| |
| |
| |
Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere
DEEL 2. No. I. PRETORIA. FEB. 1930
| |
Ons Digkuns as Spieël van ons Volksverlede.
(Rede uitgespreek deur Professor E.C. Pienaar by geleentheid van die onlangse Dingaansfees aan die voet van die Vrouemonument op Bloemfontein.)
Twee dinge sê ek vir jou, ou boetie -
die een is: Vergeet, wat jy kan!
Die ander: Onthou, wat jy moet, ou boetie!
Is dit nou te veel vir 'n man!
Twee dinge sê ek vandag vir myselwe -
die een is: Outhou, wat jy kan!
Die ander: Vergeet, wat jy moet! Dis amper
te veel om te verg van 'n man!
IN hierdie slampamper-rympie van die digter Leipoldt word kernagtig teenoor mekaar gestel twee groepe van mense wat vandag in Suid-Afrika te vinde is. Laat niemand nou tog dink dat ek hier sinspeel op die twee politieke partye van vandag nie. Dis ongelukkig waar dat ons volksverlede maar alte dikwels beroer en vertroebel geword is deur partytwiste op staatkundige, op maatskaplike en op kerklike gebied. Van die Voortrekkerdae af tot vandag toe sien ons hoe die kanker van verdeeldheid die gesonde opbloei van ons nasie ondermyn en belemmer het. En juis daarom wil ons op 'n gemeenskaplike volksfees soos hierdie nie daaraan dink en daaroor praat nie.
Nee, op hierdie gedenkdag, hierdie Sabbat, geheilig deur die plegtige gelofte van die Voorvaders, ken ons geen partye nie, het ons geen verskilpunte nie, staan ons naas mekaar en deurmekaar en bymekaar as Afrikanervolk, vier ons volksfees, betaal ons volksgeloftes, herdenk ons volksverlede, koester ons volksideale!
| |
| |
As ek dus praat van twee groepe, dan het dit niks te maak met partypolitiek nie, maar het dit alleen betrekking op die gesindheid van twee groepe mense in die algemeen ten opsigte van ons volksverlede.
Die een groep huldig die leuse: Vergeet! Vergeet, wat jy kan! Vergeet alles wat jy kan so gou as jy kan. Begrawe die verlede. Laat dit rus. Wat verby is, is verby, is dood. Moenie voortdurend ou koeie uit die sloot grawe nie. Jy maak jouself net ongelukkig daardeur en jy maak ander net kwaad. Onthou net wat aangenaam en maklik is, wat niemand hinder nie, wat handig en gerieflik is, wat in jou kraam te pas kom.
Ons lewe nou eenmaal nie meer in die tyd van die Voortrekkers of van die ou Republieke nie, ons is mense van die twintigste eeu, moderne, up-to- date-mense, met verligte denkbeelde insake godsdiens, geskiedenis, tradiesies, ens. Ons moet saamgaan met die up-to-date beskawing van ons eie tyd. Dit het geen nut meer om terug te dink aan die verlede nie, aan vanmelewe se dae, met al sy ouderwetse en bekrompe opvattings, sy sedes en gewoontes, sy tradiesies en ideale. Nee, vergeet wat jy kan! Breek met jou eie volksverlede. Pas jou aan by die nuwe tyd, leef in die toekoms.
Mense wat so redeneer, word deur ons Afrikaanse volksdigter Celliers raak gekarakteriseer as ‘burgers van Papbroekland’:
Ons is burgers van Papbroekland.
Lamsak, ou maat, gee my jou hand.
Ons is dit eens dat volk en taal
nou maar moet loop soos die tyd bepaal.
Hulle weet nog nie hoe lekker dit is
om water nog wyn te wees, vlees nog vis, -
dan is jy altyd van alkant klaar,
sonde en rusie is jou bespaar,
almal vind jou 'n ‘goeie ou broer’,
vir ponde en pap kan jy alkant toe loer.
Die dooies, sê ons, is stil in hul graf;
wat hulle gewil het, is nou pure kaf;
ons is ontslae van hulle ou band -
ons lewe lekker in Papbroekland.
So redeneer hierdie nuwe wêreldburgers. As daar oor ons volksgeskiedenis gepraat word, voel hulle ongemaklik. As daar nasionale feeste gevier word, is hulle afwesig. As daar oorsese prinse ontvang word, sit hulle in die voorgestoelte. Hulle gebruik nie graag die woorde: ons land,
| |
| |
ons volk, ons taal nie, want hulle is tog o so bang om aanstoot te gee. Hulle is skaam vir hul eie volksverlede, skaam om aan so'n agterlike ou volkie as die Boere te behoort, om so'n bekveld-taaltjie as Afrikaans te praat. Waar dit maar enigsins kan, praat hulle by voorkeur 'n vreemde taal. Dit klink soveel vernamer. As hulle opnuut moes gebore word, sou hulle dit so bewerk dat hulle die lig kon sien oorkant die seewater.
Maar daar bestaan gelukkig vandag in ons vaderland ook 'n ander groep mense wat 'n teenoorgestelde opvatting huldig: Onthou wat jy kan! Vir hulle is die verlede nie dood nie, kan en mag dit nooit sterf nie, omdat hulle diep deurdronge is van die waarheid dat 'n volk wat sy verlede vergeet, geen toekoms het nie. Want 'n volk wat sy verlede aan die vergetelheid prysgee, pleeg daarmee nasionale selfmoord!
Daarom eer hulle die voorgeslag, met al sy deugde en gebreke; daarom bestudeer hulle die vaderlandse geskiedenis; daarom rig hulle gedenktekens op; daarom vier hulle gedagtenisfeeste om die gelofte van die voorvaders te betaal.
Uit ons aanwesigheid hier vandag op hierdie gedenkwaardige feesdag, wat 'n keerpunt gevorm het in die beskawingsgeskiedenis van Suid-Afrika, blyk dat ons tot hierdie twede groep behoort, en dat hierdie groep veel groter is as wat baie mense ons wil wysmaak. En wat meer is, hy word elke dag groter.
Ons aanwesigheid hier is 'n welsprekende protes teen die leuse: ‘Vergeet wat jy kan.’ Omdat ons nie mag en nie wil vergeet nie, maar veral omdat ons nie kan vergeet nie; omdat daar soveel is in ons volksverlede wat onvergeetlik is.
Ons aanwesigheid hier is 'n welsprekende bewys dat ons weier om nasionale selfmoord te pleeg, omdat ons volksverlede daar lê as 'n geopende boek, waarop met vlammende skrif die woorde gegrif staan: Gedenk! Vergeet nie! Onthou!
Die verlewendiging van ons volksverlede is egter nie altyd 'n aangename taak nie. Dit wek soms smartlike herinneringe op. Daar gaan snikke en trane deur, daar is bloedspore sigbaar. ‘Dis amper te veel om te verg van 'n man.’ Dit is te veel vir sommige mense. Daarom wil hulle vergeet, wil hulle die verlede liewers begrawe. Maar, roep die digter Totius uit:
Sal ons vergeet 'n treur-verlee? - -
Oor so 'n volk, so laf-ontrou,
roep al die heuwels smadend: Wee!
Maar troue skaar roep: Nimmer! Nee!
| |
| |
Dewyl ons dan hier vergader is om gedagtenisfees te vier, om ons volksverlede te herdenk, nooi ek U uit om in verbeelding met my stil te staan by enkele taferele uit ons volksverlede, soos dié weerspieël word in ons Afrikaanse digkuns.
In die eerste tafereel wat ek U wil voorhou, hoor ons die wegtrekkende Voortrekker sy geboorteplaas 'n laaste vaarwel toeroep. Dis in alle omstandighede geen kleinigheid vir 'n mens om vergoed afskeid te neem van die erfgrond van jou vaders nie, maar dit moes veral in daardie dae 'n bittere taak gewees het om die vrug van geslagte se arbeid in die steek te laat en 'n onsekere toekoms in 'n woeste wêreld tegemoet te gaan. Dit moes die Trekkers trane gekos het, sielepyn en bloedende harte om hulle los te skeur van alles wat dierbaar was, van die bekende ou plaas met sy tuine en landerye, veekraal en kerkhof waar dierbares begrawe lê, en van die ou woning met al sy herinneringe van lief en leed.
In die volgende gedig van Leipoldt sien ons die Trekker met betraande oog en ontroerde gemoed die een geliefde plekkie na die ander vir die laaste maal aanskou:
O vaderland, verlate vaderland!
O akkerboom en ranke wit pop'lier
Daar deur die voorgeslag geplant,
Nou lommerryk oor my vaderhuis -
Koel skadutakke oor die sluis,
Waar na die oes die meulstroom bruis -
Vaarwel, o akkerboom en wit pop'lier,
Vaarwel, verlate vaderland!
O ouershuis met kafhok en met kraal!
O platklip-stoep en gras-begroeide brug,
Waar saans die paddas sug
As in die skemerlig vuurvliegjes dwaal,
En die aandblomme oopgaan en die nag
Sy sluier werp oor hierdie plaas se prag
En oor die wêreld bo die sterre wag -
Vaarwel, o platklip-stoep en biesie-brug!
Vaarwel, o huis en kraal!
| |
| |
Vaarwel, vaarwel, al is geen weersien meer!
Die twede tafereel wat ek voor u verbeeldingsoog wil ophang, laat ons die Voortrekkers sien deur die digterverbeelding van Langenhoven, waar hulle besig is om die pad van S.A. te baan na die Noorde toe, omring deur wilde diere en woeste barbare, maar besiel met die een groot ideaal - vryheid, weg onder dwinglandy en dwangheerskappy uit om 'n onafhanklike volksbestaan te vestig in 'n nuwe vaderland. Want die Afrikanernasie van die toekoms kon nie gebore word onder 'n vreemde vlag nie. Nee, op sy wieg moes die son van vryheid skyn as simbool van sy herkoms en bestemming. Daarom was die Groot Trek noodsaaklik, want alleen daardeur kon die vryheidsideaal verwesenlik word. Maar wat sien ons hier as die gewoel saans tot stilstand kom?
Maar dit is geen trekkers nie!
Hierdie mense is almal tuis -
Een vir een groepie by een vir een vuur
Vader en Moeder, Ouma en Oupa,
Boeties en Sussies, almal is daar;
Elkeen vul sy eie ou plekkie,
soos weleer op die plasie verlate.
Elke wa is 'n tuiste, die binnekamer
Die wieg om die suigling te sus,
die sponde om die sieke te pleeg,
En afskeid te neem van die sterwende;
En 'n hoër gesag heers nog hier.
As die tug wat onderling bind,
want elke wa met sy huisgesin
Voer sy huisaltaar mee soos 'n ark van ouds.
Hier by 'n vuurtjie sing 'n jong moeder 'n slaapliedjie vir die suigeling aan haar bors, 'n liedjie wat eindig met die bede (haar man is saam met Retief na Dingaan): -
| |
| |
Hoor ons tog, o liewe Heer!
Bring ons Pappie gou-gou weer
Moederlief en kindjie teer,
Ons verlang tog al te seer -
En terwyl sy al singende sus, leg 'n man se liggaam vermink, rustend na foltersmart, op Hlomo-Amaboeta;
En terwyl haar lieflinkie slaap,
kruip swarte gedaantes nader.
By 'n ander vuurtjie sit weer 'n gryse ou moeder wat droom oor die verlede, toe haar Pietie nog 'n babetjie was, en bid dat hy veilig mag terugkom, want hy is nou haar enigste troos en steun. En terwyl sy bid, lê hy op Hlomo-Amaboeta, en kyk grynsende swart gedaantes haar uit die donker aan.
Slapenstyd nader, die laer maak klaar vir sy rus;
Uit een vir een wakis word boeke gehaal en met eerbied geopen.
Ongesiene altare rys by die vuurtjies;
Die veld is in 'n tempel herskape - 'n Nasie bid!
U weet die Voortrekkers is dikwels beskuldig dat hulle getrek het om onder wet en orde uit te kom; dat hulle nie soseer vryheid gesoek het nie as bandeloosheid en weffeloosheid. Nog nie so lank gelede nie het 'n bekende historikus, sir George Cory, 'n klad op die karakter van die Voortrekkers gewerp, deur hulle te beskuldig van vervalsing van die bekende Retief-Dingaantraktaat, 'n lasterlike aantyging wat hy verplig was om te herroep nadat die bewyse van Preller en Blommaert hom daartoe gedwing het.
Hier gee Langenhoven ons die histories juiste beeld. Nie 'n bende swerwers, avonturiers of vrybuiters nie, maar 'n ordeliewende en vredeliewende gemeenskap, 'n biddende nasie, met Gods Woord tot rigsnoer van sy lewe en dade.
Kan dit vandag nog van die Afrikanervolk as 'n geheel gesê word, van die nasate van die Voortrekkers?
In die volgende tafereel word deur Totius die slag by Vegkop geskilder, waar Sarel Cilliers met 40 man 'n aanval van 5000 Matabeles afgeslaan het in Oktober 1836. Soos 'n woedende orkaan sien ons die Matabele-hordes op die klein laertjie losbars. Duisende asgaaie deurklief die onstuimige lug onder helse geskreeu, maar sterk in hul godsvertroue staan man en vrou sy aan sy:
| |
| |
Bleek blink die seile vér teen die hang,
swart kom die kaffers met driftige drang,
bewend omhoog rys gebed en gesang -
Donker gevaartes dond'rend temet,
blitsende flitse van pyle gewet,
borend na bowe die skietgebed:
Hoor die gebruis teen die wawiel aan!
Hoor die geklots oor die seile slaan!
Sug van vertwyfling die boesem ontgaan:
Vas lê die roer in die trekker se hand,
fluks hou sy vrou by die stryder stand,
weg vlug Kalipi weer na sy land -
Swart lê die kaffers, blom van die leër -
‘Samel by hope die vyand se speer!
God het geseën man en geweer!
Hierby sluit mooi aan die bekende aanskoulike skildering deur Celliers van die slag by Bloedrivier, waaruit ek enkele koeplette laat volg:
Ster-nag omsluit die laer -
Sterk is die stem en skoon,
Vader, die taak is swaar,
klein en verlore die laer
driemaal tien-duisendtal,
blits uit die tentwa-muur
| |
| |
Laat ons nou 'n bietjie nader kom aan ons eie tyd en kortliks stilstaan by enkele taferele uit ons groot vryheidsworsteling van 30 jaar gelede. Dis begryplik dat veral die Twede Vryheidsoorlog menige skrywer en digter moes aangryp; want nie alleen het die byna driejarige wanhoopstryd van 'n handjievol mense teen 'n groot wêreldmag die twee Republieke in 'n puinhoop verander en uitgeloop op die verlies van die so duurgekogte onafhanklikheid nie, maar veral die konsentrasiekampe met hul 26,000 slagoffers het 'n merk vir die eeue nagelaat op die volksiel. Vandaar soveel oorlogsherinneringe by ons digters. Ons kan net by 'n paar daarvan stilstaan.
Daar is b.v. Die Laaste Aand van Jan Celliers. Wat 'n aandoenlike tafereeltjie van die kleintjies in hul onbesorgde pret, onbewus van die donker oorlogswolke wat weldra hul huis in vlamme sal laat opgaan. In hoeveel gevalle was dit nie inderdaad die laaste aand nie, omdat die vader nooit weer teruggekom het nie. En wat 'n suggestiewe beeld van wakende ouersmart in die stilte van die nag by die vredige sponde van droomverlore dotjies: -
Wat 'n pret, wat 'n pret,
Ja, laat mag hul speel, het mammie gesê,
voor pa hul vanaand in hul bedjie sal lê.
Maar, verlee soek Breggie by mammetjie skuil,
vra soetjies aan haar waarom paatjie tog huil?
Nog nooit by hul speul'tjies het hy dit gedoen -
en so dikwels tot selfs die klein voetjies gesoen.
om die ogies moeg en vaak
met haar soentjies toe te maak.
| |
| |
ANTON VAN WOUW:
DAGGAROKER.
| |
| |
Die Brand van Celliers voer ons terug na dieselfde toneel van Die Laaste Aand, maar alleen om die vroeëre vredige boerewoning in rook en vlamme te sien opgaan, ten prooi aan meedoënlose oorlogsgeweld, en die moeder met haar kroos uitgedryf in die winternag:
Daar staan 'n moeder met haar kind
allenig in die winterwind -
en niemand wat haar trane siet,
en niemand wat haar trooste bied.
En wilde vlamme strooi dit wyd,
die vrug van lange lewensvlyt -
in vonke deur die lug gesaai,
in vonke wat die wind verwaai.
Haar kindjie, aan haar bors gevou,
beskut sy teen die winterkou -
die trane wat sy swyend ween,
so op haar wang tot ys versteen.
En winterwinde sing die lied
van eensaamheid en stil verdriet;
en sonder weerklank sterf die klag
al sugtend deur die gras se saad -
en verre is die daeraad...
Vervolgens word ons na die konsentrasiekamp gevoer waar 'n sterwende moeder 'n laaste boodskap aan haar enigste oorgeblewe seun in die oor van die kampsuster fluister, getroos by die gedagte ‘dat haar Pieter sal hou aan sy God en sy land, aan sy ere en trou’, om dan heen te gaan met die sterwenssug: ‘Suster Anna... ek hoor 'n kerkklok slaan!’
Eindelik sien ons nog die balling wat by sy lang verbeide terugkeer geen ander spoor van sy vroeëre tuiste hervind nie as 'n graf in die gras:
dis 'n vallende traan....
| |
| |
En so laat die digter soos 'n rolprent al die droewige tonele voor ons geestesoog verbygaan, en veral sulke tonele waarin die Afrikanervrou 'n hoofrol speel. Want, laat ons dit maar altyd weer herhaal, dis die Vrou van S.A., die moeder van die Voortrek, wat die Afrikanernasie van vandag gevorm het en wat ons in staat gestel het om die vurige oordeel van die oorlog te trotseen sonder om as volk heeltemal te gronde te gaan. En van die Vrou van S.A. hang dit af of ons as volk 'n eie toekoms tegemoet gaan of nie.
Nog 'n laaste tafereel hou ek U voor, wat 'n treffende bevestiging vorm van wat ek aan die begin gesê het. Dis 'n baie eenvoudige gediggie van 'n ossewa wat 'n klein doringboompie langs die pad omver ry, maar dit het 'n diepsinnige betekenis. Die tietel daarvan is Vergewe en Vergeet en dis geskryf deur Totius. By die lees daarvan begryp ons dadelik dat die ossewa Engeland voorstel en die doringboompie die Boerevolk. Hier het ons 'n welsprekende kommentaar op die leuse: Vergewe en Vergeet! Dis kristelik om te vergewe, maar vergeet kan ons nooit, al wil ons ook, want daar is 'n teken en 'n merk wat onuitwisbaar is.
Ons het in verbeelding stilgestaan by enkele taferele uit ons volksverlede. Daardie taferele, deur digtersoog gesien en deur digterstaal vertolk voer ons terug op die via dolorosa van die Afrikanernasie. Want die pad van S.A. wat ons volk bewandel het gedurende die paar eeue van ons volksbestaan, is inderdaad 'n lydensweg gewees - 'n via dolorosa.
Van die staanspoor af moes daar baanbrekerswerk verrig word, 'n taak waarvoor alleen bereken was pioniers wat liggaamlik en geestelik sterk was, manne en vroue met gestaalde spiere en 'n onwrikbare geloof in die toekoms. Want die fondamente waarop ons toekomstige volksgebou sou kon verrys, moes deeglik gelê word.
Vandat Van Riebeek in 1652 voet aan wal gesit het by Tafelberg, moes daar onophoudelik stryd gevoer word om die nuwe land bewoonbaar te maak - 'n stryd teen die elemente, teen wilde diere en woeste barbare. En die huis was nog nie eers behoorlik klaar nie, of daar verskyn 'n nuwe veroweraar op die toneel. Daarop het gevolg die bekende ‘een van onreg’, met sy kulminasie in die wanhoopstryd van 'n kwart een gelede, by enkele taferele waarvan ons stilgestaan het. En tot vandag toe moet ons nog gedurig spook om ons eie kultuur te handhaaf teenoor vreemde oorheersing.
En hoeveel duisende menselewens het die stryd nie gekos nie! Die pad van S.A. is deurdrenk met heldebloed. As ons vlaktes en berge en riviere vandag kon praat, hulle sou getuig van ontelbare sugte en trane en gebede, van hartverskeurende tonele, van onnoembaar veel smart en ellende. Name soos Weenen, Moordspruit, Vechtkop, Bloedrivier en meer ander getuig daarvan. Ja, die pad van S.A. is 'n via dolorosa, 'n lydensweg gewees.
| |
| |
Maar, goddank, dis nie alleen 'n via dolorosa gewees nie, maar ook 'n via gloriosa - 'n weg van roem en eer en glorie. As ons so in verbeelding terugblik op die wordingsgeskiedenis van ons volk, dan is daar naas veel smartliks ook veel wat verheffend en inspirerend werk.
En nou dink ek nie in die eerste plek aan al die heldedade wat verrig is, aan die weergalose volharding en kannie-dood optimisme wat aan die dag gelê is, aan die moeilikhede wat oorkom is, aan al die oorwinninge wat behaal is nie. Dit alles en meer dwing ons bewondering en eerbied af, maar wat die via dolorosa ook vir ons tot 'n via gloriosa maak, is veral die karaktereienskappe wat die Voortrekkers in staat gestel het om die fondamente van 'n kristelike beskawing in Suid-Afrika in te grondves, en byname hul onwrikbare Godsvertroue en onuitwisbare vryheidsliefde. Want watter bykomende oorsake nou ook al meegewerk het tot die groot volksverhuising van die dertiger jare - die twede uittog uit 'n Egipte van dwang en onderdrukking - dit kan ten slotte alles saamgevat word in die een woord: Vryheid!
Vryheid! Vryheid! dierbaar ding,
Van jou sal ek gedurig sing -
Vryheid van dwinglandy, sy dit stoflike of geestelike dwinglandy - dit was die ideaal waarvoor Geus en Hugenoot 80 jaar lank gespook het, en dis dieselfde ideaal waarvoor hul nakomelinge hier in die suidhoek van Afrika goed en bloed veil gehad het. Daarom is die pad van S.A. ook 'n via gloriosa, omdat dit gelei het en vandag nog lei tot daardie een groot volksideaal - Vryheid!
Die vestiging en handhawing van 'n kristelike beskawing teenoor heidense barbarisme, van reg en geregtigheid teenoor wetteloosheid, van waarheid teenoor valsheid en verraad, van wet en orde teenoor moord en doodslag, die skepping in donker Afrika van 'n nuwe wêreldorde, gebaseer op eie sedes en tradiesies, godsdiens en taal - in een woord: die skepping van 'n onafhanklike volksbestaan, met 'n suiwer-Afrikaanse kultuur, dit is die erfenis wat die voorvaders ons nagelaat het en wat die via dolorosa herskep in 'n via gloriosa.
Laat ons die erfenis aanvaar, want dis kosbaarder as die goud en diamante van ons vaderland. Laat ons op hierdie gedenkwaardige dag nie alleen praat oor die Voortrekkers nie, maar ook besluit om die erfenis wat hulle ons nagelaat het, rein te bewaar, deur die ideale waarvoor hulle alles veil gehad het hoog te hou. Alleen dan sal die toekoms van ons volk verseker wees.
| |
| |
| |
| |
GREGOIRE BOONZAAIER:
LANDSKAP (NEWLANDS).
|
|