Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 91] [p. 91] Twee Sonnette. 1. Die Kunstenaar. Dis slegs 'n oue grot waarin ek staan, Van binne koud en donker, aaklig swart, Met tekeninge op die wande hard, En in 'n hoek 'n kopbeen, half vergaan. 'n Druppel water, soos 'n enkel traan, Tap op die koue klipvloer, ru en hard; Die lamp se lig gooi skaad'wees lang, verward, En roerloos teen die rotswand bly ek staan. Die oue tekeninge teen die wand, - Die hartbeesbul, die man met sy lanset, - Is lang deur wind en weer al swart geverf, Maar tog werp dit nog lig op die verstand Wat daardie kopbeen eentyd had; hier het 'n Kunstenaar gearbei en gesterf. 2. Die Liefde Weet. Die vyeboom bot wanneer die lente kom, Nog voor die eerste reëns die grond benat; Nog voor die son keer van sy winterspad, Pryk in die veld die eerste botterblom. Die tortel koer sy liefdeslied, en om 'n Maat te win stryk hy sy veertjies glad, Nog voor die son draai op sy Noorderpad En warme winde uit die Ooste kom. Die jongman glimlag skaam, maar voel vol moed, Hy toon sy bors en kam sy hare glad; Die jongnooi voor die spieël draai om en om, Haar wange kleur van nuwe lewensbloed En skaamrig loer sy na die ou wapad: Die liefde weet wanneer sy lente kom. Rud. P. VISSER. Vorige Volgende