Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930
(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 34]
| |
II.IN enkele van sy latere werke bespreek Horatius ook letterkundige kritiek, beskouinge oor ouere Romeinse digters, maar ook oor die prinsiepes van literêre komposiesie in die algemeen. Daardeur kan ons 'n uitstekende denkbeeld vorm van Horatius se ideale in dié opsig. Sy kritiek op voorgangers wys gewoonlik op hulle gebrek aan fyne afwerking en polysting. ‘Die arbeid van die vyl’, die egte skawing is noodsaaklik, sê Horatius, om die hoogste kuns te skep. Ten eerste is strenge selfkritiek nodig en moet die digter nie skroom om wat oorbodig is te besnoei en te verwyder nie: ‘So sal hy, aan 'n helder stroom gelyk, kragtig en klaar sy woordevloed laat uitstroom en Latium met sy ryke taal gelukkig maak; al te weelderige woorde sal hy besnoei en inkort; te harde en ruwe deur gesonde, verstandige behandeling glad maak en beskaaf; woorde waar murg en pit aan ontbreek, sal hy nuwe krag gee (deur nuwe verbindinge) en by dit alles sal hy die skyn gee of die kuns vir hom slegs 'n spel is, maar in werklikheid sal hy sy uiterste bes doen en hom groot inspanning getroos.’ Geen wonder dus dat in die suiwere lieriek van Horatius juis daardie eieskappe in die hoogste mate aangetref word. Die lieriese poësie, die Carmina of Odes van Horatius, kan ons moeilik volle reg laat wedervaar sonder bespreking van die Latynse teks. Ons sal ons dus moet beperk tot die behandeling van enkele kenmerkende trekke van die Odes. Die letterkundige wenke wat ons hierbo uit die Briewe gesiteer het, bring die digter self ten volle in toepassing. Vandaar dat die Carmina deur die eene heen beroemd was om hulle vermetele, gelukkige segging; ‘verbis felicissime audax’ noem Quintilianus ons digter. Vermetel is miskien ook nie die regte woord nie. Dis die onnavolgbare talent van Horatius om presies die juiste woorde te kies, en hulle tot een frase saam te smeed, sodat dit skitter as 'n fonkelende juweel. Daar is nooit jagmaak op effek nie, nooit hoogdrawende sinne nie, maar eg klassieke selfbeheersing, helder plasting en skerp-omlynde gedagtes. Daarom het so talryke verse van die Odes spreekwoordelik geword: ‘Iustum et tenacem propositi virum, ens.’ (die man wat onwrikbaar staan in sy opregte lewe); ‘Integer vitae scelerisque purus’ (die man van onkreukbare karakter en rein van hart); ‘Aequam memento rebus in arduis servare mentem’ | |
[pagina 35]
| |
(Gedenk sowel in voor-as teenspoed om 'n rustige ewewig te bewaar); en veral: ‘Nec trepides in usum poscentis aevi pauca’ (Moenie altyd wil jaag om die beker van die lewe ten volle te ledig nie, die lewe wat tog so weinig eis, - om innerlik geluk te smaak -). Dit sou ons te ver voer om die verskillende elemente van die Odes te behandel. Ons doel was om die mees prominente kenmerke aan te toon, en ons sal nou liewer die laaste werk van die digter, waaruit sy lewensbeskouing duideliker na vore tree, meer uitvoerig behandel. Ongeveer tien jaar na die Satieres het Horatius sy Briewe geskrywe wat hy ewenwel ook ‘Sermones’ (‘Gesprekke’) noem. Die naam teken sy werk duidelik. In die Briewe - wat meestal slegs in vorm briewe is - bespreek die digter lewensprobleme in eenvoudige gesels-trant. Aan die aand van sy lewe trek hy hom meer en meer terug uit die woelige wêreld, en wy hom aan innerlike beskouinge. Hier sien ons Horatius in sy rypste periode, waarin hy die vrugte pluk van 'n lewe ryk aan ervaring en filosofiese oordenking, en ons die slotsom van sy bespieëlinge aanbied. Dis om die rype lewenservaring wat uit sy eenvoudige erns spreek, dat Horatius eene lank die geliefde digter van mense gewees het, wat self midde in die stryd van die mense-wêreld gestaan het en daarom sy diepte van blik en krag van karakter leer waardeer het. Ook in hierdie ‘Gesprekke’ vind ons weer dieselfde ligte, losse geselstoon, skynbaar kunsteloos, maar in waarheid is dit die hoogste kuns wat die kuns verberg. Die brief wat hy aan Maecenas rig om sy afwesigheid uit Rome te verontskuldig teenoor sy ongeduldige vriend, aan wie hy alles te danke het, is 'n model van onnavolgbare fynheid van komposiesie, van takt en kiesheid van inkleding, en tegelyk ook openbaar dit die onbuigbare karakter, waarmee hy sy onafhankelikheid handhaaf. Horatius het uit die hitte van die ongesonde Rome na sy landgoed ‘die Sabinum’, wat Maecenas hom self geskenk het, gevlug en op die klagte van sy vriend stuur hy hierdie brief wat die hooggeplaaste, magtige Maecenas laat besef dat hy ondanks al sy gawes, geen reg het om eise aan sy vriend te stel nie, en wat aan die ander kant die onafhanklikheidsgevoel, wat die digter veral aan sy wysbegeerte te danke het, seer kies en beleefd, maar ook seer beslis tot uiting bring. Horatius se toon gee blyk van opregte dankbaarheid vir die gunste van sy patroon, maar, sê hy, Maecenas is nie 'n man om gawes te verkwis wat hyself nie waardeer nie; hulle is inteendeel bedoel om die gunsteling gelukkig te maak en dáárom sal Maecenas self insien dat gawes wat die begunstigde van alle vryheid berowe, geen geluk bring nie, hulle doel mis en daarom die gewer self onwaardig is. ‘Wens U, Maecenas, my teenwoordigheid in Rome in die ongesondste tyd, gee my dan my jeug en jonge krag terug. Wens U totale opoffering van my vryheid in ruil vir u gunste, neem dan al u gawes | |
[pagina 36]
| |
terug en laat my my vryheid behou.’ En dit is geen grootspraak nie. Hy is bereid om alle weelde en welvaart wat hy aan Maecenas dank, op te gee omdat sy wysbegeerte hom daartoe in staat stel en hy geen slaaf van weelde en rykdom geword het nie. Hier kan ons uitstekend in praktiese vorm die vrugte van die latere Griekse filosofie aanskou. Sowel Epikureërs as Stoïsyne het as ideaal gestel dat die mens onafhanklik moet wees van uiterlike omstandighede en 'n innerlike selfstandigheid moet aankweek wat die spot drywe met die wisselinge van die lot en die ontberinge van die stoflike lewe. Die denkbeeld is nie abstrak behandel nie, maar volgens gewoonte ingeklee in 'n dramatiese toneel, wat beter dan enige betoog die innerlike bevryding van die laste van die lewe illustreer. Die ryk, gejaagde advokaat, Philippus, ontmoet 'n eenvoudige man, Volteius Mena, afslaer van beroep, wat in die skaduwee van 'n barbierswinkel te midde van die hitte sit en uitrus, terwyl hy op sy gemak met 'n sakmessie sy naels skoonmaak. Daar is min sketse in die wêreldliteratuur wat so plasties die uiterste rus en onbesorgdheid teken in teenstelling met die gejaagde bedrywigheid van die ryk advokaat. Die verhaal vertel verder, hoe Philippus Volteius uitnooi na sy landgoed, hoe Volteius eers meegesleep word in die maalstroom van weelde ‘soos 'n vis aan die haak’, - ook self 'n landgoed koop van geleende geld en as 'n groot heer lewe, totdat die teenslae en die harde werk hom wakker skud en hy na sy ou eenvoudige, maar onbesorgde lewe terugkeer. Horatius het, ondanks die aansienlike kringe waarmee hy in aanraking gekom het, die regte maatstaf nooit uit die oog verloor nie, en altyd besef dat uiterlike lewensomstandighede slegs in geringe mate innerlike vrede en ewewig beïnvloed. In enkele latere Briewe behandel die digter meer diepsinnige vraagstukke: die onderskeid tussen skyn en werklikheid en die innerlike vryheid van die man wat die deug navolg. Die eerste een bevat 'n raadgewing aan sy vriend Quintius; mense is altyd bereid om ons hoog te prys. Die gevaar is dat ons alte geneig is om dit as volle waarheid aan te neem en alle selfkritiek te onderdruk. Ook hy wat aan alle uiterlike voorwaardes van 'n deugdsame man voldoen, maar innerlik te kort skiet, sal nooit werklike geluk ken nie. Maar die egte kern van ware deug lê dieper: 'n slaaf wat uit vrees vir straf nie steel nie, is slegs goed uit vrees, nie van nature nie. So ook is dit by mense moeilik om die ware natuur te ontdek; die ware deug lê in die wens om kwaad te vermy, d.w.s. in die werklike vryheid van begeertes en hartstogte. Alleen die man wat homself in al sy neiginge en wense volkome kan beheers, is waaragtig vry. Die hoogste deug is dus sinoniem met die hoogste vryheid, en bestaan daarin dat ons die skyn kan onderskei van die werklikheid in die lewe. Besit en eiendom is in waarheid eintlik skyn; die besitters volg mekaar op soos | |
[pagina 37]
| |
die golwe van die see, en ook verder is ons, indien ons deur koop van die opbrengs van iemand anders se grond lewe, feitlik net so goed besitters van die grond as die eienaar self. Daar is mense wat jaag na rykdom en weelde; daar is ook 'n enkele wat hom nie om daardie dinge bekommer nie. Horatius haak nie na groot rykdomme nie, maar is tevrede met sy eenvoudige bestaan. In talente, uiterlike stand en vermoë was hy miskien wel die laaste onder die eerstes, maar tog ook seker die eerste onder laastes. Die belangrike vraag is of die hart vry van geldsug en eersug is, of ons vrees koester vir die dood. En ten slotte dring die digter deur tot die intiemste skuilhoeke van die menslike hart: ‘Tel ons by iedere verjaarsdag wel die getal jare met 'n dankbaar gemoed? Word ons meer vergewensgesind teenoor die gebreke van ons vriende? Word ons, by die nadering van die ouderdom, sagter gestemd en beter van aard? Wat baat dit ons as ons van die baie dorings slegs een uitgetrek het?’ Inderdaad, dis moeilik om te besef dat ons hier 'n stem hoor van byna twintig eene gelede, so modern klink dit; die geluid is soos van 'n vriend naas ons wat ernstig met ons praat. Die uitdrukking waarmee Persius Horatius gekenskets het, kom telkens weer by ons op: ‘Hy speel om ons hartspiere’ - ‘Circum praecordia ludit’ - ‘hy dring spelenderwys tot ons harte deur.’ Ook Mackail se woorde: ‘He strikes in the centre’, druk die volle betekenis van Horatius as digter uit. Hy leer ons die lewenskuns, nie as boetprediker of egte moralis nie, maar as 'n vriend wat eie feile ken en uit die rykdom van sy ervaring spreek, met die gesag ook van 'n man wat self volgens sy eie prinsiepes gelewe het. Horatius het deur sy magtige vriende voldoende geleenthede gehad om tot hoë winsgewende ampte op te klim. Hy het 'n aanbod om Keiser Augustus se private sekretaris te word afgeslaan, en verkies om sy eie lewe van studie en vryheid te lei, 'n lewe van eenvoud maar van innerlike rus en ewewig. Dis onmoontlik om Horatius as mens te skei van die digter, of die digter van die mens - die twee is onafskeidelik verenig en saamgesmelt: daarin lê die grootste roem sowel van die mens as van die digter.
P. VAN BRAAM. |
|