| |
| |
| |
FOTO:
JOCHEM VAN BRUGGEN.
| |
| |
FOTO:
JOCHEM VAN BRUGGEN.
| |
| |
| |
Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere
DEEL 2. No. 3. PRETORIA. AUGUSTUS 1930
| |
Van Tom die Rymer en die Derde Pad.
'N LIED wat mens as kind dikwels gehoor het, laat nie alleen 'n onuitwisbare indruk agter nie, maar leef ook voort in die herinnering as ‘'n ou lied’, selfs al is dit miskien jonger as jyself. Maar om op te gegroei het met 'n lied wat waarlik oud en daarby waarlik skoon is, is 'n onskatbare voorreg. Daar is selfs die wat beweer dat 'n lied oud, heel oud moet wees om waarlik te kan bekoor. Deur hoe meer geslagte dit al geklink het, des te groter en magtiger die bekoring.
Die musiek van Löwe se ‘‘Tom der Reimer’ is weliswaar nog geen twee eeue oud nie, maar die woorde voer ons terug tot die gryse verlede, 'n feit wat die komponis nie uit die oog verloor het nie. In my kinderjare het ek dit hoor sing, geensins soos dit behoort gesing te word nie, dog selfs daardie gebrekkige poging het my die lied as lied leer liefkry en my laat verlang om dit tot sy reg te hoor kom. Nou die ander dag na lang jare is daardie wens vervul. Ek het 'n uitstekende grammafoonopname daarvan gekry en kan nou na hartelus luister. Dis 'n eienaardige lied, 'n lied waarvan mens nie gou moeg word nie.
Toe ek op Kollege was het ek kennis gemaak met die oorspronkelike Skotse ballade ‘Thomas the Rhymer’ en uitgevind dat die woorde van Löwe se lied nie slegs 'n vertaling is nie maar ook 'n verkorte, enigsins gemoderniseerde verwerking van die oorspronkelike. Graag sou ek aan ander iets probeer meedeel van die wonderlike towermag wat van lied sowel as van ballade uitgaan. Ek sal dan maar begin met die kunslied en daarvandaan terugwerk. Die woorde voer ons ver, ver terug, dis 'n sprokie waarvan in verskillende tale verskeie variante bestaan, 'n sprokie wat so oud soos die wêreld maar tegelyk ewig jonk en fris is. 'n Kind kan die sprokie as sprokie geniet en nie verder wil vra of indring tot sy diepere betekenis nie. Party volwassenes vra ook nie verder nie en sê hul het die sprokies van hul kinderjare reeds ontgroei. Party wil nie eens meer vir hul kinders sprokies vertel nie.
| |
| |
Maar dis nou nie tyd of plek om daarop in te gaan nie. Ons bepaal ons maar by diegene wat nog hul ore wil verleen aan 'n sprokie en die diepe lewenswaarhede wat dit bevat.
Die sprokie is kortliks as volg. Tom, of Thomas die Rymer lê een somerdag en mymer onder 'n boom langs 'n bekie in die nabyheid van Huntly Slot. Meteens verskyn daar voor hom 'n wonderskone, blonde vrou gesete op 'n sneeuwit pêrd aan wie se kunstig gevlegte maanhare silwer lokkies hang. Tom haal sy hoed af, kniel neer en begroet haar met die woorde:
‘Du bist die Himmelskönigin,
Du bist von dieser Erde nicht!’
of, soos in die Skotse ballade:
‘All hail, thou mighty Queen of Heaven!
For thy peer on earth I never did see!’
Daarop antwoord die blonde vrou dat sy tog nie die Hemelskoningin is nie, maar wel die koningin van die Elweryk. Sy versoek hom om vir haar te speel op sy harp en te sing. Maar as hy 'n kus op haar lippe druk, sal hy haar sewe jaar moet dien.
Tom antwoord dat die vooruitsig om haar sewe jaar te moet dien hom geensins afskrik nie. Hulle soen mekaar, en ry saam weg deur die groen woud. Die son skyn vrolik op hul neer en 'n voëltjie sing lustig. Ook die silwer klokkies aan haar sneeuwit perd lui glas-helder telkens wanneer sy aan die teuel trek.
Tot sover die lied van Löwe, met sy onvergeetlike begeleiding waarin gehoor word die lomerige blaregeritsel as die wind deur die takke vaar, en die gemurmel van die bekie. Ook silwerklokkies klink daartussen, sowel as harpakkoorde, hoefslae, en voëllied, en die laaste wat gehoor word is die klokkies, terwyl die wit perd vir Tom en die koningin wegdra na haar Elweryk alwaar hy haar sewe jaar lank sal moet dien.
Hier, by hierdie uiters effektiewe punt, breek die lied af, maar die ballade gaan nog verder en gooi nog meer lig op hierdie sprokie wat, soos Frederik van Eden se storie van ‘De kleine Johannes’: -
‘toch alles werklijk zo gebeurd is.’
Soos tevore gesê is ou ballades vol van verhale van mensekinders wat kennis maak met bewoners van die elweryk, en gewoonlik eindig die kennismaking noodlottig vir die mensekind. Maar nou word beweer dat Tom, of
| |
| |
Thomas die Rymer regtig gelewe het in die dertiende eeu en wel te Ercildoune (Earlston), in Berwickshire. Huntly Bank en Eildon Tree (‘Eschenbaum’, sê die Duitse lied), se lokaliteit word nou nog aangeduie deur 'n groot steen. Thomas was 'n middeleeuse digter en siener en volgens oorlewering regtig eendag ontvoer geword deur die koningin van die elwe. Ons hoef dit nie te glo as ons nie wil nie, watter saak maak dit eintlik? Maar diegene onder ons wat self digterlik aangeleg is hou van die storie en sien hom duidelik in ons verbeelding sy harp opneem en die eensaamheid van die woud naby Huntly Slot opsoek. Daar, o wonder, ontmoet hy die elwekoningin.
Volgens die ballade was sy in groengeklee, die geliefkoosde kleur van sulke bonatuurlike wesens. Thomas, 'n goeie Rooms-Katoliek, het haar eers aangesien vir die Heilige Jonkvrou, maar sy het hom gou uit die droom gehelp. Sy was ‘but the Queen of fair Elfland’, onsigbaar vir die gewone sterfling, maar nie vir die digter en siener nie. En Thomas, hoewel 'n goeie Katoliek en seker dikwels gewaarsku teen sulke wesens deur sy Kerk, kon die versoeking om haar te volg en te dien nie weerstaan nie.
Nou gaan die ballade voort, waar die kunslied van latere datum, afbreek, en die sonnige woudstemming, sowel as Thomas se oorstelpende geluk, (‘Wie glücklich da der Reimer war!’ vertel ons die lied) maak plaas vir huiweringwekkende misterie. Hy en die elwekoningin ry voort op die perd wat vinniger as die wind gaan tot hul kom by 'n uitgestrekte woesteny:
‘And living land was left behind.’
Hul klim af van die perd en gaan sit. Thomas moet sy hoof op die skoot van die elwekoningin neerlê, en skielik word hy heldersiende en gewaar voor hom in 'n visioen drie paaie. Daar is die smalle pad, besaai met dorings en distels, die pad van geregtigheid, waarna min verneem. Daar is die breë pad tussen bloemryke velde, wat lei tot die verderf, howel sommige meen dis die pad na die hemel maar daar is nog 'n derde pad, die pad wat voer tot die ryk van die elwe. Langs die aanloklike pad neem sy nou die digter, die siener, en sy waarsku hom vooraf om geen woord te uiter nie, anders sal hy nooit weer tot die syne terugkeer nie. Nou word die reis moeitevol en gevaarlik. Hul gaan deur riviere waarvan die waters tot bo hul knieë kom, hul sien geen son of maan nie, maar hoor slegs die wilde golfgeklots van die see. Ook moet hul gaan deur riviere van bloed, dis al die bloed wat op aarde vergote word. Eindelik kom hul by 'n wonderfraai tuin waarin daar 'n appelboom staan, en van die vrug wil sy hom gee om te eet. Dan sal sy tong nooit iets anders as waarheid kan verkondig nie.
Of Thomas die vrug van haar aanneem en eet is 'n netelige punt waaroor ou vertellers en skrywers dit nie eens is nie. Maar die feit bly dat Thomas sewe jaar lank in die Elweryk, so verloklik en tewens so gevaarlik vir 'n mensekind, vertoef het.
| |
| |
'n Mooi sprokie, so mooi op sigself dat mens wonder of dit nou nog nodig is om dit te probeer verklaar, en te sê dat 'n figuur soos Thomas aan geen tyd of plek gebonde is nie, maar in alle tye en in alle lande nog gevind word. Immers elkeen wat die naam van digter, siener of denker dra, word op die een of ander tyd in sy lewe weggevoer deur ‘die Blonde Vrou’, die boweaardse skone wese, na 'n wonderland. Hy dien haar trou en al keer hy later terug tot die wêreld, tog sal hy nooit weer dieselfde mens van voorheen wees nie. Hy het mos gesien en gehoor en ondervind wat vir ander verborge bly. Hy het die derde pad betree, terwyl meeste mense genoeg het aan een van die ander twee paaie. Thomas se tydgenote wou nie eens hoor van so 'n derde pad nie, vir hul was dit net 'n kwessie van hemel-toe of hel-toe. Maar Thomas was moedig gewees, of anders het die blonde vrou hom met moed besiel. Eers was dit alles so mooi en lieflik, maar toe het daar gekom vrees en angs soos min ander ondervind. Daar was wilde golwe wat hom wou verswelg, en hy hon hul nie eers sien nie, netmaar hul gedonder het in sy ore weerklink. Deur riviere van bloed moes hy waad, die lyding van die ganse mensdom het hom terneergedruk. Maar die blonde vrou het hom veilig deur alles heen gebring tot by die boom van kennis. Of sy hart hom begewe het toe hy moes besluit of hy daarvan gaan eet of nie, is 'n geheim wat onopgelos bly.
Wie of die blonde vrou mag wees? Sy noem haarself eenvoudig die elwekoningin, maar dit bring ons nie baie verder nie. Sy laat onwillekeurig vir ons dink aan wat deur klassieke skrywers nou nog genoem word ‘die blonde Muse’. ‘Inspirasie’ mag ook een van haar name wees, of selfs ‘Fantasie’. En 'n besoek aan die Elweryk, sou dit slegs wees 'n besoek aan die Ryk van die Verbeelding, verlokkend en gevaarlik tegelyk? Of is dit iets meer?
Primitiewe volkere staan vol vrees teenoor die natuur, en al haar manifestasies word deur hul verpersoonlik. Vuurvliegies wat oor moerassige grond swewe word vir hul dwaalliggies, bose geeste, of siele van diegene wat in sonde gesterf het en nou tot in oneindigheid gedoem is om die lewendes in die verderf in te lok. Gevaarlike stromings of draaikolke wat bote laat verongeluk word verklaar deur verhale van wonderskone wesens wat op klippe sit en sing sodat die bootsman, deur hul sang betower, sy boot laat omkantel en verdrink. In die klaende gehuil van die wind hoor hul stemme van geeste wat onheil voorspel, en digte, donker woude is die verblyfplek van feë, elwe en kabouters. Sou die bygeloof slegs ontstaan het uit die fantastiese vorms wat bome, mosbegroeide rotse, slingerplante en paddastoele kan aanneem, of uit skuwe diergesiggies wat soms tussen die blare loer en vinnig weer verdwyn? Die feit bly dat daar vir ons voorouers 'n wonderwêreld was wat hul orals omring het, 'n wêreld vol geheimsinnighede waarvoor die mens maar liewer moes padgee sover moontlik. Toe die Kristendom die oorhand gekry
| |
| |
het, was daar veel heidense bygelowe, wat nie so maklik kon afgedank word nie. Party is op uiters vindingryke manier herskape in kristelike instellings, soos byvoorbeeld die kersbom met liggies. Dis 'n onderwerp wat ewe uitgebreid as boeiend is, en ek wens ek kon langer daarby stilstaan. Maar vele ander heidense bygelowe is eenvoudig opsy geskuiwe en bestempel as uit die duiwel. Die middeleeue was donker tye, vol vrees en bygeloof. Die kerk was 'n ware toevlugsoord, bose geeste kon deur die priester besweer word, maar dit was almal geraai om liewers 'n baie smal paadjie te bewandel en hulself te bepaal by veilige, alledaagse dinge. Kennis was uit die duiwel, behalwe dié waaroor die Kerk beskik het. En die wonderwêreld van die natuur, die plante- en diereryk, die ongemete kragte, al die honderde geheime wat vir ons nou hedendaags reeds so lankal opgelos is deur die wetenskap dat ons skoon vergeet daar was ooit 'n tyd toe hul duistere geheime was, dit alles was 'n geslote boek en om sy seëls te probeer breek was 'n doodsonde.
Die ryk van die fantasie en die ryk van die natuur is per slot van rekening tog maar een en dieselfde ding. Maar in die middeleeue was daar nie soiets as droë, dorre, wetenskaplike waarneming nie. O nee, die geheime van die natuur was mistieke wondergeheime, om hul te probeer deurgrond was om 'n towenaar te wees, wat 'n verbond gesluit het met die Vors van die Duisternis. En nou weet ons wat die derde pad was wat Thomas aan die hand van die elwekoningin betree het, die pad so vol bekoring en verskrikking, wat gelei het tot die boom van kennis. Dit was nie die pad na die hemel nie, en ook nie die pad na die hel. Dit was 'n pad waarvan die Kerk van die dae niks wou weet nie, 'n pad wat mooi en verlokkend begin maar lei.... ja, wie weet waarheen? Of het ons al tot op die end daarvan gekom?
En nou kan ek nie nalaat om ook gewag te maak van 'n ander, die vroulike pendant van Thomas, naamlik Kilmeny, van wie James Hogg ons vertel in 'n lang gedig, beginnende:
‘Bonny, Kilmeny gaed up the glen...’
om blomme te pluk en na die gesang van die voëls te luister, maar tog nie om 'n vryer te ontmoet nie, sê hy,
‘For Kilmeny was pure as pure could be...’
Wel, ook sy het sewe jaar weggebly, nes Thomas. Toe alle hoop opgegee, en misse vir haar arme siel gelees was, toe, een aand:
| |
| |
‘Late, late in the gloaming, Kilmeny came hame...’
Op al die honderde vrae tot haar gerig kon sy niks antwoord nie.
‘Kilmeny looked up with a lovely grace
But nae smile was seen on Kilmeny's face
And still was her look, and as still was her e'e
As the stillness that lay on the emerant lea
Or the mist that sleeps on a waveless sea.
For Kilmeny had been she knew not where
And Kilmeny had seen what she could not declare...’
Dus gaan die digter maar voort om ons iets te probeer vertel van die wonderland waar sy gewees het, van die elwekoning die slag, en van die vreemde, bonatuurlike wesens wat haar met ope arms ontvang het, omdat sy die beste en reinste van alle meisies was. Ook probeer hy ons vertel van die wonderlike visioene wat sy gesien het, en hoe sy later die wens uitgespreek het om tog maar weer tot die hare te mag terugkeer. Dis haar dan ook vergun, maar toe vind sy uit, helaas!
‘It wasna her hame, and she couldna remain,
She left this world of sorrow and pain
And returned to the land of thought again.’
Dus alweer 'n sinspeling op die gevaarlike verlokking van die Elweryk, hier aangeduie as ‘the land of thought’. Dit lyk of die digter te kenne wil gee dat die geheimsinnige oerkragte van die natuur, die wondere van die plante- en diereryk so 'n geweldige vat kan kry op die mens wat hom te seer daarin begin verdiep en tot sy donkerste geheime wil deurdring, dat dit uiteindelik lei tot verwydering tussen hom en sy medemens. Vir Kilmeny het dit bowemenslik gemaak, vir ander sou dit miskien onmenslik maak. Per slot van rekening is die mens tog maar bestem om met sy medemens om te gaan, en enigiets wat hom te seer aftrek van hul kan gevaarlik word, vir hom sowel as vir ander. Dis miskien nog 'n rede waarom ons voorvaders so bang was vir die Elweryk, en hoekom die ou Grieke gesê het geen sterfling kan vir Pan, die god van die natuur, van aangesig tot aangesig sien en nog bly lewe. Daar is dus, studies wat ons in nouer aanraking bring met ons medemense, en ander wat ons van hul kan wegtrek.
Ook Van Eeden se Kleine Johannes het so opgegaan in sy elwe-, feë- en kaboutervriende (wat tog maar niks anders was dan insekte, diere, plante en bome) dat hy die mense begin haat het en nie tot hul wou terugkeer nie. Later, teen wil en dank weer onder hul, ‘de menschheid en hun weedom’ sing hy:
| |
| |
‘Als ik wil zeggen wat mij deert
Verstaat mij ieder mensch verkeerd,
Maar rozebloem en nachtegaal
Die zeggen 't mij in schoner taal.’
En dit het hy gesing nadat hy onder die leiding van Dr. Cyfer in laboratorië gewerk het, en met Markus onder die sosialiste gewees het! Ook vir hom het die pad na die Elweryk mooi begin, maar nie altyd so gebly nie.
Die Elweryk, beskou in die sin waarin ons dit probeer verklaar het, sal wel altyd die mens bekoor, hoewel ons sogenaamde beskawing en kennis dit ontroof het van sy mistieke verloklikheid. Dis nie meer verbode terrein nie, en ook nie meer onbekende terrein. As ons nou nog die heerlike gewaarwordings van vrees, half oorwen deur nuuskierigheid, wil smaak, moet ons ver soek, dit lê nie meer voor ons deur nie. Daar is weliswaar nog die onopgeloste geheime van telepatie, van spiritisme, van wat in ons land bestempel word as ‘toordery’ en ‘golery’. Maar selfs dan nog bly dit 'n vraag of daar hedendaags nog vir 'n Thomas of 'n Kilmeny iets te vind is. Soms lyk dit of ons tot die end van die derde pad gekom het, en vir ons maar moet tevrede sted met verhale uit die gryse verlede van hoe ons voorouers dit met angs en bewing, en gebuk gaande onder die vloek van hul kerk en hul samelewing, bewandel het. Die besef van duistere gevare voor, en vervloeking agter hul, het miskien juis vir hul tot spoorslag gedien. Nou hedendaags vrees en vervloek ons nie meer nie, maar spot met diegene wat nog praat van onopgeloste misterieë. Onopglos, ja, maar daarom nog geen misterieë nie! Die wetenskap het 'n verklaring vir alles, ons moet maar net die formule ontdek, en dan sal selfs die geestewêreld vir ons iets alledaags word.
Ons beny nou amper vir Thomas, vir Kilmeny, vir al die mans en vrouens van lang, lang gelede wat volgens oorlewering kennis gemaak het met die elwe en die elweryk besoek het, al het dit dan ook in die meeste gevalle vir hul duur te staan gekom. Nie almal het so ver deurgedring soos Thomas en Kilmeny nie, nie vele het dit tot sewe jaar gebring nie.
Die moedige jongeling in die ou Sweedse ballade wat op die elweheuwel in slaap geval het, het geweier om met die elwe-jonkvroue wat hom besoek het, te dans, en was dankie bly toe hul met hanegekraai verdwyn het. Hul het mos gedreie om sy hart uit sy lyf te sny as hy aanhou weier! Sleg en gevaarlik is die elwe, en wee die mens wat hom met hul afgee! So het ons voorouers gereken. Maar nou hedendaags is die gebied van die elwe klein, baie klein geword....
Ek weet daar is dié wat dit bepaald jammer vind om sprokies, mietes of sages so te probeer ontrafel. Hul het genoeg aan 'n Dafne wat deur Apollo agtervolg word en in 'n boom verander, aan 'n Brunnhilde wat lê en
| |
| |
slaap in 'n kring van vuur waardeur slegs 'n sterke held sy weg kan baan, aan 'n bloubaard se vrou wat, deur nuuskierigheid gedryf, die deur van die verbooie vertrek oopsluit. Sê vir hul dat Dafne die doudruppels is wat voor die son moet wyk en opgeneem word deur die planteryk, dat daar, selfs hedendaags, nog meisies is soos Brunnhilde, ontoeganklik vir almal behalwe vir die een sterke held, sowel as Bloubaarde en hul nuuskierige vrouens wat maar nie die verlede met rus wil laat nie, dan reken hul die sprokie is as sprokie bederwe vir altyd. Vir ander weer word dit hoe langer hoe duideliker dat elke ou sprokie, miete of sage 'n diepe lewenswaarheid bevat. En om terug te keer tot die persoon met wie ons begin het, Thomas die Rymer, hy het, toe hy na sewe jaar in die Elweryk teruggekeer het, vir ons die storie van sy ervarings nagelaat in die vorm van 'n mistieke ballade, waarvan gesê kan word soos Van Eeden, baie eeue later, van sy soortgelyke vertelling:
‘Het heeft veel van een sprookje, mijn verhaal, maar het is toch alles werklik zo gebeurd. Zoodra gij het niet meer gelooft, moet ge niet verder lezen, want dan schrijf ik niet meer voor u.’
MARIE LINDE.
| |
| |
(Uit die S.A. Kunsgalerye. I.: Pretoria.)
PRESIDENT KRUGER.
| |
| |
GEDIG DEUR A.D. KEET.
|
|