Dis nie my doel om hier die ontelbare menigte van reeds verskene kritieke te vermeerder nie, want oor die algemeen sal wel ongeveer alles daaroor gesê wees wat gesê kan word. Op een ding wil ek egter hier wys: geen, bespreking het my tot dusver onder die oë gekom wat nie by voorbaat reeds op een of ander manier voor of teen die boek ingenome was nie. (Dit spreek vanself dat ek hier net aan ernstige kritieke uit saakkundige penne dink, b.v. nie aan die baie menere wat die boek op sedelike gronde meen te moet veroordeel nie.) Die oordeelvellinge wissel van die oordrewenste ophemeling tot die radikaalste afkeuring, maar elkeen skyn hom geroepe te voel om met homself tot klaarheid te kom betreffende die boek. Net soos maande gelede in Duitsland en die res van Europa, sien ons dieselfde verskynsl hom nou weer in Suid-Afrika herhaal, en dit geld trouens van die hele wêreld. Dit is beslis 'n bewys dat Remarque buitengewoon aktueel moes geskryf het. Maar merkwaardig genoeg loop die hele strydvraag, van geringe uitsonderinge afgesien, by hierdie bespreking nie oor die kunsgehalte nie, maar altyd enkel oor die materiële inhoud van die boek. Alhoewel Remarque - waarskynlik om misverstand te voorkom - in die voorwoord die versekering gee dat die boek nòg 'n aanklag nòg 'n bekentenis wil wees, is dit tog albei, moet dit so wees, as dit ernstig opgevat wil word. Want elkeen wat die oorlogservaring moes deurmaak, moes met homself innerlik tot klaarheid kom daaromtrent; en wie werklik die oorlog deurleef het, kan nie anders as tot 'n onvoorwaardelike afkeuring daarvan kom nie. Daarom is Remarque se boek, tenspyte van die ontkenning van die skrywer, deur en deur 'n bekentenis en gevolglik ook 'n aanklag. 'n Aanklag nie teen enkele tydens die oorlog meer of minder aan die dag tredende verskynsels nie, wat hier en daar deur hom met weinig smaak, ja nogal tendensieus, oordryf
word, maar 'n aanklag teen die ganse mensheid van vandag, wat tenspyte van sy sogenaamde hoë kulturele peil hierdie kulturele bankrot moontlik gemaak het.
Dit is die rede waarom die kritiek so temperamentvol aanvang al na gelang die krietikus, bewus of onbewus, na die pasifistiese of militaristiese kant oorhel. Elkeen voel hom geraak, maar dan skei die geeste hulle van mekaar, en die opvallende is dat in byna al die gevalle die bepaalde wêreldbeskouing of politieke gestemdheid sodanig oorweeg dat selfs by anders eerlike krietisie en kunstenaars 'n saaklike kunsoordeel nie tot sy reg kom nie. Tiepies kom my in hierdie opsig 'n opstel voor van die in Duitsland as fynsinnige skrywer hoogaangeskrewe Rudolf G. Binding. Hy kom in 'n beskouing ‘Krieg für genügsame Leute’ (in ‘Die Literatur’,, 1929, pg. 505f) tot 'n skerpe veroordeling van Remarque, en wel op grond van sekere besware en feite van suiwer materiële aard. Dit sou ons te ver voer om hier op alle besonderhede nader in te gaan; maar as besonder tekenend kan slegs op die volgende punt die aandag gevestig word: Remarque laat op 'n sekere plek sterwende perde