Swartberg: 'n Fragment.
IN die Vrystaat en Transvaal, waar die vlaktes hulle uitstrek, daar trek die Vaal se gruis die smagtende mensdom van heinde en ver naar sy walle toe; in Egipte bevrug die water van die Nyl sy oewers, 'n bevolking word gebaar, en die woestyn word uitgetart; in tropies Afrika, waar die koors ‘rondwandel in die hete middagson’ en in die vogtige wasems van die nag, daar roep die Sambesi ons steeds met bulderende stem en vloei dan in stilte verby die monumente van diegenes wat in die verre verlede op sy boesem 'n nuwe kultuur na ons Afrika gebring het; en in die Karo, liewe ou Swartberg, waar jy en 'n duisend heuwels meng met die vlaktes en met die strome wat kronkel deur die valleie, daar trek jy my met magnetiese krag... En, voor ek verder gaan, ook jy, Langberg, jy wat daar ver weg uitstrek oor die vlaktes en heuwels soos die rug van 'n ylende slang.
Jou luime, ou Swartberg, ken ek baie goed. In stilte bewonder ek jou, droom ek oor jou - in die vroeë môre wanneer die ontwakende dag 'n môrekus op jou trotse hoof druk, en dan, dronk van bekoring, jou die hele dag lank met gloed oordek totdat die awend kom wanneer die vlugtende minnaar jou verlaat met 'n laaste blos op jou wange; en dan, asof hy jou nie kan vergeet nie, stuur hy in die stille nag die maan om jou te oordek met 'n towermantel van die fynste sy; in die winter wanneer die opvliegende Boreas buk oor jou heen en sy witste, sagste, dikste dekens oor jou trek; wanneer die suidewolkies van die awend soos nimfies teer, sonbadend, blosend om jou dans; of wanneer die winterreëngod en sy woeste ruiters jou poorte binnedring om verlof van jou te kry om die Karo, waar sy vyand, somerdroogte, sy werk van voorheen vernietig en vertrap, weer in te val en te herstel.
Ook ek, Swartberg, (vergewe my dit maar!) was, vandat ek jou die eerste maal gesien het, vervul met 'n verterende vuur van begeerte om nader kennis met jou te maak - om jou poorte binne te dring soos jou meer bevoorregte vriende. Dog ek was skugter - verlief - ek was bang om jou alleen in die eensaamheid te ontmoet. Daar was dalk 'n boodskap van jou te groot vir my siel om te dra!