Die nuwe brandwag. Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1930(1930)– [tijdschrift] Nuwe Brandwag, Die– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 18] [p. 18] Aan die Verre Kus. Aan die verre kus - O stille, diepe droom wat suiwer - sag die mens hier lei al met die stroom van godverlange - word ook die wrak eenmaal, deur reddingshande veilig tuisgehaal. Aan die verre kus waar maanwit branders ruis met silwer - koele spoeling om die huis wat ewige woning heet, daar sterf in die vergetelheid wat ons deur lyding erf. Daar daal die duiker en uit dieptes vis hy wat vir ons verlore drome is; daar groei oor maanlig watere wyd vuurtoringlig wat straal van ewigheid. Daar styg die branders uit die pikswart see wit-krullend oor die rotse, ruisend gee, in ewige kom - verdwyning, hul gespoel die gees van nooit-verklaarde wêrelddoel. Daar reis die dood en lewe saam in een gestalte, een bestemmingsnaam, en deur verstand se newelgrys vind sielverlange Sy paleis. Aan die verre kus - die dagkruik daal vir laaf'nis na die dieptes, rondom straal die lig van hoop - daar wink oor branders sag die rus vir hom wat nog op reddingshande wag. C M. VAN DEN HEEVER. Vorige Volgende