Die mees tiepiese figuur in die neëntiende eeu is wel Waling Dykstra (1821-1914), Waling - om genoemd, bakker in Holwerd, digter ook, die hoof-medewerker van die groot Friese woordeboek in vier dele, 'n baie bruikbare werk. Sy onuitputlike idealisme het hom byna honderd boekdele vol laat skryf, voordragte, sketse, vertellings, liederbundels, blyspele, 'n roman. Die groot waarde daarvan lê in die skat van gegewens oor die Friese volkslewe van vandag en vroeër tye.
Die studie van die Friese taal en letterkunde het omstreeks 1800 begint en gedurende die neëntiende eeu heelwat opgelewer.
Gysbert Japicx se werk was die vernaamste bron vir studie en 'n volledige uitgaaf van sy werke het met 'n woordeboek van die hand van Dr. E. Epkema verskyn in 1821-1824.
Hierdie uitgaaf gee die stoot o.a. aan die lewenswerk van J.H. Halbertsma, wie se monument in die stille en mees Friese dorpie Grouw opgerig is. Wanneer 'n mens daardie skilderagtige plekkie aan die meer deurwandel, die water hoor klop teen die oewers en die riete hoor ruis, dan besef jy hoe die liefde vir die heitelân (vaderland) die Friese nêrens verlaat nie. Hoewel die land taamlik arm is aan natuurskoon, vermooi die heimwee dit tot die pragtigste land op aarde.
* * *
Kort gelede het daar 'n mooi uitgevoerde boekdeel oor Gysbert Japicx verskyn van die hand van Dr. J. Haantjes, lektor vir Nederlands aan die Uniwersiteit van Londen. En ook van hierdie boek moet ons sê dat dit die mengeling vertoon van wetenskaplikheid en 'n sekere breedsprakigheid wat die onderwerp nie altoos regvêrdig nie. Klaarblyklik is dit geskrywe vir Friese in die eerste plek, want die talryke en breë aanhalings, vir die groot Hollandse publiek vrywel onverstaanbaar, word nie vertaal nie.
Die skrywer sê dat Gysbert Japicx se persoonlikheid wel soveel merkwaardigs besit, dat vir hom 'n eie plek in die geskiedenis van sy tyd ingeruim mag word, dat hy ook vir ons tyd nog nie heeltemal sonder belang mag heet nie. Dit is beskeie uitgedruk, té beskeie wellig, want anders sou die uitgaaf van hierdie boek 'n bietjie oorbodig wees.
Die persoonlikheid van Gysbert Japicx karakteriseer Dr. Haantjes ongeveer as volg. Die twee pole wat Gysbert se lewe beheers, lê ver uitmekaar. Ons vind by hom 'n sterk werklikheidsin, wat hom tot aan die end van sy lewe bygebly het. Maar ook vind ons by hom 'n sterk verlange na die hemelse saligheid, wat in sy later lewe aldeur hewiger word, maar wat blykens sy didaktiese gedigte ook in sy vroeër lewe reeds aanwesig gewees het. 'n Volkome aanvaarding van hierdie wêreld dus en ook 'n volkome loswees van al die aardse dinge.
En tog is sy lewe 'n eenheid gewees.