En sy wat so ryk was, so veel ryker aan geestelike goedere as, miskien, ons almal, háár het ek arm genoem, arm soos maar elkeen van ons arm is, arm om die eensaamheid, die essensiële eensaamheid van die lewe. Professor Moorrees het dit so skoon uiteengesit by haar dood. Dit kon sy nie meer hoor nie. Maar byna in dieselfde woorde het sy uit Boudier-Bakker dit omgedra in haar hart, as diep verborge wond:
‘Er schuilt een armoede in ieder menschenbestaan en die armoede scheidt ze in verbittering van onbegrepenheid of drijft ze naar elkaar toe in hulpeloosheid van verlange, maar alle liefde vermag niet de leemte te vullen - eenzaam blijft ten slotte ieder, naast diegene die hem 't liefst is.’
Ek meen dat Lydia eensamer was as die meeste. En daarom te meer het sy die stilte gesoek, die stilte wat besiel; en deur die lange tyd van stilverbete pyn het sy haar siel aan die stilte gelaaf. Dit was ook haar grootste gawe van die Ewigheid.
Maar smartvol was vir haar, so diep - in vrou, die stille resignasie van die wêreld, die langsame erkenning:
‘De liefde, die gij 't leven vraagt,
Bloeit in het hart dat ge in u draagt.’...
So het sy gekom tot 'n kultus van skoonheid in die stilte wat my onvergeetlik bly. Hoe het sy steeds skone dinge om haar heen versamel! 'n Mooi boek, 'n Persiese tapyt, 'n skildery van Wenning, blomme, veel blomme steeds. En naar mate die skaduwees van die dood haar huisie genader het, het sy steeds inniger geleef in die geluk van haar liefde -
--- Alles, alles neemt het leven,
Het laat ons ieder eenmaal berooid -
Maar het geluk van een beetje schoonheid
Dat ontneemt het ons nooit.
En nooit, nooit sal ek die Oktober-môre vergeet - sy wis dit, vir haar sou daar geen lente meer wees nie, toe ons saam van die klas huis-toe gestap het, en soos gewoonlik oor werkaangeleenthede gepraat het, hoe sy meteens stil gebly het op my vraag, haar half-blinde oë van verlange na die berge opgerig het, en met vreemde ekstase gemurmel het:
‘Hoe mooi tog, is ons Stellenbosch...’
Toe wis ek dat die dood in Lydia was.