| |
| |
| |
Oor Boeke.
Ampie, die drama.
ONS dramatiese literatuur het agtergebly by ons prosa en poësie. Dit besef ons skrywers blykbaar meer en meer, en in die laaste tyd is dan ook heldhaftige pogings aangewend om die leemte aan te vul. En tog, wat die gehalte
ANDRE HUGUENET, DIE BEKWAME AMPIESPELER.
van die geproduseerde werke betref, bly hierdie afdeling van ons literatuur nog arm, brandarm. Dit was dus vol hoopvolle verwagting dat die aangekondigde dramatisering van Ampie tegemoet gesien is. Ampie, by uitstek dié prosawerk wat tot die hart van elke Afrikaner spreek, wat ons met 'n sekere trots vervul as ons maar net die naam hoor noem! En dan gedramatiseer deur Jochem van Bruggen, die oorspronklike outeur self! So skitterend is die stralekrans wat ons om sy hoof gewewe het, dat dit nie anders as uitstekend kon wees nie. In stilte het ons al daarop gereken dat hy ook op dramatiese gebied dié luister aan ons literatuur sou besit wat ons prosa deur hom verkry het, dat die ereplaas wat hom met algemene instemming deur die Akademie toegeken is as prosaïs, hom ook onder ons dramatiste sou verleen word! En tog, wie dieper nagedink het, het gevrees: Dis bekend dat baie pragtige romans tot hopelose dramas omgewerk is, dat die talent van die dramatis van 'n heeltemal ander geaardheid is as die van die romanskrywer; ook moes die dramatisering van 'n werk soos hierdie baie tegniese moeilikhede oplewer, soos die aanpas van tyd en plek aan die eise
| |
| |
van die toneel; maar bo alles - dit kon nie ontken word dat daar 'n sekere swakheid van opbou in van Bruggen se werke te bespeur was, dat hulle soms spanning mis, in dele as fragmentaries en onvoldoende gemotiveerd voorkom nie; terwyl juis in die drama kragtige bou en sterk psigiese spanning onmisbaar is.
Helaas, dat ons ergste vrees verwesenlik moes word! Die drama Ampie bring ons soos dit voor my lê (die geleentheid om dit te sien opvoer het ek tot nog toe nie gehad nie), weer is aanraking met 'n aantal oubekendes uit die roman; ook die gebeurtenisse is ou vrinde, en ons lag weer oor bekende en onbekende grappe; maar tog - -.
Laat my eers 'n kort opsomming daarvan maak om dit nader te kan aantoon.
Die eerste bedryf speel voor die koeliewinkel op 'n plaas en begin met 'n vandiesie wat haas afgelope is; alleen moet Ampie se donkie nog opgeveil word. Booysen is die koper. Nadat Ampie sy geld ontvang het, spandeer hy dit aan snusterye uit die koeliewinkel. Dan verskyn Bart op die toneel en gaan kort daarna op aandrang van Ampie vir Annekie roep. Ampie gee haar die ring wat hy ondertussen gekoop het, en nadat sy verdwyn het kom die donkie hom op die toneel vertoon. Dan daag ou Goor Dawid op en verwurg byna vir Ampie oor hy die geld nie gebring het nie. Booysen red egter vir Ampie uit die hande van sy verdierlikte vader, en met die se toestemming verhuur Ampie hom aan Booysen.
Die twede toneel speel op die werf agter Booysen se huis. 'n Buitekamer word vir Ampie aangewys en hy kry skoon klere aan. Hy maak 'n kastrol skoon, sien 'n kat van die lusernbale afval, werk aan 'n snymasien, kry die afsêbrief van Annekie en word getroos deur ou Jakob, keer die beeste aan en gaan melk.
Dan val die skerm, en as dit weer opgaan is die toneel verplaas na Booysen se eetkamer. Dis ses maande later en ons aanskou Ampie se angs vir die komende storm wat kort daarna losbreek en 'n slag laat hoor wat vir Ampie oorweldig.
Weer val die skerm en as dit weer opgaan is dit die anderdagmôre en kry Booysen vir Ampie in die veld met sy kop op die dooie donkie.
Die derde bedryf speel in die woonkamer van die Tysfamilie. 'n Beter aangeklede en gelouterde Ampie verskyn nou by Annekie - - om osse te soek; maar dit blyk gou dat hy 'n beskaafde liefdesverklaring kan maak. Na dat hulle liefde ontdek is deur Tant Annie en Oom Tys, volg daar gesprekke tussen Tant Annie en Annekie, en Tant Annie en Oom Tys, oor die geval, en ook Bart verskyn om oor die ‘diekens’ te praat. Ampie verneem dat hy hom saam met Annekie moet laat aanneem. Hulle twee vra ouers en Booysen kom hulle ook sy seën bring. Ampie besluit om nie dorptoe te gaan nie, want ‘ek
| |
| |
hoor dat daar twintig duisend mense sonder werk rondloop, en ek reken nou so omie, as ek daarby is, dan is dit een-en-twintig duisend’.
Dadelik as die skerm vir die eerste keer opgaan word ons dus in die middel van die handeling geplaas. Eers daarna kom die eksposiesie van die gebeurtenisse wat daarnatoe opgelei het. ‘Dit was vanmore amper rooidag,
ANDRE HUGUENET AS AMPIE MET OU JAKOB.
toe sê Pa so ewe skielik vir my: Loop bring vir ou Jakob vendusie toe! Ek moes maar mooi vir ou Jakob hiernatoe bring.’ Die enigste aanduiding van dieper gevoel by hierdie gebeurtenis wat in die vervolg die hele lewe van Ampie moet oorheers, is dat hy die donkie se nek streel en die woorde uiter: ‘Ek is baie jammer, Omie.’ 'n Oomblikkie later word dit voorgestel asof die liefde veral uitgaan van die kant van die donkie af. ‘Ou Jakob sal terug kom,’ sê Ampie, en dit gebeur dan ook. Op blss. 11-13 kry ons die onbeteuelde van-die-hok-op-die-tak springery wat so 'n groot rol speel in die suksevolle karakteruitbeelding van Ampie, maar tog is die totaaluitwerking
| |
| |
hier onbevredigend, want veral by die begin moet die konflik duidelik gestel word om die belangstelling van die toeskouer te kry. Maar wat sien ons hier? - Dis vrees vir sy Pa wat vir Ampie amper dorptoe ja, nie sy liefde vir ou Jakob nie. En vandaar sal hy terugkom om vir Annekie te haal - arme ou Jakob raak al dadelik heeltemal op die agtergrond.
Pragtig geestig is die eerste gesamentlike optree van Ampie en Bart, maar weer is psigologies swak dat Ampie al die tyd die ring vergeet het. Uitstekend is ook weer die alleenspraak op bls. 18: ‘Sy sal spoggerig die heeldag kastig loop en beduie en met haar vinger wys, of sy haar hele lewe 'n ring gedra het. - Nee, daardie meisiekind met haar lang donker hare, wat lyk soos 'n perdestert so mooi! Aits vir die vaste lyfie wat so swaai-swaai weg stap!... O, ek storm haar tot voor haar Ma en ek pluk haar hare uit haar kop.’ Maar swak is die end: ‘Sy sê vir Bart dat sy 'n goeie edukasie gehad het en dis die waarheid!’
Op bls. 20 blyk dat Ampie tog al die tyd die betekenis besef het van wat daar met hom gebeur het. ‘Daar het skielik 'n draai in my lewe gekom. Pa wil my mos uitroei! Vandag moes ek vir ou Jakob laat opveil.’ Jammer, dat hy ons nie eerder op so 'n manier in sy vertroue geneem het nie! Dan sou ons beter besef het wat die grondmotief van al sy handelinge tot nog toe was, en meegeleef het met hom. Dan sou dit nie soos 'n donderslag gekom het nie om op blss. 22-23 te verneem: ‘Ek het my bedink. Ek sal nie meer dorp-toe gaan nie. Ek gaan my hierdie heden aan Oom Kasper verhuur. Dan is ek somar by ou Jakob ook.’ En dan sou ons meer met hom meegeleef het waar hy op bls. 25 sê: ‘My ou maat, ek wil jou terug hê, kom wat wil! Die aarde is leeg as jy uit my lewe uit is.’
En nog minder voorberei as die koms van ou Jakob hier, is dié van Dawid Nortjé en Oom Kasper kort daarna.
Die twede bedryf open met 'n onbeduidende gesprek tussen Booysen en Mevr. Booysen, waarin die eerste beweer: ‘Ons moet van Ampie 'n mens maak, ou vrou,’ en die twede: ‘Daar lê 'n plig van ons, Kasper,’ sonder die minste aanduiding dat hulle enige besef het van wat hierdie plig sal meebring. Geen wonder dat hulle eers 'n sewentien bladsye later tot die besef kom: ‘Ek sal my moet bemoei met hierdie wilde natuur’ (Booysen), en: ‘Ons sal moet arbei aan daardie natuurkind voordat hy bruikbaar vir die maatskaplike lewe sal wees’ (Mevr. Booysen). Waar was die plig dan ondertussen?
Die groot swakheid van hierdie bedryf (tot by die eerste skermval), is dat ons, afgesien van 'n paar prekies van Booysen, niks van die verbeteringsproses te sien kry nie, behalwe wat die uiterlike betref - die bring van seep en skoon klere. Al die insidente laat ons Ampie sien soos hy van die begin af was, sou dus gepas het in die eerste bedryf as 'n skildering van Ampie se oorspronklike karakter, maar is nou 'n bespieëling agterna. Die bedryf mis dus
| |
| |
stukrag; die mense kom en gaan op die toneel, maar vir die ontwikkeling van die drama is die aksie morsdood. Eers die afsêbrief gee weer enige gang aan die verhaal.
Ook hierdie bedryf is vol onvoldoende gemotiveerde gesegdes en handelinge, soos waar Mevr. Booysen skielik sê: ‘Ek sal jou klere bring’ (bls. 30); waar sy somar driftig word op bls. 31; waar Hester na 'n inleiding met ‘wat ek wou sê’ begin met Pa se boodskap (bls. 34); waar Booysen die ekskuus maak van 'n plaas te moet gaan takseer om van die toneel te kan verdwyn (bls. 35); waar Hester somar praat van ‘my liewe Ampie’ (bls. 38); waar Ampie sê: ‘'n Mens kan jou nooit glo nie, Bart’, en darem die sigrets gee (bls. 41).
Telkens laat die outeur geleenthede verbyglip om ons dieper te laat meeleef met Ampie en ons 'n beter kyk te gee op sy sielelewe, soos waar Mevr. Booysen sê: ‘Dis sonde, maar 'n mens kan darem nie help om ligsinnig oor daardie skepsel te gesels nie’ (bls. 30); waar Ampie in sy alleenspraak op bls. 38 sê: ‘Ja Annekie, dis net om jou ontwil wat ek my aan Oom Kasper verbind het (en dit nadat hy tevore van ou Jakob beweer het: ‘Die aarde is leeg as jy uit my lewe uit is’); waar hy op bls. 40 somar so droogweg sê: ‘As my jaar om is, gee ek pad van hierdie plek.’
Maar ook hierdie gedeelte is vol mooi geestige, raak gesiene gedeeltes, soos bo-aan bls. 31; die alleenspraak op blss. 35-36, ens.
Tussen die eerste skerm en die volgende toneel verloop ses maande en wat ons nou kry, die voorbereiding tot die kriesis, behoort tot die allerbeste gedeeltes van die drama - helaas dat ook dit in flouiteit moet verloop! Ek vir my kan ten minste nie insien hoe die woorde: ‘Die slag het dood gemaak! Het hy nie dalk vir Annekie getref nie? Iets het hy getref, iets van my. Ek voel dit, ek het iets verloor. Ek weet dit! Of dalk het die weer vir ou Jakob getref! Ag Here, nee, dan liewerster vir Annekie!’, hoe tiperend hulle ook al mag wees, iets anders as 'n skaterlag kan verwek nie; en so 'n skaterlag waar die hoogtepunt van die dramatiese gebeure in sig is, vernietig die behaalde effek in een slag. Maar nog meer: voor die hoogtepunt werklik bereik word, val die skerm nog 'n keer; die toneel word verander; daar word gestoei met die donkie; en dan gaan dit weer op om ons eindelik die hoogtepunt te laat sien - - - maar dan het dit al ver onder ons voete gedaal.
Na hierdie gebeurtenis verwag ons om die krieses te sien wat teweeggebring is in die lewe van Ampie, maar nee - aan die begin van die derde bedryf is dit Annekie wat aan die woord is. Ons hoor van haar dat hy goeie maniere geleer het en daar agtermekaar uitsien. Na so'n hele rukkie vertel hy vir haar: ‘Ek het genoeg verlang - vernaam vandat die weer vir ou Jakob doodgeslaan het’, maar van die sielestryd, wat dit meegebring het, kry ons niks te sien nie. Die hele psiegiese kriesis is ons dus onthou, net soos ons
| |
| |
tevore die psiegiese ontwikkeling in die huis van Oom Kasper moes ontbeer. Die gevolg is dat die hele afwikkeling wat nou volg ons ook koud laat. Buitendien is bladsye 57-63 van hierdie bedryf heeltemal onnodig vir die afwikkeling, sodat die spel ook hier heeltemal stil staan; die kleinigheid wat wel nodig is om te weet word bo-aan bls. 65 herhaal.
Deur die te geringe motivering staan ons dan ook skepties teenoor sulke mooi uitgedrukte, mooi sentimente uit die mond van Ampie, soos: ‘Hoekom is jy so wonderlik, so ernstig, my skat? Praat - praat nou, Annekie, ek - ek luister - praat! Maar as dit iets is wat ons liefde kan versteur, bly dan liewerster stil.’ Die bokke wat Ampie daarna weer skiet, bewys dat ook die outeur nie met hom saam die ontwikkeling deurgemaak het wat sulke woorde kon laat ontstaan het nie.
| |
Karakters.
Die hele drama draai om die karakter van Ampie. En ons leer hom dan ook terdeë ken na sy uiterlike, en ten dele ook na sy innerlike lewe. Ons sien hom eers in sy tooiings en later in beter klere; ons lag oor sy onbeholpenheid in geselskap en ons kan sy wrede instinkte en die bontspringery van sy gedagtes meevoel; hier en daar, soos op bls. 43, en veral in die mooi twede toneel van die twede bedryf en in die laaste bedryf, kry ons 'n kykie op sy ernstiger sielelewe en sy idealisme. En tog, die tekening van Ampie bly eensydig; hy is maar byna altyd 'n voorwerp om mee te spot; die indruk wat hy maak is lugtig en verbygaande omdat die dieper humor uit ware simpatie moes ontstaan, afwesig is. En dit is die gevolg daarvan dat ons hom nie in die momente van wrangste sieleworsteling te sien kry nie.
By die ander karakters het ons nie behoefte aan dieselfde diepte van deurdringing nie. Die geraffineerdheid van Bart, die saaitserigheid van Hester Stander, en die Bybelse filosofie van Oom Tys, die Dinker, sowel as die verdierliking van ou Goor Dawid is almal goed uitgebring, hoewel by die uitbeelding van hierdie karakters ook swak plekke voorkom, soos van Hester op bls. 38, en van Dawid of bls. 27. Maar hoe dieselfde Booysen wat so onnoselrig begin met: ‘Hy lyk 'n gawerige donkie, Ampie’, en 'n oomblikkie later: ‘Is hy 'n flukse donkie Ampie?’, somar so sonder die minste aarseling dadelik op bls. 27 besluit: ‘Dis glad nie sleg nie Ampie,’ en hoe Mevr. Booysen sonder die minste verwondering of beswaar of teenspraak die toestand aanvaar (bls. 29), bly vir my 'n raaisel.
| |
Tegniek.
Behalwe handeling verwag ons in 'n drama karakteruitbeelding en 'n kriesis. Ek is ouderwets genoeg om altwee as essensieel vir die sukses van 'n drama te beskou, en het aangetoon dat die ontbreek van die kriesis ook ver- | |
| |
antwoordelik is vir 'n belangrike gebrek in die karaktertekening. Ook het ek reeds gewys op allerlei ongemotiveerde handeling en beweringe. Maar ook afgesien daarvan is daar allerlei tegniese tekortkomings, soos die verkeerde plek waar die skerm val. So sou ons ook die hele beslommering van 'n donkie (en selfs van 'n snymasien) op die toneel, graag gemis het. Alleensprake kan nie onvoorwaardelik afgekeur word nie, en veral by die uitbeelding van 'n karakter soos Ampie-s'nne kan hulle goeie dienste doen op kritieke momente, maar wat Annekie aan die begin van die derde bedryf in 'n alleenspraak vertel, is 'n loutere eksposiesie wat baie beter op ander maniere kon meegedeel gewees het.
Om op te som: Die bou van die drama is swak, deurdat dit nie gekonsentreer is om 'n kragtig uitgebeelde psiegiese middelpunt as kriesies nie; deurdat die voorwaartse stuwing meermale ontbreek, en deur gebrekkige psiegiese motivering. Daar deur is die hoofkarakter ook eensydig en fragmentaries uitgebeeld. Verder is daar ook ander belangrike tegniese swakhede.
Daarenteen lewer dit ook voorbeelde van geheel of gedeeltelik goed geslaagde karakters op; is daar naas heelwat onbeholpe en onbeduidende dialoog, ook baie raak beeldende gesprekke. Die grootste aantreklikheid is egter die humoristiese siening van persone en situasies, insluitende goeie voorbeelde van dramatiese ironie (blss. 9, 28, 46, 68). Maar daardeur gaan die simpatieke houding wat in 'n drama soos hierdie onontbeerlik is, verlore.
Ek weet dat ek geen reg het om aan die dramatis voor te skrywe hoe hy te werk moes gegaan het nie, maar ons dramaturgie is nog op so'n stadium dat dit nuttig kan wees om aan te toon dat beide die roman en die drama self elemente bevat, wat die weg wys tot 'n bevredigende skema vir 'n suksesvolle drama.
Die kriesis kan alleen die sielestryd wees wat vir Ampie die besluit laat neem om hom voortaan uitsluitend aan Annekie te wy. Daartoe moet alles oplei. Die dood van ou Jakob is natuurlik die gebeurtenis wat onmiddellik aanleiding daartoe gee. Ander gebeurtenisse wat daartoe oplei is:
1. 'n Toneel tussen Ampie en ou Goor Dawid, waarin die laaste vir Ampie die bevel gee om vir ou Jakob te verkoop. Voor en tydens hierdie gebeurtenis kan die karakter en voorgeskiedenis van Ampie met die stemming waarin hy nou verkeer (sy liefde vir ou Jakob) goed uitgebring word.
2. Dit lei tot die verkoop van ou Jakob wat 'n belangrike psiegiese uitwerking op Ampie ('n voorkriesis) en 'n peripetie (sy in diens gaan by Booysen) ten gevolge het. In die toneeltjies wat hierop moet volg, sien ons hom weifel tussen sy liefde vir Annekie en ou Jakob, en nie alleen na die uiterlike nie, maar ook in sy innerlike lewe in opwaartse rigting ontwikkel onder invloed van Booysen.
| |
| |
3. Die afsêbrief van Annekie veroorsaak 'n twede voorkriesis wat tot die peripetie lei dat sy liefde nou weer sterk op ou Jakob gekonsentreer word, maar tog ook in ander rigtinge, byvoorbeeld na die kant van Hester toe, 'n uitweg soek.
Na die kriesis kan daar dan een of meer nakrieses, soos die ouersvraery en die aanneming kom, wat lei tot die huwelik (in uitsig of as werklikheid) as oplossing.
Ek voel daar oortuig van dat van Bruggen met so 'n skema 'n groter sukses van die drama sou gemaak het, en ook dat die skeppende talent wat hy op die gebied van die roman openbaar het, 'n waarborg daarvoor is dat hy met die nodige studie van die tegniek dit veel verder kan bring op dramatiese gebied as tot nog toe die geval was.
J.J. LE ROUX.
|
|