Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930
(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 24]
| |
Die Naggees.As die halfmaan oor die velde sy flou skemerlig neerstort
en die groene omurambeGa naar voetnoot*' tot 'n donker krulstreep word,
kom 'n koel lug oor die vlaktes en die grassies fluister sag,
need'rig buigend voor die aankoms van die Groot Gees van die nag;
en die nagwind is sy bode en hy kom, die Grote Gees,
en die Siel vra wat sy naam is, en die nag gee antwoord: ‘Vrees!’
Dis die Vrees wat nou sy wese oor die groot heelal versprei,
in die berge en die bome, in die vlaktes en die vlei;
in die hart van al wat lewe neem hy nou sy setel in,
en geen dier wat hom nie ken nie, en geen mens wat hom oorwin.
En sy stem, onhoorbaar trillend deur die murg en bloed en vlees,
uit die grote Onbekende fluister: ‘Bewe, ek's die Vrees!’
In die veld die eensaam jagter, huiswaarts kerend na sy kraal,
op sy koms verhaas sy skrede as die donker oor hom daal,
en sy blik vlieg na al kante en hy gryp sy jagspies vas -
‘Wat skuil daar in die skadu? en wat roer daar in die gras?
Wat bekruip my hier van agter en wat kan daar voor my wees?’
En sy kloppend hart gee antwoord: ‘Gouer, gouer, dis die Vrees!’
Deur die stilte van die vlaktes dreun die dowwe leeugebrul
en die Vrees ry op sy weerklank wat die nagruimtes vervul;
en die koedoe in sy weigras lig sy kop en snuif die lug,
ore spitsend, spiere trillend, staan hy klaar vir bange vlug.
Elke dier wat in die veld is, eland, bok en wildebees,
hoor die stem wat deur die nag druis met die felle boodskap: ‘Vrees!’
| |
[pagina 25]
| |
En die wagter in die veldkamp staar verskrik die duister deur,
trek sy roer 'n bietjie nader, gooi nog brandhout op die vuur;
en die leeu halt op sy jagspoor, saggies knor hy half-beangs:
‘Wat is dit daar in die verte wat so gloei en spring en dans?’
En in rooie vuurgefonkel is die spotantwoord te lees:
‘Dit is ek, o grote Koning! dis jou meester, dis die Vrees!’
In die veld lê 'n geraamte in die maanlig wit en skoon -
hier alleen heers nie die Vrees nie, hier alleen kan Vrede woon.
Maar wat lewe bly voortdurend na die Onbekende staar,
rust'loos vraend, ‘Wat sal nou kom?’ angstig fluist'rend,
‘Wat is daar?’
Tot die langverwagte môre oor die Oostekim verskyn
en sy vreesverbannend strale oor die vlaktes ‘Vrede’77 sein.
E.A. SCHLENGEMANN.
|
|