aalwyn daar vóór ons getrek en hom gevra of hy al ooit daaraan gedink het dat elke laag droë blare wat van die stam afhang kan getuig van 'n jaar se swaarkry en volharding. Hy het vir 'n rukkie na die ou boom gesit en staar en toe sê hy, asof hy met homself praat:
Sugtend en treurig sy jare hy tel,
As ringe van swaarkry klou aan sy vel.
Voordat ons daardie aand uitmekaar gegaan het, het ek heelwat van my nuwe kennis se geskiedenis gehoor: Sy vader is 'n gebore Duitser, sy moeder 'n gebore Engelse dame, ‘en ek is 'n gebore Afrikaner’! het hy trots uitgeroep. Hy was drie tale magtig: sy vadertaal, sy moedertal en sy landstaal. Dit is vir die laaste van hierdie drie wat hy so'n groot liefde gekoester het. In die Afrikaanse taal was Schlengemann die tuiste. Hy het selfs 'n merkwaardige meesterskap daaroor betoon.
Die publiek het nog maar net 'n paar gedigte van Schlengemann te lese gekry; maar niettemin het sy eerstelinge die bewondering van ontwikkelde mense afgeverg en was hulle ook gewaardeer deur minderbevoorregte mense. 'n Eensame Afrikaanse moeder daar op 'n uithoek van Suidwes Afrika het my kort gelede geskrywe: ‘Ek sluit vir jou, my seun, een van Schlengemann se laaste gedigte in. Hou dit in bewaring. Arme man!’ Dit was ‘Die Naggees’ wat gespreek het tot 'n bekommerde moederhart. Maar sal dit nie ook by die jagter langs sy kampvuurtjie en by die veewagter agter sy takskerm byval vind nie? Omdat Schlengemann altyd in voeling was met intellektuele mense sowel as met die eenvoudigste veeboere, en omdat hy die welvaart van albei klasse op die hart gedra het, sou hy ook geweet het hoe om ingang tot hulle harte te vind. Leof Tolstoï het altyd 'n boodskap gehad vir sy lesers, onverskillig tot welke stand hulle behoort het. Ons noem hom 'n kunstenaar, wat kan ons 'n jong Afrikaner anders noem wat met sy paar eerste gediggies al 'n warm plekkie gevind het in die hart van 'n eenvoudige boerevrou, en die admirasie weggedra het van mense nog beter ontwikkeld as hyself?
Schlengemann was journalis van beroep; maar sy ambiesie was om skrywer te wees. Wat sou sy boodskap gewees het? Helaas, sy roman was nog skaars begin toe hy dit vir altyd moes laat staan! Die geskiedenis van die eerste Afrikaners in Suidwes-Afrika wat hy wou skrywe sal deur 'n ander pen geskryf word, miskien gladnie eers nie. Sy navorsingswerk in verband met die taalmenging in Suidwes Afrika was ook nog nie afgehandel nie. Sal die eienaardige natuurtonele van 'n land met sy uitgestrekte bosvlaktes, sy sombere berge, droë sandriviere en sy woestyne vir 'n ander net so kan inspireer as vir Schlengemann? Die Natuur het met hom gepraat en hy het haar besing. Maar hy kon nie net die natuur daarbuite waarneem en verstaan nie; hy kon ook 'n ander se vertolking daarvan waardeer. Eendag het hy na 'n uitstalling van Gregoire Boonzaier se skilderstukke gaan kyk met die doel