By die Werk van G.W. Pilkington.
'N Vriendelike talent - 'n man vir wie die wêreld nie 'n tranedal is nie, al het hy ook as sy onderwerp die see gekies. 'n Man van gesonde begrippe, wat gevoelig is vir skoonheid, wat fiesiek deur die soutwater aangetrek word, wat die ruwe geweld van die see maklik verdra, wat die twee Oseane ken; - hy bly nie ver van die plek af waar die Atlantiese en Indiese oseane mekaar ontmoet nie - en wat hulle ken by verskeie stemmings en wat die verskillende kleure en vorme van die see skilder sodat dit maklik is om dit te verstaan en te aanvaar.
Hy is die antipode van sy moderne Europese vakgenote. Hulle sien die wêreld dramaties en as 'n groot probleem. Hulle lewe in 'n tyd en in 'n wêreld van groot beroerings - maatskaplik en psiegies - en hul voortbrengsels van kuns druk dit alles uit.
So is Pilkington nie. - Dié dramatiek bly vir hom 'n skouspel. Hy het dit suiwer aangevoel maar nie deurleef nie. Daarom is sy kuns aangenaam vir die een wat nie in sy siel gegryp wil word nie. Strindberg as skrywer, Grosz en Dix as skilders sal deur die meeste van ons mense nie maklik geniet word nie. Daarenteen sal die meeste van ons Pilkington se werk kan liefhê.
Kyk hoe skilder hy die Kaap de Goede Hoop. 'n Romantiese onderwerp, ons ontkom nie aan die assosiasies wat die naam wek nie. Eén van die wêreld se landmerke is daar. Maar die fyn spel van die golfslag is deur die skilder net so belangrik gegee as die suggestiewe Kaap in die verte.
So dikwels word gehoor dat die atmosfeer van 'n jong land soos ons s'n nie gunstig is vir die ontluik van 'n eie kuns nie. Die atmosfeer, die klimaat op geestelik gebied is anders as in die lande met hulle ou kultuur - maar ook hier ontluik 'n eie kuns met sy eie vorm en kleur.
Die werk van 'n man soos Pilkington, Afrikaner van Engelse afstamming, is tiepies vir ons land. Dat daar egter verband is met die kunsvorme van die land waar vandaan sy famielie afkomstig is, is nie te ontken nie en is ook te verwag. Daar is verband met die volk van afkoms in die werk van elke Afrikaner.
Maar daar is eenheid tussen die werk van almal. En tot die Afrikaanse Gemeenskap van kunstenaars behoort ook George Pilkington.
P. VIERHOEK.