Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 127] [p. 127] Smaragde. I. Een siel het in die doderyk gedwaal, Belas met erfsonde, skuld, selfverwyt; Bewus van oordeel en van strafbaarheid, Verdoemenis waarna hy seker daal. 'n Sagte stilte suis; 'n bliksemstraal Vertoon die siel in al sy nietigheid: Dan rys 'n wondersoete stem wat pleit Op bloed wat al die siel se skuld betaal. Verlate en, o, moedersiel alleen, Verstote, treurig met betraande oog Het ek voor jou gestaan, jy was die een... Die enigste wat elke traan kon droog; Jou liefd' het my omvang, - 'n gulle seën, Wat my veredel, vryspreek en verhoog. II. En voor die slaap die oë saggies soen... Dwaal ons weer hand aan hand die weelde deur Van daardie towertuin, vanwaar met geur Van bloeisels van die appel en lemoen Die windjie trek oor lanings donkergroen; Of by die stroom waar wilgers bewe, treur; Of waar die blomme met hul vlamme kleur Die hart, met puur genot, geweld aandoen. Vlug dae, nagte met aanloklik' dwang, Soos skoenlappers, 'n bontgedoste stoet, Dan skielik deur die geesdrif gly 'n slang... Twee lewes saamgevleg; in vuur'ge gloed Was elk bewys met weerbewys vervang... En angstig bruis die hartstog deur die bloed. [pagina 128] [p. 128] III. Ver in my droomland lê 'n kuil - 'n plas Van silwer water waarop lelies droom: En blou-groen skaad'wees sluimer aan die soom Oor my eensaam gebuk met sielelas. Verkleur die son die hemel bleek soos as, En stort sy beeld in goue gloriestroom In my verlate kuil: ek buk in vroom Verrukking oor sy beeld weerspieël in glas. Verniet het sekerheid my hoop gevlei, Want oor my sonnebeeld, oor my geluk, Het donker wolkesluiers rou gesprei: Vergete sielsmart laat sy las weer druk. O sonnebeeld... jou liefd' geleen vir my... O sluierwolk... jou liefde my ontruk... IV. Swart krul die sware lanfers om die brein Van hom wat die papawergod vereer Doodmoeg het hy vergetelheid begeer Waarin sy smarte en sy angs verdwyn. O wondermag, verlos, bevry van pyn, Skiet hy omhoog, gedrywe soos 'n veer, Versmelt in heil'ge ruimtes, en regeer 'n God in glans van smarag en robyn. Skerp skiet in sy gemoed die nugt're smart, - 'n Gift'ge pyl met kennis weer begaaf, Hy soebat met die wanhoop aan sy hart Gif wat hom nou beheers, sy sielsangs laaf... Verag deur jou dwaal ek halfsuf, verward; Geboei deur liefde bly ek tog jou slaaf. T. REYNOLDS. Vorige Volgende