voorgewénd word nie. Hierdie tekeninge deur 'n kind was werklik kinderlik maar het alreeds daardie gevoel vir komposisie vertoon, wat een van Gregoire se karakteristieke is. Daar het ook 'n tyd gekom waarin hy gekleurde tekeninge van skepe gemaak het; maar die invloed wat die kragtigste meegewerk het tot die ontwaking van die seun se sluimerende estetiese gevoelens, was die aankoms in Newlands van Peter Wenning in die Winter van 1920. Want die innemende persoonlikheid van daardie tingerige man, met sy brandende oë, - daardie man wie se gedagtes maar voortdurend besig was met die dinge wat kuns betref - het 'n kragtige, sy dit dan 'n heeltemal onwillekeurige, invloed uitgeoefen.
Dan was daar ook die gesprekke, sonder end, oor kuns tussen Wenning en die seun se vader, waarby Gregoire dikwels moet toegeluister het, en waardeur hy seker aangevuur geword is, al het hy hulle nie verstaan nie.
In die winter van 1923, toe hy net veertien sou word, het Kottler, wat van die begin af groot belang in die seun se estetiese ontwikkeling gestel het, hom 'n olieverfdoos gegee; maar hy het nie eintlik begerig gelyk om dit te gebruik nie, want eers in die lente van daardie jaar het hy sy eerste skets in olieverf gemaak - 'n gesig by Fernwood. Dit het geen opmerklike talent geopenbaar nie, maar sy twede - 'n woud-gesig - het groot vooruitgang getoon.
Toe, heeltemal op die laaste dag van die jaar, het hy 'n stillewe geskilder van 'n geel blom in 'n blou-en-wit vaas. Dit het die aandag getiek van Mnr. Brandon Davis, wat ingenome verklaar het, dat nie een van ons ander skilders so'n skildery kon gelewer het nie, terwyl Kottler selfs opgewerp het, dat dit ‘te ryp’ was. Dit skyn, of die lof van so'n welbekende kunskenner as Mnr. Davis, die vuur by die wagtende brandstof gebring het, want van nou af begin die vlam van Gregoire se talent gestadig te brand en van die jaar 1924 het hy ernstig en geesdriftig begin skilder.
Dit sal opgemerk word, dat Gregoire geen skilderles gehad het, en ook geen kunsskool besoek het nie. Die Natuur was sy enigste leermeester. Hy was dit heeltemal in die begin en is dit nog; en Gregoire gehoorsam hom trou. Hy het geen beter leermeester nodig nie.
Is alle kunsskool-onderrig dan ‘uit die Bose’? Dit hang daarvan af. Die leerling met namaaktalent sal tot op sekere hoogte baat vind deur langs konwensionele lyne sy kuns te leer. Hy sal die gesegde ter harte neem: ‘Leer eers jou ambag en maak dan soos jy lus kry’; maar in meeste - in ver-weg die meeste - gevalle, sal hy, na sy drie of vier jaar aan die kunsskool, glad nie in staat wees of self ‘lus te kry’ nie en hy sal voortgaan met herhaal wat hy geleer het, sonder ooit iets egs uit sy eie siel te sê!
Die leerling met skeppende talent daarenteen staan in die kans om alles te verloor deur die konwensionele kyk van 'n skool in hom op te neem. In 'n verhandeling oor Kuns-onderrig skryf George Moore: