Sy het kalm geantwoord, versigtig, op die manier van 'n slim, gevatte en beleefde ou meisietjie.
En ek het daagliks gekom, soms tweemaal per dag, want ek het geweet wanneer sy alleen sou wees.
Om my besoeke 'n billike voorkoms te gee het ek ontelbare briewe aan vriende geskrywe en aan 'n leër van blote kennisse 'n klomp onmoontlike goed getelegrafeer, sodat die praatjie in Parys was dat ek skielik gek geword het.
Elke dag het ek vir myself gesê: ‘Vandag, ou kêrel, moet jy 'n liefdesverklaring maak.’ Maar haar koue manier het verhoed dat die woorde: ‘Juffrou, ek het jou lief’ my lippe verlaat het.
Ek het my altyd maar beperk deur te stamel: ‘Wees asseblief so goed en gee my 'n drie-sou posseël.’
Die situasie het langsamerhand ondraaglik geword.
Toe die dag vir my terugreis begin nader het, het ek besluit om my skepe agter my te verbrand en alles te waag om alles te wen.
Ek het die kantoor ingestap en die volgende boodskap geskrywe: -
‘Coquelin, Cadet, 17 Boulevard Haussmann, Parys: -
Ek is dood verlief op 'n klein rooikop telegrafiste op Baisenmoyen-Cert.’
Bewend het ek haar die telegram oorhandig.
Ek het tenminste verwag dat haar pragtige wit gelaatskleur sou bloos. Maar nee!
Gêen spiertjie het geroer nie! Op die kalmste manier ter wêreld het sy gesê: ‘Neën-en-vyftig centimes, asseblief.’
Totaal verslae deur hierdie kalmheid nes asof sy 'n koningin was, het ek in my sakke rondgevoel vir die geld.
Maar ek kon nie 'n sou vind nie. Uit my sakboekkie het ek 'n duisend-franc-noot gehaal en dit aan haar gegee.
Sy het die noot geneem en dit noukeuriglik beskou.
Die ondersoek het gunstig geëndig, want skielik was haar gesig één glimlag en sy het in 'n aansteeklike skaterlaggie uitgebars, om haar verbasende mooi tande te ontbloot.
En toe het die mooi jong noointjie in die Parysenaar se aksent gevra: ‘Wil jy die kleingeld terug hê?’
ALPHONSE ALLAIS. (Vertaal deur J. VON MOLTKE.)