sit die goedjies by 'n oopgelate venster in. Wat dink U van die idee? En sê my nou, wat sou U die geskikste presentjie ag vir elke kind?’
‘Julle is regtig baie goed vir ons, dominé,’ - en die sagte glimlag verlig weer die kranke se gelaat. ‘As ek nou moes sê, sou ek tog so graag vir die seuns iets ordentliks wou gehad het om aan te trek as die skole weer begin. Ek het nog nooit nodig gehad om my vir my kinders se klere te skaam nie. Van my man egter sonder werk is en veral van ek siek geword het, gaan dit nie soos dit behoort nie. Die seuns is verflenter en vuil - arme Ousus kan ook nie alles doen nie en my man is heeldag uit om werk te soek.’
Die swak stem gee amper heeltemal in na hierdie woorde.
Die dominé wil die arme vrou nou maar weer laat rus, en staan op om te vertrek.
‘Nou goed, Tante,’ sê hy en voeg daar nog by: ‘en wat sou U nou vir Uself gewens het?’
‘Dominé,’ is die fluister-antwoord, ‘as ek moes wens, sou dit tog iets wees, wat die mense nie vir my kon gee nie.’
Die dominé verstaan, maar dink dit beter om niks daarop te sê nie.
Die sieke vervolg egter: ‘Maar dominé kan nou vir my iets doen - as U nog tyd het.’
‘Met die grootste plesier, Tante - wat is dit?’
‘Sal dominé nie asseblief vir my bid nie?’
Die smekende toon en blik pers onwillekeurig die vog in dominé se oë.
Hy kniel langs die bed, vat die hand, wat hy net losgelaat het, in altwee syne en bid - bid eenvoudig, ernstig, uit die diepte van sy hart, en self voel hy wonderlik versterk, as hy opstaan. -
‘Dankie, dominé,’ is al wat die vrou sê.
Hy neem vriendelik afskeid en verlaat die kamer.
In die eetkamer kom hy Ousus teë met 'n koppie koffie.
‘Dominé sal tog eers 'n koppie koffie drink?’
Dominé is gewoonlik nie juis happig na die koffie en tee as hy sy armes besoek nie. Vandag egter neem hy die koppie met minsame dank aan. Hy gaan sit op 'n stoel by die tafel en maak nog 'n praatjie met Ousus: oor haar Ma, haar Pa, haar boeties, haar werk - en drink werklik met genot die koffie uit die dik, geblomde, goedkoop en skoon koppie.
Dan groet hy vir Ousus met die hand, is die deur uit en die stoep af.
‘Dag julle klein karnallies!’ roep hy vir die seuns, wat nou nie meer albaster speel nie, maar 'n endjie laer die straat af somar rondbaljaar.
‘Middag, dominé!’ is die luidrugtige weer-groet.
Dominé stap vinnig na sy moter toe - die son vat-vat net aan die lig-pêrs berge daar ver; 'n oomblik later sny die kar met die mooi rooi-pad langs - huistoe.