ook goed raakgesien. Ten slotte is Swartbooi ook 'n noukeurige weergawe van die trou kleuring-outa, as ons eenmaal die mistieke element in sy karakter aanneem. In ‘Ampie’ is die dierlike wildheid van Goor-Dawid, die ontydige gedraai van sy vrou, en die neerslagtigheid van Flip Staander onder die indruk van geldsake goed gesien. Booysen staan nog op die grens van die veridealiseerde sedemeester. Om die handelinge van die karakter voldoende te motiveer moet behalwe die gesprekke en die handelinge self ook die gevoelens en gedagtes min of meer volledig uitgebeeld word Gedagte uitbeelding kom in ‘Teleurgestel’ nagenoeg nog nie voor nie, en in ander opsigte is die karakter-uit- | ||||||||||||
[pagina 192]
| ||||||||||||
beelding van baie wisselvallige gehalte. Soos in sy vroeër werke is die lewensarme, volksaardige uitdrukkinge nog beperk tot oppervlakkige opmerkings; die skrywer kan hom nog nie indink in die spreekwyse en houding van die karakters by die behandeling van gewigtiger sake nie. Die gedagtegang is dikwels onnatuurlik logies en verhewe, die woordekeus gaan die deurslag mens se geaardheid te bowe, en die sinne is aanmekaar geryg as of elke uiting van buite geleer is. So word Dirk in sy liefdesverklaring heeltemal poëties (bl. 49 en 142) en Oom Karel en geselskap praat soos geoefende politisie (bl. 40). Daarnaas kom wel 'n paar tiepiese sinnetjies voor, b.v. die groet van die veldkornet (bl. 43) en die woorde van Greef se vrou in die konsentrasiekamp (bl. 226), maar hulle is afgesonder en nie van diepe aard nie. Ook bly besonderhede van houding of gelaatsuitdrukking deurgaans nog agterweë. Opmerklik is dit dat baie van die opgeskroefde sinswendinge in die 3e uitgawe verbeter is. Daarenteen kom die spreektaal van Ampie die volmaaktheid naby. Ons slaan b.v. op bl. 7, waar Ampie, oor die deugde van Ou-Jakob uitwei. ‘Omie, hy is so fluks as 'n perd, en baie beter, want hy 't g'n end nie! Dis verniet om te perbeer om vir Ou Jakob flou te kry. Omie kan maar perbeer!.... Oom Kasper, oom sal nie vir my glo nie, maar nou die dag...’ en so speel elke voorvalletjie waarin die deugde van Ou-Jakob blink, voor sy gees. In sy woede teen Annekie (bl. 31) kry ons die herhaaldelike uiting van 'n selfde gedagte, en as Ampie formeel aan Booysen verhuur word, dink hulle stuksgewys aan die verskillende besonderhede. Met objektiewe beskrywing is dit eners gestel. Hier en daar kom raak tiepering voor, b.v. bl. 7, waar Dirk se uiterlik beskryf word. Maar oor die algemeen is die beskrywing van uiterlik en innerlik onhandig en opgeskroef, b.v. die beskrywing van Stols (bl. 16) en die uiteensetting van Maria se karakter (bl. 235). In ‘Ampie’ word die bietjie bloot beskrywing wat noodsaaklik is, natuurlik ingelas in die verhaal, meer konkreet, dramaties-lewendig. Liebenberg staan geskilder soos 'n skildery aan die muur, Ampie, is geteken in die natuurlike omgewing van die vendusieplaas (bl. 8). ‘Eenkant, sku in 'n hoek, leun Ampie teen sy esel... Vaal van die stof is die vodde aan sy lyf, en die groot keps wat tot sy ore toemaak nes die aan-die-slaap esel hier langs hom.’ Die vernaamste verdienste wat ‘Ampie’ as psigologiese studie ver bo ‘Teleurgestel’ verhef, is die simpatiekee inlewing in die gemoed en gedagtes van die seun... Ampie lê in die dekgras, terwyl Bart vir Annekie gaan haal, en ambiesie, twyfel en vreugde speel beurtelings deur sy hoof. B.v. bl. 93: ‘Dalk sukkel Bart om haar alleen te sien: altemit moet hy politiek gebruik... Dit sal hom niks verwonder nie of sy is so steeks soos 'n perd... En as syGa naar voetnoot1) | ||||||||||||
[pagina 193]
| ||||||||||||
nou glad nie wil kom nie? Verdrietig val Ampie weer plat, ontmoedig, toe die gedagte posvat... Sy het hom tog die ja-woord gegee... en sy wil amper mal word oor 'n ring - - Die sal haar bring... sy sal wel netnou kom.’ Vgl. verder bl. 143, by die snymasien, sy gesels met Ou-Jakob, bl. 148, en elders.
In ‘Ampie II’ is daar nog meer uitvoerige uitbeelding van gedagtes, en nog volmaakter nuansering van die een oomblik tot die ander. O.a. is opvallend die swerftogte van sy gedagtes as hy alleen in die huisie sit (bl. 6), of as hy die aanneemvrae probeer leer en nie sy aandag daarby kan hou nie (bl. 15), of sy oorpeinsinge na die rusie met Annekie op hulle troudag (bl. 118).
'n Enkel voorloper van die gedagte-uitbeelding kom in ‘Teleurgestel’ voor, b.v. Maria se deurmekaar gemymer oor Dirk, Gys, en Swartbooi, en blomme op kranse (bl. 75), en Gys se herinneringe (bl. 216), maar dit is alleenstaande en van min betekenis, en mis die dramaties-beeldende toon van ‘Ampie’, waar dit eintlik gewens sou wees, b.v. by die liefdesverklarings van Dirk, of by die afbrand van die woonhuis, kry ons niks daarvan nie.
Die karaktertekening van ‘Die Beeswagtertjie’ is weer baie swak. Kleinbooi self is wel 'n goeie eksemplaar van die kleurlingtiepe waarmee van Bruggen vertroud is, soos hy in sy vrees vir slae koers vat dorptoe, en dan in die snaakse gedoentes van die beskaafde lewe baie ontuis voel. Met die lewendige romantiese gees van sy ras vertel hy vir Mabel en Sefie van verborge skatte - wat hy in sy droom gesoen het - en gedwee lei hy hulle na Dolf se plaas. Tiepies ook, is hy weer heeltemal deur die war as hulle kers doodmaak en dan verwag dat hy iets sal sien. Die orige karakters is heeltemal uiterlik opgeneem. Hulle gesprekke gee maar min lig op hulle persoonlikheid, en die jag-party na verborge skatte is 'n hals-oor-kop onderneming wat alleen deur grondige psigologiese verklaring geregverdig sou wees, en van so'n navorsing is daar g'n spoor nie.
Die fragmentariese opbou van ‘Ouboet’ maak die karaktertekening ook fragmentaries, maar die skets is deurstraal met 'n simpatieke weemoed wat aan Ampie en Ou-Jakob herinner.
Alhoewel dit amper uitsluitend analieties is, kom daar tog indrukwekkende tekening voor. ‘Ouboet het die Aucamp-gees geërwe en hoewel oënskynlik 'n buffelagtige groot seun, het sy groot en stil liefde vir Danie hom sterk gemaak in alle opsigte.’Ga naar voetnoot1) Vol ideale gebruik hy Danie se geld om 'n slaghuis op te rig, maar die onderneming misluk, en hy word gepla deur 'n naende gewete. (Bl. 94.) | ||||||||||||
[pagina 194]
| ||||||||||||
Die orige karakters is weinig oortuigend voorgestel, maar dit is uit die aard van die saak amper nie anders te verwag nie.
Nog weinig belemmer deur diep probleme, kan die skrywer in ‘Bywoners’ die volle teuel gee aan sy ware aanleg om die plattelander uit te beeld, en Sitman en Bettie, meer veelsydig as Oom Jannie, Greef en Stols, word volmaakte menslike tiepes. So goed is die karakters deurleef, dat die skrywer vanself oorgaan in lewendige, dramatiese uitbeelding. Sitman, ‘doelloos, willoos, vol ingebeelde kwale, en 'n vyand van alle vaste werk,’ leef van die aalmoes van die goedhartige bywoners. In 'n vlaag van ondernemingsgees gaan hy hom aan Alwyn verhuur, word na die aard van sy ras al daadlik eie met hom, en kom gou met sy besluit voor die dag (bl. 32.) ‘Ja, neef Alwyn, ek het nou besluit om by julle te kom bly.’ Hy werk al of nie soos hy lus kry, maar, kastig hoogmoedig, moet hy tog veral vir Alwyn laat weet dat hy die dag nie water kom lei nie, ‘want dit lyk mos te aardig om se weg te stap sonder om jou te sê’ (bl. 55). Onskuldig huigelagtig doen hy hom ook voor as Alwyn hom by die hoenderhok vang.
Naas Sitman staan Bettie, ru, praatsiek en bedrywig, maar tog op haar eie manier hulpsaam en gewillig as dit haar pas. Onbeskaam stuur sy vir Korneels na die slagfees in plaas om vir Alwyn water te lei, en stuur nog bo-op vir Driesie met die suikersakkie na Hendrina.
Oppervlakkig in die meeste van haar opvattings, ontvlam tog 'n diep moederliefde as Hendrina dreig om haar kinders na die weeshuis te stuur. Hier kry van Bruggen geleentheid om van gedagte-uitbeelding gebruik te maak, en doen dit ook voortreflik (bl. 67).
Alwyn en Hendrina is ook taamlik goed raakgesien, maar, buite 'n paar lewendige trekkies - o.a. bl. 37 - meer objektief en minder treffend uitgebeeld. Dieselfde geld vir Andries Vry, Willemse en Gouws. Vry, die geniale, konserwatiewe boer, is vas oortuig dat dit ‘mos origheid is om (sy) boerdery te verander. Gouws, as ondergeskikte persoon, staan weer op die peil van Stols, ‘buierig, sodat 'n mens niks met hom kan aanvang nie of baie meer van hom gedaan kan kry as wat hy self ooit van plan gehad het om te doen.’ Getrou aan sy buierige natuur, vertrek hy na die myne, en, buierig nog, sluit hy aan by die Engelse leër om in Oos-Afrika te gaan veg.
In ‘Bywoners’ het van Bruggen amper die hoogtepunt van eintlike karakter-uitbeelding bereik. In ‘Die Burgemeester’ waag hy hom aan 'n dieper studie van karakter-ontwikkeling en slaag daar nou veel beter in as in 1916. Oom Lood is 'n meer verdienstlike skepping as Sitman in so ver hy 'n gewigtiger onderneming is, maar wat realisme betref wen Sitman dit nog van sy opvolger. Eers in ‘Ampie’ is die realisme en die diepte volkome saamgesmelt. | ||||||||||||
[pagina *33]
| ||||||||||||
IRMA STERN:
PONDOVROU IN WIT. | ||||||||||||
[pagina 195]
| ||||||||||||
Die karakters van Lood en Levina is met diepe siening en deurgaans treffend sinteties voorgestel. Hier en daar word die gesprekke ook goed deur sydelingse opmerkings aangevul, maar die uitvoerige samevatting van die karakter van Lood (bl. 119) en van sy dogter (bl. 11) is nog onhandig. Party toneeltjies in die begin is nog fragmentaries - b.v. die gesprekke oor die droogte - maar gaandeweg leef die skrywer hom dieper in die verhaal in, en so word die uitbeelding meer volledig.
Gedagte-uitbeelding is hier ook weer meer passend as in ‘Teleurgestel’ en kom al meer voor as in ‘Bywoners’. Maar dit mis nog die deur en deur realistiese subjektiewe toon van ‘Ampie’.
Oom Lood, gevestig op die stukkie vergunningsgrond, bestee sy tyd aan knutselwerkies, of spit sy tuin om in vyf van sy werksdae, ‘en sy werksdae is, soos meester s'n, vyf uur per dag.’ Onstandvastig in alles, laat hy sy vrou die gereëlde geldjies met was en stryk verdien, en sy is dan ook die dryfveer van die Prinsloo samelewing. Bitsig vertoon sy haar teenoor Boet Heina en sy vrou (bl. 53), ‘Ek weet wat julle meen,’ val Tant Levina uit. ‘Julle dink dat sy (Levina) en daardie skeelgans ons altemit sal moeite gee... Dan word hulle oorweldig deur die huweliksberig van Levina. ‘Wat kan ons maak, harta?’ kla Lood. Maar Tante Levina is daadlik met 'n plan klaar. ‘Ons moet Johannesburg-toe, ons altwee! Jy kan Frans Oorholser sy kar kry...’ ens. Trots die vernedering spog hulle tog, en vernaam Levina, oor die netjiese huisie en ryk man van hulle dogter. Dan, as Lood haar op die ou end van die stasie huis-toe ry en kort-kort stukkies van haar geskiedenis aanmekaar las, peins hy oor die wrede feite wat sy openbaar, en die eenvoudige ‘burgemeester’ kry 'n kykie in die ingewikkelde wêreld. 'n Skaduwee val oor die sorgelose lewe van Lood en sy vrou, maar hulle leer daardeur 'n kalm berusting, en vind op hulle oudag nog troos in die dogtertjie van Levina en die kosterskap, wat eindelik verwesenlik word.
Weer is die bykomstige persone, Boet Heina en sy vrou en Pieter van Staden, goed geslaag. Net die tekening van Levina is in baie opsigte nog swak. Party trekkies is goed raakgesien, maar die beskrywing is te veel van buite af, en opsetlik saamgestel om seker opvoedkundige opvattings van die skrywer uiteen te sit. Sien b.v. bl. 13: ‘Levina is een van so veel van ons veelbelowende boernooiens wat, indien hulle die opvoeding en opleiding kon geniet het waarop hulle aanleg en talente die reg het, as persoonlikhede ons maatskappy sou versier het en die uitlandse sterre verdof.’ 'n Verder bewys dat die skrywer maar min in haar karakter ingeleef het is die opmerking (bl. 104): ‘Sy het vir hom haar ganse vertroue gegee... hy haar niks nie; en wonderlik, sy het dit ook nie begeer...’ Waarom nie? Wat was die psigologies grondslag van haar berusting? | ||||||||||||
[pagina 196]
| ||||||||||||
Styl en milieu-skildering.In die begin staan van Bruggen geheel buite sy karakters. Hy beskou hulle en beskryf hulle, maar verstaan nie die kuns om die gepaste atmosfeer te skep nie. As hy hom geleidelik dieper inleef in die wêreld van sy karakters, sien hy die dinge om so te sê deur hulle oë, en deur hulle psiege, en hy verval vanself in hulle stilering. So trou is in ‘Ampie’ die taal van die arm-blankes weerspieël in die verhaaltrant, dat die leser hom amper onafgebroke in die geselskap van Ampie en sy kring voel, dat hy om so te sê die tonele deur hulle oë sien... Dis die dag van die vendusie. Maar is dit van Bruggen of Ampie wat die beeste daar sien: ‘wat almelewe so wonderlik lomp koets of hulle lywe te min litte het; kyk, daardie kort Joodjie wat hom flus nie wou gegroet het nie, hoe lekker het die os hom so nerf-nerf gegaffel met sy horings.’ Vgl. ook bl. 154 oor Staander: ‘Die lastige geldkwessie het hy gelukkig twee maande vorentoe gestoot. Die Jood was so ewe inskiklik, en glad nie haastig nie’; of bl. 206, waar die veldbrand beskryf word.
Afsonderlike melding verdien die beskrywing van die natuur, wat deurgaans ook deur Ampie se oë gesien word. B.v. die storm bl. 184, en elders.
In ‘Ampie II’ is die inlewing feitlik volmaak. Amper dwarsdeur tree die persone handelend op, en die verhalende passasies is geheel in die passende stemming geskryf. Slaan b.v. oop by bl. 81, waar Bart se delweryplanne onder bespreking is.
Tiepies is ook die gebruik van volksaardige en dikwels besonder betekenisvolle uitdrukkings soos ‘proper’ en ‘pebliek’. Hoe gebrekkig ingeleef lyk daarnaas die eerste werke. ‘Stephanus’ hoor ons die skrywer vertel in ‘Die Praatmasjien’, (Op Veld en Rande, bl. 141) ‘is egter geen jongeling wat vatbaar is vir indrukke van dié aard nie. Hy beskou die wêreld as 'n speelplaas waarin hy kan rondgaan soos hy wil, en wanneer hy wil, volgens eiesinnige begeertes.’ En so klink dit maar meesal in die jare voor ‘Bywoners’. Uit ‘Teleurgestel’ verwys ons na die beskrywing van Dirk se gedagtes op bl. 21, en die onderhoud tussen Dirk en Maria op bl. 143. Tog begin die ryke kleur van ‘Ampie’ selfs in die eerste werke so hier en daar deur die dofheid te skitter. Die stukkie tiepering wat aan die bogenoemde vooraf gaan is reeds beter. ‘Stephanus is alweer uit die werk. Dit was vir hom onmoontlik om langer onder die buie van 'n nukkerige baas te staan, en buitendien, hy is geen Kaffer om dan hier, dan daar gestuur te word nie’. Die plaas-atmosfeer ontbreek nog in ‘Ouboet’, maar die ontluikende stilis spreek met indrukwekkende stem in die weemoedige, mymerende beskrywinge van Danie en Ouboet self. | ||||||||||||
[pagina 197]
| ||||||||||||
‘Bywoners’ en ‘Die Burgemeester’ neem 'n groot sprong vorentoe op die weg na ‘Ampie’. Veral ‘Die Burgemeester’ staan naby die hoogtepunt. Die beskrywing van Slaplaagte onder die druk van die droogte is hier en daar goed gestileer. ‘Die mense bly maar liefs in hulle huise waar tussen die oop deure tog partykeer 'n luggie trek, en hulle peusel daar aan 'n werkie of ja die vlieë wat vandag al te lastig is.’
Natuurlik kom in altwee werke nog 'n aansienlike aantal voorbeelde van stywe stilering voor. B.v. Op veld en Rande, bl. 47: ‘Vir haar was dit 'n wet om 'n kranke te dokter tot die middels ingee. En met die beste bedoeling sou sy enige middel toepas enkel om aan die wet te gehoorsaam’; of bl. 32.
In ‘Die Burgemeester’ sondig die hele tekening van Levina in hierdie opsig. | ||||||||||||
Lewensbeskouing. - humor en natuurbeskouing.‘Humor’, sê Multatulli, ‘is 't weergeven van de natuur’. Die humoris aanskou die lewe egalig, veelsydig en onbevooroordeel, en sien alles in sy ware verhouding tot die hele lewenskompleks. Hierdeur ontstaan simpatie met menslike swaarkry en tekortkominge en aan die ander kant weerhou dit van uiterstes, van sentimentaliteit en swaarmoedigheid.
In ‘Ampie’ bereik van Bruggen die toppunt van hierdie humoristiese lewensopvatting. Orals voel ons die simpatie met die verwaarloosde seun, maar tewens laat hy ons voel dat die wêreld tog nog nie heeltemal sleg is nie. Deur Ampie se neerslagtigheid op die vendusie straal sy lagbui as Ou-Jakob vir die Joodjie so lekker skop... Ongelukkig ontuis sit hy later by die boekevat by Booysen. Skielik verdwyn die swaarmoedigheid as hy vol geesdrif en met 'n innerlike lag van voldoening die storie van Oom Kasper weergee. ‘Ampie gloei van opgewondenheid en sy oë skitter, toe hy vrypostig rondkyk; maar dadelik voel hy of hy nooit weer vir Oom Kasper sal vertel wat hy onthou het nie,’ (bl. 117). Rasend worstel hy met die snymasien en die wêreld lyk vir hom nou heeltemal ondraagbaar. ‘Ek wil my doodmaak! Uit die pad uit! Ek wil vrek! Vrek!’ ‘Dis nie nodig nie, Ampie,’ klink die swaar stem van Booysen, en Ampie staan weer teenoor die nugter werklikheid. Ironies-humoristies is ook sy houding teenoor Hester, sy verrukte aanbidding, en verontwaardigde teleurstelling as die ysterperdkêrel hom voorspring. Dieselfde harmoniese veelsydigheid deurstraal die twede deel. Ampie en Annekie gaan ouers vra, en die seun voel maar onrustig. Annekie sê haar ‘rympie’ op en Ampie is bewoë onder die ernstige woorde van haar vader. Diep onder die indruk van die plegtigheid sê hy nou ook sy rympie op, en maak bekend dat hy hom in die huwelike staat wens te begewen met Abraham | ||||||||||||
[pagina 198]
| ||||||||||||
Nortje’. Hy hoor gelag, en staan weer teenoor die agterstevoorkant van die wêreld. Vgl. ook bl. 65: ‘.... 'n swaar klemmende gevoel (maak) sy gedagte dynserig.’ 'n Klip plas in die water langs hom. ‘Aaits, jou swernot se kind, hoe skrik ek,’ - en hy kyk op in die gesig van Oom Kasper! En so ook met sy hulpeloosheid op die aanneme, en Oom Tys se verplettering by sy mondigword. Kostelik ook is die figuur wat hy op sy troudag trek.
Om die heersende humoristiese strekking van ‘Ampie’ te bereik het van Bruggen 'n goed merkbaar geleidelike ontwikkeling ondergaan. In ‘Die Praatmasjien’ word 'n ligte glimlag opgewek deur die onbeduidende oorsaak van 'n hewige uitbarsting van toorn, maar daar is te min gevoel om van ware humor te praat. In die volgende skets is dit nog oppervlakkig en word slegs aangestip in die rede van Sarie by die begrafnis, waar sy van treur oor die oorledene afstap tot ligsinnige herinnerings, en in die geestig voorgestelde besoek van Stoffel, wat die huweliksplanne van Jannie in die war stuur. In ‘Teleurgestel’ is die eensydige opvatting van die hoofpersone uit die grond teenstrydig met humoristiese beginsels. In die beskrywing van die konsentrasiekampe verval van Bruggen in diep, oordrewe melankolie; ons kan daar beswaarlik 'n vrolike skaterlag verwag, maar die ware humoris sou tog terloops 'n toon van berusting, moed, of hoop aanslaan. Net hier en daar gee ge-isoleerde staaltjies humor blyk van die skrywer se aanleg in dié rigting. In die grond eg menslik, vier die famielies vrolik nuwejaar terwyl die onrus van die oorlog in die lug hang; klein Liepie kraai van vreugde as sy pappie tussen drie van die vyand kom aanstap (bl. 191); en terwyl die grootste gevaar dreig skep die burgers daar plesier in om Stols te laat skrik. Maar deurdat die donker kant nie diep ingeleef is nie, is die humor ook nie van hoë gehalte nie. Die eerste diepgaande humoristiese behandeling kry ons in ‘Bywoners’. Met treffende siening waardeer die skrywer veral die dieper gevoelens van die versmade, oppervlakkige arm-blanke as hy die moederliefde van Bettie uitbeeld. Geestig humoristies kom sy weer voor as sy vir Hendrina met ou lappe dokter, en Korneels ook as Alwyn hom by die hoenderhok vang. Ironiese humor, wat darem ook gebaseer is op raak waarneming van die werklikheid, kry ons by Gouws, boer se kind, wat hom mos nie van 'n Engelsman laat beledig nie, maar nie skroom om by die Engelse leêr aan te sluit nie. Hierdie simpatieke opvatting van die arm-blankes is reeds nou verwant aan die gees van ‘Ampie’, en in die oorgang staan ‘Die Burgemeester’ as koppeling. Verwant aan Stols en Sitman in sy onskuldige huigelary, waarmee hy ook homself bedrieg, is Oom Lood. Fier in sy waardigheid van ‘Burge- | ||||||||||||
[pagina 199]
| ||||||||||||
meester’ van Slaplaagte, staan hy darem danig onder die duim van sy vrou; deurdring van die besef van sy kastig belangrike posiesie as skoolkommissielid, handhaaf hy sy eer deur elkeen te sekondeer selfs in direkte teenstryd met 'n voorafgaande opienie... Die droewige indruk van Levina se huweliksberig is oorweldigend, maar die naïewe oorweging oor die ‘spessel laissens’ - ‘Ken jy vir hom, boet?... Sy 't ons nooit van daardie kêrel vertel nie’ - flikker deur die swart stemming heen... Lieflik komiek stap Oom Lood en Tant Levina soos twee volwasse kinders hand aan hand bangerig deur Johannesburg se strate, maar, gerusgestel deur die dogter se agtermekaar huishouding, stap hulle huistoe en spog met welbehae oor wat hulle gesien het. Vlymend ironies, met die oog op later ontwikkelings, maar altoos eg, las Tant Levina selfs 'n paar onskuldige leuntjies by, om die agterdog van die bure te verpletter.
Buite Oom Lood en sy vrou is 'n paar ander toneeltjies en karakters ook mooi humoristies gekleur. Plegtig vang die Skoolkommissie hulle vergadering aan met redevoerings oor ‘eensgesindheid en broederliefde, en die verantwoordelikheid wat op die lede as skoolkommissie rus,’ en ‘gou-gou stuit hulle weer op die windpomp.’ | ||||||||||||
Natuurbeskouing.Onder psigologie kan ook nog 'n paar opmerkings gemaak word oor die wisselwerking tussen die natuur en die stemming van die karakters. Hoewel minder belangrik as die algemene karaktertekening, is die waarneming van die wisselwerking van stemming onder invloed van die natuuromstandighede, en andersyds, hoe die mens se stemming sy opvatting van die natuur kleur, tog 'n bewys van grondige mensekennis.
In die begin is die waardering van die natuur by van Bruggen oppervlakkig, sodat b.v. die vallei waar Stols en Greef in die daeraad deurry, of die waterval waar die jong mense gaan wandel, in stereotiepe beskryftrant sonder innerlike waardering geteken word. Ten twede is die indruk wat die aanskouing van die natuur op die persone maak, ook maar oppervlakkig in geykte terme aangestip.
In ‘Die Burgemeester’ is die stemmingsnuansering partymaal op meer dramaties-beeldende wyse behandel, b.v. in die gesprekkies wat die optimisme van Boet Heina en die neerslagtigheid van Pieter van Staden laat uitkom. Fragmentaries maar treffend is die invloed van die storm op Levina; die beweging in die natuur skud haar uit haar onverskilligheid, sy rep haar om die hoenders onder beskutting te bring en om die vensters te sluit, en met flikkerende oë geniet sy van die oplewing. | ||||||||||||
[pagina 200]
| ||||||||||||
Maar die natuuruitwerking word grotendeels nog uiteengesit in bespieëlings van die skrywer self, soos wanneer hy uitwei oor die nadelige invloed van die droogte wat die gees van die mense verslap.
Eers in ‘Ampie’ word die harmonie tussen mens en natuur ongekunsteld in die verhaal ingelas en tewens goed deurleef. ‘Die wind draai so lastig om Kasper Booysen se huis, dat die vrou al heeldag uit haar humeur is. Die meid werk brom-brom van al die skrobberings van haar nooi, die kinders baklei meer as ander dae, en Booysen het nukkerig uit die huis gestap na sy boerdery.’ Maar Ampie, vervul met sy grootse planne, voel vandag baie bly en neem min notiesie van die wind. Later ook as die Staanders dorp-toe ry, laat sy blymoedige stemming, die kaal bulte heeltemal mooi lyk. (Bl. 165.) | ||||||||||||
Slot. - Samevatting.In die werk van van Bruggen sien ons dus verskillende elemente langs mekaar aan ontwikkel - as een ontwikkel word 'n ander tydelik prysgegee, dan word twee of meer in een werk goed verbind, totdat al die bestanddele tot hulle voortreflikste uiting kom in die twee dele van ‘Ampie’.
Van Bruggen maak sy eerste verskyning met 'n eenvoudige onderwerp en eenvoudige bouplan; die karakters is binne die beperkte gebied van die bepaalde voorkome wat behandel word goed raakgesien, maar is grotendeels analieties en slegs hier en daar fragmentaries sinteties uitgebeeld. Verder is 'n ligte humoristiese opvatting merkbaar.
Daarna word 'n ruimer blik op die maatskaplike verhouding gewerp, en 'n groter verskeidenheid van persone word behandel. Die karakters is meer lewendig, maar tog nog taamlik fragmentaries uitgebeeld, maar die fantastiese kleur van die hoofpersoon is nadelig vir die egtheid van die psigologiese uitwerking. Die humor wen aan geestigheid met 'n tikkie ironie, maar is nog oppervlakkig en nie diep deurleef nie.
In sy volgende onderneming is dit duidelik dat die skrywer nog nie by magte is om 'n studie van 'n diep omvangrike onderwerp in 'n groot harmoniese bouwerk met humoristiese beligting saam te stel nie. In ‘Teleurgestel’ word met uitbreiding van handelingssfeer die perspektiewe eenheid verdraai, en met die groter ingewikkeldheid van die psigologiese tema word die menslikheid van die karakters prysgegee aan beliggaming van afsonderlike karaktertrekke. Die analietiese karakter-tekening is meesal gesog en opgeskroef, en die sintetiese onnatuurlik en fragmentaries, en die gedagte-uitbeelding, wat hier sy eerste verskyning maak, is onvoldoende, oppervlakkig ingeleef en van min betekenis by die ontplooiing van die karakters. Op afsonderlike plekke kom 'n humoristiese opvatting voor, maar die algemene strekking is eensydig. | ||||||||||||
[pagina 201]
| ||||||||||||
Hierna kom 'n tydelike terugslag wat omvang van onderneming betref, en in seker opsigte begin die ontwikkeling opnuut. Die skrywer bereik egter gou 'n hoër peil as in die vorige werke.
Die eerste produk van die terugslag is ‘Die Beeswagtertjie’. Die onderwerp is fantasties. Kleinbooi is slegs oppervlakkig ingeleef, en by die ander karakters is daar 'n totale gebrek aan waarneming of inlewing. 'n Paar lewendige realistiese maar fragmentariese gesprekkies kom voor, maar behalwe by Kleinbooi is dit sonder betrekking op die eintlike karakter van die persone. Beter inlewing, maar beperk tot 'n fragmentariese onderwerp, kry ons in ‘Ouboet’. Die waarneming is goed en die analietiese karakterbeskrywing meer treffend as voor die tyd maar daar is feitlik g'n dramaties sintetiese uitbeelding nie, en deur die vae strekking is dit as psigologiese studie nie van groot waarde nie. In ‘Bywoners’ is daar in veel opsigte 'n groot sprong vorentoe. Dit is verwant aan ‘Ouboet’ in so ver daar g'n eintlike doel is waarop die handeling uitloop nie. Maar van Bruggen slaag daar nou wel in om 'n meer uitgebreide handelsfeer soos in ‘Teleurgestel’ met meer dramaties realistiese wisselwerking tussen die karakters, en dieper inlewing in afsonderlike persone, te verbind. Daarby kom meer treffende en diep ingeleefde dramatiese ontplooiing van karakters as in die genoemde werk, en tewens is dit meer volledig as in ‘Oom Jannie’. Hierdie sintetiese uitbeelding word met kernagtige analietiese tekening aangevul. Gedagte-uitbeelding is nog skaars, maar meer treffend en beeldend realisties as in ‘Teleurgestel’, en die geheel is simpatiek humoristies gekleur. Die grootste fout lê nog in pedagogiese opmerkings wat die stemming versteur, en in die gebrek aan uitwerking van 'n bepaalde tema. In ‘Die Burgemeester’ word laasgenoemde fout verbeter, en by die min of meer uitgebreide kring waarin die verhaal afgespeel word, kry ons die ontwikkeling van die gemoed en karakter van die hoofpersoon. Maar die perspektief bly nog gebrekkig deur te veel nadruk op 'n ondergeskikte motief. Die karakterskepping toon ook 'n vooruitgang in so ver dit 'n studie van dieper probleme bevat, maar die outeur is nog 'n beetjie ontuis in hierdie sfeer, met die gevolg dat die uitbeelding effens minder volledig is as in ‘Bywoners’. Origens is die sintetiese uitbeelding realisties, en die analietiese raak en lugtig. Ook kom daar meer gedagte-uitbeelding voor, wat, hoewel treffend, nog fragmentaries is. Die humor is meer ingrypend deur die groter teenstelling tussen die leed en die kontrastende element. Eindelik in ‘Ampie’ word al die verdienstes van die ander werke verenig en tot feitlike volmaaktheid ontwikkel. Die sentrale motief is van diep, deurdringende aard, die uitwerking bevat 'n taamlike verskeidenheid van persone, en elke karakter en voorval staan in 'n goeie verhouding tot die | ||||||||||||
[pagina 202]
| ||||||||||||
sentrale tema. Die karakters is goed raakgesien en diep ingeleef, vernaamlik deur baie volledige gedagte-uitbeelding. Die verder uitbeelding is sinteties sowel as analieties goed geslaag in natuurlike beeldende taal. Die hele opvatting is simpatiek humoristies ingeklee, met 'n groot aantal geestig humoristiese toneeltjies, en die wisselwerking tussen die natuur en die menslike gemoed is diep ingeleef.
‘Ampie’ is die feitlik volmaakte vrug van 'n geleidelike aankwekingsen suiweringsproses waarin die goeie boustof van aangebore talent pragtig gedy het onder toepassing van die verfynende invloed van ervaring en kultuur. Die skerp waarnemingsvermoë van die vurige volksman het self ontwikkel, en het daarby die gees van die moderne wêreldliteratuur geassimileer, en uit die versmelting het ‘Ampie’ opgebloei - 'n pragtige oorspronklike skepping, suiwer nasionale kuns in sy onderwerp en atmosfeer, maar kosmopolieties in sy menslikheid. J. HARTMANN. | ||||||||||||
Werke van Jochem van Bruggen.Druk in die verwysinge gebruik.
|