Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930
(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 106]
| |
Die Ongeluk.BLEEK en ontdaan het my vriend by my kom binneval. So aangegrepe het ek hom nog nooit van tevore gesien nie. Sy anders ronde, vrolike, goedmoedige gesig was vervalle, swaar, oud. Diep groewe het langs die hoeke van sy mond afgeloop. Sy oë het angstig-benoud, soos die van 'n gevange dier, gestaar; sy neus en mond het senuweeagtig getrek. Sy hand was klam en koud toe hy dit vir my gee, klam en koud soos die van 'n dooie. ‘Magtig, man! wat makeer jou?’ roep ek verskrik uit toe ek hom sien. ‘Is jy siek? Jy sien daar aaklig uit!’ My vriend probeer my 'n antwoord gee, maar kon blykbaar geen afgeronde gedagte vorm of sin formuleer nie. Hy uiter 'n paar afgebroke, verwarde woorde - klanke liewer -, hou op, kyk my met sy kranksinnigangstige oë aan, slaan ineens sy hande voor sy gesig, ril oor sy hele liggaam en draai hom weg. Sy gedrag het my natuurlik nog meer verskrik; ja, heeltemal ontstel. Soiets het ek nog nooit van hom meegemaak nie; sou dit van hom, goedrond, gemaklik en opgewek soos hy gewoonlik was, nooit verwag het nie. ‘Hemel! man,’ sê ek angstig, en sit my hand op sy skouers, ‘wat is dit dan tog?’ Toe ek my hand op sy skouer lê, was dit of daar 'n rilling deur sy liggaam gaan. Toe voel ek sy liggaam langsaam verstyf; hy rig sy kop op; en draai hom langsaam naar my om. Dit was of sy hele gesig ontspan, sag word, of sy oë vogtig word. Toe sy oë weer vol in myne kyk, rol daar langsaam groot trane uit. Vreemd te moede en aangedaan, kon ek nie help dat my oë ook vogtig word nie. Ek neem albei sy hande in myne, en beseftende dat hy iets baie pynliks en gewigtigs op sy gemoed moes hê, sê ek, ‘Kom ons gaan sit’ en lei hom, sag-dringende, naar die hoek van my kamer waar twee groot leuningstoele staan. Saggies du ek hom in die een stoel en loop naar die muurkas, menende om hom 'n sterk glas brandewyn en water te gee. Hy het egter my bedoeling begryp en keer my. ‘Net 'n glas water, asseblief’, sê hy, op so 'n weemoedig-skrynende toon, dat dit my hart byna tot huilens toe seer maak, en ek moeite het om nie soos 'n moeder naar hom terug te loop, my arm om sy skouers te slaan, en met hom saam huilende, hom te kry om sy leed te kla nie. Maar ek bedwing | |
[pagina 107]
| |
my, bedenkende dat kalmte onder omstandighede van groot aandoening altyd die beste is, en bring hom die glas water. Hy het dit langsaam uitgedrink en kennelik met moeite. Dit was duidelik dat hy hom geweld aandoen. Maar die water het hom goed gedoen, en eenmaal ingestel tot selfbeheersing op een gebied was dit hom makliker om homself tot selfbeheersing ook op ander gebiede te bring. Hy leun agteroor in sy stoel en maak sy oë toe. Sy hande klamp hy oor die eindes van die stoelleunings vas. Hy was aan bedaar. Die aanvanklik nog krampagtige grypwoelinge van sy vingers om die leuningeindes, die trekkings van sy gesig, word hoe langer hoe minder. Eindelik sit hy daar stil, maar bleek en vermoeid, en lyk met sy geslote oë, soos 'n doodsieke in sy slaap. Ek het dit beter geag om nie te praat nie, om hom nie met voorbarigdringende vrae tot miskien geprikkelde en onklare uiting van sy gemoed te bring nie. Maar my hart was vol medelyde vir hom, my vriend; vir hom, anders so opgewek, met die gulle lag, die stralende gesig, die klankvolle stem, wat in begrypende skerts, my hart so verwarmend kon opbeur, vir my, gewoonlik die teenoorgestelde van homself, die ernstige, die swaarmoedige, die gebukte draer van die lewe se laste. Weliswaar my lewe was ook altyd moeiliker, veel moeiliker gewees as syne. As kind van eertyds vermoënde maar later verarmde ouers het ek my swaar moes inspan, my baie ontbering moes getroos, 'n nie te sterke liggaam oorhou, om eindelik 'n paar jaar rustig in Europa te kan studeer. Maar my vriend, medestudent in hierdie mooi Duitse stadjie, se lewe was heel wat aangenamer en makliker gewees. Seun van 'n ryk fabrikant het selfs die jare van die groot oorlog sy familie min ontberings veroorsaak; inteendeel, sy vader het groot skatte toe en daarna verwerf. En nou was hy reeds 'n paar jaar lang student in die regte; het pragtige kamers naas my betreklik armoedige gehad; en het selfs kort gelede op sy verjaarsdag, 'n pragtige tweesitplek toermodel Benz-motorkar van sy vader present gekry. Want hy was geen slegte student nie. Hy het sy plesier geneem, maar ook sy werk gedoen, en, intelligent soos hy was, juis voor sy verjaarsdag, 'n belangrike eksamen goed afgelê. Maar die Benz was ongetwyfeld sy lus en lewe sedert hy dit gekry het, en gepaard met 'n sedert kort opgevatte liefde vir 'n meisie in sy geboortestad, het hy in die gewoonte geraak om Saterdags vir die naweek huistoe te ry, 'n afstand van ongeveer 'n kilometer of tagtig. Meteens skrik ek op waar ek hom so sit en aankyk. 'n Gedagte flits skielik deur my brein. Dis waar ook, ek het dit vir die oomblik vergeet, maar hy moes eintlik tuis wees. Eergistermiddag, wel geen Saterdagmiddag nie, maar 'n Woensdag wou hy tog huistoe ry om sy meisie 'n verrassing te besorg. Sy sou gister verjaar. En nou sit hy hier, verwese, ontdaan! Wat het tog gebeur? Iets met sy meisie - 'n rusie? Maar sou dit hom so geweldig kon | |
[pagina 108]
| |
aantas, in so korte tyd? Sou 'n liefdesuitval, hoe heftig ook en pynlik, vir hom, opgewek van aard en geneig om die gewone moeilikhede van die lewe maklik van hom af te skud, dermate kon aangryp, kon pynig, kon beangs? Het hy dieptes van gevoel waar ek nog nooit naar vermoed het nie? En was sy gevoelens tog kwetsbaarder as ek gedink het? Miskien. Maar tog snaaks. Het ek my dan so in sy geaardheid vergis? En toe ineens begin hy te praat, toonloos, kragloos, dof, soos 'n sieke: ‘Jy weet, ek is eergistermiddag hier weg om my meisie 'n verrassing met haar verjaarsdag te besorg. Jy weet ook dat ek in die reël 'n versigtige ryer is wat geen riesikos neem met wilde jaery nie. Jy sal jou ook herinner dat ongeveer halfpad tussen hier en my woonplek 'n herberg langs die pad staan, waar dit my gewoonte is om stil te hou en 'n glas bier te drink voor ek verder gaan. Miskien onthou jy ook: 'n mens ry eers 'n lang heuwel af; bosse staan weerskante van die pad; die pad is so te sê reguit; maar onder aan kry jy skielik 'n skerp draai. 'n Gedeelte van die draai bestaan uit 'n smal brug. Net anderkant die brug staan die herberg.’ Meteens verstyf my vriend se lyf; sy oë, wyd-ope, staar angstig voor hom uit; sy hande klou teen die leunings vas; sweetdruppels breek op sy voorhoof uit. Hy praat gejaag, hygend: ‘Die waard en waardin - onthou jy hul nog? Vriendelike mense en albei versot op’ - hy sluk - ‘op hul seuntjie’ - hy sluk weer - ‘'n pragtige kêreltjie van vyf jaar oud - blond - blou oë - lewendig. O God! as ek daaraan dink! Maar wag - laat ek jou vertel - laat ek jou vertel. Ek was 'n bietjie laat - ek het harder as gewoonlik gery - ek was nie van plan om by die herberg stil te hou nie. Ek het harder as gewoonlik gery, sê ek. Veral toe ek die heuwel afkom, veel harder, baie hard. Vir die eerste keer in my lewe gevaarlik hard. Dit was of ek ineens dronk van die vaart geword het; die duiwel van snelheid my besete het. Die pad wat agtertoe wegskiet onder die motor uit, wegvloei soos 'n stromende watervloed; my voortglydende gevaarte wat sny deur die lug met 'n geluid soos van rooiwarm ysterblokke sissende in koue water; die dreunende geronk van die enjin soos 'n magtige meeslepende maatsang - het naar my kop geslaan in een wilde begeerte naar meer. Die bome het strak soos soldate langs die pad gestaan. Soos 'n ster wat in onkeerbare beweging voortskiet in die oneindige het ek my voel voortbeweeg. Dit het my gelyk of die voortvlieg ure geduur het; in werklikheid was dit maar 'n paar minute. En toe ineens sluit die vista van die pad hom voor my af. Soos 'n sweepslag tref die gedagte my bewussyn: “Die draai in die pad!” En meteens is ek weer nugter, by my positiewe. Ek slaan die remme aan so hard as ek kan, probeer die draai afsny soveel moontlik. Met my hele krag op die stuur probeer ek daardie draai vat, die pad hou tot op die brug, tot oor die brug. Hoe ek dit reggekry het besef ek | |
[pagina *18]
| |
J.H. PIERNEEF:
BY PIETERSBURG. | |
[pagina 109]
| |
nog steeds nie. Ek kon voel hoe die regterkant van die moter rakelings skeer langs die wal van die pad, en ewe gly linkerkant-toe by die draaing. Maar hy herstel hom. Ek vlieg oor die brug. Weer die draai aan die anderkant voor my! As ek maar dié draai ook kan haal, sou die ergste verby wees! In 'n laaste inspanning haal ek al my kragte uit. My bene voel of hul uitmekaar wil spring op die remme; my arms of hul wil afgewring raak op die stuur. Maar dit luk my, God sy dank. Die voorste deel van die kar hou die pad. Die agterste deel skuiwe oor die pad soos hy gly, slaan teen die wal aan, maar... die kar hou die pad. En toe gebeur ineens die ontsettende! Die remme gee pad, en ek het geen beheer meer oor die nog steeds voorthollende kar nie. Sy vaart was wel baie verminder en op die nou ligtelik opdraande pad steeds meer aan verminder, maar nog so dat ek alleen met moeite in die draaiende weg kon bly.’ Hy hou 'n oomblikkie op, vervolg weer: ‘Daar staan opeens voor my.... 'n kind iets en optel in die pad! O vreeslikheid! O grusaamheid vir wat toe gebeur het!’ My vriend sluk, gryp naar sy keel, snak naar asem, spring op en vervolg al hygende, terwyl druppels sweet op sy voorkop vorm, en sy hand afwerend die lug instoot, asof om die aaklige voorstellinge van sy gees weg te hou: ‘Die moeder het links langs die pad gestaan en sien my kar. Kennelik verstyf van die skrik, kon sy geen voet verroer of skreeu nie. Ek self ook sien die seuntjie nog voor hy my sien. Ek skree! Met die krag van wanhoop kry ek dit reg om selfs die horing te blaas. Die kind was bietjie aan die regterkant; my kant van die pad.Ga naar voetnoot1) Hy skrik en staan 'n oomblik botstil. Ek probeer links swenk en nog tussen hom en sy moeder deurry. Ek sou dit reggekry het ook, maar op die laaste oomblik probeer hy die pad oor hardloop naar sy moeder se kant. “Du Gott, Du lieber Gott!” O help my, o vergeef my! O waarom die vreeslikheid net vir my?’ Hy hou 'n oomblikkie op, vervolg vinnig en hortend, of die woorde hom swaar val om te sê, maar tog gesê moet word, en daarom hoe gouer hoe beter: ‘Die regterkant van die moter raak hom - ek hoor net sy angsgeskreeu - ook 'n gil van die moeder - ek hoor dit nog in my ore - hy word hoog in die lug gegooi - dit reen op my voorruit van... van’ (hy verberg sy gesig in sy hande) ‘druppels bloed - die liggaampie smak neer op die motorkap - rol af op die modderskerm - plof neer in die pad - die moter kom vanself tot stilstand 'n end verder in die pad - en ek, ek arme ongelukkige - rillende oor my hele lyf - en voelende of ek wil waansinnig word, demonies wil skaterlag, ja, oor die vreeslike gebeurtenis wat my, my | |
[pagina 110]
| |
moes oorval, in een enkele oomblik van onbewaaktheid - skaterlag of anders my bewussyn vernietig deur myself ook te pletter te loop teen iets aan - ek struikel terug naar die plek van onheil - waar die arme, dooie, bloederige, vormlose klompie lê - die verminkte, verbryselde liggaampie van wat 'n paar minute tevore nog 'n kind was, oogappel van sy ouers - vreugde van hul lewe - 'n kind, blond, blou, lewenslustig. Oor die lykie het die moeder flou gelê. Ek kon my ook nie verroer nie. Ek kon net maar staar naar die twee daar. Maar toe hulle die moeder optel - toe ek sien - die vermorselde liggaampie - het dit my ook voor die oë geduisel.’ Hy hou op en gaan weer sit in die stoel. Agteroor geleun, rus hy 'n paar oomblikke. Dan vervolg hy mat, oë geslote: ‘Toe ek weer bykom, lê ek op 'n bed in een van die kamers van die herberg. Iemand, wat later 'n dokter geblyk het, buk hom onmiddellik naar my toe en hou my 'n warme drank voor die mond. Maar ineens kom ook die hele afskuwelike toneel van wat gebeur het my weer voor oë. Ek vlieg op, sidder, bedek my gesig in my hande. Die dokter maan my om kalm te wees. Ek moet bedaar, sê hy, dit was 'n blote ongeluk; ek sou weer kan flou word en die vorige bewusteloosheid het reeds onrusbarend lang geduur. Daar was tog niks meer aan die gebeurde te doen nie, ens. Onder sy woorde en die invloed van sy simpatieke manier, het ek ook inderdaad begin bedaar. Dit was of my gevoel van skrik, van ontsetting, langsaam begin terugwyk, en omslaan in 'n gevoel van diepe neerslagtigheid en droefheid. Ek kon my nie bedwing nie; opeens bars ek in trane uit. Lang en weldadig het ek gehuil, en so het die dokter my gelaat. Na 'n tyd toe ek kalmer gevoel het, het ek die kamer uitgegaan. Ek wou, indien moontlik, met die ouers praat; my spyt en wroeging aan hulle vertel, aanbied om te doen wat ek ook kan, om die leed wat ek hulle veroorsaak het op enige moontlike wyse te versag, te temper, te vergoed. Moeder en vader, moes ek verneem, was in die kamer waar die lykie lê. Beide, gebroke deur smart, kon niemand sien of spreek nie. Met die dokter, wat nog 'n bietjie gebly het, vir die geval dat sy teenwoordigheid mag nodig wees, is ek tenslotte naar die naasbyliggende dorp toe. Ek kon by hom bly, het hy gesê; hy sou sorg vir een en ander; ek moes maar intussen bed toe gaan. Ek het naar hom geluister; hy het my 'n slaapdrank gegee. Dit was gistermôre laat toe ek wakker word. Hoewel nog senuweeagtig en gekweld, was ek darem beduidend beter. Volgens die dokter, wat intussen by die ouers gewees het, was ook hulle enigsins bygekom, hoewel die moeder nog steeds deur geweldige vlae smart oorval word. Die begrafnis sou die middag plaasvind; hy raai my egter af om dit by te woon. Tog het ek gegaan. Miskien was dit verkeerd’, (sy stem styg weer, sy oë staar wyd ope), ‘want die gesig van die vader, eers star-bedroefd, maar toe hulle die | |
[pagina 111]
| |
kissie in die graf laat sak, ineens wanhopig-rasend, byna immekaarkrimpend van smart, was my te veel. Ek het gevoel of my senuwees wou instort, of my selfbeheersing wou gaan, of ek sou kon vloek teen die hemel omdat dit my tot onwillige werktuig gemaak het in die veroorsaak van hierdie bittere smart aan mense wat dit nie verdien nie. Nog vervul van hierdie wrokkige gevoel het ek teruggekeer by die dokter. Skielik sien ek my herstelde moterkar daar staan. 'n Rilling, 'n koue koors gryp my aan, 'n vrees byna by die aanblik van die masjien: kil, onbewoë, of daar niks in die wêreld gebeur het nie, niks nie, of hy nie gister byna vir my verongeluk, en 'n onskuldige jong lewe inderdaad vernietig het nie! Maar toe kom my wrok van soewe weer in my op, en dit keer hom teen die moter: teen sy starre onbewoënheid, teen my vrees vir sy blinde krag. Sou ek bang wees om weer daarin te ry, sou ek te weinig man wees om my senuwees te bedwing en daardie blinde mag te beheers? Ek besluit daar en dan om terug te keer hierheen, en gaan die dokter groet. Hy verset hom teen my terugkeer; ek moes nog 'n paar dae by hom bly; eers heeltemal tot kalmte kom. Maar ek was beslote om baas te wees oor my senuwees, en nie my senuwees oor my te laat baasspeel nie, en ek het gisteraand teruggekeer. En tog, toe ek weer die stuur in my hande neem, die enjin hoor ronk onder my, die gevaarte voel beweeg - was dit byna of ek die kar, soos 'n onreine dier, sou wil los, wil verbrysel, doodmaak, jy weet soos die mense in die Bybel met diere gemaak het. Ek beheers my egter, al het dit byna al my krag gekos, en verder het dit goed gegaan - behalwe toe ek weer die plek verby ry... waar die ongeluk gebeur het... lewe, jong lewe geneem is... kort tevore (hy sidder) liggaampie... lillende... gelê het..’
My vriend hou op, terwyl 'n smartelike trek oor sy gesig gaan. Na 'n paar oomblikke vervolg hy kalmer.
‘Ek het gistermiddag laat hier aangekom. Ek het my uitgeput gevoel en wou liewer niemand spreek nie. Ek het bietjie gaan lê, maar kon tog nie slaap nie. Toe val dit my ook by dat ek intussentyd nooit weer aan my meisie gedink het, haar niks laat weet het nie. Ek het my gedwing om 'n briefie van uitleg aan haar te skrywe, en te sê ek sou Saterdag soos gewoonlik huistoe kom. Maar die skrywery het my weer feller aan die gebeurtenisse herinner; my senuwees was onvas na die moterryery; dit was my duidelik dat dit my swaar sou val om die nag slaap en vergetelheid te vind. My skuldbesef, want my skuld is dit!... het veral met die skrywery weer fel in my opgedring. Want wat gebeur het val nie goed te praat nie. Die ongeluk is en bly my skuld. Die remme het gebreek, ja. Maar omdat ek hulle oormatig gebruik het. Ek het daardie seuntjie vermoor, vermoor! Al sou alle mense my vryspreek, hierbinne sou ek my skuldig weet. O, God, o God - wat moet ek doen? Is daar ooit weer rus vir my siel te vind?’ | |
[pagina 112]
| |
Handewringend hou my vriend vir 'n paar oomblikke op, gaan dan weer iets rustiger voort: ‘Ja, wat ek wou sê, met hierdie gedagtes koortsagtig woelende in my, het ek in die stad rondgeloop na ek die brief gepos het. Ek wou loop tot ek so moeg voel dat ek wou neerval van uitgeputheid, geen gedagte meer kòn dink nie, vergeet die aanklag van moord, moord, moord, van myself teen myself. Hoe lank ek rondgeloop het weet ek nie. Maar dit was my tenslotte of ek nie meer loop nie, of ek, half bewusteloos van moegheid, sonder gevoel, halfswewend my voortbeweeg. In 'n toestand van halwe verdowing het ek by my kamer teruggekom, so op my bed neergeval en so weggesink in 'n toestand van bewusteloosheid. Toe ek my self weer gewaar word, ry ek in die moterkar. Dis helder maanlig; voor my strek uit, verdwynende met 'n skerp punt in die verte, die wit streep van 'n wye sementpad. Oor die pad snor, nie sweef die moterkar. Ek vlie daaroor, skokloos soos in 'n vliegmasjien. Alleen die lug loei soos 'n stormwind om die moterkar van die geweldige voortbeweging. Ek voel my sing - vrolik, jubelend, tot ekstase vervoer, deur die snelle beweging, wat soos warm wyn deur my are vloei. Saam met die wind juig-loei ek in fiesieke genotsuiting van my voortvaartdronkenskap. En toe... wat sien ek in die pad? 'n Kind? Nee, twee, drie, vier - 'n hele ry! Hulle vat hande, hul lag en sing, hul dans 'n rondedans! Hulle sien my nie - en ek, ek is lam, verstyf, magteloos. Ek wil skree - en my keel weier klank; ek wil rem - en my bene is dood soos lood; ek wil blaas - en kan my arms nie van die stuur oplig nie. En altyd vlieg ek nader, en die kinders sien my nie. Ek voel of my oë uitpuil uit my kop; of ek wil swymel van mislikheid. Toe was dit of die kinders ineens die moterkar gewaar. Stokstyf staan hul van skrik. En ek kan meteens hul gesigte sien. Wat is dit? Iedereen het dieselfde gesig: die gesig van die seuntjie van die waardin van die herberg! Ek sien die angs groei in die blou oë; ek sien die mondjies hul opesper om te gil; ek sien afwerende handjies, O - - die moterkar is op hulle! Dis of die gesiggies angstig - woedend opspring naar my toe; of die handjies naar my gesig klou, gryp, my oë wil uitkrap, nydig-woedend my hart wil uitgrawe. Ek sluit my oë. Ek wil nie weer sien nie. Ek hoor net één aaklige gegil om my heen. Die moterkar skok soos hy voortgaan. Is dit oor die kinderliggaampies? Hij knars, dis of allerlei verbrysel word in die wiele, orals om, in en onder die moterkar. Is dit kinderlykies, kinderbeentjies? Wat val so warm, vogtig, kleverig op my hande, op my gesig? Is dit kindervleis, vermorselde, bloederige kindervleis? Radeloos-gillend swaai ek wild met my hande om dit af te weer! My hande gryp - gryp warmvogtige vleisdele; daar sit hare aan, kinderhare, wat kom teen my vingers, daaraan vassit, daartussen sit? Ek word waansinnig - - -. Gillende word ek wakker! Ek sit regop op die bed. My hande klem my hoof weerskante vas. My | |
[pagina *19]
| |
MAGGIE LAUBSCHER:
LELIES. (In die besit van M.L. du Toit.) | |
[pagina 113]
| |
vingers is in my hare; my palms bo teen my wange. Sweet stroom langs my hoof, my wange, my hele liggaam af --- Ek het opgespring en by die venster gaan sit. Die raam het ek wyd oopgegooi. Die koel lug het die hitte van buite my weggeneem, maar die vuur binne my het gelyk of dit hoe langer hoe feller brand, hoe meer my gedagtes naar die gebeurtenisse teruggaan, nee teruggetrek word. Dit was toe wat ek by jou ingehardloop gekom het.
My vriend hou op. Hygend leun hy weer agteroor in die stoel; die oë geslote. Sy doodsbleke gesig is gespanne opgehef soos die van 'n biddende. Die ellende van sy siel so smartelik afgeteken op sy gesig, roer my tot trane toe. Diepbewoë en met moeilik bedwonge stem, loop ek naar hom toe, lê my hand op syne, en probeer hom moed inpraat, tot kalmte bring.
‘Kom, jong,’ sê ek, ‘jy staan nog te vlak by die gebeurtenis, jy sien dit buiten verhouding. Jou senuwees het 'n sware skok gekry; jy is jou selfbeheersing grotendeels kwyt; en nou hol jou ontstelde verbeelding met jou weg. Dit is natuurlik baie aaklig dat alles so moet gebeur het; dat een oomblik van onbewaaktheid so 'n ongelukkige nasleep moet gehad het. Maar alleen jou skuld was dit ook nie. Die remme moet nie gebreek het nie; en die seuntjie nie, enigermate onverskillig tog, in die pad gespeel het nie. Hoe dit ook sy, wat gebeur het, het gebeur. Jou skuld, vir sover dit bestaan, is sonder die minste opsetlikheid gewees, en dus bloot noodlot, bloot ongeluk. As jy enige les nodig gehad het teen onversigtigheid, het jy dit nou terdeë, en eens vir al geleer. Kwel jou dus nie meer oor die verlede nie. Kyk naar die hede en die toekoms. Doen alles in jou vermoë om te vergoed vir die leed wat jy toevallig daardie goeie mense aangedoen het; sorg dat soiets in die toekoms nie weer gebeur nie. Handel jy so, dan moet jou gewete, jou morele gevoel van verantwoordelikheid tot rus kom. En ja, wat betref wetlike skuld, ek glo nie dat enige hof jou vergryp te swaar sal opvat nie, selfs al beken jy tenvolle jou mate van skuld in die saak, as jy, terselfdertyd, jou mate van skuldbesef en jou bereidwilligheid tot enige vergoeding ewe duidelik aan die lig bring. Wat, per slot van rekening, is anders die doel van straf, as om besef van verantwoordelikheid van dade en verbetering van gedrag aan te bring? En, nou, wat dit betref, glo ek, soos ek reeds gesê het, dat jy meer as genoeg jou les geleer het. Dus, ou kêrel, beur op! Jy sien dinge te swaar in. Probeer jouself regruk, dinge normaler insien, en jy sal gou weer jou ouself wees!’
Hy het aandagtig naar my geluister terwyl ek praat, en toe ek ophou kon ek nog 'n opflikkering van hoop in sy oë sien naglinster. Maar net vir 'n oomblik. Sy kop wat hy, onderwl ek praat, opgetel het, sak weer vooroor; sy liggaam vou in mekaar in slappe houding van neerslagtigheid. | |
[pagina 114]
| |
‘Kom, man,’ sê ek, ‘gee tog nie so toe aan jou gevoelens van bedruktheid nie! Bied bietjie weerstand! Probeer ook die ander kant sien! Na elke nag kom 'n dag! Jou dag sal ook weer kom, as jy maar bietjie moeite doen om uit jou nag te kom!’ Maar my woorde skyn maar min uitwerking op hom te hê. Hy bly nog 'n paar oomblikke so sit; toe praat hy langsaam, klankloos, byna soos 'n sterwende. ‘My dag sal nie meer kom nie; dit voel ek hierbinne, dit weet ek. Tenminste nie in hierdie lewe nie. Want wat jy ook sê, watter mooi woorde jy ook gebruik,’ (hier styg se stem byna tot 'n kreet), ‘ek weet dit: ek is 'n moordenaar! 'n Moordenaar, hoor jy? 'n Moordenaar! Waar ek ook kyk, of ek my oë oop of toe maak, orals staan die woord in letters van vuur voor my geskrywe: Moordenaar! Jy praat van die wet; die hof! Man, dink jy dat ek selfs nog daaraan gedink het! Wet, hof buiten my - spot jy met my, om te dink dat ek omgee wat ander dink of doen! Ek sou waaragtig kan grynslag, kan skaterlag! Wet, hof, vonnis, straf - die sit hierbinne my! Hier,’ en hy slaan op sy bors, ‘hier troon my regter, hier word my onverbiddelike regspraak gevel, hier spreek my gewete, en dit sê vir my,’ (hy spring op uit sy stoel, sy oë staar wild voor hom uit, sweet glinster op sy voorkop), ‘o, ek sien sy vurige veroordelende oë, sy strenge verwysende vinger sê vir my: Jy is skuldig, skuldig, skuldig, moordenaar!’ My vriend hou sy arms voor sy oë; val snikkende terug in sy stoel. En my hart word soos lood in my, by hierdie woorde, 'n aaklige weë gevoel neem besit van my toe ek hom so sien. Teenoor hierdie geestesgesteldheid, voel ek my magteloos. Vrees begin my te bekruip, die skrikbarendste van alle vermoedens, vrees vir 'n geestestoestand erger as die dood: die vrees dat my vriend waansinnig word! By die daging van hierdie besef, voel ek myself so beklemd dat ek geen woord kan sê, geen vinger kan verroer nie. 'n Koue sweet voel ek oor my hele lyf uitbreek; benoud-angstig staan ek hom aan te staar. 'n Paar oomblikke gaan so verby. Toe - is hy die eerste om weer byna gewoon te praat. Hoewel nog bleek en béwerig skyn hy sy kalmte grotendeels terug te gewin het: die soort natrillende rus van 'n vuurspuwende berg na die uitbarsting. Hy kyk my aan, en 'n matte glimlag trek oor sy gesig toe hy my angshouding sien. ‘Wees nie so bang oor my nie,’ sê hy sag. Hy bly bietjie stil, vervolg weer met sy matte glimlag: ‘Hoe sê julle Boere nou weer? Alles sal regkom. Ja, alles sal regkom,’ vervolg hy harder, ‘regkom soos reg en geregtigheid dit vorder, die reg van ons verstand, die geregtigheid van ons gewete. Alles sal regkom - op die pad wat ons gewete van ons eis - as ons net die moed het om daardie pad te volg.’ Hy bly stil en ek begin weer te veradem, hoewel nog angstig-ongerus. Ek maak 'n beweging naar hom toe, menende om | |
[pagina 115]
| |
my hand op sy skouers te sit. Dan vervolg hy ineens, strak, star voor hom uit: ‘Wat sê die ou Bybelwet, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n lewe vir 'n lewe? Maar sy manier van invorder was verkeerd. Die dood van die een het die dood van die ander as straf geeis. Vir ons, mense van vandag kan dit alleen beteken: die dood van die een eis die lewe van die ander as vergoeding, 'n lewe van diens en toewyding. Ek gaan naar die ouers, om hul my lewe aan te bied, my diens en toewyding, vir sover die as geringste vergoeding vir hulle kan dien in hulle verlies.’ Hy bly stil, gaan dan weer voort: ‘Ja, so is dit goed. Ek gaan naar hulle toe... vanaand nog.... vanaand.’ Ineens gaan daar 'n uitdrukking van vrees oor sy gesig, sy mond trek, maar hy vervolg: ‘Ek gaan... met die moter. Ek het myself oorwin... ek moet ook hom, die masjien oorwin.’ Hy praat vinniger: ‘Weet jy, ek is eintlik nog bang vir hom? Ek voel op hom soos 'n ruiter op 'n resiesperd. Altyd wil die perd hardloop - en die ruiter moet hom inhou -. Maar laat die ruiter hom gaan, dan beteken dit dat die ruiter hom self ook laat gaan - en waar sal albei eindig? Ek het eenkeer die dronkenskap van krag en beweging ondervind - die masjien was my baas - en nou is ek bang hy sal weer baas wees. Maar ek moet myself oorwin - baas oor myself - baas oor die masjien - ek moet - ek gaan nou nog naar die herberg...’ Vinnig loop hy deur toe. Ek probeer hom nog keer, maar hy weer my af. Ek voel sy liggaam so styf, soos gespanne draad. ‘Nou of nooit,’ mompel hy, ‘nou of nooit... baas oor myself.... baas oor die masjien.’ En terwyl hy die deur uitgaan, besef ek ook: ‘Ja, nou of nooit; lewe of dood, die dood van die liggaam, of die ergere dood van die gees, die dood wat die mense - - waansin noem.’
In spanning so groot soos selde in my lewe het ek die volgende ure deurgemaak. Maar dit het aand geword en middernag geword en nog was my vriend nie terug nie. Met klere en al het ek gaan lê. 'n Paar ure lank het ek koortsig geslaap. Vroeg die volgende môre was ek reeds op. Ek kon nie werk nie; ek kon my op niks konsentreer nie. Dan kyk ek uit die venster; dan blaai ek in 'n boek; dan luister ek aandagtig as ek die minste geritsel op die trap hoor. Eindelik is die diensmeisie daar. Sy bring my my ontbyt en koerant. Ek maak die koerant ope. Byna eerste val my oog op 'n groot opskrif: ‘Ontsettende Voorval - Jonge man kranksinnig? Drama op X.’ | |
[pagina 116]
| |
Meteens is my aandag gespanne. X. is tog die dorpie naby die herberg van my vriend se ongeluk. En ek lees woorde wat onuitwisbaar in my geheue gegrif staan:- ‘Van X. kom 'n ontstellende berig. Dit blyk dat sekere jonge N -, student aan die plaaslike Uniwersiteit, en seun van die bekende fabrikant op K -, Woensdag in 'n ongeluk naby X. gewikkel was, waarby hy die jong seuntjie van 'n herbergier oorry het, met die kind se onmiddelike dood as gevolg. Of hierby enige skuld aan die jonge man toe te skrywe is, is onseker, aangesien dit gebryk het dat sy remme by die daling van die heuwel op hierdie punt gebreek het. Hoe dit sy, gister, teen ongeveer vier uur, was die vader in die geragkamer, met enige vriende, wat gekom het om simpatie aan hom te betuig met die treurige voorval. Opeens hoor hulle 'n moterkar buitekant stil hou, en 'n jonge man kom binne, wat die student blyk te wees. Sy bleekheid en gespannenheid het iedereen se aandag getref. Hy het reguit naar die vader geroop, wat hy uit vorige besoeke geken het, en hom aangespreek, “Meneer, het hy ongeveer gesê, op 'n gespanne, vinnige toon, wat ook opgeval het, “ek het jou seuntjie gedood. God weet, dit was teen my wil. Maar ek is tog sy moordenaar. Neem my, ek bring jou my lewe, my diens en toewyding, om as vergoeding, vir sover moontlik, in jou verlies te dien.” Die herbergier, te verbaas om 'n woord te kan sê, het hom alleen aangestaar. Toe, volgens die toeskouers, het hy ineens sy hand naar sy voorkop opgelig of hy dit wil afvee; sy oë word wild; hy skreeu uit: “Ek het myself oorwin - ek het my masjien oorwin - hy wil my nie hê nie - ek kan nie meer nie - ”; en val bewusteloos neer op die vloer. Mediese hulp is dadelik ingeroep; en 'n paar ure later is hy bygebring. Maar hy was vreeslik onsamenhangend. In besonder moet hy homself gedurig beskuldig moordenaar van die verongelukte kind te wees. Dit word gevrees dat sy rede aangetas is.’
Trane vul my oë toe ek dit lees: ‘Sy rede aangetas.’ Dan het die ergste tog gebeur. F.C.L. BOSMAN. |
|