Jan Van Zyl oor die Toestand van Musiek in Suid-Afrika.
EK stem heeltemal met Dr. Malan saam, dat Suid-Afrika, om die smaak vir musiek aan te wakker, 'n eie Volkslied moet hê. Dit is noodsaaklik vir 'n jong nasie en die ontwikkeling van 'n kultuur. Die blote feit van 'n populêre Volkslied te besit, sou ons mense aanmoedig om te sing, hulle trots maak op hulle afkoms en ons in staat stel op een hoogte te staan met ander nasies. Daar is tog seker geen beter middel vir 'n nasie om homself uit te druk as die liedere van sy geboorteland nie. Die karakter van 'n volk blyk gewoonlik uit sy liedere. Ongelukkig het die musikale aanleg van Afrikaners nie die aanmoediging ontvang om ons so ver te bring, dat ons op belangrike Komposiesies kan spog nie. Dit is natuurlik te wyte aan die worstelinge van ons volk in die verlede en 'n sekere mate van onderdrukking en gebrek aan erkenning wat ons as nasie toegekom het. Maar noudat ons goeie reg op 'n eie Nasionaliteit erken is (as gevolg van ons leiers se onverslapte volharding) het die tyd aangebreek om ons musikale talent te ontwikkel. Ek is daarvan oortuig, dat die Afrikaners die siel vir musiek het, en die gebrek aan waardering by ons mense is alleen die gevolg van onvoldoende ontwikkeling van hierdie kant van Kuns. Maar dit moet nie halfhartig aangepak word nie. Bowenal moet Afrikaners hulle eie mense ondersteun met veel groter geesdrif as totnogtoe die geval was.
Kan daar vir iemand, wat die jarelange worsteling deurgemaak het, die teleurstellings, sielesmart, en dikwels gebrek aan geldelike ondersteuning ondergaan het - as ook die ontmoediging voortvloeiend uit nasionaliteitsvooroordeel en talryke ander hinderpale te bowe moes kom eer hy erkenning verkry het - kan daar vir so iemand groter teleurstelling wees as gebrek aan ondersteuning van sy eie landgenote te ondervind? Dit is nie alleen jou landgenoot in die steek laat nie, maar dit verkleineer hom in die oë van dies wat smalend elke beweging van hom gadeslaan.
Op die oomblik is die lied in Afrikaans nog in sy kinderjare en ten einde hierdie kant van ons kultuur te vestig moet ons veg, en hard veg.
Anders sal dit wegsink en vir goed verdwyn. As dit gebeur, sou dit 'n treurige neerlaag vir ons saak wees.
Ons het vandag Grammafoon-plate van ernstige Afrikaanse liedere, maar dit spyt my om te moet sê, dat die verkoop van hierdie beter-klas plate uiters swak is. Die plate wat beste verkoop is die slegste soort musiek -