| |
| |
| |
Oor Boeke.
Drie toneelstukke.
1. | MOOI ANNIE - Toneelspel in vier bedrywe. Na die historiese verhaal van D'Arbez, bewerk deur Leon Maré. H.A.U.M., Kaapstad; J.H. de Bussy, Pretoria. 1929. Pg. 65. Prys 1/6. |
2. | MEESTER - Toneelstuk in vier bedrywe deur D.F. Malherbe. Nas. Pers Bpk., Bloemfontein. Pg. 77. Prys 3/3. |
3. | VAN RIET, VAN RIETFONTEIN - Moderne Drama in drie bedrywe deur J.C.B. van Niekerk (Skrywer van Slagoffers). J.L. van Schaik, Bepk., Pretoria. |
DIE volgorde waarin ek hierdie drie stukke plaas is geen willekeurige nie. Hierdie drie dramas is tieperend vir die ontwikkelingsgang wat ons ernstige Afrikaanse drama dusver deurgemaak het en bly deurmaak. Verder dui dit 'n definitiewe waardebepaling aan. Van Mooi Annie klim ons oor Meester op naar Van Riet, van Rietfontein, wat verreweg die beste van die drie is; meer nog, miskien die belangrikste drama wat dusver in Afrikaans verskyn het.
Mooi Annie behoort tot die suiwer ou skool van historiese romantiek wat blyeindend eindig. Meester sit nog vas in die historiese romantiek, maar die skrywer probeer tog die mens hoofsaak maak, en vrees nie om sy stuk tragies te laat eindig nie, hoewel ek nie seker is dat daar nié 'n ligstraal van aardse hoop aan die end deurskemer nie. Van Riet lê die nadruk op die mens, en die mens alleen, gesien in sy hedendaagse omgewing, en gesien in omstandighede wat op suiwer tragiek uitloop. Mooi Annie durf nog volstrek nie die lewe in sy ware gedaante sien nie; Meester durf dit aan maar in 'n vergange tydperk; Van Riet durf dit aan in sy volle aktualiteit vir die hede.
So byna vanself kom ook die waardes van die drie stukke elk op 'n ander peil te staan. Mooi Annie is weinig meer as 'n verhaal wat slegs moet dien om historie- en sedeskildering uit 'n bepaalde tydperk te gee, met, as dit kan, 'n bietjie stigting en verheffende moraal daarby. Dis 'n vorm van letterkundige poppekastery, in hierdie geval in historiese kledy gesteek en teen 'n historiese agtergrond afgespeel. So trek jy die draadjies, so spring die poppetjies en by elke draai word 'n nuwe stukkie geskiedenis of gewoonte geopenbaar. So is dan ook die enigste waarde wat die stuk kan kry: sy
| |
| |
vermoë tot aangename en leersame geskiedkundige en sedekundige onderrig. Maar of die skrywer selfs hierin geslaag het, betwyfel ek. Opset en afwerking is so swak dat die stuk vrywel betekenloos is.
Meester staan reeds 'n hele trap hoër: in strewe en in bereiking. Die hoofsaak vir die skrywer is ongetwyfeld om die persoon van Meester, 'n rondtrekkende Hollandse onderwyser van die platteland teen die end van die 18e een, uit te beeld. Maar ook hy toon nog nie die vermoë om 'n stuk lewe uit die verlede gaaf te konsipiëer nie, en dit te sien enkel in sy verband tot en volkome ondergeskik aan sy hooffiguur soos die hom daarin beweeg. Hy sien nog te veel die opgesette historie en probeer daarin sy hooffigguur met sy worsteling plaas, i.p.v. die historie enkel as uitstraling van die lewe waarin sy persone hul beweeg te sien. Kortom, Malherbe streef in die rigting van die nuwe historiese romantiek, maar sit nog te veel aan die ou tradiesie vas. Hy wil graag werklikheidskuns gee, alleen verbeel in die verlede, maar gee nog te veel historie om die historie. Hy wil veral die mens uitbeeld, maar verval nog te veel in tiepes en draadtrekkery. Terselfdertyd toon hy homself in konsepsie, en uitbeelding veel beter as Maré.
Van Niekerk is suiwer modern, ten spyte van die feit dat hy sy stuk self ‘moderne drama’ noem. Hy stel hom vierkant in die hede en ‘greift voll ins Menschenleben hinein’’. Die mens en die mens alleen het sy belangstelling. In hierdie geval stel hy hom voor die kleurlingvraagstuk in Suid-Afrika veral in sy aspek van bloedvermenging tussen wit en gekleurd. In strewe en bereiking staan hy ver bokant Malherbe, soos hy trouens in sy historiese drama Slagoffers, uit die tyd van Adriaan van der Stel, dit reeds doen. Interessant in hierdie verband is die spoedige groei van van Niekerk van werklikheidskuns in die verlede tot werklikheidskuns in die hede. In Slagoffers het hy nog eers sy weg gevoel. Daar roer hy ook die kleurlingvraagstuk aan, maar in 'n vaster en beperkter kader. Nou stel hy hom voor die vlottende en meer gekompliseerde hede, probeer die self in 'n kader vaslê om daarna die oplossing vir sy probleem te vind. So het hy sy taak swaarder gemaak, maar ook grootser. So is gelukkig ook sy bereiking groter geword.
By elk van die drie stukke wil ek meer in besonderhede stilstaan.
Mooi Annie. Dis wel een van die onverklaarbaarhede van letterkundige genie, hoedat 'n skrywer op een gebied so baie kan beteken en op die ander so min. Leon Maré, sonder twyfel ons beste kortverhaalskrywer, wil graag op gebied van die drama iets presteer, maar bereik tog niks nie. Eers het hy die ‘Young Lochinvar’ geskiedenis in die ‘Jong du Pree’ probeer dramatiseer. In Mooi Annie slaan hy sy hand aan die bekende verhaal van D'Arbez. Waarlik, as hy op toneelgebied niks meer kan bereik nie, kan hy hom maar liewers by die kortverhaal hou. Van die fynvoelende Leon Maré, wat so raak en innig ons Boeremense kan uitbeeld, wat so skerp hul lewe kan waar- | |
| |
neem en hulle so begryp, merk ons hier niks, maar dan ook niks nie. Sou dit kom omdat hy aan 'n (self) gedwonge leiband loop? Kan hy alleen heeltemal homself of gladnie homself wees nie? Is hy wel skepper, maar nie herskepper nie? Hoe dit sy, waar hy probeer herskep soos hierbo, bereik hy niks nie.
In hoeverre Maré die verhaal trou op die voetspoor volg, in hoever dus die stuk miskien swak is omdat die verhaal swak is, weet ek nie. Ek het die verhaal nie gelees nie. Oor die algemeen maak dit ook nie veel saaks nie, hier minder as ooit omdat die stuk so weinig beteken. 'n Groot dramaturg kan van die swakste verhaal 'n gespanne stuk lewe maak, 'n swak dramaturg van die beste verhaal 'n lewensgedrog. 'n Shakespeare blaas lewe in die onbetekenendste Italiaanse verhale; 'n Leon Maré laat op sy beste 'n verhaal van weinig betekenis een van weinig betekenis bly.
Mooi Annie verhaal van Anne de Sully, wat deur Wolraad Woltemade in 1773 (so staan dit daar, histories korrek, gaan dit maar self na!) van die gestrande Jonge Thomas gered word. Haar moeder kom by die skipbreuk om, maar Mimie Sevenblad, wat anders Woltemade se vrou geword het, neem haar aan en maak haar groot. Annie groei natuurlik op tot 'n beeldskoon meisie, en is ook volmaak in alle andere opsigte. By ander volmaakte mense, wat nooit iets sê of doen wat nie konwensioneel volmaak is nie, ontmoet sy toevallig (ja, seker) 'n volmaakte jong grensboer, Piet Joubert. Beide raak daar en dan met hartlike samewerking (wat bedenklik iets van huweliksmakelary het) van al die 100 persent brawe familielede en vriende, volmaak verlief op mekaar. Tot opperste volmaaktheid egter styg die dappere en edele Piet Joubert as hy, enigsins mismaak na 'n mindergeslaagde tiergeveg, by Annie terugkom en haar haar vryheid wil teruggee. Natuurlik weier die edele Annie dit en huil selfs bittere trane omdat hy ‘sulke slegte gedagtes van haar het’. Haar liefde styg tog verre bo sulke nietighede, ja ook verre bo die feit dat sy intussen nogal ekstra lang op hom moes wag en 'n ekstra ryk erfporsie van toevallige en net ter regter tyd ontdekte famielielede (wat origens almal wil uitsterf) moes erf! O, die Annie! Wonderlik is sy, goddelik, ja, haas heilig! 'n Ware engel uit die hemel! Natuurlik bestaan daar ook akelige skurke in die wêreld, volbloed, rasegte skurke, met geen enkel greintjie goeds in hul hele korpus nie. In hierdie geval is dit veral 'n neef van Mimie Sevenblad wat alle pogings in die werk stel om te voorkom dat die bietjie geld van die voortreflike Mimie aan iemand anders as sy eie famielie sal kom. Maar Mimie se gesonde verstand en 'n goedgesinde wakende Voorsienigheid beskik natuurlik anders!
Die dwase intriege en goedkope melodrama van die stuk blyk duidelik genoeg uit hierdie samevatting van die inhoud. Handige toevalligheidjies bepaal die handeling en hierdie handeling is op sy beurt daarop gerig om mooi
| |
| |
ANTON VAN WOUW:
SLEGTE NUUS.
| |
| |
lessies oor geskiedenis en sedekunde te leer. Deur Mimie Sevenblad b.v. met die draad van liefde aan Woltemade te verbind, kry ons natuurlik 'n aandoenlike en heel volledige beskrywing van die heldedaad van Woltemade. Jan Greef weer is die mondstuk van die burgers en verduidelik die slegte toestande onder die O.I.K. Piet Joubert moet ons die lewe van die grensboere leer ken, ens. Ergerlik en lomp verder is die ewige foefies van ‘nou moet ek gaan eet’ of van ‘nou moet ek gaan teemaak’ of van ‘nou moet ek loop om my besigheid klaar te maak’ of die foefie van iemand laat roep, om die handeling aan die gang te hou. En wat is eintlik 'n beter bewys van dramatiese onvermoë as alleensprake, waar hier die stuk van wemel, om die plek van handeling in te neem. Sedekunde vir sover dit bestaan uit opperste geïdealiseerde burgerlike moraal, spreek natuurlik uit al die edele handelinge en woorde van die goeie karakters in die stuk, spreek ook uit die straf wat die boosdoener ervaar.
By poppekastery van hierdie aard is van karaktertekening natuurlik geen sprake nie, hier selfs nie van goeie tiepering nie. Alles word hopeloos vlak en vaag gehou. Name van persone is eintlik 'n oorbodigheid. Die skrywer kon net sowel gepraat het van ‘'n Weduvrou’, ‘Haar Neef’, ‘Die Meisie’, ‘Die Jonge Boer’, ‘'n Burger van Kaapstad’ ens., om die persone aan te gee. Die stuk sou daardeur selfs in duidelikheid kon gewen het. Piet Joubert veral word ridikuul met sy kwasi-digterlike ontboeseminge as hy die liefde vir Annie in sy boesem voel brand, of met sy verhale van dieregevegte wat nooit die moeite wêrd is om naar te luister nie. Wil u 'n voorbeeld van valse siening en volslae onvermoë van uitbeelding (dialoog en handeling) hê? Wel dan. Annie se oom, Majoor de Sully, kom toevallig aan die Kaap en verneem van haar bestaan aldaar. Hy gaan haar opsoek en vertel haar aangenome moeder Mimie Sevenblad van die erfenis wat haar wag, terwyl sy nog nie daar is nie. ‘Mimie Sevenblad gaan haastig uit om na 'n oomblik (waarin die mense intussen in die kamer doelloos rondstaan sonder om selfs iets te sê. - F.B.) in te kom met Annie aan die hand. ('n hubare meisie, presies of sy 'n kind is! - F.B.) Annie loop skoorvoetend (klein kindjie! - F.B.) en kyk Majoor de Sully verbaas aan.
Majoor de Sully.
(Spring op en groet Annie innig. (Met 'n soen, dink u? - O nee! Hy gee haar die hand en dit laat haar, sowaar, nog byna in swyn val, soos direk blyk. F.B.)] My liewe kind! Jy is die ewebeeld van jou moeder. (Pak haar hand weer en skud dit herhaaldelik. Annie skrik en deins terug.)
Dominee Serrurier.
U jaag haar die vrees op die lyf, meneer. Die meisie word bleek. (Vat die Majoor aan die skouer.) (Waarom tog? En watter floue dialoog
| |
| |
vooraf! - F.B.) (Majoor de Sully vou arms oor die bors en staan gou terug (wat al dwaas is. - F.B.) Annie wil in swym val maar word deur Mimie opgevang. Na 'n paar oomblikke, kom Annie by. (Aandoenlike oomblik! Tere plantjie! Hoogste dwaasheid. - F.B.)
Majoor de Sully.
Ek kry jammer, dat ek my niggie skrik gemaak het (Ernstig) ens. Kan dit gekker as dit?
Tenslotte. Leon Maré se taalfoutjies is hier gelukkig iets minder as wat meestal die geval by hom is. Maar so volmaak as sy karakters is die natuurlik nie. Ek wil egter nie daarop ingaan nie, maar net daarop wys dat b.v. ‘'n dik geboude man’, iets anders is as ‘'n dikgeboude man’; dat 'n mens ‘voor die dag’ met iets kom, en nie ‘voor die lig’ nie; en dat die aanspreekvorm van vrouens aan die Kaap vroeër ‘Juffer’ en ‘Juffrou’ was en nie ‘Mevrou’ nie.
Mooi Annie kan miskien nog enigsins geskik wees vir die jonge gemoedere van liewe skoolkinders van 15 of 16 jaar, wat lesse oor geskiedenis en sedekunde nog met vrug kan leer. Maar daarby eindig sy verdienstes ook. En terselfdertyd is ek nie seker nie of hul smaak nie meer bederf sal raak as wat hul kennis verryk en hul karakter verbeter sal word nie.
Meester. Dr. D.F. Malherbe soos Maré beweeg homself op meer as een gebied van die letterkunde. Hy is digter, romanskrywer en dramaturg. By hom is daar egter nie die groot verskil tussen verskillende uitingsoorte soos by Maré nie, hoewel sy beste werk tot dusver stellig sy roman Die Meulenaar is. Oor die algemeen toon sy werk, van welke aard ook, dieselfde kenmerke van goed en kwaad. Hy kan aan die een kant soms diep indring in die siel van sy mense; hy kan uitbeeld in onvergeetlike kleure, lyne en gestaltes. Maar aan die anderkant is sy karaktertekening ook dikwels vlak en onwaar of bloot vage tiepes; verval hy dikwels in, baiekeer hinderlike, beskrywing of selfsbetoog. Malherbe is ongetwyfeld die tiepe van kunstenaar wat drome droom en visioene sien, maar hy kan hul nòg volkome visualiseer nòg volkome vashou. Wel het hy meestal die grote lyn te pakke en hou groot brokstukke volgrepe siening vas. Maar een groot gawe organiese konsepsie ontbreek by hom. Bewus of onbewus voel hy egter die leemtes aan en gaan sy verbeelding forseer. So kry ons ongetwyfeld die onmiskenbaar sterk serebrale element wat Malherbe se werk kenmerk en wat eintlik die grondoorsaak is van alle gebrekkige karakteruitbeelding, van gebrek aan objektiwiteit, van valse of retoriese beeldspraak of niksseggende beskrywing by hom.
Ook Meester is so'n gebrekkig gekonsipiëerde werk. In 'n fase van herskape en herleefde 18e eeuse Boerelewe wil die skrywer die figuur van 'n meester hom sien beweeg wat heeltemal ‘anders’ is as die deursnee meester. Sy onderskeid, wat bestaan uit ongewone kennis en onbegrepe adel van
| |
| |
karakter, bring hom in botsing met sy doodgewone en kleinburgerlik bekrompe omgewing, en lei tot 'n tragiese oplossing - vir Meester natuurlik.
Die gebrekkige siening van Malherbe blyk uit die opgesette historie van die stuk; uit die weinig persoonlike, soms selfs inkonsekwente van die karakters, met uitsondering van Meester (en ook hy is lang nie suiwer geteken nie); uit die onwaarskynlike wat nie heeltemal vreemd aan die handeling van die stuk is nie, hoewel dit miskien die minste gebrek is. Oor die algemeen hou die skrywer sy lyn goed vol.
Opgesette historie. Dit blyk in besonder uit die noodsaaklikheid vir ouderwetse dekors om die stuk atmosfeer te gee. Aanwysinge hiervoor is uitvoerig. Nou het ek natuurlik teen uitvoerige aanwysinge as blote hulpmiddel weinig beswaar, veral in Suid-Afrika waar die bekwaamheid van ons amateurs dikwels veel te wense oorlaat. Maar hier sou ek my vir geen oomblik kan voorstel dat die illusie van die 18e een sonder hierdie bykomstige uiterlikhede sou kon gewek word nie. Speel die stuk b.v. teen 'n agtergrond van naakte gordyne en hy sal sekerlik platval. Die gees en eie aard van die tyd is te weinig deurwewe met die persone, spreek te weinig uit hulle besondere dink en doen.
Opgesette historie blyk ook uit gesprekke wat kenlik ingevoeg is historie- of sedeskildering te gee (b.v. p. 30, verdrukking van Boere deur O.I.K. en die opkom van opstandige gedagtes teen die owerheid sonder dat dit eintlik iets met die hooftema te doen het; en sonder skade, miskien selfs met voordeel, weggelaat kan word.) Dit blyk uit 'n suiwer histories-sedekundige invoeging soos die volksdanse en volksliedjie op p. 32. Soiets is wel mooi en leersaam, maar het stellig met die eintlike gang van die verhaal niks uit te staan nie. Ook die skoolhoutoneel (p. 48) het veel van 'n sedekundige invoeging.
Onbevredigende karaktertekening. Soos by Maré is eintlik alle figure, met uitsondering van die van Meester self, bloot tieperinge. Ook hier sou die skrywer ewegoed kon gepraat het van ‘Die Boer’, ‘Sy Vrou’, ‘Sy Dogter’, ‘Die Jongkêrel’, ens. Wel is die tieperinge heelwat vaster en beter as by Maré, maar ook hulle is nie vry te spreek van ongerymdhede en vaagheid nie. Dit val b.v. al dadelik op dat as die ‘bondeldraer’ (Meester) die eerste keer in gesig kom, dit die boer is wat wantrouend teenoor sulke persone staan, terwyl sy vrou medelye met hul toon (p. 7). Maar byna onmiddelik daarop as Meester enigsins vreemd doen (p. 11 e.v.) is die vrou die een wat byna bits-wantrouend is en die boer, Frans, is die simpatieke teenoor die nuwe aankomeling. Het iets serebraals omtrent vroulike sielkunde, die bestaan van die s.g. skerpe moederlike instink hier skielik deur die brein van die skrywer geflits, sodat hy verkies het om die hele geesteshouding van die vrou in een ruk om te gooi, om meer ‘dramatiese’ effek te bereik? Hoe dit sy, een oom- | |
| |
blik is die vrou die liewigheid self en die volgende die lelike agterdog. Geen aangename mens om te ontmoet nie! Dan is daar Gert, die jongkêrel wat op die dogter van die boer verlief raak, ook met haar verloof, maar dan moet ervaar dat sy intussen haar liefde aan Meester geskenk het. Gert moet nou ook weer per se ‘nie een van die gewone jongkêrels wees nie’ om die dogter, onder sulke omstandighede, haar vryheid terug te gee. Om iets te doen wat enige mens met gesonde verstand en selfrespek sou doen, moet hy weer superedel wees (en natuurlik terselfdertyd goedbedeeld met aardse skatte). Gelukkig dat die ‘gewone’ jongkêrels nou ook wel nie so sleg is nie, want as alle goeie meisies alleen buitegewone jongkêrels moet trou, nou.... dan sal dit maar
sleg gesteld wees met die toekomstige bevolking van die wêreld. Het die skrywer hierdie voortreflikheid van die jongkêrel nog gebruik om 'n sware gemoedstryd in Johanna uit te werk tussen die ou liefde en die nuwe, met so weinig te kies tussen beide, was dit nog verklaarbaar. Maar hy doen dit nie. Johanna is van die eerste oomblik af volkome op Meester verlief. Gert is dus niks anders as die tradisionele held van die lekker ou melodrama nie. Origens is Frans die boer wel die beste getiepeer: suiwer en raak in sy bekrompe waarheidswete, wat somar gou alle kennis buitekant sy beperkte gesigskring in verband met die duiwel bring, en vir wie daar geen goed in enige godsdiens kan wees nie, behalwe in sy eie besondere Evangeliese leer; suiwer en raak ook in die seker goedbedoelde maar nie des te minder vernietigende tieranie wat hy uitoefen oor die gevoelens van sy dogter wat hy van meester wil losskeur. Frans is die flukse boer, vriendelik en hartlik solank almal presies sy paadjie loop, maar volstrek geen afwyking daarvan duld nie. Oom Koos sy buurman daarenteen is 'n vage strooipop wat help om die toneel te vul en met Frans ‘historiese’ praatjies te hou. Ook September en Wandoe is weinig meer as sprekende poppe. Johanna word simpatiek, hoewel miskien bietjie te sketsmatig, veral teen die end, voorgestel.
Maar die uitbeelding van Meester is per slot van rekening die hoofsaak in die stuk, en hoe slaag die skrywer hierin? Inderdaad dra Meester die stuk en is 'n lewende, eie persoonlikheid. 'n Heeltemal gesublimeerde skepping is hy egter nie. Sy handeling is, op sy sags gesê, soms nogal ongerymd met sy algemene karakter.
Meester is 'n Hollander wat, diep geskok deur die dood van sy jonge vrou, op see gaan swerf het en eindelik in Suid-Afrika beland. Deur Gert, die verliefde van Johanna, (as onwetende instrument in die hand van 'n hoëre mag) gestuur, kom hy by Oom Frans, en vind in Johanna, Oom Frans se dogter, die volmaakte ewebeeld van sy oorlede vrou terug. Johanna is trouens, merkwaardigerwyse, ongeveer dag en datum gebore wat Meester se vrou dood is. Johanna voel ook dadelik tot Meester getrokke en Meester betwyfel self geen moment nie dat die siel van sy oorlede vrou weer in Jo- | |
| |
hanna leef nie. Die ouers van Johanna wil egter nie daarvan hoor dat sy die ryke en goeie Gert opgee vir só'n arme en eienaardige ‘dromer en ketter’ soos Meester nie, en in smart word die twee van mekaar geskei en Meester weggestuur. Meester gaan, gelowende en berustende in die ewigheid, wat weer siel by siel sal bring.
Meester, man van grote kennis en ervaring, peinser oor die lewe en dromer van nuwe geluk, edel, eerlik en opreg van inbors, is natuurlik te groot vir sy omgewing om begryp te word, en word om die rede deur hulle uitgewerp. Maar hy ken verdriet al te goed dan dat hy nie in hierdie nuwe verdriet kan berus nie. Die eensame soeker naar die hoëre geluk gaan voort op sy weg gelowende in sy ewigheid wat dit wel sal bring.
Ongerymd in die uitbeelding van Meester is b.v. dat hy so gou ongeduldig met sy leerling Koot kan word (p. 45). Daarvoor is hy tog veels te veel, ‘'n regtige Meester’ (p. 27) en sagaardige man (p. 23). Nog minder strook dit met sy karakter om die slaaf Wandoe die raad te wil gee om selfmoord te pleeg as hy die meid Diena nie kan kry nie (p. 43). Dat hy, wat so ‘sag en goed’ is (p. 23) ook ‘sienies’ sou spreek oor lewensgeluk, veral as hy met Gert praat met wie hy tog alleen die diepste medelye kan hê (p. 26) is onmoontlik. Hoogstens sou hy bitter kan wees, maar eerder nog weemoedig. Eweneens is ‘sarkasties’ (p. 64) stellig foutief vir ‘ironies’. Ek kan ook nie glo dat Meester middel in die dans, Johanna van Gert, met wie sy pas verloof geraak het, sou gaan losmaak en met haar die deur uitdans nie. Ek gee Meester meer krediet vir fyngevoeligheid en goeie maniere as om die goeie Gert soiets aan te doen.
Ek kan egter van Meester nie afstap nie sonder om te beken dat hy my soms bietjie verveel met die ewige storie van sy swerwery en dromery. Hy seur soms werklik 'n bietjie en laat hom veels te maklik verlei tot digterlike breedsprakigheid of wat daarvoor moet deurgaan by elke moontlike of onmoontlike geleentheid. ‘Predikant en grappemaker’ noem Oom Frans hom eenkeer. So heeltemal mis het oom Frans dit ook nie. Moralis is Meester, en ook humoris, maar dan tog veel meer moralis as humoris.
Tenslotte is die handeling van die stuk nie altyd ewe waarskynlik nie, maar hierby kan ek kort wees. Gebreke hier is van ondergeskikte belang en ek volstaan met te wys op die buitengewone korte duur van die skoolles (p. 45 e.v.) vergeleke by die duur van die res van die handeling en op die seer-optydse toevallige terugkeer van Gert (p. 71) en van Johanna se liefde vir Meester te verneem en haar edelmoedig haar vryheid terug te gee.
Dit val op hoe Malherbe homself in die laaste tyd blykbaar meer getrokke voel tot die uitbeelding van enkele figure as groepe van figure. Die Meulenaar, Meester, Hans-die-Skipper almal toon hierdie gemeenskaplike trek. In sodanige uitbeelding en in milieutekening lê dan ook sy grootste krag, soos
| |
| |
veral Die Meulenaar in die figuur van Frans en in die uitbeelding van die plaaslewe getoon het. Meester volg op hierdie spoor, maar slegs van verre.
Van Riet, van Rietfontein. Meester was 'n drama van die onbegrepe eenling, wat bots met die sosiale stelsel van 'n vergange tydperk. Van Riet is 'n drama van botsing met die sosiale stelsel van eie tyd.
Van Riet soos hy eerste deur my aan die Kaap opgevoer is en soos hy nou gepubliseer is, het 'n hele verandering ondergaan, en ek weet werklik nie of hierdie verandering in alle opsigte 'n verbetering is nie. Op die ou gestalte het 'n nuwe kop gekom in die vorm van 'n splinternuwe oplossing. Ek moet beken dat die nuwe oplossing, objektief beskou, miskien die beste is. Terselfdertyd voel ek nie heeltemal oortuig dat die nuwe kop genoegsaam uit een stuk met die hele gestalte lyk nie. Ek meen nog lasplekke en onvolkomenhede van postuur te ontdek, wat toe te skrywe is aan die verandering van die oorspronklike konsepsie.
Soos die stuk nou is, is die inhoud kortliks as volg. Jan van Riet van die plaas Rietfontein in die Vrystaat, is 'n rotsvaste, trotse ou Afrikaner, groots op sy Voortrekkerafkoms en oortuig van die strenge noodsaaklikheid om Kaffer en kleurling op hul plek te hou. Sy seun Pieter, daarenteen, professor aan 'n uniwersiteit, is veel vryer van opvatting en hart en siel verlief op iemand met kleurlingbloed in die are. Hierdie persoon, Malie Hartman, is 'n kunstenares van naam, van groot adel van karakter, en so blank dat jy eintlik nie aan haar kan sien dat sy nie heeltemal wit is nie. Die feit van haar afkoms is egter bekend, tog wil Pieter met haar trou. Hierin het hy die steun van sy suster Engela, en haar verloofde, wat ook sy vriend en kollega is, Professor Prins. Hulle is oortuig dat oorerflikheid in hierdie geval geen rol speel nie. Teen so'n huwelik verset die oubaas hom egter onverbiddelik. Liewer geen seun nie as so'n seun, en jaag hom die huis uit, met sy vriend wat hom bystaan.
Malie se selfrespek weerhou haar egter om met Pieter te trou tot sy alles in haar vermoë gedoen het om die oubaas se besluit te verander. Engela, aanvanklik in twyfel naar watter kant haar plig haar roep, bly eers by haar vader. As hy egter onvermurwbaar bly, selfs na hy, nie wetende dat hy Malie Hartman voor hom het nie, haar, die uitgeknipte vrou vir Pieter gevind het, volg Engela, na 'n jaar, ook die plig van haar liefde en verlaat haar vader.
Gebroke in lewensmoed en geslae van gees, maar origens onversetlik soos altyd, help die oubaas meer as ooit armblankes. Hierdeur en deur die listige streke van Koos Meintjies (wat, as seun van 'n ou vriend van van Riet, van Riet se vertroue gewen het, hom onder die indruk gebring het, dat hy die nuwe uitverkorene van Engela was, en hom gekry het, om borg te staan
| |
| |
vir 'n groot som geld) en die Jood Roossen, kom van Riet binne 'n jaar na Engela se vertrek op die rand van bankrotskap te staan.
Sy kinders daag op om hom te help. Die hulp neem hy aan om die plaas vir die kinders te red. ‘Dis nou julle s'n. Ek het klaar daarmee.’ Maar die huwelik van Pieter met Malie, wat ook opgedaag het in 'n laaste poging om sy toestemming te verkry, bly hy weier. Hoe leed dit hom ook doen, sy hele siel verset hom daarteen en ‘watter voordeel het die mens as hy die hele aardryk gewin en sy eie siel skadely?’, vra hy. Maar as hulle hulle gang wil gaan, goed, ‘Alleen sal ek my weg vervolg,’ sê hy, en roep hulle ‘Vaarwel’ toe.
Maar Malie wat nie langer die oorsaak wil wees van so groot vervreemding en ongeluk in 'n huisgesin nie, wat ook nie ‘die hart het om die moeder te word van 'n kind wat, op sy beurt, hierdie martelaars-kelk moet ledig nie’, verkies om haar, hoe lief Pieter haar en sy hom ook het, uit daardie huis te onttrek. ‘My hart sal breek... maar... ek het altyd my viool’, is haar bittersoete troos.
In die ou stuk was die oplossing net andersom. Daar probeer Malie nie 'n twede keer om die ou man se hart te versag nie, maar trou met Pieter. En daar is dit die ou man, wat hom van sy huis en kinders onttrek, omdat sy plig en selfrespek hom ten enemale verbied om soon huwelik goed te keur of selfs daarin te berus. Liewers gaan hy eensaam by een van die armblankes tuis wat hy gehelp het, terwyl hy uitroep, ‘Vaarwel, my kinders.’
So bewonderingswaardig as wat die skrywer die nuwe oplossing op die ou stuk aangebring het, voel ek dan tog nog onvolkomenhede. Ek voel dit, afgesien van kleinigheidjies, besonderlik in die baie skielike ondergang van van Riet en Koos (wat ook spoedig alles kwyt is). Dis miskien nog net moontlik dat Koos, deur sy spekulasies veral, in een jaar tyd so volslae kan uitboer. Maar dat van Riet met sy sterke karakter en skrandere kop, in die korte tydperk van twee jaar so op die rand van die afgrond kan kom, lyk my 'n heeltemal geforseerde tempo. 'n Welgestelde en flukse boer met sy eie plaas, seker nie minder werd as die van Koos Meintjies nie (£ 15,000) kannie deur een borg van £5,000, gesteld selfs hy moet dit tenvolle opdok, wat hier baie onwaarskynlik onder die omstandighede lyk, en gesteld selfs dat hy sy armblankes vry roekelloos gehelp het, so gou, sonder meer, tot sy ondergang geraak nie. Ongetwyfeld lê die verklaring van hierdie fout in die feit dat die voltrekking van die ondergang hom in die ou stuk oor 'n paar jare uitgestrek het, terwyl dit nou feitlik tot een jaar beperk word, om die nuwe oplossing doeltreffender te maak.
Die nuwe oplossing as sulks vind ek 'n verbetering. Dis 'n meer natuurlik-maatskaplike. Maar ook hier weer vind ek 'n leemte deur die ver- | |
| |
andering. In die ou stuk staan ou Jan van Riet eintlik alleen teen al die andere, en soos die skrywer hom daar voorstel is hy eerder blindkonserwatief as beredeneerd teenoor die jongspan se meer gegronde opvattings en breëre menslikheid. Gevolglik gaan die oorwig van simpatie by die gehoor meer naar die kant van die jongeres toe. Ons kry van Riet jammer, maar ons voel ook dat as hy dan nie wil buig nie, moet hy maar breek. Die eenling moet wyk, waar die maatskaplike beskouing anders wil. Dat van Riet verkies om te breek vind ons natuurlik en heeltemal in ooreenstemming met sy karakter. In die nuwe stuk tref die ongeluk Malie. Malie se houding is m.i. ook heeltemal voldoende gemotiveer uit die redene wat sy opgee. Alleen word een van daardie redene nie voldoende uitgewerk in die stuk nie. Malie proef die bitterheid van maatskaplike ostrasisme en wil nie dat enige kind van haar dieselfde marteling ervaar nie. Dit word egter lang nie duidelik genoeg in die stuk uitgebring nie, selfs nie in Malie se eie woorde nie. Ons begryp wat Malie bedoel. Maar sou 'n vreemdeling dit ook doen? Ek twyfel.
Die nuwe stuk skiet dus kort in hierdie opsig dat die besondere geval nie duidelik genoeg gesien word in sy kader van 'n maatskaplike verskynsel nie. Van Riet se handelwyse is nie 'n indiwiduele nie. Die haas blinde vooroordeel van een man sou Malie nie regverdig om moederskap te weier nie. Maar hierdie een man is maar een van vele; hy doen maar wat iedere vader in Suid-Afrika sou doen. Hy is slegs die vertolker van 'n hele maatskaplike beskouing en dit gee sy optrede sy grote krag. Daarom is Malie se besluit reg. Sy ly onder 'n maatskaplike stelsel wat maar al te seker haar kinders ook sal tref. Maar dit moes die skrywer duideliker uitgebring het èn in die latere optrede van van Riet èn in Malie se begryp van die toestand. Ook hierdie leemte lyk my moet toegeskrywe word aan die verandering wat die stuk ondergaan het. Van Riet het nog te veel die ou eenling gebly wat deur sy enge starheid dwars teen 'n nuwe maatskaplike beskouing in, verloor, i.p. die onmiskenbare draer van 'n maatskaplike gedagte te wees.
Hiermee dink ek is egter die vernaamste tekort-kominge wat die stuk nog aankleef, aangedui en hulle lyk my van minder belang vergeleke by die verdienstes van die stuk. Een ding is seker, die psiegologie van die stuk het 'n hele boel deur die verandering gewen. Daar het meer diepte ingekom, daar het meer groei ingekom, veral wat van Riet en Malie betref. Van Riet is nie meer enkel die harde, haas onmenslike onversetlike ou man nie. Die grootheid en beminlikheid van Malie se karakter tref en trek ook hom, sodat ook hy sagter teenoor haar gestem raak, en die milde vog van menslike meegevoel by hom begin vloei. Hy voel nog hy moet haar verbintenis met sy seun weier, maar nou doen dit hom pyn. Verkeerderlik dan ook, as erfenis uit die verlede waarskynlik, praat die skrywer nog hier van van Riet se ‘trots’ i.p.v.
| |
| |
GREGOIRE BOONZAAIER.
'N NATTE DAG (NEWLANDS).
(In die besit van J.M.H. Viljoen, Kaapstad.)
| |
| |
sy ‘onversetlikheid’ of beginselvastheid (p. 99; vgl. p. 74 famielietrots i.p.v. famielie-eer). In besonder egter wen Malie deur die verandering van die stuk. Sy hoef nou nie meer veral bekoorlik en groots van karakter te lyk nie; sy kan dit ook wees in woord en daad. Wat 'n moed en volharding toon sy in haar stryd teen die enge (?) rasgevoel van die onbaas; wat 'n grootheid van siel en breedte van begrip in die uiteindelike selfverloëning!
Ook die ander karakters is goed geteken: die oppervlakkige windbuks, Koos Meintjies; die ou meid Klara, wat, ironie van die lewe, eintlik juis die deugde verpersoonlik wat die oubaas in haar ras misken; Roossen, die Jood, die ‘seekat, met sy kloue op die helfte van die distrik se plase’, glad van tong, deurtrapte skelm, handig om orals sy slag te slaan, met slegs een kode van sedelike gedrag nl. om niks teen die wet te doen nie; Engela, goedopgevoed, liefdevol en waardig, sag (maar ook skerp as dit nodig is) en ferm, verskeur deur haar liefde vir haar vader en vir haar verloofde; Lena, die liewe, sagte, dankbare bywonersvroutjie, ens.
Foutjies van dialoog, mindergeslaagde gebruik van woorde en uitdrukkinge val nog aan te wys. So vind ons op p. 14 bloos i.p.v. skaamkyk; p. 18 die doellose en verbandlose veronderstelling van Prins op Pieter se woorde of die van Riets ook kleurlingbloed sou hê, ens. In besonder wys ek egter op die verkeerde gebruik van ‘Mejuffrou’ i.p.v., ‘Juffrou’, as aanspreekvorm in die stuk. Hierdie fout is baie algemeen by Afrikaners en ontstaan natuurlik deur die verkeerde gebruik van die skryfvorm Mej. (Mejuffrou). Die dialoog vertoon veral 'n leemte op p. 29, onderaan. Hier kan van Riet op sy beurt gerus 'n krom draai geloop het om op die punt van die noodsaaklikheid van die handhawing van rassesuiwerheid te kom. Soos dit is volg sy woorde nie logies op die voorafgaande nie, en lyk bietjie by die hare ingesleep deur die skrywer om die gesprek die nodige wending te gee vir die dramatiese ontwikkeling van sy stuk.
Tegnies sit die drama uitstekend inmekaar. Hier was 'n skrywer aan die woord wat die toneel ken. Eksposiesie en verwikkeling, kriesis en oplossing volg vlot op mekaar en sit heg inmekaar. Miskien is die redeneringe oor die kleurlingvraagstuk in die eerste bedryf bietjie uitgerek, maar met goeie voordrag en bewegings hoef dit geen hinder te veroorsaak nie. Steeds weet die skrywer die juiste atmosfeer aan te bring. Grappigheid en humor lig verfrissend en ontspannend deur die stuk heen. Die skrywer se uitvoerige aanwysings behoort veel te help by 'n opvoering van die stuk. Tog is hy in aanhangsel 2 (p. 104) op gevaarlike terrein; veral waar hy dit het oor opvoering, spelleier, speler en gehoor. Hy moraliseer oppervlakkig en skiet nogal bokke; druk hom ook soms swak uit b.v. 'n stuk word gebore in die ‘brein’ (i.p.v.b.v. gemoed, verbeelding) van die skrywer. Maar hierdie gedeelte val eintlik buiten die bestek van my bespreking, en ek laat dit dus hierby.
| |
| |
Kort en goed, Van Riet van Rietfontein is 'n deurvoelde, beskaafde drama, met mooi spel van humor tussendeur en uiters speelbaar. Ja, ons sou dit kan noem die eerste oorspronklike stuk in Afrikaans, wat, met 'n onderwerp gegrepe uit die Afrikaanse lewe, waarlik in alle opsigte waar en lewend is. 'n Stuk soos Die Heks is suiwerder en dieper in sy tragiek as Van Riet. Maar die opset is veel kleiner en die onderwerp is nie Afrikaans nie.
Ons het op die oomblik 'n Afrikaanse beroepstoneel in die sin van rondreisende toneelgeselskappe soos die van Paul de Groot en Die Afrikaanse Toneelgeselskap, wat stukke in Afrikaans voor die publiek bring. Met uitsondering van Die Heks is nog geen enkele oorspronklike Afrikaanse toneelstuk deur hul opgevoer nie. En ek kan dit billik. Werke soos Reg bo Reg van Jan Celliers of ook 'n Esau van Grosskopf is nog nie van voldoende gehalte nie. Van Riet van Rietfontein sou egter wel vir hierdie doel in aanmerking kan kom.
Daarmee wil ek nie sê dat, vergeleke by die beste in die Afrikaanse letterkunde op gebied van b.v. die roman of digkuns, hierdie stuk dieselfde kunshoogte bereik het nie. Maar ek wil wel sê dat hierdie stuk 'n waardige volger op daardie spoor is.
By die eerste opvoering van Van Riet van Rietfontein in Kaapstad het Die Burger die stuk verwelkom, in die klassieke woorde van President Steyn, as ‘die eerste reëndruppel na 'n langdurige droogte’ op die akker van ons toneel-letterkunde, wat nou 'n kans kry om te bloei met die opkoms van ons Afrikaanse toneel. As sodanig en meer nog wil ook ek die stuk verwelkom.
F.C.L. BOSMAN.
| |
| |
| |
Proceedings of the classical association of S.A., 1927-1929.
(Standard Press, Cape Town.)
NOUDAT daar 'n reaksie gekom het in Amerika en in die meeste Europese lande ten gunste van die Klassieke (die bewys is te vinde in verskeie rapporte en onderwyswette) is dit verblydend om te sien dat ook in S. Afrika die belangstelling sodaing gestyg het, dat die uitgawe van vier voordrae oor klassieke onderwerpe moontlik geword het. Die Klassieke Vereniging van S. Afrika het in die laaste paar jaar vooruitgang gemaak; en dit sou jammer wees as die kortsigtige neiging wat daar bestaan, veral in ons Afrikaanse skole, om die klassieke ontoegangbaar te maak vir ons kinders en hul so van 'n erfnis te beroof, die bedrywigheid van hierdie vereniging uiteindelik sou kortwiek.
Want in 'n land wat besig is om sy eie letterkunde op te bou, wat worstel met taal-probleme in Afrikaans of in Bantoe, is dit tog van onskatbare waarde om die klassieke letterkunde te studeer - 'n letterkunde wat al ons hoof-litteratuur-genres geskep het en voortgeplant het - en om die taalkundige lesse van Grieks en Latyn, wat ook analogieë oplewer vir die ontstaan van Afrikaans, ter harte te neem. Dan is daar Argeologie wat nou so snel ontwikkel, wat daeliks die klassieke wêreld vir ons duidliker openbaar ook in verband met Afrika (Noord, Middel en Suid) (dis nie alleen Mussolini wat hierin bedrywig is nie!) en wat in die laaste tyd van groot belang geword het. Die Ou Geskiedenis, weer, wat ons die grondslag van ons Westerse beskawing aantoon, kan ons menig 'n les leer in verband met organisasie, regering en die verhouding van ras tot ras; om nie te praat van die morele ontwikkeling van 'n boere-bevolking, met sy arme-blanke-kwessie en sy land-problem en sy verhouding tot 'n oorseese kultuur nie. En eindelik is daar die antieke kuns wat so 'n geweldige rol gespeel het in die opvoeding van die Europese skoonheids-gevoel en nog altyd verfrissend, gesond en fundamenteel sal bly te midde van al die rigtinge wat die moderne kuns ook mag inslaan.
Wie die lys van voordrae wat gedurende die jare 1927-1929 gehou is, nagaan, sal verbaas staan oor die verskeidenheid van onderwerpe wat (sommige verblydenderwys in Afrikaans) deur die verskillende takke te Kaapstad, Johannesburg, Stellenbosch, Bloemfontein, Pretoria, Wellington en Grahams- | |
| |
town behandel is. Hiervan is vier in die ‘Proceedings’ opgeneem, met 'n voorwoord van die voorsitter, Professor W. Ritchie.
Die interessantste is miskien die opstel van Ds. A. Fox (nou van Magdalen College, Oxford) oor ‘The New Testament and its place among the Classics’. Hy let op die handskrifte van die N.T., op sommige van die kritiese probleme wat in verband met hul ontstaan, op die estetiese sy en op die moontlikheid van 'n vergelyking met sommige van die groot klassieke stukke. Caspar René Gregory, 'n Amerikaner wat in Duitsland die opvolger van die groot Tischendorf geword het, en op 70-jarige leeftyd aan die Duitse kant in 1917 gesneuwel het, kon meer dan 4000 MSS. vasstel wat 'n aansienlike deel van die N. Testamentiese teks bevat. Van die Evangelies is daar meer as 2000 handskrifte, die oudste waarvan geskrywe is binne 200 jaar na die oorspronklike verskyning van die laatste boeke van die N.T. Paleografies gereken, is dit baie goed, aangesien die oudste MSS. wat ons besit van Euripides slegs van die 12e een afkomstig is, d.w.s. sowat 1500 jaar na sy dood, terwyl die oudste fragmente van Homerus (uit die sand van Egipte opgegrawe) minstens 'n halwe een na die ontstaan van die gedigte dateer. Fox het interessante aanmerkings in hierdie verband, ofskoon ons mag betwyfel of die Kristene werklik die moderne boekvorm d.w.s. die codex met perkament-blaaie ingevoer het, aangesien sulke boeke in Martialis (1ste een v. Kr.) genoem is.
Hoe die boeke van die N.T. versamel is en tot 'n eenheid gemaak is deur hardop lees in die Kerke, sodat sommige boeke van die hand gewys en buitekant die Kanon gelaat is, word op interessante wyse vertel. Die aard en ontstaan van die ‘Sinoptiese Probleem’ word aangedui (Streeter se werk oor die onderwerp is hier van groot belang) en die opstel eindig met 'n beskouing van die estetiese waarde van die N.T.
Tydig is die waarskuwing (waarmee die skrywer hartelik akkoord gaan) teen die oordrewe verguising van ‘Hellenistiese’ Grieks en die beperking van alles wat goed is in die ou letterkunde binne Ciceroniese of Ateense grense. Terloops raak Fok aan die Afrikaanse vertaling van die Bybel en sy woorde is die moeite werd om aan te haal:
‘This Afrikaans undertaking ought to be tremendously interesting to a classical scholar. For the original Greek was written in a bilingual, if not a trilingual environment, in a language which had a classical tradition behind it, though at a distance of two centuries or more, in an idiom which belonged distinctly to the spoken rather than to the written word, though an idiom in which a few successful attempts at literature had already been made. These conditions are almost exactly reproduced in the case of the language into which the Greek has now to be translated. The N.T. in Afrikaans, if the work is done with a pure heart, may easily prove to be a masterpiece.’
| |
| |
In die voorstelling van die N.-Testamentiese geskiedenis vind Fox hoedanighede wat ons gewoond is om met die klassieke te verbind - objektiwiteit, onpartydigheid, 'n weerhouding van die skrywer se gevoelens of van moraliserende kommentaar. Daar is niks van die analiserende nuusgierigheid wat soms so lomp en ongesond in die moderne literatuur voorkom nie. Dink byvoorbeeld aan die gebeurtenisse wat die Kruisiging voorafgaan en die eintlike voorstelling van die Kruisiging: daar is 'n Griekse matigheid en 'n ekonomie wat des te sterker op die leser inwerk.
Meningsverskil sal daar seker wees oor die vergelyking in tegniek van die N.T. met die Simposion van Plato en die Oedipus Koloneios: maar die poging is interessant om na te gaan. En baie gesond is die pleidooi wat hy maak vir die lesing van die N.T. as 'n geheel en nie by stukkies en brokkies nie, volgens die teksnommers wat later in die MSS. ingevoer is. As ons af en toe bymekaar wou kom en die hele Evangelie van Markus deurlees, sonder preek of kommentaar, sou ons meer kans hê om die artistieke en geestelike eenheid daarvan te waardeer.
Ek het my geen ruimte gelaat om die ander voordrae te bespreek nie. J.H. Hofmeyr skryf met Romeinse welsprekendheid oor die imperialisme van die Romeinse Ryk - die ondergang waarvan (sê die Sweedse geleerde Nilsson) die grootste tragedie in die wêreld is. Miss M.V. Williams van die Randse Uniwersiteit hou met haar gewone deeglikheid 'n waardevolle betoog oor ‘The Religious Basis of Plato's Philosophy’ en Mnr. Patrick Duncan, wat, nog te midde van die politiek, 'n toevlug in die klassieke skrywers vind, gee 'n goeie opsomming van ‘The Platonic Doctrine of Reality’. Al hierdie voordrae verdien 'n aparte bespreking en is 'n krediet vir die Klassieke Vereniging van S. Afrika: maar ons staan voor die ou moeilikheid - so oud soos Hippokrates - ars longa, vita brevis.
T.J. HAARHOFF.
|
|