het ek my nogal geskaam toe sy ewe vriendelik my apologie aanneem en sê dat as ek 'n kamer wou huur ek maar effe moes wag want haar kleindogter sou weldra huistoe kom. Sy werk in 'n winkel in die stad en sou my beter te woord kan staan. ‘Ek word darem al te oud vir besigheid, soos u kan sien,’ voeg sy met haar hooggeplaaste kraakstemmetjie daarby.
Dit was die begin van 'n kennismaking wat uitgeloop het up 'n vriendskap en geëindig het met die dood van die ou dame. Ons het naamlik tot die ontdekking gekom dat sy my grootouers geken het en dat ons, heel, heel veraf maar tog buite kyf, famielie van mekaar moes wees. Nie al te dikwels nie, maar tog vry gereeld het ek haar opgesoek en ek kon merk hoe aangenaam dit vir haar was om weer so'n slaggie te sit gesels oor ou tye. Haar geheue was swak wat betref die hede, maar nog gaaf wat betref die verlede. Ek het die ou stories met graagte aangehoor, waarskynlik omdat ek na hul kon luister slegs wanneer ek wou en net vir so lank ek wou. As ek by haar ingewoon het, sou sy my dalk begin verveel het. Die kleindogter met wie ek ook kennis gemaak het, het my verseker dat haar ouma uitsien na besoekers, net omdat sy so graag verhale vir hul opdis uit die ou tye, verhale waarvoor hul loseerders, besige kantoormense, nooit tyd skyn te hê nie.
Een van die stories veral het my bygebly en gee ek hier weer. Dis geen vrolike storie nie, en toe sy my die kamer waarin die treurspel plaasgevind het, wys en met haar kraakstemmetjie gedemp tot fluistertoon vertel van die spook wat daarin nog by tye ronddwaal, was ek meer aangegryp as ek wou erken.
‘Niemand slaap hier nie, nee! My ouers het dit geprobeer, maar dit het nie gegaan nie. Ek weet natuurlik, my kind, dat jy nie hierdie storie sal rondvertel nie. As my loseerders daarvan moet hoor sal hul dalk nie wil bly nie. Party sal lag en spot, maar ek weet hoe dit is, bedags spot mens met spoke, maar as dit donker word...’
‘Het u self al ooit die spook gesien?’ vra ek.
‘Ja, toe ek 'n kind was, verskeie keer en later, toe ek as weduwee hiernatoe teruggekom het, eenkeer. My oudste seun is kort daarna dood, maar ek wil darem nie sê die spook het daar iets mee te doen gehad nie, want hy was voor die tyd al siek. Nee, ek is nie juis 'n bygelowige mens nie, maar as kind het ek haar darem baie duidelik gewaar. En toe het ek nog nie haar storie geken nie. My ouers het gesê dis alles nonsens, maar later, toe ek groter was, het ek uitgevind wat hier gebeur het, ja...’
Die kamer het muf en bedompig geruik, en die groot eiketakke net voor die venstertjie het lig en lug weggehou. Dit was somertyd en die blare was dig en donkergroen. Die einste eikeboom was getuie gewees van wat hierbinne plaasgevind het, en ook getuie van wat nou nog die kamer onbewoonbaar maak, kom onwillekeurig by my op.