moontlikhede in die vissersbedryf sien en in vervoering raak oor die heerlikvrye lewe op die golwe. Hy vind 'n willige bondgenoot in sy moeder, arme versukkelde Trynie, wat deur 'n lewe van swaarkry en gedurige angs oor die veiligheid van haar man maar al te goed weet hoe weinig winsgewend en gevaarlik die vissersbedryf is.
Die botsing tussen vader en seun word met fyn sielkundige insig geteken en kulmineer in 'n heftige rusie van sterk-dramatiese spanning. Johan se begeerte na selfstandigheid word aangewakker deur sy liefde vir Nelie, en gedurig geprikkel deur die skimpe van sy aartsvyand, Rooi-Koos. Hy wil die wye wêreld in om 'n onafhanklike bestaan te verower; sy jong lewe mag nie in die ou vissersdorpie uitdroë ‘soos die snoeklywe onder die afdak nie’. Bitter is die stryd wat Johan moet voer tussen die kinderlike liefde wat dit vir hom onmoontlik maak om sy vader se ideaal meteens te verpletter en sy eie steeds sterker wordende lewensdrang, wat hom prikkel tot koppige verset.
In die vaal-eentonige reëndae, wat hom vaskeer in die armoedige vissershut, groei sy wrok teen die vissersbedryf, wat niks anders as leeglêery of skrale wins kan bring nie. Die werklus prikkel elke spier in sy liggaam en hier moet hy geduldig en gedwee op mooi weer sit en wag! Met moederlike tak slaag Trynie daarin om hom vertrouelik te laat gesels oor sy toekomsplanne, wat langsamerhand vaste vorm begin te kry.
Maar dan kom Hans binne. Soos gewoonlik is sy kop vol grootste planne vir die toekoms, en selfs ernstige moeilikhede met die vissersvolk kan sy optimisme nie blus nie. Hy sal alle moeilikhede oorwin, ook die verbygaande onwilligheid van Johan. As die nuwe skuit aankom, raak hy weg in ekstatiese visioene. Die kind van die see het eindelik die speelgoed van sy liefste droom bemagtig.
‘So 'n seeperd hê, dit lyk of hy nou-nou die branders wil sny’, juig dit in sy siel. En daar op die strand doop hy die skuit Johan, want sy twintigjarige seun sou hom mos help om die ou seemanstradiesie in volle glorie te laat herleef.
Al te spoedig maar word hierdie lewenslang gekoesterde illusie wreed verstoor. Hans, wat die hart van die see so goed ken, het die hart van sy seun maar sleg begryp. Johan beleef 'n ernstige kriesis, maar as laaste offerande van sy kinderlike liefde onderdruk hy sy afkeer van die see en gaan saam op die eerste vaart.
‘Hans-die-Skipper se wens was werklikheid. Sy siel was in die hemel. Hy was nie meer Hans-die-Skipper nie, nie meer op die see nie, maar die deining self 'n stuk van die see self.’
In hierdie opgetoë stemming is hy minder versigtig as gewoonlik en alleen met 'n uiterste kragsinspanning kan hy die nuwe skuit deur 'n geweldige